Eerste Neville Alexander-gedenklesing

  • 1

Die eerste jaarlikse Neville Alexander-gedenklesing word op Donderdag 25 September deur die Afrikaanse Taalmuseum en -monument (ATM) in die Paarl aangebied.

Volgens Dr Michael le Cordeur, ondervoorsitter van die Raad van die ATM en voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, is hierdie prestige geleentheid ’n inisiatief om Afrikaans op die voorgrond en onder die publiek se aandag te bring ten tyde van Suid-Afrika se nasionale Erfenisdagvieringe.

Le Cordeur sal ‘n kort oorsig bied oor Alexander se lewe en werk as voormalige politieke aktivis en struggle-held, asook bekroonde linguis, opvoedkundige en akademikus.

“Alexander was in sy rol as voorsitter die argitek van die konsep om die Wes-Kaapse Taalbeleid te baseer op veeltaligheid en drie amptelike tale – die eerste sodanige taalbeleid in Suid-Afrika. As sodanig was hy ’n pionier wat sy tyd ver vooruit was, en daarom beskou ek hom as die vader van veeltaligheid en moedertaalonderrig in Suid-Afrika,” sê Le Cordeur.

“Die ATM wil graag voortaan jaarliks ‘n Neville Alexander-prestigetoekenning aan ‘n geskikte kandidaat of instelling toeken wat op voetsoolvlak ‘n beduidende prestasie op die gebied van moedertaalonderrig gelewer het. Ons doen dus ‘n beroep op maatskappye en individue om hierdie inisiatief van die ATM te ondersteun deur ‘n finansiële bydrae tot die toekenning te maak.”

Die gasspreker, prof Ernst Kotzé, sal ‘n referaat lewer met die tema “Om ? taal te besit – is daar iets soos ‘eienaarskap’ van Afrikaans?” Kotzé is emeritusprofessor in sosiolinguistiek aan die Nelson Mandela Metropolitaanse Universiteit, navorsingsgenoot en studieleier by die Noordwes-Universiteit, en raadslid van die ATM.

“Die referaat fokus op die simboliese sowel as die instrumentele waarde van Afrikaans vir moedertaalsprekers, en veral die verantwoordelikheid van die sprekers om die instrumentele waarde daarvan tot die beswil van die gebruikers te slyp,” sê Kotzé.

Die lesing vind om 19:00 in die Historium Konferensielokaal langs die Afrikaanse Taalmuseum plaas. Bywoning is gratis, maar daar is slegs beperkte plek beskikbaar. Belangstellendes moet bespreek by tel. 021 863 4809/0543 of kommunikasie@taalmuseum.co.za

Amira Clayton
Geleentheidskoördineerder I Events Coordinator
Die Afrikaanse Taalmuseum en -monument
T +27 (0)21 863 0543
F 086 231 7324 / 021 863 0192

 

  • 1

Kommentaar

  • Johannes Comestor

    Neville Alexander was by voorkeur Engelssprekend en hy het hom veel eerder vir moedertaalonderrig en veeltaligheid as vir Afrikaans as sodanig beywer. Die instelling van 'n jaarlikse gedenklesing wat Alexander se naam dra, is myns insiens veral polities en etnies gemotiveerd. Daar is talle eg Afrikaanse letter- en taalkundiges wat 'n baie sterker aanspraak as Alexander op hierdie soort verering het.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top