FEDSAS se Danie van Wyk praat oor skole, taal- en godsdiensbeleid

  • 0

Danie van Wyk, bestuurder van Fedsas, gesels met Naomi Meyer oor al die goeie en ook al die sensitiewe dinge in skole waaroor mense nie graag praat nie.

Danie, jy was tot onlangs by die Stigting vir Bemagtiging deur Afrikaans. Waarby is jy nou betrokke?

Ek is vanaf 1 Julie aangestel as bestuurder van die Suid-Afrikaanse Onderwysontwikkelingstrust, ’n onderafdeling van die Federasie van Beheerliggame van Suid-Afrikaanse Skole (Fedsas), wat grootliks konsentreer op die ontwikkeling van skoolbeheerliggame in voorheen benadeelde skole. My fokus is grootliks op bruin Afrikaanse skole en ek sal dus daarna streef om die regte en bevoegdhede van hierdie beheerliggame ook uit te brei. Ons ondersteun die beginsel dat beheerliggame ’n belangrike rol speel om geleenthede vir alle leerders te skep om hulle volle potensiaal te bereik.

Wat is jou agtergrond en hoe sluit dit aan by jou take op die oomblik?

Ek het ’n sterk onderwysagtergrond en het 22 jaar in die onderwys deurgebring voordat ek voltyds by die georganiseerde onderwys betrokke geraak het en daarna die HUB van die SBA was. My betrokkenheid by die organisering van skoolbeheerliggame skakel direk in met my vorige ondervinding as ’n professionele onderwyspraktisyn. Fedsas onderskryf die behoud en kultuur van uitnemendheid in opvoeding, onderwys en dienslewering.

Vertel asseblief nog meer van jou skakeling met beheerrade?

Ons is grootliks betrokke by beplanning van skoolbeheer en -bestuur, waaronder personeelaanstellings, arbeidsverhoudinge, strategiese beplanning en finansiële bestuur, om slegs enkele aspekte te noem. Ledeskole het toegang tot kundigheid op die gebied van onderwys en opvoeding, regs– en grondwetlike aspekte, asook bestuurs– en arbeidsaangeleenthede. Ons is dus voortdurend besig om gesonde verhoudinge met alle belangegroepe in die onderwys te vestig en uit te bou en om beheerliggame toe te rus om goeie en verantwoordelike beheer oor skole uit te oefen, sodat die beste belange van die leerder uiteindelik gedien kan word. Ons tree ook nasionaal en provinsiaal in al nege provinsies as spreekbuis van ons lede op.

Die onderwys is ’n komplekse plek, maar ook so belangrik. Wat vind jy die grootste uitdagings op die oomblik?

Die probleme en uitdagings wat effektiewe onderwys kniehalter, is veelvuldig. Ek wil slegs enkeles uitlig.

Eerstens is daar ’n skreiende tekort aan goedopgeleide onderwysers. Die skokkende realiteit is dat Suid-Afrika meer as 30 000 gekwalifiseerde onderwysers benodig om die huidige tekort aan te vul. Die grootskaalse uittog van gekwalifiseerde en ervare onderwysers is rampspoedig, omdat hulle nie oornag vervang kan word nie. Daar is veral ’n tekort aan manlike onderwysers, onderwysers in die grondslagfase waar onderrig in die moedertaal so belangrik is. Dit is dus uiters belangrik dat die regering die heropening van opleidingskolleges vir onderwysers ernstig moet oorweeg.

’n Verdere knelpunt is die swak infrastruktuur in township– en plattelandse skole landwyd wat betref sanitasie, ’n gebrek aan norme en standaarde vir skoolinfrastruktuur, ’n nypende tekort aan skoolbanke en stoele, swak dissipline onder leerders, en in baie gevalle onderwysers, asook die gebrekkige lewering van hand– en werkboeke aan duisende leerlinge. Daarby is daar ’n tekort aan hulpbronne en tegnologie wat nodig is vir gehalte-onderwys.

Die regering, in besonder die Minister van Basiese Onderwys, is deeglik bewus van die huidige krisis in die onderwys wat menige toegewyde onderwyser wat graag gehalte– onderrig wil aanbied, magteloos laat. Dit wil dus voorkom asof die politieke wil ontbreek om met daadwerklike en effektiewe planne vorendag te kom om die krisis in die onderwys af te weer en oplossings te vind.

Dan is daar ook die probleem van swak administrasie by streekkantore, wat nie oor die administratiewe vermoë beskik om gehalte-onderwys te ondersteun nie.

Gebrekkige leierskap in al die sektore – van nasionale vlak af tot op skoolvlak – van die onderwys is ook ’n groot probleem. Daarom spits ons ons daarop toe om leierskap in beheerliggame van skole baie sterk te bevorder en uit te bou.

Wat wil jy vir beheerrade sê oor taal in skole?

Ek sal aan skoolbeheerliggame aanbeveel om artikel 6 van die Suid-Afrikaanse Skolewet, 1996 te lees. Daarvolgens beskik die beheerliggame oor die mag om die taalbeleid van die skool te bepaal. Fedsas ondersteun en bevorder moedertaalonderwys, sowel as beheerliggame se reg om self die taal van onderrig te kies. Die meerderheid leerders in Suid-Afrika het nie toegang tot moedertaalonderwys nie en dit is een van die groot struikelblokke in die weg van die meerderheid leerders om volgens hulle volle potensiaal te presteer.

En omtrent godsdiensonderrig?

Dit is ’n baie sensitiewe, en in baie gevalle ’n emosionele, aangeleentheid. Die Grondwet van die Republiek van Suid-Afrika waarborg godsdiensvryheid. Daarmee sê ons dat erkenning aan alle godsdienste/gelowe gegee word om op dieselfde wyse behandel te word. Die Almagtige kry selfs erkenning in die volkslied: “Nkosi sikilel’ iAfrika”, “God seën Afrika”. Dit laat dus aan skoolbeheerliggame die keuse om te bepaal watter godsdiens aangewend sal word om (geestelike) waardes by leerders in die skool tuis te bring. In die meeste gevalle in openbare skole waar ek betrokke is, is die oorheersende godsdiens die Christelike godsdiens. Daar is egter ook skole waar die oorheersende godsdiens die Moslem-geloof of die Joodse geloof is. Ouers is primêr die opvoeders van hulle kinders en daarom het ouers ook die keuse (en móét hulle dit ook hê) van die godsdienstige lewens– en wêreldbeskouing waarin hulle kinders opgevoed moet word. In hierdie verband is die skole dus vir ouers ’n hulp en moet skole daardie reg van ouers respekteer, ook dié van ouers wat nie noodwendig met ’n bepaalde skool se etos identifiseer nie. Dit is ’n geweldige uitdaging vir skole, maar ons ervaar in ons skole ’n merkwaardige verdraagsaamheid ten aansien van godsdiens en godsdienstige oortuigings. Dit sal wonderlik wees as daardie selfde verdraagsaamheid ook na alle ander menslike aktiwiteite en oortuigings oorgedra kan word.

Hoe lyk die onderskeie skole op die oomblik van waar jy sit?

Daar is tans die goedtoegeruste skole en die skole wat minder goed daaraan toe is; funksionele en disfunksionele skole. Ongelukkig worstel die land nog met rasse– en sosiale ongelykhede. Dit is kritieke faktore wat nie buite rekening gelaat kan word by die voorsiening van onderwys van kinders in verarmde gemeenskappe nie. Daar moet aanvaar word dat daar nie eenvoudige of kitsoplossings vir hierdie probleme is nie. Die burgerlike samelewing kan en mag nie meer toeskouers wees wat toekyk hoe mense se basiese reg op onderwys geskend word nie. Gemeenskappe, en dan veral ouers, moet egter ook self verantwoordelikheid vir die skole in hulle gemeenskappe aanvaar. Dit is die hele filosofie waarop die huidige skoolonderwysstelsel gebaseer is, en daarom fokus ons baie sterk op toerusting vir beheerliggame sodat hulle namens die skoolgemeenskap daardie verantwoordelikheid kan aanvaar. Daar is dus talle skole in Suid-Afrika wat onderwys van wêreldgehalte lewer, maar ongelukkig is dit nie die geval by die meerderheid openbare skole in die land nie. Die Minister of die staat kan die verantwoordelikheid om die situasie by laasgenoemde skole om te keer, nie alleen baasraak nie. Ons ervaring leer ons dat die suksesvolle skole suksesvol is grootliks omdat:

– daar goeie leiers (skoolhoofde en lede van beheerliggame) daar is
– daar toegewyde en knap onderwysers is
– daar ’n vasgestelde ritme van aktiwiteite is: die leerplan word suksesvol gevolg en deurgevoer; die skooldag word volgens die kalender en ’n vaste program ingerig; almal is betyds en op hulle plek en almal is produktief
– daar dissipline en ’n goeie waardestelsel bestaan en gevolg word
– ouers ondersteunend van die skool se aktiwiteite en hulle kinders se onderwys is.

“Haves and have-nots” laat dit klink asof dinge in sommige mense se skoot geval het en nie in ander s’n nie. Dis nie so nie. Sukses volg op goeie en harde werk.

Hoe lyk die onderskeie skole in jou ideale wêreld?

Indien ons na die ideale skool in ’n ideale wêreld verwys, moet ek dit nouer trek en verwys na hoe ons die ideale skool in ’n ideale Suid-Afrika sien. Ek glo nie daar is ’n ideale skool nie, maar dat skole voortdurend na uitnemendheid moet streef. Dit kan geskied slegs as die skool ’n waardegedrewe skool is. Die elemente wat ek hier bo genoem het, is van kritieke belang vir ’n skool om “ideaal” en suksesvol te wee. Die implementering van weldeurdagte opvoedkundige beginsels is die enigste manier waarop ons Suid-Afrikaanse onderwys weer op ’n suksespad kan plaas, sodat ons kinders met die bestes in die wêreld kan meeding. Ons kinders verdien gehalte-onderwys. Ons moet elkeen ons plig as burgers van die land besef en in ons onderskeie kontekste meehelp aan die daarstelling van werkbare en volhoubare oplossings wat uitnemende onderwys sal verseker.

Lees ook Godsdiens in skole: Wat sê die Grondwet? deur Marinus Wiechers.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top