Die Stem van Taalfeesjaar, 1975

  • 1

Uit die blou van ons toneelkuns
Uit die diepte van ons taal
Oor ons ewige gebergtes
Waar verkramptes woelig maal
Deur ons onderdrukte skryfkuns
Na die kreun van Broederstroom
Ruis die stem van ons frustrasies
Los ons uit, ou sensor-oom
Ons sal antwoord op jou klagtes
Ons sal luister wat jy vra
Ons sal skrywe, altyd suiwer
Ons vir jou Suid-Afrika

Met die swart ink van ons penne
In ons boeke, woord en gees
In ons roem op ook 'n toekoms
In ons hoop op wat kan wees
In ons wil en werk en handel
Van ons wieg tot aan jou graf
Deel geen ander taal ons liefde
Trek geen ander spraak ons af
Afrikaans!
Ons sal die adel van jou naam met ere dra
Waar en trou as goeie burgers
Skrywers van Suid-Afrika.

In die songloed van verbannings
In selfsensuur se kou
In die hitte van ons woede
In die stilte van ons rou
By die klank van skandvlekname
Deur die bloeding van ons werk
Streel jou stem ons nooit verniet nie
Al klink jy anders in die Kerk
Op jou roep sê ons nooit nee nie
Laat ons woorde maklik dans
Jy wil lewe; waarvoor sterwe
Jy's my pel, ons Afrikaans!

Op hul eerlikheid vas vertrouend
Het ons skrywers al gebou
Skenk ook ons die hulp Suid-Afrika
Om te handhaaf en te hou
Dat die erwe van ons vadere
Vir ons kinders erwe bly
Met 'n Afrikaans wat lewe
Teen die hele wêreld vry
Soos die GRA vertrou het
Inspireer dan ook vir my
Met ons taal en met ons nasie kan dit wel wees
Maak ons vry

In die naam van die skrywers, die lesers en die Afrikaanse Kultuur.
Amen.

Kaapstad, Julie 1975

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top