LitNet Akademies-resensie-essay: Die Small weg – Gedagtes rondom Adam Small, Klawerjas

  • 0

Titel: Klawerjas
Skrywer: Adam Small 
Uitgewer: Tafelberg
ISBN: 9780624065456

Koop Klawerjas nou by Kalarhari.com.
 

Die toekenning van die Hertzogprys aan Adam Small in 2012 nà ’n vertraging van enige dekades het aspekte rondom die ontstaan en geskiedenis van hierdie bepaalde prys en die soms omstrede besluite aangaande pryswenners weer eens na vore laat tree. Die verwysings na die gewraakte reglement van die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns dat slegs werk wat binne die vorige drie jaar gepubliseer is, in aanmerking kan kom en die herhaalde beklemtoning van die gehalte van Small se werk wat nou nà so ’n lang tyd tot sy reg gekom het, het die aandag afgelei van meer fundamentele vrae rakende die dieperliggende betekenis van hierdie gebeure wat inderwaarheid ’n blik in`t kleine op die uitoefening van mag in die Afrikaanse kultuurgemeenskap asook die verband tussen poësie en politiek toelaat. Small se jongste digbundel, Klawerjas, moet binne die konteks van hierdie problematiek gelees word, en dit is dalk insiggewend om die net ’n bietjie wyer te span. Ek wil hier graag na die resepsie van die œuvre van die groot Duitse digter Heinrich Heine (1797-1856) verwys.

In ’n noemenswaardige opstel ter herdenking van Heine se een-honderdste sterfjaar verwys Theodor W. Adorno na hom as ’n “wond” en ’n ergernis.1 Daar is twee kante aan hierdie irritasie wat Heine van vroeg af by behoudende Duitsers wek, die een esteties, die ander ideologies. Aan die een kant is daar die bykans deurgaans ironiese toon in sy verse, die dikwels speelse en humoristiese weiering om die poësie, die kuns wat hy so meesterlik beheer, al te ernstig op te neem, wat reeds in sy jong jare die verwyt van ligsinnigheid en oppervlakkigheid tot gevolg het. Aan die ander kant word hy deur nasionaal denkendes verguis omdat hy die erns van vaderlandsliefde, die “tipies Duitse” waardes van idealistiese beginselvastheid, vlyt en deugsaamheid en wat nog telkens bespot en belaglik maak. Hy word egter ook vroeg deur talle bewonder én nagevolg. Tog was daar voor die begin van die twintigste eeu min kritici wat besef het dat hy sy tyd met een, twee generasies vooruitloop.

Heine was self terdeë bewus van die tweespalt van sy plek, tussen die Romantiek en moderniteit, in ’n tydperk wat al hoe meer deur eienskappe gekenmerk word wat hy self in sy wese aanvoel, verskeurdheid, vereensaming, ontheemding. In sy wêreldbeskouing is hy die tipiese buitestaander, in die politiek ’n vyand van despotisme; in sy dikwels teenstrydige opvattings bly hy deurgaans gekant teen onverdraagsaamheid en onderdrukking. Dis die onoplosbare ambivalensie van tegelyk haat én liefhê wat hom die wrok van bekrompe patriotte en regsgesindes op die hals haal. Die kritiek dat hy die Duitse poësie vervlak en die taal vergiftig, dat hy geen piëteit teenoor die heilige koeie van geloof, volk of selfs liefde ken nie, word reeds in sy leeftyd vermeng met die verwysing na sy Joodse herkoms. Die toenemende nasionalisme in die tyd voor die Eerste Wêreldoorlog gaan in Duitsland – tewens feitlik oral in Europa – met al hoe groter onverdraagsaamheid teenoor die Jode gepaard. Heine word al hoe meer openlik as ’n anti-Duitse “astrante Jood” uitgekryt. Die ver-regse agitasie teen Heine bereik ’n voorlopige hoogtepunt met die weiering van sy geboortestad Düsseldorf om in die gedenkjare 1897 en weer in 1906 ’n standbeeld vir hom op te rig.

Die Nazis het, deeglik soos hulle in alles was, probeer om Heinrich Heine as persoon en digter geheel en al uit te wis; sy boeke is saam met dié van ander “on-Duitse”, “gedegenereerde” en Joodse skrywers verbrand, sy geskrifte is uit biblioteke, skoolboeke, lesingsale, bloemlesings verwyder, sy naam is in die literatuurgeskiedenis, indien dit hoegenaamd genoem is, beswadder en verguis. Nà die Tweede Wêreldoorlog het die jonger geslag Duitsers gevolglik min kennis gedra van een van die Duitse poësie se grootste verteenwoordigers, en die ‘rehabilitasie’ van sy naam en reputasie - uiteraard verskillend in Oos- en Wes-Duitsland maar ewe eensydig - was ’n onbeholpe aangeleentheid, wat tot vandag toe ’n onbevange aanvaarding van Heine gewoon as ’n Duitse digter bemoeilik het. Die wond, sê Adorno, sal aanhou sweer totdat daar openlik en eerlik oor die oorsake van die verontregting wat hom as Duitse digter en as Duitse Jood aangedoen is, besin word.

Dit sou sekerlik te ver gaan om die geval van Adam Small en sy plek in die Afrikaanse letterkunde sonder voorbehoud met die geskiedenis van die resepsie van Heinrich Heine in Duitsland te vergelyk. Nietemin is daar raakpunte wat, soos ek glo, lig kan werp op hierdie tema. Wat Small veral met Heine verbind, is die posisie as buitestaander wat deel wil wees van die kultuurgemeenskap wat hom nie sonder meer wil aanvaar nie. Soos Heine haat hy én het hy lief, soek hy aanvaarding en vind dikwels verwerping, en reageer dus met “’n vermenging van humor, geestigheid, spot, patos en ironie”, soos Kannemeyer dit met betrekking tot Small stel2. Hulle skryf altwee in ’n taal en op ’n manier wat puriste en behoudendes irriteer en nasionaliste die harnas in maak. Die Duitse Jood en die bruin Afrikaner, wat albei die hoogmoed en verwaandheid, die huigelary en pretensies van die hoofstroom sonder illusies en sonder genade aan die kaak stel, word beide deur die kultuurbewakers en ideoloë gemarginaliseer. Daardie ruimte tussenin is ’n ongemaklike plek, dit laat die establishment onseker voel en dit maak die betrokke individu afwisselend uitdagend (oftewel “astrant”), melancholies, smagtend na erkenning en aanvaarding. In menige opsig is dit die situasie van die moderne kunstenaar en intellektueel; Adorno sê: wat eens Heine se noodlot was, “het almal se ontheemdheid geword; almal is in hul wese en spraak so beskadig soos hy, die verstotene, was”.3

Daar is ’n bekende foto wat in hierdie verband waarlik emblematies genoem kan word. Dit verskyn onder andere in ’n album wat die Afrikaanse letterkunde, maar hoofsaaklik digters en skrywers, van die begin tot by die boek se verskyning in die vroeë sewentigerjare, wil dokumenteer. Die foto toon’n straattoneel êrens in ’n armer gemeenskap, ’n mens vermoed dit is Distrik Ses.4 Die foto bestaan visueel uit twee duidelik aparte dele wat deur die vertikale lyn van die sypaadjie aan linkerhand van mekaar geskei word. Regs is daar ’n tiental kinders wat laggend die effens skuins straat afgehardloop kom, in die rigting van die beskouer. Die voorste drie is opgeskote seuns wat jubelend bokspronge uitvoer, arms wyd uitgestrek met gesigte wat loutere blydskap uitdruk; die een heel voor kyk met ’n breë haasbekglimlag reguit na die kamera. Agter hulle kom ’n spul kleintjies aangehol. Die lewensvreugde wat die kinders uitstraal, word verhoog deur die dinamiek van die aksie-foto wat die oomblik van ongebreidelde geluk vasvang en die vlietende moment van die jongspan se hardloop, skree, spring verewig.

Die figuur op die sypaadjie aan linkerhand daarenteen bied die diametraal teenoorgestelde van die toneeltjie wat sig voor hom afspeel. Hy is ’n volwassene, netjies geklee in wat na ’n elegante pak klere lyk, die hare stylvol geknip, met’n passende bril wat hom na ’n moderne stedeling laat lyk, ’n intellektueel selfs. Dit is die jong Adam Small. Hy staan botstil, effe agteroor geleun teen ’n straatpaal, hand in die broeksak; sy kop geboë, tuur hy na die grond voor hom. Dit lyk asof hy hoegenaamd nie bewus is van die kinders (of die kamera) nie, en sy houding en liggaamstaal is in skrille kontras met die energie-gelaaide uitbundigheid van die maltrappe voor hom: hy staan kop-onderstebo, sy blik eerder na binne gerig as na die werklikheid rondom hom, miskien is hy terneergedruk of bedroef, hy is skynbaar diep in gedagte, peinsend, kontemplatief, in die houding van die melancholie. Tog is dit die verband tussen die skynbare geestesafwesigheid van die denker links en die jubelende viering van die lewe regs, hulle wedersydse afhanklikheid en wisselwerking, wat van hierdie foto ’n groot stuk kuns maak. (Die gedig “Wie`s Hy?” in Sê Sjibbolet gee ’n pragtige illustrasie van juis hierdie dialektiese verhouding tussen “die poet” en “djulle wat innie straat in loep/ ennie gladde bek verkoep”.5)

Die byskrif by die foto lui: “Adam Small (geb. 1936), skryf, dikwels in afwykende taal en spelling, aktuele poësie waarin die Kleurling se gevoel van bitterheid en frustrasie verwoord word. [...]” Dit is die enigste foto in die hele bundel wat ’n skrywer binne sy gemeenskap wys; die ander is in hoofsaak portrette, faksimilees van manuskripte, tonele uit drama-opvoerings of omslae van boeke ensomeer. In hul voorwoord noem die samestellers dat die foto`s “die verhaal [moes] vertel, en wat ons geskryf het, is slegs bedoel om die foto`s te identifiseer en te ‘plaas’”. Hier word Small dan binne ’n foto-galery “geplaas” wat ’n verteenwoordigende beeld van gekanoniseerde Afrikaanse digters en skrywers wil bied: sy standplaas in die arm “Kleurling”-gemeenskap is ’n uiterlike vergestalting van sy gewaande “afwykende taal en spelling” en sy lyftaal is skynbaar die sigbare uitdrukking van ’n “gevoel van bitterheid en frustrasie”. Dit was in 1973, Kanna is ’n stuk of sewe, agt jaar vantevore gepubliseer, en die Hertzogprys het aan die skrywer verbygegaan.

Daar was lang jare ongemaklikheid oor die feit dat Small so dikwels oor die hoof gesien is waar dit by erkenning en aanvaarding kom, en die toekenning van die Akademie se Eeufeesmedalje aan hom in 2009 is in sommige kringe as ’n soort regstellende aksie verwelkom. ’n Aantal mede-skrywers soos Abraham de Vries, André Brink en Breyten Breytenbach, het oor ’n lang tydperk vir Small in die bresse getree, en toe die Hertzogprys eindelik in 2012 aan hom verleen is, was daar op ’n breë front verligting en lof vir die besluit, hoe laat dit dan ook mag gekom het. ’n Kortstondige twis oor die regmatigheid van die Akademie se besluit in terme van sy eie reglement het die gemoedere eers laat opvlam maar eintlik soos ’n weerligafleier die aandag op tegniese aspekte en die skynbare onbeholpenheid van die verantwoordelike instansies by die Akademie gerig. Toe het die stoffies weer gesak en die oorhandiging kon sonder verdere stoornis sy gang gaan.

’n Kort oorsig oor die opinies en standpunte in hierdie hele aangeleentheid laat egter die indruk dat daar van ’n indringende kyk na die onderliggende vrae weggeskram word: Is Adam Small in die verlede misken? Het daar sedert die jare sestig en sewentig ’n nuwe en ander waardering vir sy werk ontstaan, sodat hy nou as ’n baie beter skrywer erken word, m.a.w. wat het hy nou gedoen wat hy destyds nie gedoen het nie? Is die Hertzogprys in die verlede op meriete van hom weerhou, en is dit nou op meriete toegeken? In ’n brief aan die pers skryf Deon Knobel: “Politieke druk en ‘buite-akademiese’ oorwegings het klaarblyklik in die verlede ’n sterk rol [by die besluit oor die Hertzogprys] gespeel. Het soortgelyke politieke oorwegings verhoed dat die prys op die aangewese tyd, met behoud van bestaande reglemente, aan Small toegeken is?”6 Dis ’n geldige punt; die aansluitende vraag is egter: Watter oorwegings het in 2012 tot die toekenning van die prys bygedra?

In ’n redelik omvattende stuk in By gaan André P. Brink van die standpunt uit dat Adam Small vyftig jaar moes wag “om die Hertzogprys te kry vir Kanna hy kô hystoe, moontlik die beste drama in Afrikaans.” Daarmee impliseer hy dat Small die prys toentertyd - maar wanneer presies: 1962, 1965, 1970? - verdien het, en wel om redes van literêre meriete.7 Sy slotsom: “En goddank het ons nog tyd om reg te stel wat so kennelik verkeerd was - literêr, moreel en gewoon menslik.” Die grootste deel van Brink se betoog bestaan uit verwysings na flaters wat by die toekenning van pryse wêreldwyd begaan is, skrywers wat oorgeslaan, geïgnoreer of misken is. Nêrens poog hy egter om die rede vir die halfeeu van onreg teenoor Small op sy naam te noem nie, en sy kategorieë “literêr, moreel en menslik” omseil op ’n elegante wyse die kern van die probleem: Watter rol het politiek en/of ras by hierdie onreg gespeel? Of was die tyd gewoon nie ryp vir ’n teks wat van “afwykende taal en spelling” gebruik maak om met Afrikaans se hoogste literêre prys bekroon te word nie? Volgens die Akademie se (pas afgetrede) voorsitter, Jacques van der Elst, is dít ’n besliste moontlikheid: “In die verlede was die Kaapse Afrikaans van Kanna dalk ’n probleem. Die akademiese argument van standaard-Afrikaans het moontlik nog gegeld, maar Kaaps is nou in die kollig; dit word deur die akademie erken.”8 Interessant genoeg blyk daar in bruin en swart geledere min twyfel te bestaan dat politiek, en spesifiek: ras, wel die beslissende faktor by die besluit was.9

Maar om realisties te wees: Die toekenning van die Hertzogprys in die laat jare sestig of die vroeë 1970s sou as ’n daad van polities-kulturele terreur beskou wees; anders gestel: dit was onder die omstandighede gewoon onmoontlik. Die sestigerjare was immers die hoogtepunt van die hubris van die Afrikaner-Nasionalisme en sy ideologie van totale rasseskeiding, kom wat wil, en dit is in hierdie gees van baasskap dat Distrik Ses in Februarie 1966 tot ’n blanke woongebied verklaar is, toe die ink van Kanna hy kô hystoe by wyse van spreke nog nie eers behoorlik droog was nie. Die “bitterheid en frustrasie” van “die Kleurling” inderdaad! En dan die hoogste literêre prys van die SA Akademie vir Wetenskap en Kuns? En onthou tog, dis die einste Adam Small wat die ‘vermetelheid’ gehad het om die “doemanie” met sy “woerawarra” en die wit “mêrim” “oppie parara” uit te koggel en belaglik te maak. Tog is dit by ’n herlees van Kanna opvallend dat Small uiters versigtig is om vinger na enigiemand te wys; daar is geen verwysings na apartheid of rassisme nie en die paar blankes wat ’n rol het, verskyn bloot as stemme hier en daar. Dit is uitdruklik ’n verhaal “van die armes wat altyd daar sal wees... altyd”10, en sy basiese houding is dié van ’n quïetistiese lotsaanvaarding en berusting, soos Makiet dit uitspreek: “Die jare hulle is hard, Kanna. Maar dis mos soes die Here ’n mens vergewe, dis soes die Here antwoord as ’n mens bid...Die Here Sy genade is maar hard. Maar Hy`s darem genadig, Kanna.”11 Natuurlik: er staat niet wat er staat, en diegene onder die blankes (en ander) wat Kanna as ’n aanklag teen die onmenslikheid van blanke heerskappy gelees het, het reg gelees.

In ’n onlangse onderhoud met Murray la Vita het die digter self verduidelik waarom hy hom uit die openbare lewe onttrek het en wat hom so lank in die woestyn van stilswye laat vertoef het. Hy opper interessant genoeg nie die kwessie van literêre verdienste of die miskenning van sy werk nie. Hy noem dat hy “baie, baie bitter” was teenoor “apartheid, natuurlik”, maar dit was veral ‘die vloekstraf van ’n donker huid`, die etiket waarmee hy gebrandmerk was wat hom - en dan: as ’n Afrikaanse skrywer - veral sedert die sestigerjare so diep gekwets het: “Wanneer jou werk verskyn en al wat mense raaksien, is kleurling, kleurling, kleurling, dan maak dit jou baie seer ...”12

Maar nou het Kanna by wyse van spreke tog huis toe gekom, die Hertzogprys is wel (“goddank”!) aan Adam Small toegeken én hy het dit aanvaar. (En hier kom die vergelyking met Heinrich Heine dan ook tot ’n einde.) En nou, as ’n literêre antwoord op al die bohaai, het hy sy lang stilswye verbreek en die woord geneem met ’n vars digbundel, Klawerjas. In die opdrag en in enige gedigte vergelyk hy die tyd van sy vereensaming en eindelike terugkeer met die omswerwinge en tuiskoms van Odysseus, waar sy getroue Penelope steeds op hom wag. Maar dis blykbaar nie (net) by Ithaka waar hy aangekom het nie, maar eerder op Parnassus, waar die tafel gedek is vir die noenmaal met die groot geeste van die Westerse kultuur, wie se geselskap hy nou op gelyke voet kan geniet. Daar is gedigte oor Ingrid Jonker, Leipoldt, Neruda, D.J. Opperman, Dostojefski, Copernicus en Galileo, ook Sokrates en Sartre, verder oor ’n reeks groot kunstenaars, onder wie veral Van Gogh genoem moet word. Telkens is die invalshoek die digter se interpretasie en waardering van die betrokke persoon.

Die grootste figuur in hierdie heldegalery is die onvoorwaardelik bewonderde, onvolprese Van Wyk Louw. (Teenoor Murray la Vita noem hy Louw “’n groot, groot denker ... een van die grootste denkers ter wêreld”.) Hy is by wyse van spreke die beskermheilige van die hele bundel; ’n faksimilee van ’n brief wat Louw in 1961 nà ontvangs van Die eerste steen? aan Small geskryf het, verskyn op beide die voor- en agter-skutblad van Klawerjas. Daarin spreek Louw sy dank uit vir “die wyse en goeie boek” en noem voorts dat hy, net soos Small self, soms wanhoop (die onuitgesproke implikasie is: oor die politieke situasie in die land) en hy voeg dan by: “Maar wat kan ons soort mens vandag anders doen as skryf waar jy kan, praat waar jy kan? Probeer oorreed?” “Ons soort mens”: dis die vredemakers, die humaniste, mense van die gees en die woord, wat nie bereid of in staat is om deel te wees van “die groot organisasie” nie, soos die digter Small homself regverdig in sy “Versoeningsgbed vir Nelson Mandela” (bl. 127) asook in die “Vredesgebed vir Jakes Gerwel” (bl. 130). In ’n sentrale gedig, “Klawerjas” (bl. 143-145), wat aan Van Wyk Louw opgedra is, word hierdie ‘passiewe weerstand’ op die titel van die bundel betrek en Louw se brief van 1961 direk aangehaal, met die gevolgtrekking: “Jy was so reg: wat kan ons ànders?/ Sò het al jou verse van jou hand gekom, en/ myne van my hand: ons speel maar/ klawerjas.” (bl. 144) Nou staan VanWyk Louw en Adam Small skouer aan skouer.

In die gesprek met Murray la Vita haal Small ’n onlangse gedig aan wat nie in Klawerjas staan nie; “Trap der bruin jeugd” is die titel. Hier spreek hy van wat Goethe sy “entelegie” sou genoem het, die idee dat ’n organisme die krag van dit wat in later stadia van sy ontwikkeling tot volle bloei sal kom, reeds in sy kiem as potensiaal besit, wat dan later sal groei en in vervulling sal gaan. Die gedig is uiters insiggewend, as kommentaar nie net op die resente polemiek oor die Hertzogprys nie, maar ook op Small se selfbeeld as digter, én op sy œuvre as geheel. Die eerste strofe lui: “As klein kind nog, wìs ek/ ek was Afrikaans in my hele wese,/ of soos ons padlangs sê,/ in murg en been./ Ek het reeds besef ek is/ vir hierdie taal geleen/ en sou myself beskikbaar maak./ Tóé al het ek besluit ek sou/ die hoogste sport/ in hierdie taal bereik, en nou,/ in my ouderdom kan ek tevrede voel,/ versoen deur die gedagte:/ ek het daardie belofte aan myself / gestand gedoen.” Hierdie reëls alleen spreek boekdele oor Small se vroeë verbittering en die tematiek van Klawerjas.

Dit is op sigself ’n kommentaar op Klawerjas dat dit die digter sowat anderhalf jaar geneem het om die bundel te skryf, soos hy aan Murray la Vita verklaar, sodat ’n mens mag aanneem dat die gedigte nie oor ’n langer tydperk ontstaan het nie en ons dus hier met ’n soort momentopname van die digter as ’n ouer man te make het. Om ’n bundel met 81 gedigte binne 18 maande te kan vermag, is op sigself ’n prestasie. Ja, dit is gedigte vanuit die perspektief van die ouderdom (“[ek] beur tòg voort na die/ bestemmingshawe van die siel”, bl. 30), mymeringe en refleksies oor die liefde en oor waardes soos verdraagsaamheid en versoening. In verskeie verse spreek hy van (die lewe as) reis, maar dis die tema van aankoms eerder as terugkyk wat die timbre van die bundel bepaal. Dit is opvallend dat die ouer digter, en méns, hier sonder nostalgie of berou, sonder selfbejammering of aanklag oor homself en sy roeping praat. Die aanslag wat ’n mens van latere gedigte deur ouer skrywers ken, die bewuswees van die mens se sterflikheid én sy gebreke, die naderende en onafwendbare einde, die nietigheid van die mens se lewe en strewe en les bes, daardie handelsmerk van die ouderdom: spot, ironie, ook met die eie ek - dit alles is egter grootliks afwesig in hierdie bundel, en dit sê beslis baie oor Small as mens, maar ongelukkig verskraal dit ook die poëtiese krag van sy verse.

As ’n mens van die stelling in “Trap der bruin jeugd” uitgaan dat die digter van sy kleintyd reeds wis “ek was Afrikaans in my hele wese” en Klawerjas as die vervulling van daardie kinderlike belofte sien - en dit is tog wat Small hier suggereer - dan moet die tyd van, sê maar van 1961 tot 1990, of dalk tot 2012 as ’n dwaaltog deur die woestyn beskou word, en die digter se protesverse teen diskriminasie en verontregting moet dan nou as histories gereken word. Dìt sou dalk te ver gaan, maar dit het wel groot implikasies vir sy poëtiese werk. Want Small word nie net met die protes teen apartheid as ’n politieke en maatskaplike beleid vereenselwig nie, maar daardie protes is by hom onlosmaaklik met sy eie, “afwykende” taal verbonde. Dat hy juis as ’n Afrikaanse digter weier om standaard-Afrikaans vir sy verse te gebruik, was dalk die sterkste affront vir die establishment. Dit het sy verse in Kitaar my kruis en Sê sjibbolet en ander bundels uit die jare sestig en sewentig laat leef en dans, daar was ’n dinamiek en ’n weerstand in die loslit-ritmes van die ghoema en die klopse en die “negro spirituals” van die mense op voetsoolvlak, ’n uitdaging vir die hogere geleerdes en ’n eggo van die karnevaleske geroesemoes op straat, rebels en selfs potensieel revolusionêr.

Dit is uiteraard alles afwesig in Klawerjas wat die taal van die verdruktes vir dié van die establishment verruil het. En hoe jammer tog. Die digter is self bewus van hierdie probleem, soos hy dit in “My woorde kom weer”, ’n soort immanente poëtika, duidelik stel: “My Kaaps is goeie geskiedenis -/ die stemme, soos ek dit verbeeld het, van die/ stemloses. Maar daar kom ’n keer wanneer/ ’n digter ook aan sy eie belang sal dink,/ homself as individu op die verhoog moet/ bring. Daar’s immers werklikhede, van die/ digkuns onder meer, ewe dringend tog/ as dié van die ertappeleters van Van Gogh.” (bl. 25) Hier bo vanaf die hoogtes van Parnassus lyk alles daar onder soveel kleiner, en dis nie die stemloses wat hier aangespreek word nie, maar die groot name van die beroemdes. Goed en wel, maar die verloorder is die poëtiese segging, en hoeveel bewondering ’n mens vir Adam Small as mens en sy waarlik Christelike vergewensgesindheid en sy nederige menslikheid ook het, sy jongste verse doen helaas al te dikwels eendimensioneel, vlak en flets aan.

Dit beteken nie dat die bundel sonder waarde is nie. Daar is ’n aantal uitstekende verse wat byvoorbeeld die estetiese blik op dinge werp - interessant genoeg is dit meerendeels kunswerke of groot geeste - en ’n ongewone insig bereik. Kyk byvoorbeeld wat hy oor die tydloosheid van die kuns sê: “En tot vandag toe sit Mona Lisa, half hovaardig/ slim oor dit alles en glimlag, en is Jesus se dooie/ liggaam oor Maria se skoot gedrapeer, die/ bomenslike werk van ’n man wat regte slap/ vlees uit Carraraklip kon towerkap.” (“Leonardo - Michelangelo”, bl. 61) Ek het ook baie gehou van “Vermeer” (bl. 70):

’n Ander groot skilder wat my tot
bewoënheid dwing, is Jan Vermeer,
nie net vanweë sy towerwerk met lig nie,
maar, diepsinniger nog, sy greep
op die éénheid van menswees
en dingwees, soos in sy asembenemende
skildery van die boerin wat melk
uit ’n erdekan in ’n kommetjie skink,
waar sy staan by die growwebrood
vir die ete later. En die vrou se liggaam,
bors, arms, heupe, voorkop, alles, sélf
word growwebrood, terwyl die lig
sag inval deur die hortjiesvenster.

Dan is daar “Ons dors” (bl. 97), ’n groot gedig: “Ons dors sal met die slyk geslaan word,/ ons sal hyg en weet hoe God kan kyk/ en swyg. [...]; of “Ons is op soek”, een van die min gedigte waar spreektaal gebruik word: “Ons is op soek, ekke Jakop oek./ Sy strik toe maar die doek,/ die potjie, sê sy,/ sal weer eendag roek,/ hier`s die suikersakkie,/ moenie vergiet die Boek. [...]” (bl. 98) ’n Verrassing in sy segging én sy visie van ’n antroposentriese teologie as ’n ware vervulling van die Evangelie, is die groot gedig, “Jesus - ’n Laaste Profesie” (bl. 121-124): “Die plek van die Hemel sal nou aarde toe verskuif/ om ’n nuwe aarde daar te stel./ Die engele sal gewone mense word, jou moeder/ ook ’n gewone aardse mens, nie meer die/ onbereikbare Maagd nie./ Ons verhouding met die heelal sal/ geheel en al verander.”

Dit is jammer dat ’n hele aantal van die gedigte nie hierdie hoogtes bereik nie en sonder vlot ritme, met min treffende beeldspraak, min woordspel, ook sonder speelsheid en humor eerder die prosaïese indruk van blote praatverse laat.

 

 

Eindnotas

1 Theodor W. Adorno, “Die Wunde Heine”, in: TWA, Noten zur Literatur I. Frankfurt/M: Suhrkamp, 1971: 146-154. (Die opstel het die eerste keer in 1956 verskyn.)

2 J.C. Kannemeyer, Die Afrikaanse literatuur 1652-2004. Kaapstad en Pretoria: Human & Rousseau, 2005, bl.290.

3 Adorno, op.cit. bl. 154. My vertaling uit die Duits.

4 A.P. Grové en P.J. Nienaber (samestellers), Die Afrikaanse letterkunde in beeld. Pretoria: J.L. van Schaik en Kaapstad: Tafelberg, 1973. Die foto verskyn op bl. 105; die bron word nie vemeld nie.

5 “Wie`s Hy?” in Adam Small, Sê Sjibbolet. Johannesburg: Perskor. Tweede druk, 1978, bl. 70.

6 Die Burger,31 Maart 2012.

7 André P. Brink, “Kô lat ons wéér wag”, By, 31 Maart 2012.

8 Ina van Rooyen, “Middagete met Jacques van der Elst. Wit en eksklusief? Onsin!” By, 30 Junie 2012.

9 Ek verwys hier na die verskillende kommentare wat indertyd (einde Maart, begin April 2012) op LitNet in hierdie verband verskyn het, o.a. deur Michael le Cordeur en Jason Lloyd (beide in reaksie op Nicol Stassen), asook die persverklaring (in Engels) deur die ANC, en die gedig deur Marius Titus in By, 31 Maart 2012.

10 Adam Small, Kanna hy kô hystoe. Kaapstad: Tafelberg. Tweede uitgawe,1980, bl 9.

11 Kanna, bl. 14.

12 Murray la Vita, “Oop kaarte: Terug uit die stilte. Adam Small vertel waarom hy nà dekades sy ‘digterlike swye’ verbeek het.” Die Burger, 12 September 2013.

Fokusfoto: Ian Landsberg, Cape Times
 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter


  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top