Fiksie-kompetisies | Fiction Competitions

 
Draak-sprokie-kompetisie: Dit

Laat een middag stap ’n drakie  hartseer en  alleen op ‘n verlate stofpad.
Roedolf  het ‘n entjie met sy fiets gaan ry.
Roedolf  stop, en staar  verbaas na die draak.
Sy oë jok nie vir hom nie, dink Roedolf.  Dis regtig ’n draak,  hier voor hom in die pad ...
Met hartseer oë kyk die draak na die verstomde seuntjie.
Skugter staar hulle na mekaar.
Versigtig klim Roedolf  van sy fiets af. Hy is bang hy verwilder die draak. Hy plaas sy fiets versigtig op die grond  en stap stadig met ’n uitgestrekte hand na die draak.
“Toemaar ... toemaar, dis oukei, liewe diertjie, ek sal jou niks doen nie ... toemaar, ek wil graag met jou vriende wees,” sê die seuntjie terwyl hy liggies aan die
draak se growwe nek vat.
Die draak staar net voor hom uit, nie gepla oor wat gaan gebeur nie, terwyl die seuntjie bly vryf en saggies praat.
"Wat is jou naam?" vra Roedolf terwyl hy die draak bly streel. "Jy’s  mooi en tog so grof en groot," sê hy terwyl hy nader aan hom beweeg.
"Dit," sê die draak. Roedolf  skrik so groot dat hy kaplaks op sy sitvlak in die stof val.
Verdwaas kyk hy na die draak. "Jy kan praat," sê hy. "Ja," antwoord Dit.  "‘Dit’ is my naam, en wat is joune?" vra die draak."Roedolf," sê die seuntjie, nog heel verbaas terwyl hy opstaan en die stof afskud.
"Hoekom is jou naam net ‘Dit’?” vra die seuntjie.
“Omdat ek sommer net ’n ‘dit’ is,” sê die draak.
"Kyk hoe lyk ek. My lyf is half, ek het nie ’n stert nie, en my mamma en pappa is weg.  Ek het verdwaal en weet nie waar my huis is nie." Dit is na aan trane.
Roedolf loer stadig verby die draak en sien hy het geen stert  nie. "Dis vreeslik," dink Roedolf – dis soos om sonder hande te wees.
"Van waar is jy, Dit?”  vra Roedolf  "Waar is jou huisie?”
"Ek het geslaap," sê Dit, "en toe ek wakker word, was Mamma en Pappa weg en die grot was baie stil. Ek het lank gewag en toe besluit om na hulle te kom soek, maar nou weet ek nie waar ek is nie. Niemand wil my help nie. Ek het nie maats nie – hulle spot my. Hulle sê ek is’n halwe draak.” Hy gaan sit plat in die pad.
"Toemaar," sê  Roedolf. "Kom ons kyk wat ons kan doen  om die hartseer uit jou hartjie te kry."
"Kom ons stap terug tot waar jy kan onthou waar jou huisie dalk is en jou mamma en pappa is."
Roedolf vat sy fiets en Dit loop sleepvoet agter hom aan op die spoor soos wat hulle kan sien hy gekom het.
Dit raak nou vinnig donker, maar Roedolf weet hy moet eers vir Dit help.  Hy ken die pad na sy huisie toe.
"Wens ek kan help om jou gelukkig te maak," sê Roedolf.
"Wat help dit tog?  Niemand hou van my nie, en ek is nie eers ’n regte draak nie," sê Dit.
“Hoekom sê  jy so?” vra Roedolf.
"Omdat ek nie ’n mooi stert het en kan spog soos die ander drakekinders rondom my nie. Hulle wil ook nie saam met my speel nie, want ek kan nie die bal met my stert
slaan soos hulle nie. Ek staan altyd langs die huis en kyk hoe lekker hulle speel."
“Toe maar, Dit, ons sal ’n plan maak," sê  Roedolf en kry  ’n blink idee.
“Dit,” sê hy, "ek het ‘n wonderlike plan. Wag vir my – ek is nou terug.”
Met ’n spoed trap Roedolf sy fiets  die stofpad af, terwyl Dit staan en toekyk.
Vir ’n wyle is dit doodstil rondom Dit. Hy hoor net  naggeluide wat saggies om hom roep.
Skielik is daar ’n geroep, eers sag en ver, maar toe al harder: "Dit ... Dit ... my seun. Dit, waar's jy?"
“Dis my mamma en pappa – hulle soek na my.” Op sy hardste skreeu  hy: "Hier’s ek, Mamma, Pappa! Hier’s ek.”
Met groot vreugde hardloop hy na hulle toe. Net toe kom Roedolf  met ’n spoed daar aan. “Dis my nuwe maatjie, Mamma."
“Dit, ek gaan jou leer bal skop,” sê Roedolf, en gooi ’n groot rooi bal voor Dit neer.
En so het Dit en Roedolf die beste maats geword, en natuurlik het Dit baie draakmaats gekry en die beste voetbalspeler van Draakland geword.



>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.




Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address