Fiksie-kompetisies | Fiction Competitions

 
Draak-sprokie-kompetisie: Edward se groot, groot verhaal

Edward se aankoms in die wêreld was anders as wat mens sou verwag het. Waar sy ander broers en susters uit eiers gekom het, word daar nou nog bespiegel of hy bloot net te vinnig vir die dop was of dat daar net nie ’n dop groot genoeg vir hom was nie. Edward het die wêreld kop eerste aangedurf en terwyl hy moes wag vir sy broers en susters om uit hul eiers te breek, het hy tot almal se ontsteltenis daagliks in grootte verdubbel.  Teen die tyd dat sy broers en susters se doppe gekraak het, was Edward al die helfte van ’n uitgegroeide dinosourus. Nou, as jy gedink het ’n dinosourus wat te klein is het ’n probleem, dan moet jy nou verstaan dat hoe groter jy is, hoe groter word jou probleem. In ’n ommesientjie was Edward groter as sy ma, toe groter as sy pa en toe hy slegs een jaar oud was, is hy die grootste dinosourus wat enige dier nog gesien het.

’n Dinosourus is oor die algemeen ’n groot dier, maar daar is nooit in hulle bou begroot vir die skaal wat Edward bereik het nie. Arme Edward. Sy lyf was later te swaar vir sy eie bene en hy moes hom swaar en moeisaam voortsleep.

Die diere begin onder mekaar praat en bekommerde en oorbeskermde ma’s wil weet watse veiligheidsmaatreëls die Diereraad gaan instel om hulle kinders teen Edward se groot voete te beskerm. Nou, Edward mag groot wees, maar sy hart is maar baie klein en hy is self bekommerd dat hy dalk iemand gaan beseer sonder dat hy eens daarvan bewus is.

“Ek is te groot vir hierdie wêreld,” sê hy op ’n dag vir sy ma nadat hy skrams ’n berg gemis het en vyf bome met een voet platgetrap het. “Ai my liewe seun,” sê sy ma, “dalk is die wêreld net te klein vir jou.” Stadig en met groot sorg stap hy af na die see en alhoewel hy nie kan swem nie, hoop hy die oseaan is groot genoeg vir hom om veilig saam met die inwoners daar te woon. Elke dag swem Edward beter en gou-gou begin daar webbe tussen sy tone groei en kry hy twee reuse-vinvlerke aan weerskante van sy lyf. “Dis lekker!” dink hy by homself toe hy weer deur die water gly.

Dit was ongelukkig nie lank nie of die seediere begin kla oor die groot golwe wat deur Edward se swemmery veroorsaak word. “Niemand kan meer reguit swem nie!” kla die een. “Die water word by die dag warmer!” kla ’n ander. Dis ongelukkig alles waar. Edward het self begin agterkom dat daar iets in sy lyf begin gloei. “Ek verstaan dit nie; ek is dan in die water. Hoe is dit moontlik dat ek van binne brand?”

“Ek is te groot en te warm vir die oseaan,” sê Edward. “Waarheen kan jy dan nou gaan?” vra ’n bekommerde walvis. Alhoewel hulle almal saamstem dat Edward nie in die oseaan kan bly nie, is hulle steeds baie lief vir hom, want hy is ’n dierbare dinosourus en bedoel geen kwaad aan enige ander lewende wese nie. Hy is net te groot en te warm. “Ek sal na die hemel gaan,” sê Edward nadat hy lank oor die saak gedink het. “Maar Edward, jy kan dan nie vlieg nie!” sê ’n ou albatros wat die saak so sit en luister het. “Ek kon ook nie swem nie,” antwoord Edward en skuifel uit die waters uit. “Dalk is die see net te koud vir jou, my seun,” sê sy ma, wat aan wal vir hom wag.

Dit het hom ’n hele rukkie geneem, maar stadig, meter vir meter, vlieg Edward hoër tot op ’n dag toe hy sy reusevinne kan oopsprei en hulle soos twee pragtige vlerke oopvou. Edward vlieg hoog en toe nog hoër. So vry en lig het Edward in sy lewe nog nooit gevoel nie. Hy duik en swenk links en regs. ’n Reuseglimlag sprei oor sy gesig, maar skielik word hy oorval deur ’n vreeslike vlam. “Wat!” gil hy, en nog ’n vlam woed verby sy kop. Hy wil nog iets uitroep, maar toe hy sy mond oopmaak borrel nog ’n vlam uit. “Dit kom uit my uit,” dink hy verwonderd en blaas sommer nog ’n groot vuurkolom.

Daardie aand lê Edward opgekrul in sy grot toe sy ma kom inloer. Sy kan nie meer elke dag kom nie, want Edward bly nou hoog teen ’n berg en dis ver se stap, maar sy kom so gereeld as wat sy kan. “Jy het darem pragtige vlamme gemaak, my kind. Al die diere het verwonderd gestaan en kyk en jou pa was baie trots!” Edward voel baie verleë, want hy kon nog nooit iets doen waarvan die ander diere gehou het nie. “Ek probeer net die beste dinosourus wees wat ek kan,” antwoord hy skaam. “Jy is lankal nie meer ’n dinosourus nie, my kind – jy is ’n draak,” antwoord sy ma. “Hoe is dit moontlik? Hoe word ’n dinosourus dan ’n draak?” vra ’n baie verbaasde Edward. “’n Dinosourus word ’n draak as hy bereid is om net so ’n bietjie anders te wees,” antwoord sy ma met ’n breë glimlag.


>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.


Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address