Snars poëtika | New writing

 
Dit gaan nie oor die fiets nie

Die week in woorde

In September 2012 het ek ’n tydlose gedig begin skryf wat teen verlede week nie meer tydloos was nie.

En dis als Lance Armstrong se skuld.

My groot poëem was ’n fietsgedig, ’n vorm waaroor ek in daardie tyd baie begin dink het. Fietsgedigte is op twee maniere verwant aan pedaal-gedrewe vervoer: Eerstens gaan fietsgedigte oor fietse, of word fietse ten minste in die verse genoem. (Selfs een fiets, ’n klokkie of ’n aantal speke is genoeg om van ’n gedig ’n fietsgedig te maak.) Maar fietsgedigte gaan ook oor ’n sekere tempo, blik en ingesteldheid. Fietsgedigte is verse wat nie so vinnig soos motors of taxi’s na hulle einde toe jaag nie, maar ook nie teen ’n slakkepas en in stapskoene aandrentel nie. Fietsgedigte cruise net lekker, versnel wanneer hulle lus het en free wanneer hulle moeg raak. Hulle let meer op as motorgedigte, maar dra minder bagasie as taxi-gedigte. Hulle kan fyn besonderhde waarneem maar kan tog ’n breër prentjie inneem as die baie spesifieke en gerigte blik van die stapgedig.

Fietsverse is heel moontlik die perfekte digvorm, en my komposisie was ’n byna volmaakte voorbeeld. (Byna, want hy was nie heeltemal klaar nie.) My byna-volmaakte-fiets-vers het ek op ’n pragtige Overberg-lentedag in my kop geskryf, terwyl ek die pedale van my pampoenkleurige bergfiets trap. Die deel wat steeds in my geheue uitstaan, is die volgende reëls wat so presies beskryf het teen watter tempo ek oor die grondpaaie zoem, en watter landskap ek om my waarneem:

Ek is Lance Armstrong op vakansie
Ek is Petra Muller op speed.

Dan was daar ook ’n gawe deel waarin ek die aangename klanke van my gedig vergelyk het met Marlene van Niekerk gewapen met ’n fietsklokkie. 

Dit sou net nog beter kon geraak het as Lance dit nie alles ruïneer het nie. Want nou beteken “Lance Armstrong op vakansie” nie meer “iemand wat vinnig fietsry maar nie jaag nie”, maar eerder “iemand wat ’n paar dae afvat om ’n drug bust te vermy” of “iemand wat vir ’n week lank nie ’n leuen vertel het nie”.  En ek kan ook nie meer wegkom met die reël oor Petra Muller op speed nie … Wat eens ’n onskuldige manier was om te sê dat die landskap wat sy in haar gedigte so mooi beskryf, vinnig verby-zoem, roep nou die hele fietsdwelmskandaal op, kompleet met bloedoortappings en boelie-taktiek.

Lance het die reputasie van fietsryers en fietsdigters oral enorme skade aangerig … en ons (oukei, ek) wat beide fietsryer en fietsdigter is, gaan dalk nooit weer herstel nie. Die performance-enhancing drug wat ek vanaand gebruik om my deur hierdie skrywe te help beur, naamlik ’n massiewe stuk vlaskyf, rus op Lance se gewete … en as ek nooit weer ’n woord skryf nie, is dit ook sy skuld.

As die fietsvers-beweging nooit behoorlik op dreef kom soos dit behoort nie, het dit niks te make met die feit dat ek nie skryf as ek behoort te skryf, of die nodige talent het om (volledige) tydlose fietsverse te skryf nie. Dis alles Lance Armstrong se skuld, en net Oprah kan ons red. (Hopelik sit sy vir elkeen in die gehoor ’n digbundel onder die stoel, en hopelik bevat daardie bundel minstens een verlossende fietsvers.) Tot sover. Amen.

Nuwe gedigte op LitNet







 


Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address