Endler Konsertreeks met Gunter Kennel

  • 0

’n Orreluitvoering in die Endler is gewoonlik ’n ietwat andersoortige belewenis, omdat ’n mens nie die orrelis se hande en voete of sy gesig kan sien nie. Dit sit my aan die mymer: Sou ’n kamera wat aan ’n groot skerm gekoppel is, dit moontlik maak om die manuaal-en-pedaal-gimnastiek, die gesigspel van die kunstenaar en sy vervoering ook visueel te beleef? Want die onbewoë rugkant van die orrelis skep, verkeerdelik, die indruk van afgetrokkenheid en maak die Tant lus om uit haar stoel op te staan en oor die kunstenaar se skouer te gaan loer.

Gelukkig doen dié “gebreke” geensins afbreuk aan die spel van ’n maestro nie.

Die Duits-gebore Gunter Kennel is ’n ingeseënde Protestantse predikant wie se doktorale verhandeling in die teologie oor vroeë Christelike gesange handel. Daar is egter niks preuts of predikanterigs aan die beskeie heer se spel nie. ’n Mens wil ter wille van die woordspeling die Engelse gesegde gebruik: “He pulled out all the stops." Die driemanuaal meganiese-aksie-Marcussen met sy 44 registerknoppe en pedaal het sy pype oopgemaak en die weldadige klanke het die luisteraars se wese gevul en oorgeloop in die saal, die gebou, die straat en – ek mag my verbeel – ook die strate van sy oorsprong iewers in Denemarke. Of is die self deur die musiek gelig en sagkens iewers in ’n ander, veraf bestemming neergesit?

Die program was luistervriendelik en het hoofsaaklik bestaan uit gewyde musiek wat gewissel het van Barok tot kontemporêr. Dit het werke ingesluit van Bach, Couperin, Reger, Messiaen en Kennel self.

Twee van Kennel se komposisies op die program, naamlik “Gloria in excelsis” en “Agnus Dei” is in Stellenbosch gekomponeer en die eerste uitvoering daarvan was tydens hierdie konsert. Die hoogtepunt was Bach se “Fuge Es-Dur” in die slot.

Die kunstenaar se uitvoering het van musikaliteit en insig gespreek. Sy aanslag was trefseker en sy vertolking sensitief-eerbiedig. Dit was suiwer welbehae om na Kennel se spel te luister.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top