Die agnostikus en sy fantasieë
Die agnostiese laerskoolse-mentaliteit blyk weer duidelik
by Thomas en meeste van sy maters – sedert ons vroegste kommunikasies was dit al só en met die jare, kon hy dit nog nie ontgroei nie.
Maar kom ons hanteer daardie skoolseuntjie vlak argumente.
Superman, weet almal, is ’n sprokie en daar was nog nooit iemand op aarde wat dit anders probeer voorhou het, nie. Daarom, omdat dit ’n sprokiesfiguur is net soos Spiderman, Mr America, Batman, Iron Man, Alice in Wonderland en baie ander, het die skeppers van dié fabelagtige karakters allerlei fantastiese hoedanighede aan dit toegeken, soos, byvoorbeeld, om te vlieg sonder enige vleuels of ander dryfkrag, onsterflikheid, x-straal sig en wat nog meer als.
Tog het niémand nog óóit probeer om dit in ’n volwasse argument te gebruik oor reële, werklike lewensessens nie, maar jy sal vind dat die agnostikus dit doen. Hulle onvolwasse emosionele vlak het net eenvoudig nog nie daardie juveniele stadium kon ontgroei nie – sommige van hulle, soos Angus, maak geen geheim daarvan nie.
Ál die sprokiesfigure, daardie fabels, het egter ’n substraat wat by die werklikheid sou kon aansluit – só het meeste van hulle, sekere herkenbare menslike eienskappe. Dit is om dit vir die kindertjies, waarvoor die ontwikkel is, ’n aanknopingspunt te gee, om dit te geniet en selfs daarmee te identifiseer. Maar dan word die werklikheid-element in die sprokieskarakter só ineengevleg met die onwerklike, die fabelagtige, die fantastiese, dat daar eintlik geen werklikheid meer oorbly nie.
Alle grootmense weet dit en kinders weet dit darem, maar die agnostici…
Daarom ook dat die agnostici alles wat hulle met hulle juveniele emosionele vlak nie kan verstaan, kan begryp, nie, in die klas van fabels, sprokies, sal plaas en hanteer.
Só ook kán agnostici net eenvoudige nie die Woord omtrent die skepping verstaan nie, nes die antieke volkere ook nie en het toe daarvan ’n fabel gemaak, ’n sprokie, kompleet met fantastiese protosoë wat sommerso in ’n woeste oersop sónder enige lewe, sommerso fantasties net ontstaan en sommer só, verander in allerhande goed wat was en is – soos dinosourusse, plante, bome, visse, diere mense, insekte – net wat die fantastiese verbeelding wil, dít kon daardie intelligensielose, lewelose protosoön vermag – sommerso op sy eie. Fantasties nè ? En ’n hele klomp suckers het vir dié storie geval, nes sommige ouens van die antieke volkere vir daardie fantasia van hul tyd geval het omdat hulle nie tot beter instaat was, nie.
Darwin se fantasia is niks meer gevorderd as die antieke fantasieë daaroor nie, net inhoudelik anders om by die huidige tyd te pas, soos die antieke fabels se inhoud by dáárdie tye, gepas het. ’n Goeie voorbeeld is die Finse religie se skeppings fabel – die kosmiese eier sprokie. Só het ’n afduikende eend, sommerso uit die niet uit, nes die protosoön van Dawkins vandag, ’n eier op die knie van Ilmatar, Finse godin van die lug, gelê en toe word die aarde en die lewe daarop, gevorm uit fragmente van die eier. Sommer só – en die Finne, nes die agnostici vandag, het dit geglo en vir gospel verkondig, nes die agnostici vandag hulle fantastiese, fabelagtige protosoön, wat sommer so uit niets wat lewe, verskyn het en ’n hele komplekse diverse biologiese nageslag laat – eenvoudig deur die fabel in te vul waar werklikheid hulle fabel nie meer kon ondersteun, nie.
Mettertyd het die meeste Finne hulle juveniele fabel stadium ontgroei, geëmansipeerd geraak, maar die agnostici vandag kon dit nog nie regkry nie… hulle glo nog steeds in die kosmiese eier… en dié se ontploffing wat dan die heelal tot gevolg sou hê – selfde fabel, ander mitologie…
Vandaar dat Thomas boonop ’n teepot soek wat om Mars sou wentel. Dalk het hy iets met sy seun se super teleskoop geskenk daar gesien, wie weet? Maar niemand anders het nog ooit gehoor of gesien dat ’n teepot om Mars wentel nie. Daarom is dit sekerlik net nóg ’n sprokie, ’n fabel, wat in Thomas se laerskoolse gemoed (wat praat ek? Teepot om Mars? – wag, dit is darem baie voorskools… so by twee jaar oud, of so …) manifesteer, nes die spaghettigod en die pastafriese god – almal sprokies opgetower uit iets wat hul ken. Thomas, ek het slegte nuus vir jou. Tensy een van die ruimtevaarders op ’n tyd ’n teepot inwurm en by die ruimtekapsule/tuig kon uitgooi tydens ’n verbyvlug daar by Mars, gaan jy nie ’n teepot daar kry nie. Hulle sal maar daar by Cape Canaveral bietjie die inventarisse van die ruimtetuie moet nagaan, om te kyk of daar hoegenaamd ’n teepot iewers ingewurm was wat nou boonop nog soek is, ook. Maar ons sal nie asem ophou daarvoor nie, Thomas! Jy moet ook nie, hoor …
Groete,
Kobus de Klerk