Die Afrikaanse Taalraad in Soweto

  • 0

Eerstens baie dankie aan almal wat die Soweto-uitreik-aksie en die Meertaligheidsweek by die Soweto-kampus van die UJ bygewoon het: Danny, Amanda, Anne-Marie, Magdie – en dit was ook lekker om weer vir Anzil (met ’n nuwe haarkapsel) te sien.

Die organiseerders (UJ) het my direk vanaf die lughawe na die Meertaligheidsdinee by die Soweto-kampus van UJ geneem.

Dit was ’n wonderlike aand waar Afrikaans weer met heldergeel kokerblomme geblom het.

Ek en Amanda (namens die VVA en medeorganiseerder) het by die adjunkminister, Joe Phala, gesit en prof en Danny by die tafel langsaan. Dit was goed om tydens die Minister se toespraak te verneem dat hy Afrikaans magtig is, wiskunde op skool in Afrikaans gedoen het, en met ’n B deurgekom het.

Ons het voorwaar lekker gekuier (sonder ’n kontantkroeg).

Die volgende oggend moes ek baie vroeg op (ek het skaars kon slaap en daar was nie tyd vir ontbyt nie), want ek moes om halfsewe vertrek uit Auckland na Soweto.

Ons moes  om halfagt reeds sit op die RSG-stel. Hierdie gesprek, wat lewend uitgesaai is, en waarna u almal hopelik geluister het, was selfs ’n groter adrenalien-gebeurtenis as die vorige aand. Die paneel, wat Danny ingesluit het, was puik en die inbellers se vrae skerp en op die man af. Lynette Francis het die ATR se naam telkens vermeld en ons het goeie terugvoer gekry.

Ook die leerders van die skool in Soweto en hul sprankelende Afrikaans-onderwyseres - hier op die foto saam met lede van die ATR - se positiewe ingesteldheid sal my altyd bybly.

Intussen was Amanda en Anzil betrokke by vasvrawedstryde en skryfwerkswinkels vir die leerders van Soweto.

Daarna het ek die simposium bygewoon wat heelwat goeie referate oor meertaligheid ingesluit het.

Teen 16h00 het ons verdaag en ek is terug gastehuis toe, maar nie voor ons vir Theo du Plessis by die lughawe afgelaai het nie.

Ek moes ’n huldeblyk skryf en slaap inhaal, want ek moes die volgende oggend om 4 op en halfvyf na die lughawe vertrek, want my vlug was om 6.30. Weer sonder ontbyt en toe op ’n Kulula-vlug.

Ek vertrou die paar foto’s help om die storie verder te vertel, en bedank die Akademie, die ATKV, die VVA en die vriendelike personeel van UJ, veral vir Donovan en Megan Lawrence; Marné Pienaar en haar flukse eggenoot, Schalk, wat ons vervoer verskaf het, en weer eens die ATR-lede wat teenwoordig was (ons was ’n lekker klomp ouens), maar veral vir prof Jacques, wat op sy 49ste huweliksherdenking nog die heeldag by ons vertoef het in Soweto.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top