Top 10 films van 2013 op LitNet

  • 0

My flieklys vir vanjaar staan op 73 films. Deur die Silwerskerm-resensies wat ek vir Dagbreek op kykNET doen, het ek fliekkategorieë leer ken wat ek voorheen nie eens sou oorweeg het nie: vampiere (Twilight), zombies (Warm Bodies), animasiekinderflieks (The Croods, Epic), Arnie (The Last Stand), gruwel (Texas Chainsaw Massacre 3D en The Conjuring) en superhelde (Iron Man, Superman). Ek kan eintlik nog ’n kategorie skep: twak (The Inbetweeners). Weliswaar het nie een van hierdie flieks my toptienlys gehaal nie, maar dit het ten minste my horisonne verbreed.

Nog ’n nuutjie vir my was kykNET se reeks van dertien kortfilms – dis verstommend watter stories in ’n halfuur vertel kan word. Uit die agt wat ek al gesien het, was ek beïndruk met die volgende: Vashouding, Die Beleefnis, Toevlug en – my groot gunsteling – Beskermhere.

Toptienlys 2013

  1. Amour
  2. The Intouchables
  3. The Sessions
  4. The Master
  5. Django Unchained
  6. Rust and Bone
  7. Flight
  8. Mandela: Long Walk to Freedom
  9. Behind the Candelabra
  10. Fanie Fourie’s Lobola, Lien se lankstaanskoene, Musiek vir die agtergrond

1. Amour: Met regisseur Michael Haneke op sy beste is dit geen wonder dat Amour vanjaar die Oscar as beste buitelandse film gekry het nie, én dis genomineer vir beste film in die algemene kategorie. Hierdie uitbeelding van ’n egpaar in hul tagtigs wat deur siekte en dood getref word, is die soort werk (van die regisseur/draaiboekskrywer sowel as die akteurs) wat ’n mens bitter selde te sien kry.

Lees die volledige resensie hier.

2. The Intouchables: Nog ’n waagmoedige film oor gestremdheid. ’n Welgestelde Parysenaar in ’n rolstoel kry ’n jong Senegalees as versorger (Omar Sy in ’n skitterende vertolking). Die humor en warm menslikheid van hierdie film maak dit ’n plesier om na te kyk.

Lees die volledige resensie hier.

3. The Sessions: Nogmaals die tipe film wat baie min draaiboekskrywers/regisseurs kan bedink, wat nog te sê so briljant uitvoer. ’n Man wat die grootste deel van elke dag in ’n suurstoflong moet deurbring, wil op 38 sy maagdelikheid verloor en word aangeraai om na ’n sekssurrogaat te gaan. Wonderlike spel deur John Hawkes en Helen Hunt.

Lees die volledige resensie hier.

4. The Master: Hierdie film, losweg gegrond op die lewe van L. Ron Hubbard, stigter van die Sciëntologie-geloof, is sekerlik die mees enigmatiese werk wat ek vanjaar gesien het. En Philip Seymour Hoffman en Joaquin Phoenix in die hoofrolle is beslis van die beste toneelspel wat ek vanjaar gesien het.

5. Django Unchained: My eerste kennismaking met die werk van Quentin Tarantino was ’n groot verrassing. Ten spyte van die oormaat geweld en bloed wat spat, is dit satire en sosiale kommentaar van die boonste rak. Daarby ’n aweregse klankbaan wat een groot plesier is.

6. Rust and Bone: Grinterige realisme sorg vir die soort fliek waarvoor die Franse bekend is en wat min ander hulle kan nadoen. ’n Man wat (letterlik) veg vir oorlewing se pad kruis met dié van ’n vrou wat haar bene in ’n fratsongeluk verloor het. ’n Feitlik onherkenbare Marion Cotillard skitter in die vroulike hoofrol.

Lees die volledige resensie hier.

7. Flight: Dis ’n vreugde om Denzel Washington weer ’n slag in ’n swaargewigrol te sien. Hierdie komplekse drama oor ’n vlieënier wat aan alkoholisme ly, verras jou telkens.

Lees die volledige resensie hier.

8. Mandela: Long Walk to Freedom: ’n Uitstekende verwerking van die outobiografie van een van die grootste politieke leiers van alle tye én die man vir wie alle Suid-Afrikaners hulle sterre kan dank. Mag Nelson Mandela se nalatenskap lewend gehou word deur elkeen van ons.

Lees die volledige resensie hier.

9. Behind the Candelabra: Hierdie veelvlakkige biofilm oor die vermaakster Liberace is boeiend van begin tot einde. Michael Douglas en Matt Damon verdien lof vir uitsonderlike spel.

10. Fanie Fourie’s Lobola, Lien se lankstaanskoene, Musiek vir die agtergrond: Ek het vanjaar nege plaaslike films gesien, vier Engels en vyf Afrikaans. Fanie Fourie’s Lobola was loshande my gunsteling, terwyl die ander twee my trots gemaak het op Afrikaanse films te midde van ’n hele paar gemiddelde tot swak pogings.

 

Lees Reney Warrington se resensie van Fanie Fourie’s Lobola. 

Lees die volledige resensie van Lien se lankstaanskoene hier.

 

Lees die volledige resensie van Musiek vir die agtergrond hier.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top