Die groter sfeer van wêreldliteratuur

  • 0

Naomi Meyer het vir haar vierjarige kind uit Mummy never told me begin voorlees:

Mummy never told me that life is full of little secrets ... Why must I go to school when Mummy was expelled from hers? Why do Mummy and Daddy lock me out of their bedroom? Where do they go at night?

Die illustrasies in die boek toets ook grense. Kaal mans en vroue jaag mekaar deur die blaaie.

Vir die (voor)lesende ma was daar rede tot gesprek. Met haar kind én met volwasse kenners. Sy het ’n paar kundiges op die gebied van kinderboeke uitgesoek en vir hulle gevra wat hulle van boeke soos hierdie dink. Sommige van die kundiges het gekies om die vrae as ’n geheel te beantwoord. Hier is die vrae en die antwoorde volg daarna:

Wanneer is ’n boek nie geskik vir kinders nie, en wanneer is ’n boek ’n goeie manier om ’n oop gesprek te hê?

Wat hierby aansluit, is: Moet oop gesprek deur ’n boek aangemoedig word? Is dit nie ewe moralisties of aanmatigend as om te sê ’n onderwerp is taboe nie? En is ’n boek nie bedoel om sommer net genot te wees nie – waarom ’n boek aan omstrede onderwerpe koppel? 

Hoe ver het Suid-Afrikaanse (Afrikaanse!) boeke nog nodig om te vorder voordat hulle die stof van omstredenheid afgeskud het en sommer net vrolike en tong-in-die-kies boeke raak? (Met ander woorde – ek sien kontroversie hier raak, maar dalk is hierdie onderwerpe bloot storiemateriaal as die kultuur waarbinne dit verskyn, nie eng en verstok dink nie.)

Daar is beslis plek vir beide soorte boeke – dié wat slegs pret is, en dié wat ernstiger kwessies aanraak. Al is ’n boek bloot pret en vermaaklik, is dit steeds iets wat die jong lesertjie kan help om sy woordeskat uit te brei, te leer lees en tel, of sommer net ’n liefde vir lees aan te kweek. Kinderboeke word ook geskryf vir die biblioterapeutiese waarde daarvan – veral as dit emosionele kwessies aanraak, soos die dood, soos byvoorbeeld van ’n troeteldier, ’n maatjie, ’n boetie of sussie of ’n ouer of grootouers. Dit kan ook siekte aanraak, byvoorbeeld kinders met kanker, ’n fisieke gebrek, ens. Sosiale probleme soos boelies by die skool, gespottery, groepsdruk, ’n aangenome kind, geskeide ouers, ’n nuwe baba in die huis, ens.

Boeke is altyd ‘n goeie manier om ‘n potensieel “moeilike” gesprek met ‘n kind te hê. “Die regte boek by die regte mens op die regte tyd” – so iets! So dis nie ’n kwessie van stop iemand iets in die hand nie – dis gevaarlik. As jy ‘n “kontroversiële” onderwerp met ‘n kind takel aan die hand van ‘n prenteboek, moet jy weet dat die kind reg is daarvoor. Die blote feit dat ‘n boek ‘n prenteboek is, beteken nie dat dit nou geskik is vir almal onder ses jaar oud, of wat ook al, nie. Die skrywer se aanslag is baie belangrik. Van die mees geslaagde boeke wat “kontroversiële” konsepte aanraak, bly speels en lig in aanslag. So kan kinders daarmee identifiseer (en die boek geniet), maar sonder om te voel hulle “leer ’n lessie” of word vanuit die volwassene se perspektief aangespreek.

Deur Afrikaanse vertalings van oorsese boeke word die kind ook aan die groter sfeer van wêreldliteratuur blootgestel.

Uiteindelik hang alles baie af van hoe die leser die boek ervaar en of hy/sy dit as kontroversieel en ongeskik vir sy/haar kind beskou. Die Suid-Afrikaanse mark is tradisioneel steeds baie konserwatief en dit is beslis so dat ons politieke en sosiale kwessies sorg dat sekere goed maar teer sake bly. Daar is darem steeds Suid-Afrikaanse skrywers en uitgewers wat aanhoudend die grense toets.

<<< Keer terug na die indeksblad vir hierdie seminaar.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top