Ek soek na my Boeta, my Boeta, my Boeta ...

  • 0

Boeta

Dit was ’n heerlike dag op Bettiesbaai en ons het skuldig gevoel omdat die honde by die huis moes bly. Ons was skaars daar toe die oproep kom. Boeta, die ouer, meer besadigde whippet het verby die tuinier geglip. By die hek uit, straat af, met die tuinier agterna.

My eerste reaksie is woede. Verdomp! G’n mens kan ’n whippet vang nie. Roep hom net, hy’s die gehoorsaamste hond op aarde!

Hoofstuk een van ’n klein drama het begin. Aan die onderpunt van Glen Crescent in Higgovale sien Dee, ’n hartstogtelike hondeliefhebber, hoe die tuinier Boeta probeer inhardloop. Sy is met die motor agterna, maar verloor Boeta naby Kloofnekweg, ’n steil snelweg in die middel van ’n stad waar Kaapstadse motoriste reg laat geskied aan die uitdrukking “voet in die hoek”.

Ons knip ons besoek aan Bettiesbaai kort, maak ’n Facebook-aankondiging oor my vermiste hond en jaag terug stad toe. In die klein parkie hoog op teen Kloofnekweg, waar Boeta laas gesien is, begin ons soektog. Roep en fluit, roep en fluit, straat op, straat af. Ek is beskimmeld as dit by vreemdelinge kom, maar nou praat ek met almal. Vriend Ettienne, ’n Suid-Afrikaanse tweekampkampioen, gebruik Boeta se nefie, Basjan, as spoorsnyer. Basjan is gaande oor die skielike uittog en trippel uitgelate saam.
Donkeraand strompel ons moeg en moedeloos die huis binne. Hoe meer mense help soek en raad gee, hoe beter. Ek wend my weer tot Facebook om my vriende en “vriende van vriende” te betrek.

Hoofstuk twee van die klein soap opera begin met ’n paar foto’s van Boeta en ’n emosionele boodskap. Dit lyk of diereliefhebbers, diereaktiviste, redorganisasies en vreemdelinge die hele week gewag het vir my dramatiese Facebook-plasing. Boeta se wel en wee is op almal se vingerpunte. Die eerste wenk kom later die aand van Kevin, ’n drawwer aan Groenpunt se kant van Seinheuwel. Hy vermoed dat dit Boeta is wat hy laatmiddag op ’n voetpaadjie bokant die bloekomlaning gesien het.

Boeta en Basjan

’n Vriendin WhatsApp my, doodbekommerd oor Boeta, wat “alleen, verdwaal en verlate” in die berg ronddwaal.

Ek haal dramaties aan uit Puccini se Manon Lescaut:

“Sola, perduta, abbondonata.” Sy antwoord uit Turandot: “Nessun dorma” (Niemand sal slaap nie)!

Donderdagnag slaap ons inderdaad nie. My foon se wekker is gestel vir 4:30 vm. In die middel van die nag sien ek Philip de Vos se pragfoto’s van Boeta wat hy op Facebook gelaai het en wonder of ek Boeta ooit weer gaan sien. Teen eerste lig is ek in die omgewing van Springbokweg in Groenpunt. In die vroeë oggendlig word ons mooi berg die wrede berg. ’n Deuntjie uit my kinderdae draai deur my kop: “Ek soek na my Dina, my Dina, my Dina. Ek soek na my Dina, die Dina van my.”

Ettienne en sy spoorsnyertjie fynkam die drafpaadjies van Kloofnek tot by Groenpunt. Sy roete volg die kontoerpaadjies tot in Fresnaye, later Bantrybaai en Clifton en rondom Leeukop, weer tot by Kloofnek. Boeta ken immers dié paadjies. Ek en Ettienne hou kontak deur GPS satellietfoto’s heen en weer te sms.

Die splinternuwe Jawbone24-fiksheidsmeter aan my pols meet elke tree. Ek stap sowat 17 km in die son sonder om te dink aan ’n hoed of sonroom. Ettienne en klein Basjan drafstap minstens 30 km. “Boeta! Boeta!” Ons hoop dat hy enige oomblik skaam-skaam deur die bossies aangedraf sal kom.

Oor die middaguur beur ek weer in die rigting van waar hy laas gesien is. Onder die middaguurkanon teen Vlaeberg is ek geskok deur wat ek sien. Vullis, rommel en blyplekke van bosslapers. Ons ontmoet Benjamin en Jakob op die bult bokant Strandstraat se steengroef, van waar mens die mees dramatiese uitsig oor die middestad het. Ek het my geliefde moederstad nog nooit vanuit hierdie hoek gesien nie. Maar die kaal uitgetrapte stofpaadjies deur die droë gras en die stinkende, vrot reuk van afval is bedrukkend.

Die gemeenskap met die mooiste uitsig oor Kaapstad is skepties oor vreemdelinge. “Ons soek nie moeilikheid nie, ons soek net ons hond,” sê ek. Twee vriendelike manne, Benjamin en Jakob, beloof om uit te kyk vir die “slanke” hond met die lang bene.

“Ek het al daai honne wat die stuk vleis jaag op teevee gesien,” sê Benjamin. Hy reken met ’n groot reward koop hulle sommer vir hulle ’n huis. Nee, hulle het vroeër jare gom geruik en petrol gesnuif, maar nie meer nie. “As jy so intrek, word die pad voor jou ’n slang.” Hy lag en sy arms slinger soos ’n slang.

Vrydagaand kom vriende oor vir aandete. Aan tafel praat ons net oor Boeta. Nog ’n pleidooi volg op Facebook. Ons druk pamflette vir kafees en besighede in die buurt. Die kuberruim is ons ore en oë. Medelye, moed en raad kom van vriende uit Australië, Nieu-Seeland, Fort Lauderdale, Mauritius, upstate New York, Paternoster en Potchefstroom. Die kuberskare groei by die die minuut. Boeta lê dalk die tweede aand onder ’n bos op een van sy geliefde bergpaadjies. Of dalk ernstig beseer in ’n buurman se tuin? Hoekom bel niemand nie? Sy naam en my selnommer is tog duidelik op sy halsband sigbaar. Sou iemand moedswillig ons praghond steel?

Vroeg Saterdagoggend: dag drie. Ettienne hardloop weer die bergpad saam met spoorsnyertjie Basjan, wat teen dié tyd agterkom iets is nie pluis nie. Na ’n soektog van ure raak albei op die hondebed op die kombuisvloer aan die slaap.

Ek kan skaars voorbly met my Facebook en WhatsApp-veldtog. ’n Ou koshuisvriend wat ek meer as dertig jaar laas op Stellenbosch gesien het, laat van hom hoor. Hy kommunikeer met diere – mens kan kursusse doen vir dié tipe ding, verneem ek later – en hy sien Boeta hardloop in die veld. Later deur ’n helderverligte straat met ’n boomlaning aan die een kant. ’n Ander dieresiener laat ook weet: “Boeta is nou rustig.” Dierekommunikeerders meld hulle vrywillig aan. Vriende stuur die nommers en e-posse van sieners.

Die res van die oggend sit ons nog plakkate op. “Big reward for lost whippet.” Ek is verbaas hoeveel winkels in die Tuine-winkelsentrum bereid is om ons klein plakkate op te sit.

Laatoggend is daar iemand by die voordeur. Is dit die klokkie waarvoor ons al sedert Donderdag wag? ’n Hawelose man vra geld en skoene.

“Nee,” sê ek, “vandag soek ons hond, geen skoene en geld nie.” Basjan staan aan my sy. “Meneer”, sê hy opgewonde. “So ’n hond soos daai? Ek weet presies waar die hond is!”

Minute later sit Dickie langs my in my sportmotor, ’n duur paar Nike-sportskoene in sy drasak en ’n R100 vir die nagskuiling opgevou in sy palm. Ek ry teen die bult uit met my informant as gevangene. Die fikse Ettienne hardloop agterna. Daar is immers net twee sitplekke in ’n Boxster!

Oorkant Kloofnekweg tussen die bosse, skaars 100 meter van die naaste huise, wys Dickie ons die kamp van ’n hawelose vriend. Vir R100 en ’n paar Nike’s sal hy die man verloën. Twee plastiekwaterbakkies oortuig ons hy het dalk ’n ding beet. Boeta is in die hande van ’n daggaverslaafde bergie. Maar ons nuwe hawelose vriend se waarskuwing demp ons opgewondenheid. “Meneer, daai man het jul hond gaan verkoop vir drugs. Ek weet presies waar. Vat my stasie toe en ek keer hom.” Ons nuwe vriend Dickie is net so bekommerd soos ons en wil opsluit die transaksie keer. Op pad stasie toe skryf ek my selnommer vir hom neer. Sodra hy die hondeverkoper vind, bel hy my. Miskien is ons die geld en skoene kwyt, maar dis aardse goed! Solank ek net weer Boeta in my arms kan vashou. Ek wil nog een keer sien hoe hy met platgetrekte oortjies skaam na my loer.

Terug by die huis gons die internet. Die hele Faceboek-wêreld weet van Boeta, die verlore whippet.

Middelmiddag kom die beloofde oproep. Ons moet stasie toe kom vir die deal.

Kaapstad

Dis Saterdagmiddag en duisende ANC-partytjiegangers is op pad huis toe. Die stasie en Parade wemel van die mense. Ons parkeer naby die stadsaal en vra twee lede van die polisie om ons by te staan. “Nee, ons is hier vir die veiligheid van die President.” Die ANC-partytjie is hul missie, nie ’n hond wat oorkant die stasie vir dwelmgeld verruil word nie!

Die mobiele kantoor van die stad se sekerheidsgroep, die CID’s, is meer behulpsaam. Hulle sal per radio alle eenhede per voet of voertuig vra om op die uitkyk te wees vir ’n whippet. “Bruin-en-wit brindle … omtrent só groot. Sy naam is Boeta. Hy is vriendelik. Nee, hy sal jou nie byt nie.”

My selfoon bewe in my sak. Die battery is byna pap. ’n Slimfoon is nie ontwerp vir soveel WhatsApps, boodskappe en Facebook-kennisgewings nie.

Dickie verskyn vanuit die geel see van ANC-ondersteuners. Boeta is vir ganja verruil aan ’n Nigeriese dwelmhandelaar, verduidelik hy plegtig. Maar alles is onder beheer. Hy het die hond gesien en gaan hom vir ons wys daar op die voetbrug by die stasie. Daar is net een probleem. Hy het R200 nodig vir die transaksie. Ons weet dis natuurlik louter snert, maar kom ons gee hom ’n kans. Van agter ’n pilaar staar ek en Ettienne stip na die voetbrug, gereed om enige Nigeriër met ’n whippet in te hardloop.

Niks. Geen hond en geen Dickie nie. Ons wag. Ons is immers gewaarsku om nie die deal te bederf nie, maar Ettienne besluit ons het niks om te verloor nie. Die brug wemel van mense en ons gaan nie nou tou opgooi nie. Ettienne is die enigste middeljarige wit man op die brug. Die dwelmhandelaars val oor hul voete. Hier kom ’n klant!

Enkele meters verder, aan die voet van die oorbrug, leun drie polisiemanne rustig teen hul voertuig. Die geel skare gedra hulle goed.

Ons gewillige en getroue Dickie het ons die hele tyd bedrieg. En dit in ons moedertaal! Een van die CID-manne bel. Hulle het iemand raakgeloop met ’n bruin-en-wit hond. Die eienaar sweer dis sy eie hond. Die kuberruim kom weer tot ons redding. Die offisier stuur ’n WhatsApp-foto van die hond. Daar is 5% van my battery oor. Die foto haal my foon net-net. Dis ’n vuil basterbrak!

Twee jong rastas – die een met die naam Fabian sê hulle is Zimbabwiërs – sien ons penarie en bied onmiddellik hulp aan. Fabian klink vir my allesbehalwe Zimbabwies.

Ek probeer hom uitvang. “Bonjour. Parlez-vous français?” Hy kom nie agter dat ek met hom praat nie. Miskien is hy tog van Zim.
 

Van die honde deal weet hulle alles. Onse Dickie praat twak. Die hond is in die Kraal, die berugte plakkerskamp tussen die Bo-Kaap en die steengroef aan die bopunt van Strandstraat. Ettienne vleg deur die stad saam met die twee; ek bring die kar tot in die Bo-Kaap. Ons horlosies, beursies en selfone met die pap batterye is in die paneelkissie toegesluit. Maar ons is gewapen met R200-note, op verskillende plekke weggesteek.
 

Ons Zim-vriende sweer hoog en laag dis te gevaarlik om dit in die Kraal te waag. Hulle ken iemand wat die hond vir ons daar sal gaan steel. Vir R200, natuurlik. Ons redekabel vir meer as ’n halfuur. Een van die Bo-Kaap se vrouens waarsku ons om niemand te vertrou nie. Sy kommandeer haar man op en neem my tot in die Moslembegraafplaas wat afkyk op die Kraal. Ek kan nie meer onthou hoekom ons op die ou end vir die Zimbabwiërs ’n R200-noot gegee het nie. Dalk net om van hulle ontslae te raak?
 
Sondag begin ek moed opgee.

’n Lang e-pos kom van ’n bekommerde dieresiener. “It is with such a heavy heart that I write you this mail. I managed to print a picture of your beautiful boy from my phone. He has such a beautiful expression in his eyes and is a very loving dog. He sends pictures of him lying on leather couch with his head on your lap and he seems to visit De Waal Park a lot.

“When I connected with him I just felt emptiness and a sense of disconnection. He says he does not feel the Earth beneath his feet, has no pain, hunger or thirst. He feels like he is floating and I see a golden light surrounding him. I do not experience emotion, just senses of complete disconnect from his physical body,” lui een van die e-posse.

Ek sug hardop. Ons voel skuldig dat ons nie genoeg doen nie en ry na die DBV in Grassy Park. As ons daar vriende maak met die personeel, bel hulle ons dadelik as iemand Boeta inbring. Die mense se toegewydheid maak my tranerig. Ek haal my kredietkaart uit en maak ’n groot skenking. Vir al die Boetas van Kaapstad.

’n Splinternuwe vriendin uit Durbanville laat weet via WhatsApp hulle gesin is die eienaar van Boeta se suster en ook ’n sussie van Basjan, die volgende geslag. Sy en haar man en twee kinders is op pad Kaap toe met honderde pamflette, gedruk van my Big Reward-plakkaat op Facebook. Halfpad deur hulle soektog sluit hulle by ons aan vir ’n pizza aan die bopunt van Kloofstraat. Ons ruil whippet-stories uit. Ons honde is immers bloedfamilie.
 

Sondagnag drink ek ’n slaappil. Ek moet rus voor ek Maandagoggend by die werk inval na twee weke se vakansie.
 

Ek is nog in die bed toe my selfoon Maandagoggend lui. Al wat ek hoor, is ’n adres, bo in Glencoeweg, naby die berg. Ons spring in die kar en jaag weer die bult uit.
 
Toe ons in Glencoeweg indraai, herken Boeta my Boxster se dreuning en kom afgehardloop na die tuinhekkie. Ons is sprakeloos. Ons bedank Boeta se weldoener en vergeet om sy naam te vra. Ons vra ’n Malawiese hondestapper – deesdae ’n algemene gesig in die Kaap – om vir ons foto’s van die blye oomblik te neem. Ek is nog halfpad aangetrek en laat liewer vir Ettienne poseer met Boeta.

Toe Kaapstad ontwaak, staan Ettienne op Facebook met Boeta in sy arms. Sedertdien was daar meer as 1 700 likes, letterlik honderde boodskappe en baie herplasings. Waar Boeta tussen Donderdag en Maandag was, sal net hy weet. Van Facebook, die voetbrug by die stasie of die Kraal weet hy niks. Hy volg ons soos ’n skaduwee deur die huis.
 

Maandagaand lê daar ’n R200-noot op die kombuistafel. “En dié?” vra ek.

“Jou broek is gewas. Dit kom uit jou sak.”

Gevind!

Foto's verskaf

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top