Die Suid-Afrikaanse ikoon met die pienk Namakwalandse kappie

  • 3

Die ATKV verneem met leedwese van die afsterwe van tant Grietjie van Garies op 15 April. So skryf Elias Nel, ATKV-projekorganiseerder oor haar:

Sy het skielik soos ’n Boesmanlandse donderstorm op ’n somersmiddag op ons afgekom, toe sy met "Lekker ou Jan" op die Afrikaanse kultuurterrein verskyn het.

Almal met ’n aptyt vir kultuur en veral van ’n grootliks miskende kultuur het "ge-oe" en "ge-aa" oor die nuwe ontdekking. Maar soos Ant Gietjie by meer as een geleentheid self gesê het: "Ek is Grietjie van Garies, ouer as my tanne en net so oud soos my hanne".  So was sy ook veel langer – as wat ons kennis geneem het – besig om die volksliedjie te beoefen.  My gunsteling onder haar baie sê-goed is haar versoek: "Hoe lyk dit met ’n applousie?"

Sy was immer gewild en bemind, dalk vanweë haar klein postuurtjie met die kenmerkende pienk Namakwalandse kappie. Die warmte wat uit haar gestraal  het wanneer sy haar volksliedjies sing, het haar in menige mens se harte laat inkruip. Sy het alles met oorgawe gedoen – gesing en danspassies uitgevoer, en dit is ’n lewensles wat baie van ons met ons kan saamneem.  Gaan groot of gaan huis toe!

Tannie Grietjie van Garies
Foto: WegRy

Dit sou ’n onreg wees om nie Pieter van der Westhuizen se bydrae aan die verdere ontwikkeling van Ant Grietjie se loopbaan te erken nie. Saam het die twee die Wes- en Noord-Kaap deurkruis vir optredes tot in die kleinste dorpies. So het Pieter verseker dat soveel as moontlik mense haar sang kon geniet en waardeer.

"Lekker ou Jan" is natuurlik ook ’n lekker liedjie om op te riel. Binne die ATKV-Rieldanskompetisie sal Ant Grietjie se bydrae tot die riel vir die duur van die kompetisie bly voortleef. Die ATKV oorhandig jaarliks twee Grietjie van Garies-wisseltrofees aan die junior en senior groepe wat die beste vordering deur loop van die jaar in die kompetisie getoon het.

Dalk moet diegene wat losgeraak het van die volkstradisies, begin om "Lekker ou Jan" te neurie.  Wie weet, miskien begin hulle dan aan die eie kultuur te "hang soos ’n Kaapse heuningby!"

Ons is dankbaar vir die voorreg dat ons menigmaal die verhoog met die ikoon van die Noord-Kaap en Suid-Afrika kon deel.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 3

Kommentaar

  • Wat 'n jammerte om so 'n groot siel te verloor. Ek en my vrou het Ta Grietjie se optredes baie geniet. Dankie aan Pieter en Elias wat in haar talent geglo het en haar elke moontlike blootstelling gegee het

  • Ons sal Tant Grietjie baie mis. Groot dankie aan mense soos Elias en Pieter wat haar talent gesien het en verseker dat ons daarin kan deel. Ek sal elke keer aan haar dink as ek Solms Delta besoek

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top