Draak-sprokie-kompetisie: Drina moet trou

  • 0

Haar ogies was geel en rooi. Al die reundrake het gedink sy was baie mooi. Altyd opgetof en opgetooi. Haar naels was die skoonste van al die wyfiedrake en haar skubbe het altyd in die son geblink soos ’n reënboog.

Drina het geweet sy is mooi.

Haar persoonlikheid was egter lelik en sy was baie kortaf met al die reundrake wat haar vir etes nooi. Al die uitnodigings van die lelike reundrake word gewoonlik weggegooi.

Sodra wyfiedrake vyf jaar oud word, moet hulle binne twee weke trou. Drina wou seker maak dat sy met die rykste, slimste en aantreklikste draak trou.

Op haar verjaarsdag besluit sy dat sy nou ’n reundraak moet kry. Sy stap af na die dokterdraak se spreekkamer. Hy was te besig, het hy gesug, maar indien sy werklik enige pyne het, sou hy haar dadelik kon besigtig. Hartseer hardloop sy uit die spreekkamer uit. Die slimste draak is uit haar drome uit!

Daarna het sy besluit om ’n piekniekmandjie te pak vir daardie aantreklike draak met die mooiste en grootste en vinnigste perdewa.

Sy kom by sy plaas aan. Hy het nie geweet wat aangaan nie. Sy vra hom om te trou (want in die Jaar van die Draak moes wyfiedrake vra om te trou). Hy sê nee en dat sy moet padgee. Hy was wel ryk en aantreklik, maar hy het sy oranje ogies op iemand anders gehad, werklik! Moedeloos en radeloos het sy hopeloos rondgewaggel deur die dorp.

Sy wou graag met die perfekte draak trou, maar nie een wou met háár trou nie. Sy kon dit nie verstaan nie en wou dit nie glo nie – sy was dan so mooi en gewoonlik moes reundrake hulle nie twee keer laat nooi vir ’n geselsie of ’n ou koffietjie nie!

Sy het haar maar weer gaan troos met ’n bietjie draketroos.

Tussen haar stromende trane merk sy ’n lelike draak op. Hy het vir haar gestaar, en sodra sy in sy rigting kyk, sou hy sy groot oog vir haar knik.
Ag sies! dink sy by haar self. Hy lyk skoon onaardig met sy vet voete, geel tande, buitengewoon groot oë. Ag, wat soek hy? wonder sy.

Hy stap oor na haar, en sy word amper naar. Hy vra vir haar of hy langs haar mag sit. Sy sê prontuit nee en wou begin padgee. Hy vra haar dan of sy weet dat hy nog altyd lief was vir haar.

Sy het kwaad geword en stoom het by haar neus begin uitkom. Sy was kwaad vir hom. Hoekom? Sy was dom. Hy vra haar om te trou. Sy het hom afgesnou.

Hy sê vir haar dat hy arm, lelik en miskien dom is, maar sy liefde vir haar is al wat hom laat leef. Hy verduidelik ook verder dat geld maklik kan verdwyn, skoonheid kan vinnig weg kwyn en slimheid beteken niks, sodra daar egte, pure liefde is.

Sy was verras met sy wysheid.

Sy sê toe ja, met die besef dat sy haar hele lewe lank dwaas was.

>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top