Die eerste Vryheidsdag sonder Madiba

  • 0

Dit was John Quincy Adams wat gesê het: “If your actions inspire others to dream more, learn more, do more and become more, you are a leader.” Min mense sal met my stry dat Nelson Mandela so ‘n leier was. Jy hoef net na die byna histeriese reaksie ná die dood van Madiba te kyk – van Suid-Afrikaners, maar ook van volgelinge dwarsoor die wêreld,  om die waarheid van die woorde hier bo te besef. Na twee dekades van demokrasie is dit dalk nodig om te na te dink oor die nalatenskap van hierdie grootse staatsman.

Op 27 April 2014 sal ek presies 20 jaar in my huis woon, want eers toe kon ek hierdie land, die grond waarop ek gebou het, en die huis waarin ek steeds woon, my eie noem. Dit sal ook 20 jaar wees sedert Mandela die eerste demokraties verkose president van Suid-Afrika geword het.

Dit sal ook die eerste keer sedert 1918 wees dat Nelson Mandela nie die Vryheid waarvoor hy so lank geveg het, op vryheidsdag nie meer met ons sal wees nie. Die jaar 2014 sou dus as die begin van ‘n nuwe era – die post-Mandela-era bekend kon staan.

Dis ook tyd dat Suid-Afrikaners bestek opneem om vas te stel hoe ver ons as ‘n jong demokrasie die afgelope twee dekades gevorder het. En hier wil ek my beroep op die response van ander Suid-Afrikaners, want tot ‘n groot mate vertel mense se kommentaar op die lewe van Mandela ‘n eie storie. Selde het ons die SABC soveel onderhoude met mense sien voer. En hulle kommentaar vertel ‘n belangrike storie.

Heel eerste was daar diegene wat eenvoudig nie die kans verby kon laat gaan om die man pleks van die bal te speel nie. Dikwels het die kommentaar ontaard in ‘n klipgooiery na die regerende party, die ANC. Mense kon beswaarlik die versoeking weerstaan om die regering en pres Jacob Zuma se swak plekke uit te wys, pleks dat hul ons geliefde Madiba die eer gegee het wat hom toegekom het. Die bekende omgewingsaktivis Dave Pepler het in sy huldeblyk op RSG genoem dat hy nie kan glo dat daar nog mense is wat iets negatief oor Mandela kon sê nie.

En tog was daar baie van hulle. Een respondent het in reaksie op ‘n rubriek van my in ‘n Sondagkoerant selfs nog na Mandela as ‘n terroris te verwys! Hy verstaan duidelik nie die verskil tussen ‘n vryheidsvegter en ‘n terroris nie en verstaan nie dat die gewapende stryd as ‘n laaste uitweg gekies is teen ‘n regering wat horende doof en siende blind was nie.

Gelukkig was hierdie siniese kommentaar ver in die minderheid.

As voorsitter van die ATR ag ek dit my plig om die naasbestaandes van Madiba om verskoning te vra dat 99,9% van alle negatiewe, en soms blatante rassistiese  kommentaar, in Afrikaans gespreek is. Dit maak al ons werk om Afrikaans as ‘n taal van versoening te bevorder, ongedaan. Een respondent het selfs fout gevind daarmee dat ek een van “ons” Afrikaanse digters se woorde gebruik om na Madiba te verwys. Dit versterk die stereotipe dat Afrikaans deur sommige steeds as ‘n witmanstaal gesien word.  Is daar dan “ons” Afrikaanse digters soos Cilliers en “julle” Afrikaanse digters soos Small?

Maar genoeg van die negatiewe kommentaar. As daar een groot positiewe is wat deur die dood van Madiba bevestig is, is dat ons as ‘n nasie die afgelope 20 jaar baie vordering gemaak het. Dit kon ons – en die res van die wêreld – waarneem uit die landsburgers – wit, swart en bruin – wat vir ure en kilometers in toue gestaan het om hul laaste eerbetoon aan Madiba te bewys; of om net ‘n roudiens by te woon ter ere van sy nagedagtenis. Daar was duidelik nie genoeg tyd toegelaat sodat die ontslape leier in staatsie kon lê nie. Maar dan weer: Hoe lank sou lank genoeg gewees het?

Dalk die treffendste stukkie kommentaar het gekom van die onbekende man wat vir ure sy beurt in die tou afgewag het toe hy gesê het: “Ek gee nie om vir 27 uur in ‘n tou te staan nie, want hy het 27 jaar van sy lewe vir ons gegee sodat ons kan vry wees.” Dat Suid-Afrikaners in hul grootste uur van hartseer so kon verenig ongeag ons verskille – polities en kultureel – en dit boonop ten aanskoue van honderde leiers wat hier opgedaag het om hul respek te kom toon, en voor ‘n wêreldwye gehoor van miljarde, is dalk die beste getuigskrif wat ons het van Madiba se nalatenskap: sy versoenende boodskap het inderdaad die meeste Suid-Afrikaners se harte geraak. Soos die aanhaling hier bo sê, hy het ons geleer om saam met hom te droom van ‘n nuwe Suid-Afrika waar almal vry kan wees en elke mens hierdie land sy eie kan noem.

En stadig maar seker is hierdie droom van Madiba besig om waar te word. My wens vir Suid-Afrikaners is dat ons minder sal kla, meer sal omgee vir ander wat nie so gelukkig soos ons is nie, en meer sal doen om van hierdie jong demokrasie ‘n sukses te maak. En ons kan almal iets doen. Elkeen op sy eenvoudige manier. Dra by tot die sakgeld van ‘n behoeftige student; ‘n klomp onderwysers kan ‘n las maak en een student help met ‘n beurs om verder te studeer; ouers wie se kinders al uitgetrou is uit die huis, bied jou huis aan vir ‘n leerder wat nie ‘n plek het om te studeer nie; afgetrede onderwysers, gaan na jou naaste skool en neem al jou tydskrifte saam en help die plaaslike juffrou om kinders te laat lees. (Nadat ons eie twee kinders afgestudeer het, het ek en my vrou besluit om ‘n swart seun te help om aan Maties te studeer. Dit was een van die mees bevrydende dinge wat ons nog gedoen het.)

Ek is dankbaar vir al die landsburgers wat ten spyte van ‘n knypende ekonomie, ‘n stygende brandstofprys en toenemende werkloosheid steeds gereeld hul belasting en e-tol-gelde betaal.  Maar diegene wat niks anders doen as om te kla of iets negatief oor Suid-Afrika sê nie, vra jou af: Wat het ek vandag gedoen om van Suid-Afrika ‘n beter plek te maak? Hoe het ek help bou aan Madiba se wens van nasiebou? Kyk dan rondom jou, en jy sal sien dat Suid-Afrika stadig maar seker besig is om die spoke van die verlede te verjaag en as ‘n nasie begin saamstaan. Kyk dan op, sê dankie en tel jou seëninge.

Wie weet, dalk, net dalk, sal jou hulp die verskil maak wat nodig is vir die nuwe Mandela om te ontluik. Dalk, net dalk, is die bekroonde Afrikaanse digter Adam Small se woorde “Nou het ’n Moses vir julle opgestaan” nie net waar van ‘n Mandela van ouds nie. Dalk, net dalk, word die woorde weer waar. Dus: Sal die volgende Madiba asseblief nou opstaan?

Michael le Cordeur is verbonde aan die US se Fakulteit Opvoedkunde, voorsitter van die Afrikaanse Taalraad, en ondervoorsitter van die Afrikaanse Taalmuseum.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top