Ek wonder wat van jou geword het
Die liedjie van Richard v/d Westhuizen & Lochner de Kock lui:
“Ek wonder wat van jou geword het, jy wat nog so by my spook.”
Ek het die afgelope jaar en paar maande heerlike opwinding beleef met iemand wat ek op die internet ontmoet het, met wie ek gesels het op ’n daaglikse basis, wie ek kon kontak met enige probleem en wie altyd reg was met raad en vriendskap.
Hy het deel van my daaglikse bestaan geword, en ek kon soms nie wag om werk toe te kom om met hom te kon gesels per e-mail / sms / telefoon nie.
Die opwinding was great, want hy het my laat voel asof ek die mooiste en begeerlikste vrou op aarde is. Ons het ons ingehoue passie en lus met mekaar gedeel, en het gedroom oor een dag wat ons dit kon uitleef. Want ons albei se lewensmaats is koud, kouer as die Noordpool self.
Maar toe besluit ek, dat die vriendskap nie langer kon voortgaan nie, want dit was verkeerd. Ek is getroud, hy is getroud, en die skuldgevoelens het my begin opvreet, daarom was ek genoodsaak om dit te staak.
Nou, dae soos vandag – waar my depressie op ’n laagtepunt is, en dit voel of ek nie langer meer wil aangaan met my huwelik of die lewe self nie – mis ek die gesels.
Daarom sê ek – "ek wonder wat van jou geword het".
Vrou van Pretoria