Eugène Marais (1871–1936): ’n lewensoorsig

  • 11

Na aanleiding van Die Wonderwerker wat spoedig landwyd vertoon, deel Chris Barnard hier ’n lewensoorsig van Eugène Marais.

Eugène Marais word 76 jaar ná sy dood steeds beskou as een van die merkwaardigste mense wat ons land nog opgelewer het. Die buitengewone en uiteenlopende bydraes wat hy in sy relatief kort leeftyd van 65 jaar gelewer het, word dalk vandag eers behoorlik na waarde geskat, maar is in sy tyd reeds as buitengewoon beskou.

Hy was ’n merkwaardige digter, ’n politieke rebel, invloedryke joernalis, kenner van dieregedrag, prokureur, kampvegter vir Afrikaans, sterrekundige, “wonderdokter”, prospekteerder, storieverteller, swerwer en dwelmverslaafde. Ten spyte van min formele opleiding, ’n totale gebrek aan fondse en geen ondersteuningsbasis nie het hy wetenskaplike navorsingsresultate gelewer wat eietydse natuurkenners steeds verstom.

Eugène Nielen Marais is op 9 Januarie 1871 in Pretoria gebore as die dertiende en jongste kind van Jan Christiaan Nielen Marais, ’n afstammeling van die Franse Hugenote, en Catharina van Niekerk.

Die grootste deel van sy skoolopleiding ontvang hy in Engels – tussen 1878 en 1880 in Pretoria, van 1880 tot 1884 in Boshoff in die Vrystaat, waar hy by sy oudste broer Charles woon, en daarna in die Paarl terwyl hy by sy tante Lizzie Niemeyer woon, waar hy as sestienjarige met spesiale vergunning die matriekeksamen in die Paarl Public School skryf en slaag.

Hy keer terug na Pretoria en word prokureursklerk by sy broer se regsfirma. ’n Jaar later word hy verslaggewer by die Advertiser, maar word reeds as agtienjarige die ZAR Raadsaal se persbank verbied oor die aweregse en uiters omstrede artikels wat hy skryf.

In 1890 word hy, skaars 19 jaar oud, een van die jongste redakteurs in ons land se geskiedenis toe hy aangestel word as redakteur van Land en Volk. In 1891 koop hy en Jimmy Roos Land en Volk en in 1892 word hy alleeneienaar van die koerant, wat onder sy leiding een van die eerstes in die land word wat Afrikaans as skryftaal begin bevorder.

Hy is skaars mondig, maar hy is reeds uiters omstrede, invloedryk en merkwaardig suksesvol met alles wat hy aanpak. Dit word ’n kenmerk van sy lewe dat hy voortdurend die grense van gesag en die norme en denke van sy tyd toets en selfs uitdaag.

Hy trou in 1894 met Lettie Beyers, ’n aantreklike Boeremeisie van Natal, maar agt dae ná die geboorte van hulle eersteling sterf sy aan kraamkoors. Dit word ’n verlies wat hom die res van sy lewe bybly.

In 1895 loods hy seker sy felste aanval op Paul Kruger omdat dié ’n skenking van Sammy Marks aanvaar om ’n standbeeld vir Kruger op te rig. Marks het vroeër ’n drankkonsessie van Kruger ontvang en Marais het die geld vir die standbeeld beskryf as “drankgeld”.

Tog word Marais dieselfde jaar nog op versoek van generaal Piet Joubert ’n sleutelonderhandelaar met die sogenaamde Uitlanders in die twis wat sou lei tot die mislukte Jameson-inval.

Maar die dood van sy vrou en albei sy ouers binne net meer as ’n jaar is moontlik van die belangrikste redes hoekom Eugène Marais besluit het om elders van voor af te begin. Hy vertrek oorsee om in Engeland as regstudent in Londen te gaan studeer.

Hier kom hy in aanraking met allerlei nuwe denkrigtings en sosiale verskynsels wat later ’n rol in sy lewe sou speel. Een daarvan was sy kennismaking met die werk van die baanbreker van hipnotisme, Mesmer. Dit interesseer hom in so ’n mate dat hy self daarmee begin eksperimenteer – en jare later, terug in Suid-Afrika, met groot sukses toepas.

Die gebruik van opium was in daardie tyd in Londen sosiaal aanvaarbaar, selfs in die hoogste kringe, en Marais begin dit ook gebruik.

Dis duidelik: sy veeleisende studies in die regte hou hom nie besig genoeg nie. Hy begin ’n studie maak van slange en slanggif, hy verdiep hom benewens hipnotisme ook in medisyne en die Egiptologie, begin hiërogliewe ontsyfer, en hou ’n sjimpansee in sy losieskamer aan vir navorsing.

In 1902 verwerf hy sy graad in die regte.

Tydens sy studiejare in Londen volg hy die gebeure in sy eie land met groeiende kommer. Hy skryf talle briewe aan koerante in Engeland om die saak van die ZAR te stel. En so fel is sy kritiek dat die Britse regering hom laat dophou.

Marais hoor van ’n Europese ekspedisie wat op die been gebring is om hulp aan die Boere te verleen en besluit om by die groep aan te sluit. Hy ontmoet hulle na vele ontberinge in Beira. Net betyds om te hoor die vrede is reeds gesluit.

In Oktober 1902, terug in Pretoria, word hy as advokaat tot die balie toegelaat. Hy kry ook toestemming van die Britse regering om met Land en Volk voort te gaan, en hy stel Gustav Preller as redakteur aan.

Maar soos in Kruger se tyd is hy en sy koerant gou weer in die moeilikheid.

Lord Milner ontbied hom en trap hom uit oor sy anti-Britse beriggewing, maar hy steur hom skynbaar min daaraan en dieselfde jaar nog ontbloot hy in Land en Volk verskeie geheime Britse planne om die ZAR te verengels en Afrikaners te onderdruk.

Op 23 Junie 1905 verskyn sy later beroemde gedig “Winternag” onder ’n skuilnaam in Land en Volk. Dit word vandag beskou as ’n baken in die geskiedenis van die Afrikaanse poësie.

Wat was dit wat hierdie merkwaardige mens kort-kort sou dwing om ’n nuwe begin te maak? Was dit sy rustelose gees, sy nuuskierigheid oor die lewe en die wêreld om hom? Of was daar ander redes? Want in dié tyd gebruik hy reeds etlike jare lank morfine.

Hoekom? Dis ’n vraag wat nog nooit met sekerheid beantwoord kon word nie. Het dit begin ná die dood van sy jong bruid? Is dit vererger in Londen waar dit maklik beskikbaar en enigiets aanvaarbaar was? Het dit vir hom noodsaaklik geword as behandeling teen chroniese malaria wat hy op sy terugtog uit Europa in Mosambiek opgedoen het?

Die feit is: na drie jaar as suksesvolle advokaat en invloedryke koeranteienaar verlaat hy sy praktyk en verkoop sy koerant.

Hy praktiseer ’n kort rukkie in Johannesburg. En vat dan weer die pad. Waterberge toe. Om te gaan prospekteer. Maar dis gou reeds ook nie meer genoeg nie. Hy gaan woon saam met Alec Austen in die berge om bobbejane te bestudeer. Hy kry werk by Union Tinmyn as myndokter, regsadviseur en padboutegnikus, en begin hom ingrawe in die geheime lewe van termiete.

Van 1908 tot 1917 woon hy op die plaas Rietfontein van Gys en Maria van Rooyen. En dit word sewe van sy gelukkigste jare. Hy bestudeer termiete en slange, probeer met perde teel, prospekteer, skryf gedigte en sy later bekende Dwaalstories, en bou ’n reputasie op as “wonderdokter” – veral nadat hy Hessie van Deventer, wat twaalf jaar heeltemal verlam was, deur hipnose genees en sy weer kan loop.
 

 

Dis hier op Rietfontein waar hy Jane Brayshaw ontmoet, ’n negentienjarige meisie wat deur die Van Rooyens grootgemaak word. Hy doen baie van sy hipnose-eksperimente op haar. En raak op haar verlief.

Dis nie die eerste keer dat so iets met hom gebeur nie, en ook nie die laaste keer nie. Dis asof hy telkens, selfs vyftien jaar ná sy vrou Lettie se dood, weer sy hart verloor op iemand wat so oud is soos sy destyds was. Vroeër in Londen was dit Suzanne, later in Johannesburg was dit Anne. Nou is dit Jane.

Maar hy besef hy is byna veertig jaar oud, en hy weet sy morfine-verslawing is ’n struikelblok. In die verlede het vroue hom nog altyd aantreklik en sjarmant gevind, en vir party was hy onweerstaanbaar. Daar is stories dat selfs Maria van Rooyen, ouer as hy, hom meer as net bewonder het. Sy probeer hom van sy verslawing genees deur sy morfine-gebruik te beheer, en kry sodoende mag oor hom. Wat dalk een rede is hoekom hy in 1915 van Rietfontein af padgee.

En dit is die begin van sy laaste klompie swerfjare. Maar ook van vrugbare skryfjare.

Hy bly hier en daar by vriende, en begin skryf aan The soul of the Ape. En in 1917 begin hy weer ’n advokatepraktyk in Pretoria.

Heelwat van sy artikels, gedigte en verhale verskyn in Die Brandwag, Boerevrou en Die Volkstem – waaronder “Skoppensboer”, “Mabalel” en “Waar Tebes in die stil woestyn”.

Hy verlaat sy praktyk in Pretoria en sluit in 1921 aan by ’n regsfirma in Bronkhorstspruit. Maar dit hou ook net ’n paar maande. In Mei 1922 verhuis hy na Heidelberg, waar AG Visser ’n mediese praktyk het. En die vriendskap wat tussen die twee ontwikkel, beteken vir albei baie. Visser help Marais met sy verslawing en wys hom van die gedigte wat in sy eie laaie rondlê.

En vir albei word 1925 ’n goeie jaar. Marais publiseer sy eerste en enigste digbundel, en help AG Visser om ook sy eerste bundel op die mark te kry – albei bundels met dieselfde, eenvoudige titel: bloot net Gedigte.

In dieselfde jaar verskyn die eerste ses hoofstukke van Die siel van die mier in Die Huisgenoot, en ook Die siel van die aap as vervolgreeks die volgende jaar.

In ’n desperate poging om Marais se gebruik van morfine te beheer en al hoe meer te beperk, kry Visser vir hom verblyf by ’n boeregesin op ’n plaas buite Heidelberg waar hy nie self sy voorraad kan aanvul nie. Maar die plan werk nie en veroorsaak net spanning.

In 1927 publiseer die befaamde Belgiese navorser Maurice Maeterlinck sy boek La vie des termites (Die lewe van die termiet) – nie in sy moedertaal Nederlands nie, maar in Frans. Dis baie duidelik hy het Marais se reeks in Die Huisgenoot gelees en Marais se navorsing vir homself toegeëien. Dit veroorsaak ’n wêreldwye skandaal, en is vir Marais ’n geweldige skok en teleurstelling.

Soos voorheen gaan neem hy sy toevlug tot die Waterberg, waar hy onder meer ’n nuwe broodboomspesie ontdek. Maar vir hom is dit die begin van die afdraandepad. Hy is nie meer jonk nie, hy is meestal werkloos en dikwels eensaam. Sy verslawing het hom teen dié tyd van die meeste van sy vroeër vriende vervreem, en hy voel sy lewe is op pad nêrens heen.

Terug in Pretoria is hy dikwels afhanklik van die genade van ander mense. Hy woon van tyd tot tyd by sy jare lange kollega en vriend Gustav Preller, en later op Preller se plaas Pelindaba naby die Hartebeespoortdam. Hy skryf nog soms artikels en verhale vir Die Vaderland, maar nou meer om den brode as iets anders. Sy wetenskaplike artikels is nou soms oppervlakkig en meer gerig op sy lesers se verbeelding as op feite.

Van sy versamelde werk verskyn in boekvorm, waaronder Die huis van die vier winde, Die leeus van Magoeba en Die siel van die mier. En soms in ’n tydskrif van sy laaste en beste gedigte, soos Diep rivier en Wanneer dit reën op Rietfontein.

Vir ’n bietjie sakgeld staan Eugène Marais soms by die ontvangstoonbank van Die Vaderland se kantore ’n artikel en skryf wat hy dan aan die koerant verkwansel.

Die Prellers het intussen ’n nuwe woonhuis op Pelindaba gebou en Marais woon in die ou rondawelhuis.

Op 29 Maart 1936, ’n triestige en reënerige dag, kan Marais nie meer nie. Hy stap ’n myl deur die reën na ’n buurman, Lood Pretorius, en vra om ’n koeëlgeweer te leen. Hy beweer daar is ’n slang in sy rondawel. ’n Mens skiet nie ’n slang met ’n koeëlgeweer nie, sê Pretorius. Vat die haelgeweer. Mooipraat help nie, en Marais vertrek met die haelgeweer.

’n Klein entjie van Pretorius se huis af skiet Marais homself in die kop.

Minstens agt van sy boeke verskyn vir die eerste keer ná sy dood. En in 2003, 67 jaar na sy dood, word hy deur ’n onafhanklike internasionale paneel aangewys as een van Afrika se top 15 letterkundiges van die 20ste eeu.

Maar vir hom was dit heeltemal te laat.
 

  


In 1894 trou Eugène Marais met Lettie Beyers, ’n beeldskone Boerenooi van Natal, maar agt dae na die geboorte van hul eerste kind sterf sy aan kraamkoors – ’n verlies wat die res van sy lewe beïnvloed.

Hy vertrek in 1898 oorsee en studeer in Londen in regte en medisyne. In 1902 is hy terug in Suid-Afrika en word as advokaat tot die balieraad toegelaat.

Op 23 Junie 1905 verskyn Marais se beroemde gedig “Winternag” in Land en Volk. Dit word vandag beskou as ’n mylpaal in die Afrikaanse poësie.

Hy gaan woon ’n aantal jare in die Waterberge, waar hy navorsing doen oor veral primate en termiete. Dit trek wêreldwyd aandag.

Weens sy morfineverslawing voer hy die laaste jare van sy lewe ’n sukkelbestaan, ten spyte van al sy suksesse, en in 1936 pleeg hy selfmoord op Pelindaba net buite Pretoria.

141 woorde (34 sekondes)

Lees ’n onderhoud met Katinka Heyns oor Die Wonderwerker.

Lees nog oor die Silwerskerm Filmfees.

  • 11

Kommentaar

  • Eugene Marais heb ik voor het eerst leren kennen door Leon Rousseau's pakkende boek 'Die Groot Verlange' van 1974.  Daar heb ik toentertijd hier in Vlaanderen over geschreven en mijn fascinatie voor Marais geprobeerd door te geven aan derden.  Ik vind hem nog altijd een boeiende en tegelijk uitermate tragische figuur.  En bepaalde van zijn gedichten vergeet ik nooit.

    Wat het plagiaat van Maeterlinck betreft, daarover kan de Zuid-Afrikaanse lezer meer vernemen in het boek 'De Plaag' van David van Reybrouck, in 2003 ook verschenen in een Afrikaanse vertaling van Daniel Hugo.  Het standpunt van de auteur over het plagiaat is ietwat genuanceerder.  Maar wat als een paal boven water staat: Maurice Maeterlinck, een Gentenaar die neerkeek op zijn Vlaams dialect en in het Frans schreef, was helemaal geen navorser, maar een schrijver, trouwens nog altijd de enige Belgische Nobelprijs Literatuur.

    Eugene Marais, inderdaad een van de belangrijke namen in de letterkunde in het Afrikaans!    

  • JOHAN Claassens

    Uit stekend ... die beste werk was wanneer Eugene morfien of pethidine geneem het.
    Hy bly in baie opsigte die Grootste Seun in Suid-Afrika.

  • JOHAN Claassens

    As politikus was Eugene die Afrikaner ver voor en wou die beste gehad het . Vandag, as terug gekyk word, was hy reg. Hy kon nie die platvloers Afrikaans duld nie. As skrywer met sy navorsing het hy van die beste literatuur gelewer. Ons moet verby sy verslawing kyk en sy werk evalueer.

    • Marius du Plessis

      Na die dood van ‘n vriend raak die woorde van Marais my diep. Die menslike wese en toestand word blootgelê teen die agtergrond van ‘n man wat sy nietigheid kon sien. In die eenvoud van sy woorde lê verborge die diepsinnigheid van sy wese. Mag ons almal die behoefte behou om onsself te kan uitdruk en in eenvoud te kan leef.

  • Meer as vyftig jaar gelede, as jong plaasmeisie, met die eerste lees van 'Winternag' het my siel verlief geraak op Eugene Marais, en die onvergelykbare manier waarop hy die Suid-Afrikaanse veld en natuur ondervind en beskryf het. Nog nooit was iets so suiwer en allesomvattend, so eg en beeldskoon as die manier waarop hy ons lieflike taal gebruik het om die esoteriese spirituele in alles wat hy ervaar het neer te pen. 'n Ware panteïs met die diepste besef van God se natuur en skepsels. Selfs na jare weg uit Suid-Afrika, is my hart nog steed verknog aan hom en al sy werk. Die enigste ander ervaring wat my siel so diep tref, is die musiek van Gustav Mahler wat dieselfde panteïstiese betowering en waarheid inhou. En dan is daar Jalal al-Din Rumi, die Persiese Sufi-digter van die 13e eeu met sy hartstogtelike gedigte oor Godsliefde en Sy natuur en Skepping - vir my is dit asof hulle ( en sekerlik andere ook) dieselfde siel besit. Dankie vir hierdie lieflike en deurdenkde oorsig van Eugene Marais se lewe. En uit my diepste hart, dankie, beide Chris Barnard, en Katinka Heyns, en elke akteur veral natuurlik Dawid Minnaar vir die fyn, diep-gevoelige en wonderlik respekvolle vertolking van hierdie Grootste van Afrikaanse digters.
    Ek woon al die afgelope 34 jaar in Australia, en het uiteindelik "Die Wonderwerker" in die hande gekry. Toe ek gehoor het van my liewe vriend Tobie Cronje dat Katinka 'n film gemaak het oor Eugene Marais, was ek opeens opgewonde en bekommerd dat geeneen ooit reg kan laat geskiet aan my Eerste Liefde, Eugene Marais nie -- maar nouja, julle het! En weereens dankie!

  • Elise
    Ek kry die indruk dat die klem in jou respons hierbo is dat jy eintlik Eugene Marais bewonder vir die feit dat hy verklaar het dat hy 'n "pantheist" is, eerder as bewondering vir sy skryfwerke, welke werke die geleentheid geskep het om jou bewondering vir "pantheism" uit te spreek.
    Die woord "pantheist" is Grieks vir "pan=alles" en "theist=god", dws alles IS God. Panteïsme erken geen sentrale figuur in die Christelike, Joodse en Moslem sin van 'n god nie, maar dat die hele natuur, insluitend die mens en dier IS God.
    Jy skryf hierbo van Eugene, nl: " 'n Ware panteïs met die diepste besef VAN God se natuur en skepsels". Hierdie sin van jou dui aan dat jy aan 'n sentrale God, soos Christen, Jood en Moslem glo, wat nie met die konsep asook Eugene se siening van "panteïsme" strook nie. Korrigeer my asseblief indien ek jou nie reg gelees het nie.

  • Marina Johnson

    By die Oog in Mookgopong is daar 'n vervalle huisie wat die mense sê Eugene Marais het daar gewoon. Is dit waar, indien wel, hoe kan ons die huisie so laat verweer, kan dit nie opgeknap en vir die Afrikaanse nageslag bewaar word nie?

  • Die verhaal stem mens tot soveel onrus. Die onrus van die menslike psige is die wieg van die kuns. Die prys wat betaal word vir daardie voorreg is trane in 'n wêreld waarin die kunstenaar-filosoof meer en meer vervreem. Die waarde van hul denke en die vrug daarvan word 'n grafskrif in graniet wat dekades later tot reg kom ...

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top