Die literêre Roots van Voëlvry

  • 0

Een van die interessantste en mees insiggewende dokumente uit die vroeë geskiedenis van die sogenaamde Alternatiewe Afrikaanse beweging is so pas deur toedoen van Deloof se Nederlandse vriend Lauran Toorians op die net gepubliseer, naamlik die publikasie Skryf Asseblief Terug wat in 1985 in België die lig gesien het in boekvorm.

Skryf Asseblief Terug was ’n spesiale uitgawe van die tydskrif Kruispunt van Brugge (redaksie en uitgewer John Heuzel – Jan Deloof was samesteller en medeskepper) en kan nou besigtig word by https://archive.org/details/SkryfAssebliefTerug.

SkryfAssebliefTerug

Die boekie, wat bydraes deur ’n kerngroep digters, en akademici en rubriekskrywers wat destyds teen apartheid geprotesteer het, bevat, is gebore uit wat aanvanklik ’n spontane kommunikasie was (per brief – e-pos het nog nie bestaan nie!) tussen my (toe nog bekend onder my ietwat pretensieuse naam André Letoit) en die Vlaamse skrywer.

As sodanig was dit destyds ’n ietwat subversiewe, onder-die-toonbank pamflet wat slegs aan ’n handjievol Afrikaanse skrywers en denkers bekend was. In die boeiende klompie bladsye van Skryf Asseblief Terug word ’n chaotiese en onsekere prentjie geskilder van jong blanke digters en skrywers wat vir die eerste keer na hul swart en bruin medeskrywers in Suid-Afrika probeer uitreik.

Antjie Krog, Clinton du Plessis en André Letoit

Hier is boeiende bydraes, plus foto’s en spotprente, deur ’n jeugdige Antjie Krog, André le Roux, Theunis Engelbrecht, Leonard Koza, Peter Snyders, Hein Willemse, Clinton V du Plessis en ander.

Hoewel min geskryf is oor hierdie tydperk van die eerste stroomversnellings in protes-Afrikaans, moet ’n mens hiervan kennis neem as jy wil verstaan wat werklik later tydens Voëlvry en daarna gebeur het. Binne bestek van die passiedeurdrenkte bladsye van hierdie protesdokument lê ontbloot, warts and all, die eerste asemteue van ’n gesmag na vryheid en ’n verlange na demokrasie wat die grondslag vorm van die hedendaagse kulturele bewussyn van vrydenkende Afrikaanssprekendes in die konteks van ’n demokratiese Suid-Afrika.

As ’n mens so deur die dertig jaar oue geskrifte blaai, word jy met gemengde gevoelens gevul. Aan die een kant is ek byvoorbeeld pynlik bewus daarvan dat die Nuwe Suid-Afrika nie heeltemal ontplooi het soos wat ons destyds gehoop en durf visualiseer het nie. Ek self het nie gedroom van ’n land waarin die regerende ANC-elite verlam sou wees deur sy eie korrupsie nie, of waarin mense stront rondgooi op die Kaapse lughawens pleks van behoorlik-verwoorde en weldeurdagte protesaksies van stapel stuur nie. Ek sou my nie sulke makabere gebeure soos die Oscar Pistorius-hofsaak of die Waterkloof 4-wangedrag kon voorstel nie. As ek toe geweet het dat ons klein revolusie sou lei tot ’n situasie in Afrikaanse musiek waarin die kwaliteit heeltemal oorskadu word deur kwantiteit, sou ek bes moontlik toe al die handdoek ingegooi het en ophou skryf het.

SkryfAssebliefTerug

Aan die ander kant het ons klein opstand, soos alle revolusionêre bewegings, tog ook sy pluspunte opgelewer, al was dit dan anders as wat ons dit vir onsself voorgestel het. As Voëlvry, met sy gepaardgaande feeste soos Houtstok – ons eie ekwivalent van die Amerikaanse hippie-beweging (en Woodstock) – was, dan verteenwoordig die geskarrel van hierdie groepie skrywers en denkers bes moontlik die Beat Generation van Afrikaans. En soos die Amerikaanse Beat Generation sy geniemateriaal opgelewer het, soos Jack Kerouac en Allan Ginsberg, was die Afrikaanse Beat-era eweneens propvol kleurvolle en hoogs talentvolle mense soos Johan van Wyk, Chris Pretorius en Welma Odendaal.

Snaaks, hartseer, en vol stof tot nadenke – dit is Skryf Asseblief Terug. Ons sê dankie aan Jan Deloof vir sy ywerige navorsing en vir sy destydse empatieke uitreik na ons groepie verdwaalde siele in die wildernis van apartheid. Dit wat hy tot stand gebring het met hierdie tydsdokument, en wat nou weer op die internet herleef het, verdien om in alle geskiedskrywery oor die ontwikkeling van die Afrikaanse letterkunde opgeneem te word.

 

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top