Die wonderwêreld van Eugène N Marais kry 'n staanplek in die Paarl

  • 1
Francois Lötter
Jean Oosthuizen

Die wonderlike leefwêreld van Eugène Marais, onder meer skrywer in 1905 van “Winternag”, die eerste Afrikaanse gedig, is besig om groot belangstelling gaande te maak. Marais, wat 65 was toe hy homself in 1936 by Pelindaba buite Pretoria geskiet het, word deur baie mense as een van die grootste Suid-Afrikaners van die 20ste eeu gereken. Daar is groot planne om die man met die inspirerende, skeppende, hartseer en inderdaad veelbewoë lewe op ’n unieke manier te vereer op die plek in die hart van die Paarl waar hy sy skoolloopbaan voltooi het. Jean Oosthuizen het met die joernalis Francois Lötter, wat verantwoordelik is vir onder meer kommunikasie, bemarking en fondswerwing by die Eugène Marais-stigting in die Paarl, gesels oor die stigting se planne om dié veelsydige Suid-Afrikaner te vereer.

Wat is die doel van die Eugène Marais-stigting en hoe het dit tot stand gekom?

Die Eugène Marais Stigting is na ’n deeglike ondersoek en konsultasieproses wat in 2009 begin het, aan die begin van 2013 as niewinsgewende organisasie geregistreer.

Verskeie rolspelers in die gemeenskap, sowel as kenners van Marais, is saam met die eienaars by die proses betrek en ’n voorlopige sakeplan en ’n faseplan van aksie is in samewerking met die eienaars opgestel.

Die doel is om die ou geskiedkundige skool- en koshuisgeboue van die ou Paarl First Class Public School op die landgoed van die Zomerlust-gastehuis in die hartjie van die Paarl te restoureer en te omskep in ’n omgewing waar Marais se lewe en werk op ’n interaktiewe, praktiese en leersame wyse vir die grootste moontlike gehoor toeganklik gemaak kan word.

Dit behels veral die bewaring, bekendstelling en bemarking van sy literêre bydraes, in besonder sy natuurwetenskaplike en literêre nalatenskap in ’n moderne, interaktiewe en lewende bewarings- en opleidingsentrum.

Jonk en oud moet hier, waar Marais van 1884 tot matriek in 1887 op skool was, kan kom leer uit die verskillende fasette van Marais se besonderse lewe.

Die Zomerlust-gastehuis en Paarl First Class Public School, voorloper van die huidige Hoër Jongenskool Paarl, is geleë op ’n goedbewaarde erfenisterrein, destyds die Rozenfontein-plaas, langs die Paarl se Hoofstraat.

Omdat Marais sy lewe lank rondgetrek het, bestaan daar buiten in die Waterberge en die rondawel in Pelindaba waar hy sy laaste jare deurgebring het, nêrens ’n plek soos hierdie waar sy nagedagtenis bewaar en vereer kan word en binne bereik van almal is nie.

Die stigtingskomitee het behoorlike navorsing gedoen by al die tersaaklike organisasies en individue. Hulle het almal die tot stand bring van so ’n “sentrum” vir Marais in die Paarl gesteun.

Die direkteure van die stigting is Niël du Toit, voorsitter en stigterslid, Heini Kotzé, konsepleier, stigterslid en kenner van Marais wat nou ook aan 'n geïllustreerde lewensverhaal van Marais werk, en Johann Lodewyk Marais, navorsingsleier en raadgewer, en ook kenner van Marais sowel as ’n skrywer, medeskrywer, bekroonde digter en navorsingsgenoot by die Universiteit van Pretoria.

Francois Lötter in sy kantoor ‎by
die Eugène Marais-stigting in die Paarl.

Julle is besig met ’n baie ambisieuse projek. Dit klink vir my na veel meer as net ’n museum. Eintlik is dit glad nie ’n museum in die ware sin van die woord nie. Presies wat beoog die stigting met die projek en wie wil julle almal bereik?

Die groot plan is om dit ’n interaktiewe plek te maak waar mens nie net 100 jaar in die geskiedenis sal teruggaan in Marais se besonderse lewe nie, maar sy lewenservarings in hedendaagse situasies kan toepas.

Friedel Hansen se boek Die handdruk van die dood, wat onlangs verskyn het en handel oor dwelms en verslawing waaraan Marais blootgestel is en waarvan hy ’n tragiese slagoffer was, bevat aspekte waarmee ouers en kinders en die samelewing ook vandag gekonfronteer word: dwelms, verslawing, algemene medikasie, sportlui se gebruik van opkikkers, keuse van vriende, depressie, selfdood, ens.

Marais se navorsing oor miere en hoe ’n miershoop ’n lewende organisme is wat in besigheids- en ander modelle toegepas kan word, is ’n ander interessante tema uit sy lewe. Ons wil dit ook hier met die hulp van kenners en kundiges aan oud en jonk oordra.

Marais het ook belanggestel in die bonatuurlike. Hy het ook graag vir kinders van feetjies vertel om hulle te leer om hulle verbeelding te gebruik om uiteindelik skeppend en nuut te dink.

Verder het hy die liefde van sy lewe vroeg, met die geboorte van hulle eerstelingseun, verloor. En van toe af soekend en verlangend sy lewenspad geloop.

Die plan is om hierdie en ander temas wat al deur die stigting geïdentifiseer is, aan te bied in die vorm van gereelde interaktiewe aktuele gesprekke, navorsingsgeleenthede, seminare, boekgesprekke, skrywersbyeenkomste, boekbekendstellings, skryfskole, musiekuitvoerings van sy getoonsette gedigte, kinderpartytjies en -gesprekke en skryf- en ander opheffingsprojekte.

Daar lê ook talle stories en gedigte in laaie rond omdat die skrywers daarvan om verskeie redes net nooit die geleentheid gehad het om dit te probeer publiseer nie. Die stigting wil hierdie storievertellers help.

Die stigting beoog om sulke byeenkomste ook elders in die land aan te bied, veral in Pretoria, waar Marais gebore is en die grootste deel van sy lewe deurgebring het.

Uiteraard is die bewaring en besigtiging van artefakte, boeke, borsbeelde, foto’s, artikels, ens ’n belangrike deel van die stigting se planne en werksaamhede en skenkings is reeds ontvang.

Die plan is om besoekers en deelnemers op ’n moderne en interaktiewe wyse hieraan bekend te stel. Dit sal dus inderdaad nie ’n museum wees soos ons dit ken nie. Iets veel meer deelnemend.

Daar is iewers ’n aspek van Marais se lewe wat deur elkeen van ons ervaar is, ervaar word of nog ervaar gaan word. Ons wil almal wat asemhaal en skryf en skep en hartseer word en moedeloos is en geluk ervaar en ’n sukses wil maak van wat ook al vir haar of hom belangrik is, betrek en help om die daaglikse bestaan beter te verstaan, te begryp en te beleef.

'n Gespreksgroep gesels op die skoolwerf van die skool in die Paarl waar Eugène Marais matriek geskryf het, oor Marais se nalatenskap.

So ’n projek moet uit die aard van die saak baie geld kos. Waar gaan julle die nodige fondse vandaan kry om dit finansier?

Ja, die projek behels verskillende fases, waarvan die belangrikste uiteraard insameling van fondse is. Daarsonder kan niks gebeur nie, maak nie saak hoe mooi die planne uitgewerk is nie.

Almal wat nou direk betrokke is, doen die werk vrywillig sonder enige vergoeding. Die projek is egter van die begin met groot opgewondenheid en belangstelling ontvang en almal, insluitend die prokureur en ouditeur, lewer hulle aanvanklike dienste in die eerste fases gratis of teen spesiale koste.

Die eienaars van die Zomerlust-landgoed het ook kantoorruimte en ander geriewe in die ou skoolgeboutjie gratis beskikbaar gestel. Ons kan hulle nie genoeg bedank nie.

Ons is egter afhanklik van skenkings om te kan voortgaan met die restourasieproses en om maandelikse bedryfskoste te dek. Die eerste skenking is ontvang van Henry Laubscher namens die Hoër Jongenskool se matriekklas van 1946 wat ’n reünie op die ou skoolwerf gehou het.

Die Drakenstein-munisipaliteit en -stadsraad steun ook die projek ten volle en het al waardevolle geldelike bydraes gegee. Lambert Retief van Paarl Media, Babylonstoren (Koos Bekker) en ook die historikus Cas Bakkes en sy skrywersvrou Margaret het al geld geskenk. Ons is veral baie dank verskuldig aan Ton Vosloo en Naspers vir ’n ruim bydrae.

Elke bietjie, van klein individuele skenkings tot groot bemakings en betrokkenheid van maatskappye en organisasies wat die saak goedgesind is, gaan help om die wiele te laat rol.

Alle skenkings en finansies word deur die stigting se ouditeur geadministreer en ’n ooreenkoms oor toekomstige betrokkenheid by die sentrum sal met skenkers aangegaan word.

Jy sê die projek vind in fases plaas. Hoe ver het julle al daarmee gevorder en wat behels die volgende fase?

Die formaliteite met die daarstel van die stigting en die aanstel van direkteure en ’n kommunikasiebestuurder/bemarker/fondswerwer is afgehandel. Ook ’n voorlopige sakeplan, wat uiteraard gereeld aangepas en hersien sal word. Die huidige fase behels fondswerwing in die aanloop tot die rehabilitasiestourasie van die geboue en implementering van ’n finale sakeplan in samewerking met donateurs.

Die Projekargitek het reeds volledige opmetings van die geskiedkundige twee geboue gedoen en is besig met die voorbereiding van die nodige tekeninge en dokumentasie vir voorlegging aan die plaaslike bewaringsinstansies en Erfenis Wes-Kaap. Dit word gedoen in oorlegpleging met 'n navorser en erfeniskonsultant. Voorlopige koste-beramings vir die rehabilitasie van die geboue en verwante landskapering sal hierop volg.

Daarmee saam natuurlik die bemarking van die projek en uiteindelik identifisering van donateurs. Die stigting wil ook graag die eiendom met die twee geboue daarop aankoop. Hiervoor is baie geld nodig, maar met almal se steun - elke Rand help – glo ons ons sal uiteindelik by die einde uitkom. Ons stap treetjie vir treetjie en hoop hier en daar vir ’n reusesprong.

Die historikus Cas Bakkes en sy vrou, die skrywer Margaret Bakkes, gee in die Paarl 'n tjek aan Niël du Toit, voorsitter van die Eugène Marais-stigting.

Marais was veel meer as net ’n digter en skrywer. Hy was ook natuurnavorser, koerantredakteur, geneeskundige en regsgeleerde. Gaan julle slegs op hom as skrywer fokus of beplan julle om al die ander fasette van sy lewe in ag te neem en hoe wil julle dit doen?

Die meeste mense, veral ouer Suid-Afrikaners en Afrikaanstaliges, ken Eugène Marais as die skrywer van gedigte soos “Winternag”, “Mabalêl” en “Skoppensboer” wat ons op skool geleer het. En natuurlik van sy navorsing oor miere en bobbejane, waaruit Die siel van die mier en Die siel van die aap gebore is.

Toe die direkteure my verlede jaar gevra het om betrokke te raak by die projek, het ek ook nie veel meer as dit van Marais geweet nie. Nadat ek Leon Rousseau se boek oor Marais se lewe, Die groot verlange, gelees het, het ek ’n heeltemal ander siening oor Marais en sy vele lewensfasette gekry. Ek sal elkeen aanbeveel om hierdie boek te lees.

Marais se besonderse lewe word ook treffend saamgevat deur Robert Ardrey in die voorwoord van Die siel van die aap: “Eugene Marais was a human community in the person of one man. He was a poet, an advocate, a journalist, a storyteller, a drug-addict, a psychologist, a natural scientist. He embraced the pains of the many, the visions of the few, and perhaps the burden was too much for one man. As a scientist he was unique, supreme in his time, yet a worker in a science then unborn. He was a freak, spawned by the exuberance of mankind, an immortal who speaks from his grave.”

Die stigting het reeds temas uit Marais se lewe geïdentifiseer wat vandag nog van groot waarde vir almal van ons kan wees. Dit sal op verskillende wyses in samewerking met verskillende individue, kenners, groepe, instansies en organisasies by die stigting sowel as landwyd aangebied word aan oud en jonk.

Die temas sluit, benewens ander, in: Pretoria, die Boland, joernalistiek, Londen, Jameson-inval, Anglo-Boereoorlog, taalstryder, termiete, primate, droogte, slange, broodbome, evolusie, die bonatuurlike, verslawing, die inheemse bevolking, omgang met die politiek, gedigte wat getoonset is, digkuns, prosa, drama, films oor sy lewe, vrederegter in die Waterberg, kenner van edelmetale (goud en silwer) en mynbouregsadviseur.

Marais se nalatenskap strek veel wyer as net Afrikaans. Gaan dit ’n veeltalige instansie wees of fokus julle net op sy nalatenskap in Afrikaans?

Marais het sy skoolopleiding in die Paarl in Engels ondergaan en verskeie Engelse gedigte van hom is toe reeds in die Het Paarl District Advertentieblad gepubliseer. Sy eerste gedig, “Ode, addressed to the Paarl”, het op 14 Oktober 1885 verskyn.

Hy het later gesê hy kan hom weens sy Engelstalige skoolopleiding beter in Engels uitdruk. Hy het wel ná sy skoolopleiding sy gedigte en verhale hoofsaaklik in Afrikaans geskryf. Om jou vraag kort en kragtig te beantwoord: Afrikaans is die taal wat Marais gepraat het. Afrikaans is die taal waarin hy die meeste van sy gedigte en verhale geskryf het. Marais het ook nie geskroom om standpunt ten gunste van Afrikaans in te neem in sy jare as redakteur en politieke joernalis in Pretoria nie. Hy het dit egter nooit ten koste van enige ander taal gedoen nie.

Die stigting is Afrikaans, maar sal in die bevordering van sy doel veeltaligheid as werkwyse gebruik in ’n poging om Marais se besondere nalatenskap aan soveel moontlik mede-Suid-Afrikaners oor te dra. Ons sien baie uit daarna.

Die tafel is gedek.

Min mense is daarvan bewus dat Marais in die Paarl op skool was en weet min van sy Bolandse wortels. Baie mense ken slegs sy verbintenis met die destydse Transvaal. Kan jy dalk iets meer vertel van die skool en hoe Marais daar beland het?

Hoewel sy ouers oorspronklik van Stellenbosch gekom het, het hulle later Pretoria toe getrek, waar Marais gebore is. Hy was tien toe sy ouers hom na een van sy ouer susters in Boshof in die Vrystaat gestuur het om saam met haar twee seuns skool te gaan.

Hulle het in 1884 besluit om Paarl toe te trek sodat hulle goeie skoolopleiding in Engels kon kry. Die Paarl First Class Public School se eerste skooldag was op 15 Julie 1868 nadat daar op ’n vergadering op 30 Maart 1868 besluit is om ’n sogenaamde first class government school in die Paarl te begin. Daar was 16 seuns op die eerste dag.

Die leerdertal het in September 1868 tot 58 gegroei, waarna die skool op 15 Oktober 1868 na ’n groter gebou geskuif het. Die skool het verder gegroei en in Januarie 1871 na ’n nog groter gebou in die dorp geskuif.

Leerders het steeds meer geword en na ’n basaar in 1874, waar 800 pond ingesamel is, is die eerste gebou aangekoop. Die huis is groter gemaak vir verblyf vir 15 koshuisgangers en ’n onderwyser en ’n nuwe skoolgebou is langsaan gebou.

Die skoolgebou is einde Desember 1875 betrek. Dit is in hierdie gebou waar Marais van 1884 tot 1887 skoolgegaan het en wat die stigting nou saam met die koshuisgebou wil restoureer. Marais was maar 15 toe hy matriek geskryf het, waarna hy in die middel van 1887 na Boshof teruggekeer het en van daar na Pretoria.

Die Paarl First Class Public School het in 1900 geskuif na die huidige perseel in Auretstraat en het die Hoër Jongenskool Paarl geword. Marais was dus net vir sy hoërskoolopleiding in die Boland, hoewel hy in sy tydjie hier gereeld by sy pa se familie in Stellenbosch gaan kuier het en ook besoeke aan Kaapstad gebring het.

Wat is op die oomblik julle grootste behoeftes om van die projek ’n sukses te maak?

Finansiële steun. Veral om aanvanklik maandelikse bedryfskoste te dek en ons te help met die bemarking en die bekendstelling van die projek op alle platforms. Mense moet weet wat hier aangaan. En self kom kyk. Ons wil ook bitter graag die geboue aankoop en vinnig met die restourasie- en inrigproses beweeg.

Francois Lötter en Katinka Heyns by 'n sakhorlosie wat aan Eugène Marais
behoort het. Katinka en Chris Barnard is besig met voorbereidings aan
'n dokument‎êre televisiereeks oor Eugène Marais.

Daar is reeds ’n paar funksies by die stigting aangebied en foto’s daarvan verskyn op julle Facebookblad. Is daar enige nuwe planne in die pyplyn en wat was die reaksie tot dusver van die publiek?

Almal wat hoor van die projek en “Eugene se Werf” besoek, is opgewonde. Dit is ’n ambisieuse projek, maar almal steun dit. Ons moet nou net sorg dat almal help.

Ons het al byeenkomste vir skryfklubs en boekklubs op die werf tussen die twee ou geboue aangebied. Veral in die somer is dit ’n besonderse ervaring.

Ons wil ook graag in die somer ’n bemarkingskonsert aanbied tussen die bome, waar kunstenaars wat al van Marais se gedigte getoonset het, kan kom optree.

Kunstenaars wat al van sy gedigte gesing het, is Laurinda Hofmeyr, Piet Botha, Eva Mouw, Marimba, Rosa Nepgen, Hubert du Plessis, Anton Goosen en Laurika Rauch. Laurinda het ook pas een van Marais se feetjiegedigte getoonset. Dis baie mooi. Ek hoop sy sing dit binnekort iewers op die verhoog.

Verder beplan ons gesprekke en lesings oor aktuele onderwerpe wat aansluit by die temas wat oor Marais se lewe geïdentifiseer is. En einde November is ons in Pretoria by Café Riche op Kerkplein om mense van dié projek hier in die Paarl te vertel.

Bekendstelling van Eugène Marais Stigting by die Paarl First Class Public School op 22 April 2014. (Foto: Susanne Joubert)

Waar kan mense julle kontak indien hulle meer te wete wil kom van die stigting of as hulle bydraes tot die projek wil lewer?

Enigeen kan my kontak by francois@eugene-marais.org.za of bel by 083 408 1902. Besoek ook die skoolwerf in die Paarl enige tyd. Kom kyk hoe lyk dit. Daar is baie wat al hier agter die skerms gebeur. Ek het byvoorbeeld nog nie uitgekom by die beoogde skrywerskamers in die feetjietuin nie.

Ons is ook op Facebook en binnekort Twitter, en die stigting se inligtingswebblad is www.eugene-marais.org.za. Dis daar waar die belangrike bankrekeningnommer is!

 

Foto's verskaf.

  • 1

Kommentaar

  • Mag al die pogings en bydraes tot hierdie besondere projek waardevol en suksesvol wees. Dis hoog tyd dat hierdie groot gees gepas gehuldig word. Voorspoed vir die betrokkenes!

     

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top