Die reg op ’n waardige selfdood

  • 1
Stransham-Ford

Robin Stransham-Ford

Die onlangse besluit deur regter Hans Fabricius ten gunste van geassisteerde selfmoord, spesifiek vir die terminaalsiek Robin Stransham-Ford, gee voorstanders van geassisteerde dood hoop. Dit gaan waarskynlik nog ’n lang stryd wees, maar hopelik is die eerste tree op weg na die wettiging hiervan gegee.

Geassisteerde dood is ’n sambreelterm wat in sy enger betekenis geassisteerde selfmoord en vrywillige genadedood insluit. Eties, en wat die wet betref, het dit te doen met vrywillige keuses deur kompetente persone om hul lewe te beëindig. Niemand word hiertoe gedwing nie. Beide vorme van geassisteerde dood is onwettig in Suid-Afrika.

Hierdie spesifieke einde-van-die-lewe-besluitnemingspraktyk erken die morele reg van ’n individu op geassisteerde dood in die terminaalsiek fase van sy/haar lewe, asook die ooreenstemmende morele verpligting van versorgers, familie en die staat om hierdie reg te respekteer.

Tydens ’n onlangse US Woordfees-gesprek, gelei deur die Stellenbosse filosoof Anton van Niekerk, het een van die gespreksgenote, Willem Landman, ’n uitvoerendekomiteelid van Dignity SA, die etiese oorwegings vír en teen geassisteerde dood baie goed uiteengesit.

Die eerste argument daarteen het te doen met die feit dat ons “God probeer speel”. Voorstanders hiervan redeneer dat net God oor die tyd en wyse van ons dood besluit. Daarom sou dit verkeerd wees om lewe te verkort, al is die lyding hoe ondraaglik. Daar is sin in lyding omdat God dit só wil, word geredeneer.

Natuurlik huldig mense verskillende beskouings oor God. Vir sommige is God outoritêr. God gee vir die mens sekere bevele en instruksies wat ons dan “slaafs” moet gehoorsaam. Vir ander weer gee God meer vryheid om op ’n rasionele en deernisvolle wyse midde-in groot lyding en die gelyktydige aanwesigheid van teenstrydige wense en gevoelens sekere verantwoordelike besluite te neem.

Behalwe dat mense God en hulle heilige geskrifte verskillend verstaan en interpreteer, moet ons ook in gedagte hou dat nie alle inwoners van ’n land gelowiges is nie.

’n Mens moet dus vra: Kan geloofsbesware teen geassisteerde dood normgewend wees in ’n sekulêre samelewing? Behoort die individu nie die vryheid van keuse gegun te word nie? Dit verhinder niemand met geloofsbesware teen geassisteerde dood om te kies om steeds natuurlik – en tot die uiterste – te wag op die dood nie.

Die tweede argument teen geassisteerde dood handel oor sogenaamde professionele verantwoordelikhede en morele verpligtinge van dokters. Hiervolgens behoort medici mense nie te help sterf nie. Hulle moet versorg, omgee, genees, lewe gee en pyn verlig. Geassisteerde dood sou hierdie verantwoordelikhede en verpligtinge ondermyn.

Maar: Is dit moreel aanvaarbaar om lewe aan die gang te hou as daardie lewe geen aanduibare lewensfunksie en -gehalte meer toon nie? Waar daar nie meer sprake van persoonlike lewe is nie, net biologiese funksies? As iemand terminaal siek is, erg ly en fisiek tot die dood afgetakel is, kan daar nie ’n sterk morele saak uitgemaak word dat dit in orde sou wees as so iemand, onder streng-gereguleerde medies-etiese omstandighede, met die sterwensproses gehelp word nie?

Die derde argument teen geassisteerde dood is die “slippery slope”-argument. ’n Mens loop hiervolgens die gevaar dat geassisteerde dood tot misbruik kan lei deur byvoorbeeld pasiënte teen hul wil dood te maak.

Natuurlik hou alle praktyke volgens Landman die moontlikheid tot misbruik in.

geloof250Anton van Niekerk sê tereg in sy boek Geloof sonder sekerhede dat iets wat misbruik kan word, dit nie noodwendig sleg maak nie, maar net vereis dat dit gereguleer word.

Volgens Landman wys navorsing wat oor die laaste 17 jaar in die VSA hieroor gedoen is, dat mense se aanvanklike vrese oor veral misbruik van einde-van-die-lewe-besluite ongegrond was. Interessant: ’n beduidende persentasie persone in Oregon wat ten gunste van ’n dokter-geassisteerde selfdood gekies het, het op die ou end aan natuurlike oorsake gesterf. Tog het hulle die versekering gehad dat, sou hulle lyding onhoudbaar word, hulle met hul dood bygestaan sou word.

Daar is ook breedweg drie argumente ten gunste van geassisteerde dood. Eerstens gaan dit oor persoonlike outonomiewat gerespekteer moet word - oor die mens se morele reg om ’n eie keuse te maak, ook wat betref die einde van lewe. Dit gaan daaroor om dokters wat gewillig sou wees om geassisteerde dood te voorsien, toe te laat om dit te doen.

Wanneer die lewe wat ons ervaar, nie langer goed is nie, en die dood nie langer sleg is nie, en as die dood daarom bo voortgesette lewe verkies word, behoort die rol van medisyne nie te verander van genesing en verlenging van lewe tot ’n hulp om iemand te help sterf op ’n manier wat deernisvol, genadig en respekvol is teenoor persoonlike outonomie en waardigheid nie?

Die tweede argument gaan oor die voorkoming van ondraaglike lyding.Op niemand behoort die verpligting geplaas te word om lyding enduit te deurstaan nie.

Elke terminaalsiek pasiënt behoort die individuele reg te hê om self te besluit oor die waarde van lewe en dood vir hom/haar. Ons behoort nie gemaklik in ons leunstoele te sit en koue, teoretiese besluite te neem oor die angs, trauma en pyn wat mense binne daardie afstand tussen sterwe en dood ? reg so? beleef nie.

Hierom behoort elkeen sy/haar “oomblik” te kan kies. Geassisteerde dood is nie vir my die beëindiging van lewe nie, maar die verkorting van lyding en die sterwensproses.

Die derde argument gaan oor morele ekwivalensie – met ander woorde die ooreenstemming wat daar is met ander praktyke wat moreel reeds aanvaarbaar is – in hierdie geval passiewe genadedood. Volgens Landman is daar geen verskil tussen aktiewe en passiewe genadedood nie. Jy kan dit nie sien as twee klasse waar die een slegter is as die ander nie – dat passief reg is, maar aktief verkeerd nie. Moreel is daar geen verskil nie.

Ons leef in ’n land met verskillende menings. Ons moet hierdie diversiteit van menings in ons grondwet verreken. Ons het dit gedoen met aborsie en die doodstraf. Hoekom kan dit nie ook gedoen word wat geassisteerde dood betref nie, vra Landman tereg.

Ten slotte: Die ontwikkeling van die mediese wetenskap bring mee dat al minder dinge buite ons “beskikkingsmag” val. Ons het heelwat méér beheer oor dood en lewe as vroeër. Lewe hét hoë, maar nié absolute waarde nie, redeneer Van Niekerk in sy genoemde boek.

Beperkende wetgewing in hierdie verband laat sommige terminaalsiek pasiënte in ondraaglike pyn, en geassisteerde-dood-voorstanders hulpeloos.

Suid-Afrika het ’n progressiewe grondwet. Kan die hoeksteen van ’n beskaafde samelewing werklik berus op die handhawing van wette wat sinlose pyn en gevolglike hartseer hoër ag as ’n lewe van selfbeskikking en waardigheid?

Indien geassisteerde dood gewettig sou word, sou dit uiteraard ooreenkomstig streng medies-etiese voorwaardes wat aan internasionale wetgewing voldoen, gedoen word.

Die opstel van ’n lewende testament bly in hierdie opsig belangrik. Waar geassisteerde dood reeds wettig is, maak wetgewing wel daarvoor voorsiening dat lewensversekering uitbetaal wanneer iemand met sy/haar dood geassisteer word.

Verwysings

Landman, W.A. 2012. End-of-life decisions, ethics and the law: A case for statutory legal clarity and reform in South Africa.

Van Niekerk, A.A. 2005. Geloof sonder sekerhede.

  • 1

Kommentaar

  • George Bekker

    Miskien klink my nota kras maar dis geregverdig. Wat my pla is dat daar skynbaar geen verskil tussen Jones se benadering en die van 'n absolute materialis of ateïs is nie. Hy begin deur in die eerste sin na “geassisteerde selfmoord” te verwys. “Like a bull in a china shop.” Nêrens stel hy 'n christelike standpunt nie. Hy keer wel vir mense met nie-christelike oortuigings. Dit wil ook voorkom of hy geen probleem met die regering se beleid oor aborsie het nie. Daar is 'n saak vir genadedood uit te maak maar Jones se aanslag is bedenklik. Hy kan gerus Braam Hanekom se artikel lees (http://www.netwerk24.com/stemme/2015-05-06-braam-hanekom-om-god-in-n-komplekse-wreld-te-hoor). My kommentaar by die artikel is: “Innige dank aan dr Hanekom vir hierdie standpunt. Voorheen het Chris Jones oor genadedood geskryf met min sensitiewiteit.” (Dit verwys na 'n Rapport artikel van 27/9/2014.)
    'n Ander artikel wat ek sterk aanbeveel is die van ds Andre Jansen: Waar is liefde by genadedood? (http://www.netwerk24.com/stemme/2014-09-22-waar-is-liefde-by-genadedood).

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top