Die Nuwe Hervorming Netwerk tien jaar later

  • 4

Protestantse kerke vier later dié maand die Protestantse Hervorming. Martin Luther het op Sondagoggend 31 Oktober 1517 sy bekende 95 stellings teen die kerkdeur  vasgepen om sy onvergenoegdheid met die Katolieke Kerk te kenne te gee. Dit het  gelei tot grootskaalse veranderinge in die politieke, sosiaal-kulturele en maatskaplike orde in groot dele van Europa, maar ook die Christendom verdeel.

Dit is vanjaar presies tien jaar gelede toe ’n klein maar invloedryke groepie teoloë en denkers ’n oop gesprek in die Afrikaanse kerke wou begin en die Nuwe Hervorming Netwerk (NHN) gestig het.

Jean Oosthuizen het met een van die stigterslede, Sakkie Spangenberg, gesels oor die NHN se pad die afgelope dekade.

Die NHN is vanjaar tien jaar oud, maar steeds ’n klein groepie. Kon julle daarin slaag om enige invloed op die Afrikaanse godsdiensgemeenskap te hê?

Jean Oosthuizen

Ons het nooit gedink dat ons massas mense gaan trek nie, maar wel gereken dat ons vir ’n klompie mense ’n tuiste sou kon bied waar hulle openhartig oor hulle twyfels en vrae kan praat. Ons was aanvanklik verras oor die reaksie. Heelwat mense het ons gekontak en aan die gesprekke op die NHN se webbladsy begin deelneem. Ek het ’n paar lêers vol briewe van mense uit die beginjare. Die NHN is tans nie meer so sigbaar nie, omdat sommige koerante nie meer soveel aandag aan die kritiese godsdienstige gesprekke gee nie. Ons het wel daarin geslaag om ’n invloed op die Afrikaanse godsdienstige gemeenskap uit te oefen. Daar is steeds mense wat navraag doen oor die NHN se doen en late en aan die gesprekke en seminare kom deelneem.

Wat sou jy as die NHN se hoogtepunte en laagtepunte uitsonder? Het julle meer verwag toe julle daarmee begin het en hoe sien julle die NHN se rol vorentoe? Hét die NHN nog ’n rol om te speel?

Vir my was die hoogtepunt die besoek van biskop John Shelby Spong in 2007. Hy is bekend vir sy aweregse standpunte oor byna elke kerklike leerstelling en het al verskeie boeke gepubliseer. Die NHN was bevoorreg om hom hier te hê en saam met hom aan ’n seminaar te kon deelneem. Die laagtepunt was dat ons na verskeie briefwisselinge in 2012 en 2013 nie daarin kon slaag om vir Nigel Leaves van Australië hier te kry nie. Hy is een van die voorste teologiese denkers tans oor ’n alternatiewe verstaan van God en oor die “vergroening” van die Christelike tradisie.

Julle wou destyds ’n ernstige gesprek oor die erfsondeleer aan die gang kry. Die NG Ring van Lyttelton het nie jou standpunte ernstig opgeneem nie en jy is later van dwaalleer aangekla. Vandag is dit nie meer vreemd dat teoloë die erfsondeleer bevraagteken nie. Was jy jou tyd vooruit of wat het intussen gebeur?

Sakkie Spangenberg

Die leerstuk oor die erfsonde was maar iets wat my persoonlik begin pla het nadat ek bewus geraak het van die strydgesprekke tussen Augustinus, Pelagius en Julian van Ecclanum in die 5de eeu nC. Voorts het ek bewus geraak dat daar Ou-Testamentici was wat na deeglike studie van Genesis 2–3 verklaar het dat dit ’n absurde leerstelling is. Hoe meer ek oor die leerstuk nagelees en Genesis 1–3 bestudeer het, hoe minder kon ek die leerstuk beaam. Ek wou aanvanklik ’n gesprek binne die NG Kerk oor die leerstuk voer, maar het later besef dat ek die onmoontlike verwag. Die hoofstroom Christelike kerke kan eenvoudig nie afskeid neem van die leerstelling nie, want dan ondermyn hulle die boodskap wat hulle al die jare verkondig het en tans nog verkondig. Die teoloog Philip Kennedy som hierdie boodskap op met die woorde: “Sondeval-Verlossing-Eindoordeel”. As daar nie ’n sondeval was nie, waarvan moet die mensdom dan verlos word en waaroor sal die eindoordeel handel?

Die NHN het vir my ’n tuiste geword waar ek my nuwere teologiese insigte kan toets en aan mense kan meedeel. Maar die NHN het ook meer as dit geword. Dis nie maar net ’n groep mense wat kerklik anders wil dink en glo nie. Dis ’n groep mense wat die moderne wetenskaplike kennis met erns bejeën en wat hulleself nie meer gebonde ag aan uitgediende oortuigings en leerstellings nie. Hulle wil graag meer weet van al die wetenskaplike dissiplines en wil dit met hulle lewens integreer.

Het jy ooit spyt gekry dat jy uit die kerk bedank het en nie harder probeer het om van binne dinge te verander nie?

Nee, ek is nie spyt oor ek my hoed gevat en geloop het nie. Die kerk is onhervormbaar en verknog aan die Augustiniaanse paradigma van Sondeval-Verlossing-Eindoordeel. Tradisionele Christelike kerke kan nie daarvan afsien nie, want dan verloor hulle totale geloofwaardigheid. My ervaring is dat mense wat wyd lees, nie meer tuis is binne die tradisionele sienings en leerstellings nie. Meer en meer lidmate sal stilweg die kerk verlaat of net onaktiewe lidmate word .

Kerke wêreldwyd krimp en mense raak meer kerklos, maar tog lyk dit ook nie of oop geloofsruimtes soos die NHN veel groei toon nie. Waarom sou dit wees, of stel mense nie meer belang om oor geloof te praat nie?

Daar sal altyd mense wees wat tradisioneel gelowig sal bly. Die verhaal wat die hoofstroom kerke verkondig, maak vir baie mense nog sin en gee sin aan hulle lewens.

Verder is gemeentes ruimtes waar mense sosiaal kan verkeer en ook goed teenoor ander kan doen. Die NHN en soortgelyke organisasies is eintlik vreemde verskynsels in die sin dat dit nog iets met die Christelike tradisie te doen wil hê, maar nie die volle pakkie wil aanvaar soos dit tradisioneel verpak en aangebied word nie. Godsdiens het ook veel meer met emosie te doen as met verstand.

Die NHN-ers fokus meer op die verstand as op emosies. Dit sing en dans nie soos die res nie. En sing en dans bly belangrik vir mense. Sodra die nuwere sienings ook gesing kan word, sal die veranderinge geleidelik toeneem. Daar is veranderinge aan die kom. Luister maar net wat sing sommige van ons sangers – nou nie die Gospel-sangers nie! Neem Coenie de Villiers se lied “Katedraal” as voorbeeld. Ek het al grappenderwys hierna verwys as lied nommer 3 van die NHN.

In my kerk is daar geen dak nie
geen reliëf of skildery
geen kandelaar wat hoog moet hang nie
almal kan hier toegang kry
want my koepel is die hemel
hoog genoeg vir al die sterre
breed genoeg vir die planete

hier sal jy stilte
hier sal jy vrede
hier sal jy rus by my kom kry

In my kerk is daar geen mure wat ’n horison beperk nie
daar’s geen deure en geen slot nie
geen register om te merk nie
want die berge is die suile
waar die arende kan skuilhou
ja, die vlaktes is my vloere

hier sal jy stilte
hier sal jy vrede
hier sal jy rus by my kom kry.

Hier sing hy van die skepping as die groot katedraal en hoe mense daarin meer tuis voel as in tradisionele katedrale/kerke. Jy sou kon vra, wat is lied nommer 1 en 2 van die NHN? Wel jy kan jou self indink dat die lied “Imagine” van John Lennon onder die eerste twee sal wees en dan ook die pragtige “Gabriella’s Song” uit die film As it is in heaven.

Ek self stel deesdae veel meer belang in die rigting wat bekend staan as die “vergroening van die Christelike godsdiens”. Hier gaan dit om die wete dat ons spesie deel is van alles wat lewe en bewe op aarde en dat godsdienste ontstaan het vanweë ons bewussyn. Ons is nie bestem vir ’n hemel nie. Ons leef hier op aarde en gaan hier dood en ons boustowwe word weer gehersirkuleer. Soos alle ander dierespesies is ons aardsgebonde. Godsdiens het ons spesie help oorleef, maar ongelukkig het godsdienste verstar tot dogmas en dit dryf mense in kampe en dra by tot lyding en ellende op aarde.

Daar is gelukkig nog ’n handvol predikante en ’n paar teologiedosente wat bereid is om aan die gesprekke deel te neem en daar is gemeentes wat nie daarop uit is om kritiese denkers te verketter nie. Maar hoe kan die gesprek sinvol voortgesit word en slaag die NHN genoegsaam daarin om dit reg te kry?

Ek stem saam met jou eerste sin. Ek het predikantsvriende in die NG Kerk wat ruimte laat vir twyfelaars en aan kritiese gesprekke deelneem – ongelukkig is hulle dun gesaai.

Die gesprekke wat die NHN voer, fokus nie meer uitsluitlik op godsdiens nie. Ons het die beweging verruim deur oor die nuwere kennis op die terreine van die sielkunde, sosiologie, biologie, geologie, geskiedenis, noem maar op, te gesels. Ons het eintlik ’n soort “universiteit vir die derde en vierde leeftyd” geword. (Eerste leeftyd: 1–20 jaar; tweede leeftyd: 21–40 jaar; derde leeftyd: 41–60 jaar; vierde leeftyd: 61–80 jaar.) Dis hoofsaaklik mense van 40 jaar en ouer wat ons byeenkomste en seminare bywoon. Die jonger groep is nog te besig met hul lewenstake om te trou, kinders te kry, hulle op te voed en deur universiteite of kolleges te kry.

Julle fokus baie op die wetenskap. Is wetenskap en godsdiens hoegenaamd versoenbaar en hoe moet mense wat steeds gelowig is, met die wetenskap omgaan?

Nee, wetenskap en godsdiens is nie versoenbaar nie. Of liewer, ’n mens kan nie die tradisionele Christelike meesterverhaal van Sondeval-Verlossing-Eindoordeel met die moderne verstaan van die wêreld versoen nie. Daar was nie ’n perfekte wêreld wat tot niet gegaan het vanweë oervoorouers se wandaad in ’n fiktiewe tuin êrens in die Ooste nie. Dood is ook nie deur hulle toedoen in die skepping ingedra nie. Dood is deel van die heelal en hoe dit funksioneer. Alles word gebore, groei en sterf. Dit geld van mense, diere, plante, planete, sterre en sterrestelsels. Om steeds van mense te verwag om te glo dat dood straf op sonde is, is om van hulle te verwag om nonsens te glo. Ons gaan ook nie eendag opstaan nie; ons gaan gehersirkuleer word.

Daar is mense wat daarin slaag om wel tradisioneel gelowig te bly en ook goeie wetenskaplikes te wees, maar hulle word al minder. Die mense met wie ek in aanraking kom, vind dit moeilik om die twee te rym.

 

  • 4

Kommentaar

  • Baie jongmense los die kerk omdat hulle nie meer kan saamstem met wat daar gepreek word nie. Hulle beëindig nie lidmaatskap nie maar dra ook nie meer finansieel by nie. Dis waarom kerkbywoning daal. Hulle sluit ook nie by die NHN aan nie. Ander aktiwiteite is vir hulle belangriker.

  • En so vind ek toe ook 'n nessie!  Ons spot deesdae - ons behoort aan die boskerk ... die buite en die mooi, die boodskap van liefde en medemenslikheid en veral die konsep van aanvaarding!

    Gaan nou dadelik meer probeer uitvind oor die NHN - ek is maar lui vir lees - en het amper die bus gemis! Dankie aan my fb vriend - Jean - se post!

  • As ek sou moes kies tussen die teologie van Sakkie en sy NHN en die teologie (en uitlewing daarvan) van Oom Bey, Martin Luther King, Aartsbiskop Desmond Tutu, Moeder Theresa en vele ander (teologiese, kerklike?) stryders teen die stelsel van verdrukking waarmee sovele in SA en die wêreld oor vir solank moes saamleef, dan is daar vir my geen keuse nie. Sakkie en sy bondgenote is ywerige teoretici, maar ek wag nog om hul uitsprake (en dade)  oor onreg, die behandeling van minderbevoorregtes (toe en nou) te hoor. Solank hulle as 'n klein groepie "bybel - en kerkstudie" in 'n donker kamertjie kan doen met die uitsluitlike doel om Bybelse waarhede en die kerk by te kom. Oom Bey en die ander was ten minste persoons genoeg om hul eie persoonlike gemak op die spel te plaas. Op die ou einde is my geloof 'n reis, 'n ervaring, 'n belewenis. Ek ervaar dit in my eie geloofslewe en het dit te danke aan die Bybel en 'n sogenaamde hoofstroom kerk (die VGK) waarin ek gedoop, bevestig en kerkraadslid was en is. Kerke en geestelike leiers het, soos alle mense en instansies, hul tekortkoming. Miskien sal 'n kritiese selfondersoek en so nou en dan 'n erkenning dat "ons dalk ook al gedwaal het" deur Sakkie en sy span hulle geloofwaardigheid met 'n kerfie verhoog. 

  • Ek het baie ooreenkomste met prof Sakkie se ervaringe en begrip vir sy standpunte waar meer navorsing eenvoudig beklemtoon het dat bybelboeke deur bang en oningeligte kerkleiers eeue gelede saamgevoeg is. Ek het in Istanboel gaan rondstap in my pogings om te verstaan wat 320 nC gebeur het en lank geneem om te verwerk dat Konstantyn die drie-enige god "geskep" het as kompromie wat vir 1 700 jaar daarna net aanvaar moes word deur christene. Vandag is ek rustig en ontslae van skuldgevoel wat so sterk rol speel in christenskap. Bux

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top