Die Goue du Midi-toer

  • 0

Ons sluit by die groepie aan wat onder die bome staan en skerts. Serpe roer in die aandlug en Afrikaanse sêgoed val saam met herfsblare op die sypaadjie voor Hotel Du Centre Et Lauragais in Castelnaudary, die rendezvous vir ons kanaaltoer. Binne sit ons almal later aan oor skottels cassoulet, ‘n bredie van gepreserveerde eend, varkwors, wit bone en kruie, die dorp se stempelgereg.

Castelnaudary is ‘n klein dorpie langs die Du Midi-kanaal, in die suide van Frankryk. Môremiddag vertrek ons vir nege dae per selfgedrewe boot, al met die historiese kanaal langs tot in Port Cassafrieres.

Grand Bassin, die hawekom, is ‘n byenes van bote tot gereedheid bring. Na ‘n blitskurses in boothantering en die vertrekfoto, is ons oktaat entoesiaste straks na vieruur fort. Die lug het intussen ongesiens vergrys en ín Saint-Roche, die eerste viervoudige sluis, skeur die hemel nat en sonder dreuning oop. Daar is nog etlike sluise voor Treboul, ons oornagpunt.

Sluisdeure maak oop en laat ‘n maksimum van vier bote deur. Met binnekoms moet bemanning uitspring en hulle boot met blou toue om toupale anker. Die sluishekke maak toe en die water word uitgepomp. Bemanning moet terugklim en soos die watervlak en boot in die sluiskamer sak, moet aan die toue skiet gegee word. Sonder dat die ankertoue in die water of motore beland, word dit opgerol vir volgende gebruik. Wanneer die voorste sluishekke oopswaai, vaar almal in dieselfde volgorde uit, na die volgende sluiskamer, of die kanaal.


Die aanvanklike geesdrif van ons twee touhanteerders was ‘n paar sluise later aan die kwyn. Ons staan soos deurweekte skeepsrotte elke sluis en afwag, totdat ons bibberend na vasmeer gaan stort. Warm aangetrek, met glase rooiwyn, eet ons saam met die res oorskiet cassoulet.

Dagbreek is vars en mistig na die reën. My vrou is reeds per fiets na die bakkery in Pexiora. Die mistigheid klaar op soos die son begin kop uitsteek. Ons verken die omgewing. Amandel- en vyebome is volop. ’n Verdwaalde pers vy bevestig dat die somer uitgeloop het.

Met vars croissants en pastries vaar ons nege-uur deur sluis Treboul.

Die Du Midi-kanaal is ‘n Unesco-wêrelderfenisgebied, die kopwerk van Pierre-Paul Riquet en deur hom gefinansier. Konstruksiewerk het in 1667, na dertig jaar se beplanning, begin. Die kanaal open 15 Mei, 1681, agt maande ná Riquet se dood, sy persoonlike fortuin uitgeput.

Die kanaal loop áf na die Meditereense See en ons sak in totaal ongeveer 165 meter tussen Castelnaudery en Port Cassafrieres, soos ons deur veertig sluise en ‘n totaal van een-en-sestig sluiskamers navigeer. By Toulousse sluit die Du Midi-kanaal aan by die Garonnerivier en verbind sodoende die Atlantiese Oseaan met die Mediterreense See.

Ons vaar deur skilderagtige dorpies en meer soms teen die wal vas om ‘n pittoreske omgewing gade te slaan of ‘n historiese besienswaardigheid te besoek, plekke soos Villeséquelande, Carcassonne met die Middeleeuse kasteel, Trebes (heerlike seekos by die Poissonnerie) en ons halfpadmerk, Homps.

Waar formele vasmeerpunte ontbreek as ons oornag, trek ons die boot teen die wal vas en anker die toue met voorsiende penne of knoop dit eenvoudig om ‘n boomstam. Dit is sorgvrye dae van meelewing, wyn en alfresco etes op die dek.

Al met die kanaaloewer langs, delinieer eeu oue boomreuse die mensgemaakte waterweg wat deur die landskap baan. Eikebome, populiere, sambreeldenne en hoofsaaklik platane aan weerskante van die kanaal werp ‘n flikkerende skadupatroon wat die kanaal en fietspaadjie op die oewer fragmenteer.

Elke nou en dan ry ‘n fietsryer verby ‘n verliefde paartjie wat dromerig wandel, gesinne en enkellopendes met honde of ‘n groep piekniekgangers wat vir ons glase lig, ‘n Suid-Afrikaanse vlag op hulle boot.
Heelwat van die plataanstamme is gemerk, sommige met ‘n paar merke in verskillende kleure.

Argens-Minervois, Ventenac-en-Minervois, Le Somail, Angeliers, Capestang en Colombiers bring ons tot by l’écluise de Fonserannes, die bekende sewetrapsluis, waar ons oornag. ‘n Bruilof is op ‘n vreeslike groot boot onderweg, stroom-op deur die trapsluis. Die gevaarte pas skaars in die sluiskamers, maar ‘n paar flink dames in tekkies staan bont en anker toue. Die spektakel trek baie aandag en verskaf vermaak tot skemer. Ons besoek ‘n boot, met ‘n uitstalling van kanaalfoto's en leer meer oor die helderkleurige merke op die platane.

Deur Fonserannes stop en oornag ons by Béziers, ‘n vuil dorp wat die ritme van die voorafgaande landskapskoonheid onderbreek.

Ons vertrek en vaar verby Villeneuve-lès-Béziers en Portiragnes. Die kanaal lê in staatsie, die stoet platane morbied op die oewer. Gemerkte bome toon ‘kankervlekke’, besmetting deur ‘n mikroskopiese fungus, Ceratocystus platani. Besmette Amerikaanse ammunisiekiste, uit die Tweede Wêreldoorlog, het die fungus na Frankryk en die kanaal gebring. Die plantpatogeen vestig en ontwikkel in die boom en verstrik stelselmatig die sapkanale. Met die lewensaar wat wurg, vrek die bome oor twee tot vyf jaar. Daar bestaan nie ‘n geneesmiddel wat hierdie landskapsmonument kan red nie en die kanaal kan sy wêrelderfenisstatus verloor. ‘n Tiende van die twee en veertig duisend bome is reeds uitgekap en verbrand, die res gevonnis tot dieselfde lot oor die volgende vyftien jaar, teen miljoene euros.

Die eens ekonomiese lewensaar van handel en ekonomie, dien nou hoofsaaklik as vermaak vir vakansiegangers en toeriste op bote. Die eeu oue kolonnade wat oor die kanaal waghou, se vyftig meter hoë boomtoppe vorm ‘n blaarbaldakyn oor die kanaal en buiten vir skaduwee, is die drieledige doel van die bome om die oewer met hulle wortelstelsel te versterk en verdamping uit die kanaal te verminder. Boomwortels en water dra die fungus en word verder en vinniger versprei deur plesierbote wat teen die wortels skuur en sepsisties die kanaal en bome besmet.

Ons bereik vroegmiddag Port Cassafières, die eindbestemming. Met sjampanje in rugsakke, huur ons fietse en ry see toe, waar ons in die Mediterreense See swem en met sonsondergang ‘n glasie klink
.
Terug by die boot, om ‘n lang tafel vier ons die einde van die kanaaltoer. Die kerslig dans amber op ons gesigte, laggend onbewus van ons bydrae tot die verlies van die kanaal se unieke karakter, die platane, brandoffers op die altaar van ons plesier.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top