Biebouw-resensies | Reviews

 
Die staat teen Anna Bruwer 'n storie wat enduit boei
Titel: Die staat teen Anna Bruwer
Skrywer:
Anchien Trotskie as Elbie Lötter
Uitgewer:
Kwela Boeke
ISBN:
9780795704123

 

Klik hier om Die staat teen Anna Bruwer te koop by Kalahari.com.

Die staat teen Anna Bruwer volg op die verrassende topverkoper Dis ek, Anna, die ietwat makabere verhaal van Anna, wat as kind herhaaldelik deur haar stiefpa gemolesteer word. Die ergste daarvan is natuurlik dat laasgenoemde verhaal gebaseer is op ’n ware verhaal, en dit is waarskynlik daarom dat dit soveel lesers aan die hart gegryp het. Die opvolg begin waar die eerste roman geëindig het, naamlik die moord op die stiefpa, en dit word ’n soort “Anna se inferno”.


Ná die selfmoord van Anna se jong halfsuster omdat sy ook deur hulle stiefpa gemolesteer is, ry Anna ure lank van Knysna af Bloemfontein toe om die pa te gaan konfronteer, die begin van haar metaforiese reis deur die sirkels van die hel. Wanneer haar stiefpa haar smalend tart, skiet sy hom dood. Sy gaan gee haar oor aan die polisie en daarna volg die spannende hofsaak van die staat teen me Bruwer. Sy is verdwaal in ’n metaforiese donker woud van onuitspreekbare emosionele pyn. Sy moet haar eie skuldgevoelens oor haar suster se selfmoord, haar woede daaroor, en haar eie gebroke lewe konfronteer om gesuiwer te word en verlossing te vind. Haar begeleier op hierdie tog is haar prokureur, wat haar sorgsaam vergesel en met teerheid versorg.

Anna weier om skuld vir die moord te ontken ten spyte daarvan dat haar prokureur haar aanmoedig om dit te doen. Dit word die kern van haar stryd: om te aanvaar en te begryp dat sy geen skuld het aan wat met haar gebeur het nie en om haarself, haar ma en selfs haar geweldenaar te vergewe, of ten minste te verstaan. Dit sal die enigste manier wees waarop sy nie vir ewig in die hel vasgevang word nie. Sy moet leer om onskuldig te pleit.

Parallel met Anna se storie is die effe dun storie van superintendent Windhond Webber, die polisieman wat Anna se pad kruis wanneer hy die  moord ondersoek. Hoewel sy naam hom karikatuuragtig laat klink, en uit wans met die aard van die roman, is hy ’n stewige karakter wat sy eie keuses maak oor reg en geregtigheid wanneer hy te make kry met die verkragting van ’n baba. Die verhaal is een wat Suid-Afrikaners al soveel keer gehoor het en een saak waaroor die meeste lesers waarskynlik sterk opinies sal hê, en vermoedelik sal heelwat mense simpatie hê met die keuses wat Windhond sowel as Anna maak. Die kwessie van wraak gee die leser baie om oor te dink. Dit konfronteer die leser en dwing jou om self standpunt in te neem, en dis moontlik om geheel en al anders te voel as wat Anna en Windhond daaroor voel en daarmee handel. Tog kan die wraakfantasieë wat hier uitspeel vir heelwat lesers ’n soort terapie wees en was dit waarskynlik narratiewe terapie vir die skrywer – haar persoonlike vagevuur. Die eerste roman is immers gebaseer op haar eie verhaal en die tweede roman, die vergelding, maak daardie storie klaar en stel haar in staat om haar regte naam op te eis.

Trotskie is ’n knap skrywer. Sy skep karakters wat oortuig en ’n storie wat ’n mens enduit boei, want dit is nie voorspelbaar nie. Die afskuwelikheid van die gegewe wat intiem aan haar bekend is, word nie uitgebuit vir sensasie nie. Ook nie wanneer Windhond Webber sy morele keuse oor die kinderverkragter moet maak nie. Hoewel dit die soort verhaal is wat wankel op die rand van melodrama, behou die skrywer beheer. Selfs die “gelukkige” slot is nie steurend nie. Dit is juis mans wat aan Anna haar verlossing skenk en die helende salf is seks, en slegs só kan sy vorentoe beweeg. Anchien Trotskie slaag daarin om ’n verhaal te vertel wat vir baie mense waardevol kan wees. Dit is nie die soort roman wat tot almal sal spreek nie, maar te oordeel aan hoeveel mense Dis ek, Anna gelees het, is daar heelwat mense wat ook hierdie roman sal geniet.

Comments 0 Reaksies | 0 Comments
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address