Te oordeel aan die hofsake, politieke lawaai, kommissies van ondersoek en uitgebreide mediadekking, is die handboekfiasko in Limpopo 'n groot krisis. Ek verstaan egter nie mooi hoekom dit so 'n geweldige krisis is nie, en veral nie waarom dit klaarblyklik dreig om onderwys in Limpopo tot stilstand te bring nie.
Ek moes waarskynlik beter in die skool opgelet het, maar volgens die bietjie wat ek van my skooldae kan onthou, was ons handboeke meestal gehawend. Hulle was gehawend vir 'n goeie rede: Ons het elke jaar ons handboeke by die vorige jaar se leerlinge geërf. Elke jaar het jy jou naam voor in jou handboeke geskryf, en dan volgende jaar het iemand anders so gemaak.
Hoekom sou die nie-aflewering van nuwe handboeke in Limpopo dan so 'n groot krisis wees? Verander die kurrikulum dan elke jaar so ingrypend dat laasjaar se boeke nie meer hierdie jaar bruikbaar is nie? Groei die aantal leerlinge so vinnig? As daar dan so 'n krisis is, waar is laasjaar se boeke by elke skool? Gesteel? Verbrand? Verloor? Verkoop vir drankgeld?
Indien die kurrikulum min of meer dieselfde gebly het, en die aantal ekstra leerlinge met 10% gegroei het, hoekom word laasjaar se handboeke nie bloot gedeel tussen sommige van die leerlinge nie?
JvNk