Teater-resensies | Theatre Reviews

 
Doodsnikke – die geskiedenis agtervolg soos ’n donker skaduwee

Doodsnikke
12 April – 5 Mei
19:00
Flipside, Baxterteaterkompleks, Kaapstad
R110/R130/R150
Computicket

 

 

 

 

Doodsnikke, ‘n vertaalde verwerking van Sam Shepard se Buried Child, is tans op die planke by die Baxterteater met regie deur Janice Honeyman. Hierdie verwerking is deur Saartjie Botha geskryf en vertel die storie van ‘n gesin wie se geskiedenis hul soos ‘n donker skadu agtervolg. Dit word geleidelik duideliker dat dié gesin ’n geheim in die kas het wat later moet ontrafel.

Doodsnikke speel af op ’n plaas in die Noord-Kaap in ’n postapartheid-Suid-Afrika. Honeyman kompliseer egter die reeds ingewikkelde teks deur dié gesin ’n diverse rasse-rolverdeling te gee. Hierdie keuse is vir ons verwarrend en daar was teen die einde van die produksie steeds nie vir ons lig op hierdie onderwerp nie. Hierby moet ons egter noem dat die verhoogsuitleg en gebruik van ruimte baie suksesvol is, met ’n stel wat duidelik die wêreld van die toneelstuk skep.

Gys de Villiers (as Dodge) en Anna-Mart van der Merwe (as Hannie) se spel is ryk en aanduidend van jare se ervaring, alhoewel Van der Merwe nie altyd duidelik hoorbaar is onder ’n swaar aksent nie. Van die jonger akteurs se spel was ongelukkig nie deurlopend oortuigend nie en hulle karakters was as gevolg daarvan nie te alle tye oortuigend nie. Daar moet egter melding gemaak word van Albert Maritz, wie se transformasie en fisikaliteit merkwaardig was. Van Buried Child na Doodsnikke het Shepard daarin geslaag om ’n toneelstuk te skep wat oor grense en tyd strek. Wanneer die gehoor die teater binnestap, word ons dadelik gekonfronteer met stof en grond waaroor ons moet loop om by ons sitplekke uit te kom en tydens die verloop van die drama word hierdie stofbeeld al hoe sterker wanneer die karakters daarin begin rol. Dit is asof hulle lewens oortrek is met ‘n laag stof waarvan hulle nie ontslae kan raak nie. Die karakters se onvermoë om met die werklikheid om te gaan is vandag nog ’n waarheid in die lewens van baie hedendaags Suid-Afrikaners. Die disfunksionaliteit van ’n gesin soos gesien in die stuk, is natuurlik ’n tema wat oor generasies heen strek en derhalwe universeel ’n identifiseerbare tema bly.

Doodsnikke handhaaf deurlopend ’n bevredigende ritme wat die spel gemaklik vir ’n uur en veertig minute dra.

Botha, Honeyman en die geselskap slaag beslis daarin om Shepard na eie bodem te bring. Doodsnkikke kan van Maandae tot Saterdae om 19:00 in die Flipsideteater (Baxter teatersentrum) gesien word en speel nog tot 5 Mei.

Bespreek deur Computicket.

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address