Die olifant en die muggie: die rol van Chinese media in Afrika

  • 0

Die volgende artikel het onlangs in die Geesteswetenskappe-afdeling van LitNet Akademies verskyn:

“Sagte mag” in Afrika: China se soeke na invloed op mediaterrein

Die artikel fokus op Chinese media-instellings in staatsbesit wat hulle op die Afrika-vasteland, veral in Kenia en in Suid-Afrika, gevestig het as deel van China se pogings om sy isolasie te verbreek en ’n positiewe beeld internasionaal uit te dra. Hierdie poging word egter ook beskou as die uitoefening van sogenaamde "sagte mag", wat nie alleen daarop gemik is om China se beeld in die buiteland te poets nie, maar ook om sy magsbereik uit te brei.

Gabriël Botma deel sy gedagtes oor die debatte wat Herman Wasserman in sy artikel aanraak.

Die artikel van Herman Wasserman oor die rol van Chinese media in Afrika1 getuig van ’n genuanseerde, veelvlakkige aanslag as deel van ’n gekonsentreerde navorsingsbelangstelling. My bydrae hier moet nie as kritiek op Wasserman s’n gelees word nie, maar eerder as ’n polemiese aansluiting by van die debatte waarna hy verwys.

Eerstens is daar die BRICs-formasie – doelbewus só met die klein “s” geskryf, want Suid-Afrika is die spreekwoordelike muggie op die olifant se rug. Duidelik is daar voordele aan verhoudings met reuse verbonde, en op mediaterrein is die minderheidsbelegging van die Suid-Afrikaanse Naspers2 in die Chinese Tencent al legendaries vir sy opbrengste aan plaaslike aandeelhouers. So word bruê gebou, en as die olifant die strukture laat bewe, dan juig die muggie saam.

Die vraag is egter of China benewens ekonomiese invloed, insluitend die skep van infrastruktuur en betrokkenheid by ontwikkelingsprojekte, ook op ander gebiede die lewens van Suid-Afrikaners merkbaar sal beïnvloed.3 Hoeveel invloed sal China byvoorbeeld uiteindelik kultureel uitoefen, veral gesien in die lig van die geskiedenis en daaglikse ondervinding van Westerse “media-imperialisme” in Afrika?

Gabriël Botma

Die debat speel hom af teen die agtergrond waarin die tesis van kultuur- en media-imperialisme geproblematiseer is (en dikwels dan ook verwerp word) deur kritici wat die “agentskap” van plaaslike gemeenskappe en die idee van die “kontravloei” van mag en invloed beklemtoon. Aan die ander kant is daar weer diegene wat meen dat die dae van die “Pax Americana” nog lank nie getel is nie, en dat China se onopdringerige “sagte mag”-strategie juis ontwerp is om direkte konfrontasie met Westerse belange te minimaliseer.4

Soos dikwels gebeur, is die komplekse realiteit waarskynlik êrens in die middel van bogenoemde uiterstes te vinde, met die implikasie dat ingeburgerde Euro-Amerikaanse belange en Chinese aspirasies albei in berekening gebring sal moet word in die evaluering van die moontlike gevolge van “sagte mag”. Miskien besef die Chinese self dat hulle moeilik in die afsienbare toekoms ernstig met Amerika sal kan meeding om die aandag van mediaverbruikers in Afrika, veral as dit by die vervaardiging en verspreiding van popkultuur kom. Tog is daar in talle wêrelddele, ingesluit die Weste, tekens dat Oosterse mediaprodusente bresse in Amerikaanse hegemonie kan slaan. Afrika is ook allermins passief, met as goeie voorbeeld die aktiewe “Nollywood”-filmbedryf in Nigerië.5

Wat die nuusmedia betref, lyk dit of China wel veld wen onder kritici vir pogings van die (staatsbeheerde) dienste wat internasionaal ontplooi is om by te dra tot ’n meer omvattende en genuanseerde dekking van gebeure in Afrika. ’n Mens moet egter nie verwag om daar te sien wat “werklik” in China aan die gang is nie. Die 65ste bestaansjaar van die Volksrepubliek van China op 1 Oktober 2014 is byvoorbeeld opvallend prominent gedek in die Chinese media wat in Suid-Afrika te sien is (soos die televisiekanaal CCTV), maar die reusebetogings ten gunste van groter inspraak in die regering wat terselfdertyd in Hongkong aan die gang was, is feitlik geïgnoreer.

Toegegee, kritici van die Amerikaanse media, soos Herman en Chomsky,6 sal as teenargument aanvoer dat die “waarheid” ook maar ontwykend is in enige mediasisteem gebaseer op genadelose kapitalisme, selfs al kan die bevolking gereeld tussen hoofsaaklik twee partye kies wie hulle moet lei. Maar volgens alle aanduidings is mediasensuur in China ’n perd van ’n ander kleur, terwyl kapitalisme algaande ook ’n groter rol in mediabedrywe en -praktyke in die land speel.7 China mag op die ou end dalk net met die slegste van albei wêrelde in sy mediabedryf sit.

Wasserman stel voor dat die belewenisse en menings van Afrika-gehore ingewin moet word om die leemtes van ’n eensydige politiek-ekonomiese strukturele ontleding aan te vul. My eie (toegegee allermins omvattende) navorsing8 oor die menings van Afrika-mediagebruikers oor China dui aan dat daar, heel voorspelbaar, basies drie groepe is: fel ondersteuners van China, fel kritici van China, en ’n veel kleiner middelgroep wat om meer genuanseerde debat vra. Die interessante aspek wat die ondersteuners en die kritici van China deel (en waarna Wasserman verwys), is die feit dat China se betrokkenheid dikwels gespieël word teen bestaande persepsies van Westerse imperialisme en kolonialisme in Afrika. China se ondersteuners meen dikwels hulle is “meer opreg” en “minder voorskriftelik” as die Weste, terwyl kritici graag bekende stereotipes oor Chinese “magsvergrype” en “gevoelloosheid” opper en meen dat hulle ’n volgende ronde van die imperiale uitbuiting en onderdrukking van Afrika beoog.

Ek stem egter saam met Wasserman dat die stereotiepe drogbeeld van die “rooi draak” as outoritêre imperiale monster beslis gekompliseer sal moet word. Mense wat al daar was, vertel my China is ’n fassinerende plek – ’n milieu wat jou bestaande denkraamwerke op sy kop draai. Dit is verstaanbaar dat so ’n land en sy ontsaglik groot bevolking veel meer het om te bied as clichés en karikature.

Vir die afsienbare toekoms is China blykbaar vir die lang duur in Afrika. Sal die Chinese ons kan sagmaak vir hul manier van doen en dink, of gaan van ons praktyke en gebruike dalk aan hulle afsmeer?

Onlangs was hier ’n groepie Chinese joernaliste op besoek aan die Wes-Kaap, en hulle het glo getrou al hul beplande amptelike besoeke aan media-instansies ensovoorts nagekom, maar ’n besoek aan Tafelberg was uitgesluit, want dit was nie op die goedgekeurde reisprogram nie. Dit is net ’n anekdote, en tweedehands boonop, maar die oorvertel daarvan dui op ’n belewenis van verskillende benaderings – indien nie tot die joernalistiek nie, dan beslis wel tot wat sommige Chinese en Suid-Afrikaanse joernaliste onder professionele en persoonlike vryheid en etiek verstaan.

Deb Weidenhamer

Toevallig kom ek af op ’n blog met soortgelyke sentimente deur ’n Amerikaanse sakevrou, Deb Weidenhamer, wat vir die New York Times oor haar belewenisse in China skryf.9 As iemand met aansienlike sakebelange in China is sy duidelik nie daarop ingestel om die land en sy mense swart te smeer nie, en dit maak haar opmerkings des te meer insiggewend. In een van die bydraes, “Dealing with the press in China: Be prepared to sing!”, beskryf sy praktyke wat nogal aan die sogenaamde bruinkoevert-joernalistiek in dele van Afrika herinner, met ander woorde dat joernaliste een of ander vorm van vergoeding verwag vir dekking van byvoorbeeld perskonferensies. Sy beskryf ook die gebruik dat verslaggewers in die reël by ’n onderhoud opdaag met ’n lys vrae wat deur die redakteur opgestel is, en nie daarvan (mag) afwyk nie. Buitelanders leer gou om in hul interaksie met joernaliste enige verwysing na die “drie T’s” te vermy: Tiananmen, Tibet en Taiwan. Nog ’n interessante aspek van Chinese joernalistiekpraktyk is dat die wedersydse onderneming van “nie vir publikasie bedoel nie” glo nie daar geld nie – enigiets wat jy aan die verslaggewer sê, mag gepubliseer word.

Hierdie en ander voorbeelde voorspel dat die groter teenwoordigheid en invloed van Chinese media en kultuur in Suid-Afrika tot belangwekkende hibriede vorms kan lei. Enige kultuur, insluitend nuuskantoorkultuur, is ’n dinamiese proses wat in onvoorspelbare rigtings mag ontwikkel en soms onbedoelde gevolge kan hê.

 

Eindnotas

2 Interessant genoeg is die Naspers-baas, Koos Bekker, al dekades ’n soort nie-amptelike ekonomiese en kulturele attaché vir China in Suid-Afrika (hy het byvoorbeeld ook ’n rol gespeel in die vestiging van die Sentrum vir Chinese Studie op die kampus van die Universiteit Stellenbosch).

3 Die soveelste Dalai Lama-visum-omstredenheid die afgelope tyd in Suid-Afrika dui daarop dat daar yster onder die fluweelhandskoen van “sagte mag” kan wees.

4 Louw, PE. 2013. Soft power, being attractive to others, and nation branding in an
epoch where the Pax Americana sets the pace. Ecquid Novi: African Journalism Studies, 34(3):141–8.

6 Herman, ES en N Chomsky. 1994. Manufacturing consent: The political economy of the mass media. Londen: Vintage.

7 Chin-Chuan Lee, Zhou He en Yu Huang. 2006. Chinese party publicity Inc conglomerated: The case of the Shenzhen Press Group. Media Culture Society, 28(4):581–602.

8 Botma, GJ. 2013. Cultural flows in the Chinese empire: The case of Africa. Ecquid Novi: African Journalism Studies, 34(3)1–14.

Terug na die webseminaar: China se soeke na invloed op mediaterrein in Afrika

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top