Fiksie-kompetisies | Fiction Competitions

 
Draak-sprokie-kompetisie: 21 Desember 2012

Amangkurat het hom vererg. Vir twee miljoen jaar al is die eiland sy blyplek, maar deesdae kom hier elke week meer mense aan. Die vissermanne wat vir ’n uur of twee hulle bote anker, kan hy nog verdra. Maar gister het ’n ma, pa en twee kinders sommer kom uitkamp op die strand.

Hy beraam planne waar hy onder ‘n rotswand dryf. Zoem elke dan en wan in op die klomp wat mekaar in die branders rondjaag. “Hulle geniet dit gans te veel.” Hy snork: “Môre, oormôre, bring hulle meer maatjies saam. As plan A nie werk nie, gaan ek hulle met my stert doodslaan en draakkos kook.”

Daardie aand wag hy totdat iemand in die tent ’n gaslamp dooddraai. Gaan land dan geruisloos in hul kamp. Los ’n paar draakspore rondom die tent. Stop ’n koelhouer vol kos, ’n pers iPod en al hulle handdoeke in onder sy vlerk.

Die son is nog skaars op toe ’n gillery vir Amangkurat wakker pla. Die familie hardloop, hande op die kop, draaie oor die strand. Hy gaap en grynslag: “Jip, nie meer lank nie, dan is ek van julle ontslae.”

Van veraf kom daar ’n vreemde gerammel aan. Sy regteroor draai om beter te hoor. Die geluid word per sekonde harder. Hy loer grootoog onder die rotswand uit. Net betyds om te sien hoe ’n massiewe planeet voor die son inskuif.

Amangkurat se mond hang oop: “Nibiru is terug!” Geleidelik word alles donker en koud. Die branders woel woester as ooit. Hy besef die veiligste plek is nou in die lug.

Net vyf vlerkklappe verder hoor hy sy eie stem breek as hy skree: “In sulke tye wil selfs ’n draak nie alleen wees nie!” Daar en dan maak hy ’n u-draai.

In die lig van ’n uitasem vlam kan hy die familie sien wat mekaar vasklou op die strand. Met een swaai van sy stert skep hy al vier gelyktydig op sy rug. Hy vlieg so hoog as wat hy kan. Sy keel brand en hy dink hy het verdwaal. Draaktrane spuit uit sy oë. Hy huil so hard dat hy nie besef die vibrasie en geraas het lankal opgehou nie.

Eers toe die lig terugkom, sluk hy vinnig sy rook en trane terug. Daar onder dryf elke eiland nog netjies op sy eie plek. Hy sug en fluit. Daar bo sweef die geel en pienk planeet verder van die son en die aarde weg. Dan sak hy af op die naaste dak en laat gly die mense versigtig van sy rug af.

Veilig terug in sy grot druk Amangkurat die iPod in sy oor. Al die vlermuise gee pad toe hy wild begin hip-hop en rap: “Dis sowaar die minste skade ... in twee-en-tagtig-dekades ... wat Nibiru aangerig het ...op my Moeder Aarde.”
 



>>> Skryf in vir die kompetisie. Klik hier vir nog inligting.





Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address