Die afkoelreg in die Nasionale Kredietwet en die Wet op Verbruikersbeskerming

  • 1

Opsomming 

Die afkoelreg in die Nasionale Kredietwet en die Wet op Verbruikersbeskerming

Die National Credit Act 34 van 2005 en die Consumer Protection Act 68 van 2008 het nie Afrikaanse name nie. Daar word in hierdie bydrae deurgaans onderskeidelik daarna verwys as die Nasionale Kredietwet en die Wet op Verbruikersbeskerming.

Die afkoelreg worg baie algemeen erken in verbruikerswetgewing wêreldwyd. Verbruikers word die geleentheid gebied om straffeloos ’n kontrak te beëindig binne ’n sekere periode, gewoonlik binne ’n week of twee, sonder om kontrakbreuk te pleeg. Hierdie besinningsreg word soms beperk tot kontrakte wat in bepaalde omstandighede gesluit is (soos waar die verskaffer van goedere of dienste die verbruiker eerste genader het). In sekere wetgewing word die reg beperk to kontrakte wat buite die normale besigheidsperseel gesluit is. In sommige gevalle laat wetgewing verbruikers selfs toe om ’n kontrak ongekwalifiseerd te beëindig.

Hierdie artikel bied ’n oorsig van die afkoelreg in verskeie Europese lande betreffende verskillende kontrakte en die “algemene beginsels” wat in hierdie verband ontwikkel is.

Die Nasionale Kredietwet bevat ’n afkoelreg wat die reg tot nadenke in die herroepe Wet op Kredietooreeenkomste 75 van 1980 vervang. Die tersaaklike bepalings van die Nasionale Kredietwet word in hierdie artikel ontleed.

Die Wet op Verbruikersbeskerming bevat ook, om dit ligweg te stel, ’n omstrede bepaling wat ’n afkoelreg verleen. Hierdie bepaling word insgelyks in die artikel onder die vergrootglas geplaas.

Trefwoorde:   Afbetalingsooreenkoms; Afkoelperiode; Afkoelreg; Bedenktijden; Besigheidsperseel; Besinningsreg; Borgkontrakte; Consument; Deur-tot-deur verkope; Direkte bemarking; Drumpelverkope; Eiendomsontwikkelaars; Elektroniese kontrakte; Gebeurlikheidskredietooreenkoms; Geldlenings; Herroepingsreg; Hoëdruk verkoopstegnieke; Huurkontrakte; Kontrakbreuk; Kontraksluiting; Kontrakte per telefoon of faksimilee; Kredietkaartkontrakte; Kredietooreenkomste; Kredietverskaffer; Lewering van goedere; Lewering van grond; Mikrolenings; Nasionale Kredietwet; Notariële verbande; Ooreenkoms; Opseggingsreg; Pandooreenkomste; Pandtransaksie; Poskontrakte; Private ooreenkomste; Sessie in securitatem debiti; Tyddeel; Verbandooreenkoms; Verbruiker; Verbruikerskrediet; Versekerde lening; Versekeringskontrakte; Wet op Verbruikersbeskerming; Widerruftsrecht

Abstract

The cooling-off right in the National Credit Act and the Consumer Protection Act

The cooling-off right is a common occurrence in consumer legislation worldwide. It was created to assist purchasers to whom goods were sold at their homes after an unexpected knock on the door or a telephone call to arrange a visit (so-called door-to-door sales). Sellers expanded this type of selling and marketing to office parties or even an evening trip on a boat arranged for this purpose. The selling of timeshare became particularly popular in this regard. Legislatures in many countries intervened to protect their citizens against high-pressure sales techniques and contracts concluded under certain circumstances. The first country to introduce legislation of this nature was Austria in 1961 and many other countries followed suit. In terms of cooling-off legislation consumers are afforded the right to reconsider their contracts and to cancel them within a certain period of time, normally a week or two, without committing breach of contract. The right is sometimes reserved for contracts concluded under certain circumstances, for instance when the supplier of goods or services approached the consumer first. In some legislation the right is limited to contracts concluded outside normal business premises. In yet a third category of cooling-off rights the consumer has a general unqualified right to terminate the contract. This article provides an overview of the cooling-off right in a variety of contracts in different European countries, and the “general principles” that have been developed and evolved in this regard.

In terms of the repealed Credit Agreements Act 75 of 1980 a credit receiver had the right to cancel the contract within five business days if the contract was concluded at a place other than the credit grantor’s business premises and the initiative for the contract emanated from the credit grantor. The consumer was entitled to a refund of any amount already paid. The Credit Agreements Act was replaced by the National Credit Act 34 of 2005, which also contains a cooling-off provision in section 121. This section affords a consumer the right to cancel the contract by means of a written notice within five business days if the contract was concluded at a “location” other than the credit provider’s registered business premises. The parties must restore their respective performances. The credit provider is entitled to a reasonable rent for the use of the goods as well as the costs of having to restore the goods to a saleable condition. The right is limited to instalment sales and leases of movable goods as defined in the National Credit Act.

The Consumer Protection Act 68 of 2008 also has a cooling-off provision in section 16 which applies to transactions that do not constitute a credit agreement under the National Credit Act. The Consumer Protection Act applies only to transactions in terms of which the one party is acting in the ordinary course of business (section 5(1)(a) read with the definition of “transaction”). Put differently, the Act does not apply to “private transactions” between people. In terms of the Consumer Protection Act a consumer may rescind a transaction resulting from any “direct marketing” (defined in section 1 of the Act) without reason or penalty, by notice to the supplier in writing, or another recorded manner and form, within five business days after the later of the date on which the transaction or agreement was concluded, or the goods that were the subject of the transaction were delivered to the consumer. The supplier must return any payment received from the consumer in terms of the transaction within 15 business days after receiving notice of the rescission, if no goods had been delivered to the consumer in terms of the transaction, or having received from the consumer any goods supplied in terms of the transaction. The supplier may not attempt to collect any payment in terms of a rescinded transaction except as permitted in terms of section 20(6) of the Act. Subsections 20(5) and (6) allow a supplier to impose a charge upon a consumer who exercises his or her or its cooling-off right for the use of the goods, but this is subject to a number of qualifications. If any goods returned to the supplier are in the original unopened packaging, the supplier may not charge the consumer any amount in respect of the goods. If the goods are in their original condition and repackaged in their original packaging, the supplier may charge the consumer a reasonable amount for use of the goods during the time they were in the consumer's possession, unless they are goods that are ordinarily consumed or depleted by use, and no such consumption or depletion has occurred. The supplier may also charge the consumer for any consumption or depletion of the goods, unless that consumption or depletion is limited to a reasonable amount necessary to determine whether the goods were acceptable to the consumer.

The cooling-off right in the Consumer Protection Act differs in one important aspect from the right in the National Credit Act. A consumer has five business days to terminate the contract as from the date of conclusion of the contract or delivery of the goods, whichever is the later. This is particularly problematic in the case of a sale of immovable goods where registration of transfer has already occurred and a mortgage bond has been registered as security.

Keywords:  Business premises; Consumer; Consumer Protection Act; Cooling-off period; Cooling-off right; Delivery of goods; Delivery of land; Direct marketing; Discount transaction; Distance transaction; Door-to-door sales; Instalment transaction; Leasing; National Credit Act; Private transactions; Time share; Transaction

1. Inleiding

Die afkoelreg is ’n reg wat deur wetgewing aan ’n sekere kategorie skuldenaars, algemeen bekend as verbruikers, verleen word om ’n kontrak kort na kontraksluiting eensydig te beëindig sonder om kontrakbreuk te pleeg. Anders as wat baie leke dink, kan ’n kontrak, in afwesigheid van kontrakbreuk wat wesenlik genoeg is, natuurlik nie gekanselleer word bloot omdat die skuldenaar spyt is dat hy die kontrak aangegaan het nie. Dit kan net gebeur indien die kontrak self aan die skuldenaar so ’n reg verleen1 of wetgewing so ’n reg skep. Die afkoelreg is al by twee geleenthede in die Suid-Afrikaanse regsliteratuur beskryf.2 Die afkoelreg is nie juis ’n ou instelling nie en is waarskynlik vir die eerste keer deur Oostenryk ingevoer in 1961.3 Dit is nie die voorneme om die wiel opnuut te bedink en van verdere speke te voorsien in hierdie bydrae nie. Die algemene “beginsels” van die afkoelreg soos wat dit in die reeds gemelde literatuur4 en in ander waarna later verwys word,5 uiteengesit word, sal net bondig saamgevat word met die oog op die latere bespreking van die jongste Suid-Afrikaanse wetgewing.6

Die afkoelreg het sy oorsprong by deur-tot-deur-verkope.7 Daar is by geleentheid na hierdie tipe kontrakte as drumpelverkope verwys,8 ’n term wat ek nog nie sedertdien elders teruggevind het nie. Die rede waarom kopers by hierdie kontrakte beskermenswaardig gevind is, is voor die hand liggend. ’n Persoon word in sy eie woning na ’n klop aan die deur gekonfronteer deur ’n gladdebek verkoopsman wat van hoëdruk-verkooptegnieke gebruik maak en dikwels kontrakte sluit namens tydelike monopolieë. Die huisbewoner sluit maklik die kontrak om van die opdringer ontslae te raak. Die onderhandelingsituasie is net heeltemal anders as wanneer die voornemende koper self by ’n winkel instap. ’n Mens kan maklik uit ’n winkel stap wanneer jy keelvol of onseker is, maar dit is nie so maklik om huis en haard te verlaat nie.9 Handelaars het dit later ’n stappie verder geneem toe wetgewing enersyds, en onwilligheid om die voordeur oop te maak andersyds, hierdie vorm van bemarking minder aantreklik gemaak het. Verbruikers is naamlik genooi na ’n funksie by hulle werk of op ’n boot op die rivier, of na ’n ontspanne tuin by ’n restaurant waar drankies en eetgoed voorgesit is voordat die verkoopslui hulle ware begin bekendstel. Almal wat al met hierdie tegnieke te doen gekry het, sal weet dat jy dikwels meegedeel word dat jy reeds ’n prys “gewen” het of ’n naweek iewers “gewaarborg” is. Dit plaas mense onder sielkundige en morele druk om te kontrakteer. Dit is vir hierdie tipe omstandighede dat die afkoelreg uitgebrei is om verder te strek as drumpelverkope.

In die mate waarin ’n mens kan praat van die “algemene beginsels” van ’n afkoelreg kan hulle, afgaande op ’n samevatting en harmonisering van die talle voorbeelde in baie lande oor 50 jaar heen, soos volg neergelê word:10

(i)     Die afkoelperiode is ’n relatief kort tyd wat wissel van drie tot 14 dae.
(ii)    Die verbruiker pleeg nie kontrakbreuk deur die kontrak te beëindig nie.
(iii)   Gewoonlik moet albei partye dit wat presteer is, teruggee en is daar geen verdere aanspraak op prestasie nie. Daar is egter variasies en uitsonderings hierop. Indien ’n saak of ’n diens reeds gelewer is voordat die afkoelreg uitgeoefen is, vereis party wetgewing dat die verbruiker die teenparty vergoed vir die gebruik van die saak of die benutting van die dienste.
(iv)    Die omstandighede van kontraksluiting en die plek van kontraksluiting kan ’n rol speel om te bepaal of die verbruiker hoegenaamd oor ’n afkoelreg beskik. Die afkoelreg is soms beperk tot kontrakte wat buite die verskaffer se besigheidsperseel gesluit is of wat die resultaat is van ’n bepaalde vorm van bemarking. Daar bestaan egter in party lande wetgewing wat by sekere tipes kontrakte ’n algemene besinningsreg verleen ongeag die omstandighede waarin, of die plek waar, die kontrak gesluit is.

Wat terminologie betref, word daar in Engelssprekende lande algemeen gepraat van ’n “right of cooling-off”, vanwaar die term afkoelreg. Daar is vroeg reeds gemeld dat ’n mens in Afrikaans sou kon praat van ’n reg tot nadenke.11 Uit die bespreking van die Europese reg12 sal dit blyk dat verskillende terminologie deur verskillende wetgewers en skrywers gebruik word, soos herroepingsreg, besinningsreg, bedenktyd, opseggingsreg en versakingsreg, almal betreklik elegante begrippe. In die Duitssprekende wêreld word redelik algemeen gepraat van die “Widerruftsrecht”.

Die afkoelreg is in die Suid-Afrikaanse reg deur artikel 13 van die Wet op Kredietooreenkomste13 ingevoer.14 Dit is mettertyd15 uitgebrei na sekere mikrolenings wat vrygestel is van die Woekerwet.16 ’n Wysiging in 1998 aan die Wet op Vervreemding van Grond17 het die reg tot nadenke ook na afbetalingskoopkontrakte van woonerwe in stedelike gebiede uitgebrei. Die besinningsreg by mikrolenings en afbetalingskoopkontrakte van grond word elders volledig beskryf.18

2. ’n Kort oorsig van die Europese reg

Dit sou geen doel dien om al die verskillende afkoelregte in Europa te bespreek nie. Die doel van hierdie kort oorsig is om uit te wys dat die afkoelreg in ander regstelsels ’n baie bekende instelling is, nie uniek is aan Suid-Afrika nie, en dat daar baie navorsingsmoontlikhede en regsvergelykende geleenthede bestaan vir Suid-Afrikaanse akademici wat op enige van die tersaaklike terreine werk waarna hier onder verwys word. Daar is sekere “algemene beginsels” wat by die besinningsreg ter sprake kom, maar selfs hierdie “beginsels” moet omsigtig hanteer word wanneer ’n mens met ander regstelsels werk. Die sosiale en ekonomiese omstandighede van ’n bepaalde land, die vlak van kundigheid van verbruikers in ’n sekere gemeenskap en die besigheidsrisiko’s wat die reg om ’n kontrak eensydig te beëindig vir handelaars inhou, is faktore wat ’n skrywer en ’n wetgewer in gedagte moet hou wanneer besin word oor die skep van ’n afkoelreg in enige bepaalde omstandighede. Die duur van die afkoelreg, met ander woorde die aantal dae wat ’n verbruiker het om te besin, die omstandighede waarin dit enigsins moet geld19 en selfs die vorm van uitoefening daarvan20 sal van regstelsel tot regstelsel verskil. Daar sal by wyse van illustrasie sekere voorbeelde in hierdie verband voorgehou word.

E. Terryn het ’n omvangryke werk van meer as 600 bladsye oor die afkoelreg die lig laat sien met die titel Bedenktijden in het Consumentenrecht. Dit is wat sy noem ’n “bijgewerkte handelseditie” van haar proefskrif wat sy in 2005 aan die KU Leuven voltooi het. Die “handelsuitgawe” is in 2008 gepubliseer. Dit bevat ’n magdom inligting oor die besinningsreg soos wat dit in Europa neerslag gevind het en ek kon met groot vrug daarvan gebruik maak. In die bespreking wat volg, sal uiteraard ook na ander skrywers verwys word.

Terryn gee onder andere ’n oorsig van die verskillende EEG- en EU-riglyne wat lidstate opdrag gegee het om ’n herroepingsreg op verskillende gebiede van die reg in te voer. Hierdie riglyne is die volgende:

(i)       Riglyn 577 van 1985 het ’n besinningsreg voorgestel by “overeenkomsten buiten verkoopruimten” en het as historiese grondslag vorige wetgewing van lidlande wat uit die 1970’s dateer en wat terugtrede by deur-tot-deur-verkope gerëel het.21 Die grondslag van hierdie terugtredingsreg is die “overrompelingseffect”22 of “verrassingselement”23 wat voorkom by kontrakte buite besigheidspersele.24

(ii)      Riglyn 47 van 1994 het ’n herroepingsreg voorgestel by tyddeelooreenkomste vanweë die agressiewe praktyke wat op hierdie terrein voorgekom het.25 Enkele Europese lande het voor die aanvaardingvan die riglyn reeds sulke wetgewing gehad26 en die ander lande het dit mettertyd ingevoer.27

(iii)     Riglyn 7 van 1997 het “verkoop op afstand” aangespreek.28 Dit is kontrakte vir die lewering van goedere en dienste wat byvoorbeeld per pos of elektronies bestel word.29 Die partye is nie gelyktydig in mekaar se teenwoordigheid wanneer beding word nie.30 Die rede waarom hierdie tipe kontrakte gereguleer moes word, is dat die verbruiker nie voor kontraksluiting daadwerklik die saak sien of kennis kan neem van die aard van die dienslewering nie.31 Die riglyn se inhoud word volledig deur Cauffman32 en De Witte en Vermeersch33 uiteengesit.

(iv)     Riglyn 65 van 2002 het betrekking op kontrakte vir die verkoop van finansiële dienste wat die partye oor ’n afstand met mekaar sluit. Daar is besef dat hierdie tipe kontrakte verskil van ander verbruikerskontrakte deurdat daar nie juis iets gelewer kan word wat verskil van dit wat op die internet of in ’n katalogus geadverteer word nie. Gevolglik is besluit om aan die verbruiker ’n besinningsreg te gee vóórdat die kontrak aangegaan kan word, sodat hy ander moontlikhede kan oorweeg terwyl die teenparty intussen vir 14 dae nie sy aanbod mag wysig nie.34

(v)      Die meeste lidlande se nasionale stelsels maak voorsiening vir ’n afkoelreg by verbruikerskrediet, alhoewel daar nie in die verlede ’n bindende riglyn daaroor bestaan het nie.35 Ofskoon die riglyn wat op verbruikerskrediet betrekking het,36 nie lidstate verplig het om ’n afkoelreg by verbruikerskredietkontrakte in te voer nie,37 maak die nuwe riglyn betreffende verbruikerskrediet38 wel daarvoor voorsiening.39 ’n Afkoelreg van 14 kalenderdae gaan aan die orde van die dag wees en indien die kredietverbruiker daarvan gebruik maak, moet hy die geleende kapitaal met rente terugbetaal.40

Switserland kan as ’n betreklik onlangse voorbeeld voorgehou word van ’n land wat ’n afkoelreg by verbruikerskrediet verleen. Hierdie land het eers in 2001 ’n nuwe verbruikerskredietwet aanvaar, terwyl ander lande al heelwat vroeër nuwe verbruikerskredietwetgewing op die spoor van riglyn 102 van 1987 aanvaar het. Voorbeelde is Duitsland in 1990, Nederland in 1991 en België in 1991.41 Die Switserse wet, die Bundesgesetz über den Konsumkredit (KKG) van 23 Maart 2001, het op 1 Januarie 2003 in werking getree.42 Soos die meeste Europese verbruikerskredietwette het die Switserse KKG definisiegewys ’n wye toepassingsveld. Dit dek bykans enige vorm van krediet wat deur ’n natuurlike persoon of ’n regspersoon wat binne besigheidsverband optree, aan ’n natuurlike persoon wat nie in die loop van sy besigheid of beroep optree nie, verskaf word.43 “Konsumkreditvertrag”sluit enige kredietverskaffing in die vorm van uitgestelde betaling, gewone lenings en soortgelyke finansieringshulp in. Dit sluit uitdruklik “Leasingverträgeen kaartkrediet in.44 Kaartkrediet sluit sowel tradisionele driepartykaarte45 in, waarby ’n bank of kredietkaartonderneming as een van die drie partye betrokke is, as tweepartykaarte,46 wat slegs tussen ’n besigheid en sy eie klante of kliënte gebruik word.47 Die verbruiker kan volgens die Switserse KKGby ’n Konsumkreditvertrag sy aanbod binne sewe dae terugtrek of die kontrak self binne hierdie tydperk ongedaan maak.48 Daar is niks wat die kredietgewer verhoed om in hierdie tyd te presteer nie.49 Indien die lening reeds aan die verbruiker uitbetaal is, moet hy dit terugbetaal, maar hoef geen rente of heffings te betaal nie.50 Dit is dan inderwaarheid ’n rentevrye lening.51 By afbetalingskope en huurkontrakte (“leasing”) waar die saak reeds gebruik is, en by die lewering van dienste waar die dienste of ’n deel daarvan reeds gelewer is, geld volgens artikel 16(3) egter besondere reëlings. Artikel 16(3) stel naamlik in hierdie gevalle uitoefening van die heroeppingsreg onderhewig aan artikel 40(f) “Obligationenrecht”(“OR”) voor.52 Volgens artikel 40(f) moet albei partye teruggee wat hulle ontvang het. Indien ’n saak reeds deur die klant/kliënt gebruik is, moet hy die skuldeiser vergoed. Hy moet hom naamlik ’n redelike huurgeld betaal vir die gebruik van die saak.53 In die geval van ’n diens wat reeds gelewer is, moet die skuldenaar die skuldeiser vergoed vir sy uitgawes en vir die benutting van die diens.54 In so ’n geval, bepaal ’n 40(f)(3)-OR, moet artikel 402-OR toegepas word. Dié bepaal dat die een party55 die ander party56 moet vergoed soos wat ’n opdraggewer ’n opdragnemer by mandaatgewing behoort te vergoed.57

(vi)     Riglyn 83 van 2002 verwag van lidlande ’n “opzegrecht”58 by lewensversekeringspolisse en vind sy wortels in vroeëre riglyne wat die versekeringsbedryf gereguleer het. Die grondslag vir ’n afkoelreg in hierdie geval is dat lewensversekeringskontrakte meestal vir ’n lang termyn gesluit word, met aansienlike premies, en dat daar voorsorg getref moet word om misverstande te vermy.59      

Bogenoemde ses riglyne het egter geensins ’n bestendige of konsekwente Europese herroepingsreg tot gevolg gehad nie.60 Terryn het die Belgiese reg breedvoerig met ander Europese stelsels vergelyk. Sy merk op dat daar in die Europese stelsels ’n “schrijnende gebrek aan consistensie”  is, asook “onvolledigheid van de wettelijke regelingen,”61 terwyl in België “zien we zo mogelijk een nog grotere inconsistensie  qua formulering en uitoefeningsvoorwaarden dan op Europees niveau, soms zelfs binnen één en dezelfde wet.”62

Wat die Belgiese reg betref, bespreek Terryn die afkoelreg op verskillende terreine.63 Die eerste afkoelreg is, soos in baie lande, spesifiek geskep vir “afbetalingskope” wat buite die verkoper se besigheidsplek gesluit is. Dit is by wyse van wetgewing in 1970 ingevoer.64 Hierdie reg is mettertyd na verskillende terreine van die handelswêreld uitgebrei. Artikel 86 van de Wet van 14 Juli betreffende de handelspraktijken en de voorlichting en bescherming van de consument (bekend as die WHPC) het die afkoelreg wat koopkontrakte betref, sedert 1991 uitgebrei na allekoopkontrakte (nie net afbetalingskope nie) wat buite die ondernemingsperseel gesluit is.65 Die afkoelreg in artikel 86 dek die verkoop van sowel dienste as produkte.66 Die verbruiker het vir sewe werksdae ’n “bedenktermijn”67 en binne hierdie termyn mag geen dienste aan die verbruiker gelewer word nie, nóg mag enige betaling van hom ontvang word.68 Belgiese verbruikers beskik ook oor ’n afkoelreg by afstandsooreenkomste.69 Daar is verskillende soorte afstandsooreenkomste met verskillende reëlings in die Belgiese reg.70 By afstandsooreenkomste wat nie betrekking het op finansiële dienste nie, het die verbruiker sewe werksdae om oor sy kontrak te besin en dit straffeloos en sonder opgaaf van rede te beëindig. Dit heet sy “verzakingsrecht”.71 Die versaking kan vormloos en dus ook mondeling geskied.72 ’n Afkoelreg word ook verleen aan verbruikers wat sekere kredietooreenkomste sluit.73 Hierdie afkoelreg word gereël deur artikel 18(1) van de Wet van 12 Juni 1991 op het Consumentenkrediet (WCK). Ek het dié wet kort ná sy aanname volledig onder die vergrootglas geplaas.74 Die afkoelreg vir kredietverbruikers geld vir sewe werksdae.75 In die geval van sekere klein kredietooreenkomste, te wete afbetalingskope, finansieringshuur en afbetalingslenings waar die kredietbedrag nie 1 250 euro oorskry nie, geld die afkoelreg nie.76 Daar bestaan ook in die Belgiese reg ’n “opzeggingsrecht”77 ten opsigte van “landverzekeringsooreenkomsten”. Hierdie reg geld egter vir beide kontrakspartye en beloop 30 dae in die geval van lewensversekering en 14 dae in ander gevalle.78 Voorts het verbruikers ’n afkoelreg van sewe werksdae by kontrakte met huweliksburo’s.79 Sedert 1999 het kopers van tyddeel ’n herroepingsreg van 15 werksdae.80 Ofskoon die skrywers graag die term “timesharing” gebruik, noem die wetgewer dit in effens breedsprakige dog tegnies suiwer Vlaams “de verkrijging van een recht van deeltijds gebruik op onroerende goederen”.81 Daar bestaan ook afkoelregte vir verbruikers wat afstandooreenkomste met betrekking tot sekere finansiële dienste sluit82 en vir verbruikers wat kontrakte aangaan vir die koop, verkoop, huur of huurbemiddeling van onroerende goed met “vastgoedmakelaars”.83

Terryn tref ook ’n kort vergelyking tussen verskillende stelsels se invoering en toepassing van die afkoelreg. Sy bespreek die Nederlandse, Engelse, Franse en Duitse reg en vergelyk hierdie stelsels met die Belgiese reg.84 Uit hierdie bespreking blyk dit dat daar raakpunte tussen hierdie stelsels bestaan, maar ook wesenlike verskille. Die posisie in hierdie stelsels kan kortliks soos volg saamgevat word:

(i)     Nederland

Die herroepingsreg bestaan al sedert 1973 in Nederland en was vervat in die destydse Colportagewet van 7 September 1973.85 Die Colportagewet is heelwat gewysig, maar nie herroep nie.86 Die herroepingsreg is sedertdien ook uitgebrei in Nederland. Die herroepingstye verskil en soms word met kalenderdae gewerk en ander kere weer met werksdae.87 Die reg bestaan vandag ten opsigte van “deeltijd”88 en afstandsooreenkomste.89

Koopkontrakte wat tussen partye inter absentes gesluit word, bied ’n interessante voorbeeld van die afkoelreg in Nederland. Boek 7 titel 1 van die BW rëel koopkontrakte in die Nederlandse reg. Titel 1 geld ook soms vir die lewering van dienste,90 maar dit word vir huidige doeleindes daar gelaat.91 “Overeenkomsten op afstand” word, wat koopkontrakte betref, in artikel 7:46(a) omskryf. In wese is dit ’n ooreenkoms vir die lewering van ’n koopsaak waar daar tussen die partye uitsluitlik gebruik gemaak word van kommunikasietegnieke oor ’n afstand.92 Artikel 7:46d van die BW  bepaal dan verder dat die koper sewe werksdae tyd het na ontvangs van die koopsaak om “de koop op afstand zonder opgave van redenen te ontbinden”.93

Artikel 7:2 lid 2 van die BW  bied aan ’n koper van ’n woonhuis ’n afkoelreg indien die koper ’n natuurlike persoon is wat nie handel in die uitoefening van ’n beroep of bedryf nie. Hierdie reg is onderhewig aan sekere uitsonderings, soos die “huurkoop” van grond en koop op ’n openbare veiling “ten overstaan van een notaris”.94 Die Nederlandse skrywers noem hierdie afkoelreg “de bedenktijd”.95 Die afkoelreg beloop drie dae en neem eers ’n aanvang sodra die koopakte aan die koper besorg is.96 Minstens twee van hierdie dae moet nie ’n Saterdag, Sondag of algemeen-erkende vakansiedag wees nie.97 Hierdie tobtyd is in die literatuur “fors” gekritiseer, onder andere vanwëe die korte duur daarvan.98

(ii)     Brittanje99

Brittanje erken al ’n afkoelreg sedert die Hire-Purchase Act 1964 en die Consumer Credit Act 1974.100 Die afkoelreg is sedertdien uitgebrei na onder andere sekere afstandsooreenkomste en tyddeelkontrakte.101

(iii)      Frankryk

Die Franse verbruiker geniet beskerming oor ’n wye terrein.102 ’n Afkoelreg is al in 1972 ingevoer op die terrein van kontrakte wat buite ’n besigheidsperseel gesluit is.103 ’n Arsenaal opvolgende wette verleen aan verbruikers vandag ’n herroepingsreg by verbruikerskrediet,104 afstandsooreenkomste, tyddeel-, huweliksbemiddeling- en versekeringskontrakte.105 Die herroepingsreg in Frankryk “krijgt ook … de meest uiteenlopende formuleringen en variërende termijnen”.106

(iv)     Duitsland

Die Duitse reg bied ook ’n “Widerruftsrecht” by ’n verskeidenheid kontraksoorte. Die Gesetz über den Widerruf von Haustürgeschäften und ähnlichen Geschäftenvan 1986 het reeds vir so ’n reg voorsiening gemaak.107 Artikel 355 van die BGB lê nou die algemene beginsels neer betreffende die “Widerrufsrecht” wat geld by verbruikerskontrakte108 in daardie spesifieke gevalle waar die BGB uitdruklik ’n herroepingsreg verleen.109 Die afkoeltyd in alle gevalle is ooreenkomstig artikel 355 twee weke.110 Dit is belangrik om daarop te let dat dit nie “14 dae” is nie, want so ’n termyn kan natuurlik verskillende betekenisse hê. Ofskoon artikel 355 die algemene beginsels neerlê wat geld vir die herroepingsreg in die Duitse reg, bestaan daar verskillende toepassingsreëls vir spesifieke gevalle. Deur-tot-deur verkope word byvoorbeeld gereël deur artikel 312(1)(1) van die BGB. Dié verleen aan ’n verbruiker onder andere ’n afkoelreg wanneer die kontrak die gevolg is van mondelinge onderhandelinge by die verbruiker se werksplek of privaatwoning.111Die doel van hierdie reg is “um den Kunden so vor Überrumpelung oder anderweitiger sachfremder Beeinflussing zu schützen”.112 Afstandsooreenkomste vir die lewering van goedere en dienste113 word gereguleer deur artikel 312(b) van die BGB.114 Die herroepingsreg self is in die geval van afstandsooreenkomste vervat in artikel 312d, wat die algemene beginsels wat in artikel 355 neergelê is, in sekere opsigte kwalifiseer.115

Bogenoemde is net enkele voorbeelde. Daar is ook ander afkoelregte in die Duitse reg.116 Die Duitse reg is volgens Terryn se oordeel ’n voorbeeld van ’n eenvormige stelsel wat die herroepingsreg betref. Artikel 355 van die BGB lê naamlik die algemene beginsels neer en afwykings en variasies elders in die BGB word net aangetref by spesifieke gevalle waar dit nodig is.117

Sekere stelsels verleen ook ’n afkoelreg wat nie elders bestaan of deur ’n Europese Unie-riglyn vereis word nie. Soos reeds gemeld, bestaan daar in België selfs by kontrakte met huweliksburo’s ’n besinningsreg. Die kontrak van huweliksbemiddeling word naamlik eers geag voltrekte wees sewe dae na die sluiting daarvan indien die kliënt nie intussen die kontrak teenoor die tussenganger beëindig het nie. In die Franse reg het ’n soekende eggenoot ook ’n sewe dae “bedenktermijn” om die “psyschologish zwakte van de huwelijkskandidaat” te versag.118 Die huweliksmakelaar, en die kontrakte wat hy sluit om gepaste potte en deksels bymekaar uit te bring met die oog op huweliksluiting, is al by geleentheid in die Suid-Afrikaanse reg beskryf, ook uit ’n regsvergelykende oogpunt, maar die afkoelreg is nie toe aangespreek nie.119 In die konteks van hierdie tipe kontrakte is afkoelreg ongetwyfeld die korrekte term.

3. Die Nasionale Kredietwet

Die National Credit Act120 het die verbruikerskredietreg in Suid-Afrika op sy kop gekeer. Die wet het die Wet op Kredietooreenkomste121 en die Woekerwet122 herroep en albei vervang. Weinig van die herroepe wette se bepalings is terug te vind in die nuwe wet. Een van die min bepalings wat “herverorden” is, is die bepaling betreffende die afkoelreg. Die nuwe bepaling verskil egter wesenlik van die vorige een, vanwaar die gebruik van die aanhalingstekens in die voorgaande sin. Die National Credit Act het nie ’n amptelike Afrikaanse naam nie en daar sal in hierdie bydrae daarna verwys word as die Nasionale Kredietwet.

Alvorens die Nasionale Kredietwet se bepalings betreffende die besinningsreg bespreek word, moet die toepassingsgebied van die wet net kortliks uiteengesit word. Dit is onder andere belangrik omdat die herroepingsreg nie op alle kredietooreenkomste van toepassing is nie. Die wet maak van omvattende definisies gebruik. Sommige kredietooreenkomste word in die woordomskrywingsartikel123 beskryf en ander in die teks van die wet.124 Die wet is nie in Afrikaans gepubliseer nie. Die Afrikaanse terminologie wat hierna gebruik word vir die onderskeie kategorieë kredietooreenkomste, is my skeppings.125

Die wet onderskei vier hoof kategorieë kredietooreenkomste: die kredietfasiliteit, die krediettransaksie, die kredietwaarborg en enige kombinasie van dié drie. Daar is agt subkategorieë van ’n krediettransaksie: die pandtransaksie, afslagtransaksie, gebeurlikheidskredietooreenkoms, afbetalingsooreenkoms, verbandooreenkoms, versekerde lening, huur126 en enige ander ooreenkoms wat voorsiening maak vir ’n uitgestelde betaling127 waarop daar rente, ’n heffing of fooi betaalbaar is. Die wet beskerm natuurlike persone ongeag die bedrag krediet ter sprake. Regspersone word net beskerm as hulle “klein” is en “klein” kontrakte aangaan.128

Die afkoelreg is vervat in artikel 121 van die wet. Dié lui:

Consumer’s right to rescind credit agreement.

(1)  This section applies only in respect of a lease or an instalment agreement entered into at any location other than the registered business premises of the credit provider. 

(2)  A consumer may terminate a credit agreement within five business days after the date on which the agreement was signed by the consumer, by

(a) delivering a notice in the prescribed manner to the credit provider; and
(b) tendering the return of any money or goods, or paying in full for any services, received by the consumer in respect of the agreement.

(3)  When a credit agreement is terminated in terms of this section, the credit provider -

(a) must refund any money the consumer has paid under the agreement within seven business days after the delivery of the notice to terminate; and
(b) may require payment from the consumer for -

(i)     the reasonable cost of having any goods returned to the credit provider and restored to saleable condition; and 
(ii)    a reasonable rent for the use of those goods for the time that the goods were in the consumer’s possession, unless those goods are in their original packaging and it is apparent that they have remained unused.

(4)  A credit provider to whom property has been returned in terms of this section, and who has unsuccessfully attempted to resolve any dispute over depreciation of that property directly with the consumer and through alternative dispute resolution under Part A of Chapter 7, may apply to a court for an order in terms of subsection (5).

(5) If, on an application in terms of subsection (4), a court concludes that the actual fair market value of the goods depreciated during the time that they were in the consumer’s possession, a court may order the consumer to pay to the credit provider a further amount not greater than the difference between -

(a) the depreciation in actual fair market value, as determined by the court; and
(b) the amount that the credit provider is entitled to charge the consumer in terms of subsection (3)(b).

Die afkoelreg geld net ten opsigte van huurkontrakte van roerende goed en afbetalingsooreenkomste.129 ’n Huurkontrak is luidens die woordomskrywing in artikel 1 ’n kontrak vir die besit of gebruik van ’n roerende saak. Betaling van die huurgeld is uitgestel en is by wyse van paaiemente of ’n enkelbedrag betaalbaar. Daar is ’n heffing of rente130 betaalbaar. Aan die einde van die huurtermyn gaan eiendomsreg, anders as in die gemenereg, oor op die huurder. ’n Afbetalingsooreenkoms is volgens die woordomskrywing in artikel 1 ’n koopkontrak van ’n roerende saak. Eiendomsreg gaan eers oor wanneer die koper al sy verpligtinge nagekom het, óf die kontrak bevat ’n bepaling wat lui dat eiendomsreg terugkeer na die verkoper indien die koper kontrakbreuk pleeg. Betaling van die prys is uitgestel. Betaling geskied by wyse van paaiemente en daar is ’n heffing of rente betaalbaar. Die woordomskrywings van dié twee kredietooreenkomste is by geleentheid volledig ontleed, asook die verskille, of gewaande verskille, tussen die twee tipes kontrakte en die teoretiese en praktiese implikasies daarvan.131     

Die belangrikste implikasie van die feit dat die afkoelreg slegs geld wanneer ’n afbetalingskoop of ’n huurkontrak voorhande is, is eintlik geleë in die spreuk unius inclusio est alterius exclusio. By wyse van eliminasie kan ’n mens dit stel dat die afkoelreg onder andere nie geld by die volgende belangrike kredietooreenkomste waarop die Nasionale Kredietwet wel andersins van toepassing is nie: verbandooreenkomste, pandooreenkomste, notariële verbande, sessies in securitatem debiti uit hoofde waarvan sekerheid verskaf word vir krediet wat verleen word,borgkontrakte uit hoofde waarvan sekerheid gestel word vir kredietooreenkomste, gewone geldlenings, kredietkaartkontrakte en kontrakte vir die lewering van dienste of ’n saak wat tuisgebring kan word onder die woordomskrywings van ’n afslagtransaksie of ’n gebeurlikheidskredietooreenkoms.132

Die afkoelreg geld net indien die kontrak gesluit is133 op ’n ander plek as die kredietgewer se geregistreerde besigheidsperseel. In hierdie verband moet daarop gelet word dat ofskoon die wet van die kredietgewer vereis om die verbruiker te voorsien van ’n dokument wat die besonderhede van die kontrak bevat,134 opskrifstelling oënskynlik nie ’n geldigheidsvereiste is soos wat ’n mens dikwels in wetgewing van hierdie aard aantref nie. Die toets vir doeleindes van die bestaan van die afkoelreg behoort dus te wees waar die partye wilsooreenstemming bereik het. Indien dit buite die kredietgewer se besigheidsperseel geskied het, geld die afkoelreg. Een lastige uitleg- en toepassingshekkie is egter geleë in artikel 121(2). Dié bepaal naamlik dat die verbruiker ’n besinningsperiode van vyf besigheidsdae het “after the date on which the agreement was signed by the consumer”. Daar is geen bepaling in die wet wat vereis dat die verbruiker die kredietooreenkoms moet teken nie. Wat op dees aarde die posisie is indien die verbruiker nie die kontrak geteken het nie, weet ek nie. Dit is maar net nog ’n voorbeeld van slordige wetsopstelling en ’n gebrek aan fundamentele denke waarvan hierdie wet ’n uitnemende voorbeeld is. Die teorieë in die kontraktereg, soos die versendingsteorie, ontvangsteorie en vernemingsteorie, wat toepassing vind by poskontrakte, elektroniese kontrakte en kontrakte wat per telefoon of by wyse van faksimilee gesluit word, om te bepaal waar en wanneer ’n kontrak tot stand gekom het, behoort andersins ’n belangrike rol te speel indien die partye nie in mekaar se teenwoordigheid gekontrakteer het nie.135 Daar moet ook op gewys word dat die Nasionale Kredietwet ’n uitgebreide betekenis toedig aan “besigheidsperseel”. “Premises” in artikel 1, en gevolglik ook “business premises” in artikel 121(1), sluit naamlik “land, or any building, structure, vehicle, ship, boat, vessel, aircraft or container” in. Die vraag sal dus telkens wees of enige van hierdie “plekke” ’n geregistreerde besigheidsperseel is of nie.

Die afkoelperiode is vyf besigheidsdae. Wanneer ’n sekere aantal dae tussen twee gebeurtenisse voorgeskryf word, sluit dit die dag uit “on which the first such event occurs”.136 In casu slaan die “first event” myns insiens op die dag van kontraksluiting. Die dag waarop die kontrak gesluit is, asook Saterdae, Sondae en openbare vakansiedae, moet buite berekening gelaat word wanneer die afkoelperiode bepaal word.137 Die dag van die tweede gebeurtenis moet egter ingereken word om die afkoelperiode te bereken.138 Daar word aan die hand gedoen dat die tweede dag wat hier ter sprake is, die lewering van die beëindigingskennisgewing ooreenkomstig artikel 121(2)(a) is.

Uitoefening van die afkoelreg het tot gevolg dat die partye oor en weer moet teruggee wat hulle ontvang het en dat die verbruiker ten volle aanspreeklik is vir dienste wat reeds gelewer is.139 Die wet gaan egter ’n stappie verder en verleen aan die kredietgewer sekere regte wat nie voorgekom het in die Wet op Kredietooreenkomste140 nie. Die kredietgewer kan naamlik van die verbruiker ’n bedrag vorder vir die koste van sowel teruggawe van die saak as om dit in ’n verkoopbare toestand terug te plaas.141 Laasgenoemde sou byvoorbeeld herstelkoste of bloot opknappingskoste aan die saak kon insluit. Voorts mag die kredietgewer ’n redelike huurgeld verhaal vir die gebruik van die saak, tensy dit nog verpak is en beslis nie gebruik is nie. Laasgenoemde twee vereistes is duidelik kumulatief. Indien dit ’n saak is wat nie verpak was nie, soos meubels of ’n motorvoertuig, sal die kredietgewer redelike huurgeld kan eis ongeag of die saak werklik gebruik is of nie.

Artikel 121(4) bepaal dat die kredietgewer ’n hof kan nader indien hy nie sy geskil met die verbruiker kan bylê rakende die waardevermindering wat die saak ondergaan het nie. Dit is ’n eienaardige bepaling gegewe dat die voorafgaande bepalings van artikel 121 geensins ’n substantiewe reg aan die kredietgewer verleen om te eis vir waardevermindering nie. Die wetgewer het op ’n onbeholpe manier indirek so ’n reg verleen. Hierdie gevolgtrekking is onafwendbaar indien ’n mens artikel 121(4) en (5) saam lees. Dit is in ieder geval ’n billike reëling. Wanneer die kredietgewer se aanspraak op waardevermindering gekwantifiseer word, moet die bedrag wat hy by wyse van ’n redelike huurvergoeding verhaal het, afgetrek word. Dit is in ’n neutedop wat artikel 121(5) breedsprakig bepaal.

Die Nasionale Kredietwet vereis van ’n kredietgewer om aan ’n verbruiker by ’n groot en ’n middelslag kredietooreenkoms142 ’n prekontraktuele staat en ’n kwotasie te verskaf wat sekere besonderhede bevat voordat die kontrak gesluit word.143 Die regulasies wat kragtens die wet afgekondig is, bepaal op hulle beurt wat in so ’n “pre-agreement statement” en “quotation” ingesluit moet word. Daar word onder andere voorgeskryf dat die kwotasie die volgende moet insluit: “the basis for any costs payable under section 121(3)(b)(i) of the Act, if applicable”; en “the reasonable rental to be charged in terms of section 121(3)(b)(ii) of the Act if applicable”.144

Dit is ’n gedugte opdrag vir die kredietgewer. Die kredietgewer moet by voorbaat die basis aandui waarop die koste vir teruggawe van die goed, en om dit in ’n verkoopbare toestand te kry, bereken sal word.145 Dit is geen geringe taak nie, aangesien dit onmoontlik is om te voorspel wat die verbruiker alles met die saak kan aanvang. Waarskynlik sal dit voldoende wees om die koste te koppel aan dit wat dit sal kos om ’n derde party te kry om die saak af te haal146 en in ’n verkoopbare toestand te kry. Dit is ewe moeilik om vooruit te stipuleer wat ’n redelike huurgeld vir die gebruik van die saak is147 indien die tipe saak, anders as byvoorbeeld motorvoertuie, nie normaalweg verhuur word nie.

4 Die Wet op Verbruikersbeskerming

4.1 Toepassingsgebied en sleutelbegrippe

Die Consumer Protection Act148 het nie ’n Afrikaanse naam nie. Daar sal in hierdie bydrae na die wet verwys word as die Wet op Verbruikersbeskerming. Voordat die afkoelreg in die wet bespreek kan word, is dit dienstig om kortliks op die toepassingsgebied van die wet te wys.149 Die wet is, baie breedweg gesproke, van toepassing op iedere transaksie wat in Suid-Afrika plaasvind vir die lewering van goedere en dienste, asook op die goedere en dienste self wat daarkragtens gelewer word.150 Daar is, soos wat ’n mens maar altyd by wette van hierdie aard teëkom, uitdruklike uitsonderings, wat tot gevolg het dat die wet nie volkome kodifiserend van aard is nie. Die gemenereg, of ander wetgewing, of die kontrak tussen die partye, of ’n kombinasie daarvan, sal nog op ’n groot aantal kontrakte van toepassing wees. Die wet is byvoorbeeld nie van toepassing op kredietooreenkomste wat onderhewig aan die Nasionale Kredietwet is nie.151 Die wet geld wel wat betref die goedere en dienste self wat kragtens so ’n kredietooreenkoms gelewer word.152 Die wet is ook nie van toepassing op transaksies wat deur die minister vrygestel is nie,153 en ook nie op transaksies wat deur ’n regspersoon aangegaan is in die hoedanigheid van ’n verbruiker indien die regspersoon se batewaarde of jaarlikse omset ’n sekere voorgeskrewe bedrag oorskry nie.154 Die idee is dus om net “klein regspersoon-verbruikers” te beskerm.155 In hierdie opsig verskil die Suid-Afrikaanse Wet op Verbruikersbeskerming drasties van die meeste wetgewing in Europa. Die verskillende EEG- en EU-riglyne wat lidstate tot verbruikerswetgewing opgeroep het, het konsekwent die woordomskrywing van consument beperk tot natuurlike persone.156

Twee van die sentrale begrippe in die die Wet op Verbruikersbeskerming is transaction en supply. Luidens artikel 1 beteken transaction:

(a) in respect of a person acting in the ordinary course of business -

(i) an agreement between or among that person and one or more other persons for the supply or potential supply of any goods or services in exchange for consideration; or

(ii) the supply by that person of any goods to or at the direction of a consumer for consideration; or

(iii) the performance by, or at the direction of, that person of any services for or at the direction of a consumer for consideration; or

(b) an interaction contemplated in section 5(6), irrespective of whether it falls within paragraph (a).157

Supply word in artikel 1 soos volg omskryf:        

[W]hen used as a verb -

(a)    relation to goods, includes sell, rent, exchange and hire in the ordinary course of business for consideration; or

(b)     in relation to services, means to sell the services, or to perform or cause them to be performed or provided, or to grant access to any premises, event, activity or facility in the ordinary course of business for consideration.

Die wet geld dus net indien ’n persoon goedere en dienste lewer in die gewone loop van sy besigheid. Hierdie kwalifikasie geld egter net wat die verskaffer betref. Nêrens in die wet word bepaal dat die wet net van toepassing is op verbruikers wat niein die loop van hulle besighede optree nie. Trouens, die feit dat sogenaamde klein regspersoon-verbruikers onder die Wet op Verbruikersbeskerming se vlerke geneem word, dui op die teendeel. Verbruikers word dus beskerm ongeag of hulle goedere of dienste vir privaat, huishoudelike of besigheidsdoeleindes aanskaf.158

Die lewering van goedere sluit, luidens die omskrywing van supply, koop-, huur- en ruilkontrakte in. Goedere word baie wyd omskryf.159 Dit sluit onder andere die volgende in:160

(i)    Enigiets wat bemark word vir menslike verbruik.
(ii)    Enige ander stoflike (“tangible”) saak.
(iii)    Literatuur, musiek, foto’s, rolprente, speletjies, inligting, data, sagteware, ’n kode of enige ander onstoflike produk wat geskryf of gekodeer is op ’n medium, of ’n lisensie om so ’n onstoflike saak te gebruik.
(iv)    ’n “Legal interest” in grond of ander onroerende saak.
(v)    Gas, water en elektrisiteit.

Services word eweneens baie wyd in artikel 1 omskryf. Dienste omvat die volgende, maar is nie daartoe beperk nie:161

(i)     Enige werk wat iemand vir ’n ander verrig het.162
(ii)    Onderwys en die verskaffing van inligting, advies en konsultasiewerk.
(iii)    Bank- en finansiële dienste.163
(iv)   Vervoer van mense en goedere.
(v)    Die verskaffing van verblyf, vermaak, toegang tot ’n elektroniese kommunikasie-infrastruktuur, toegang tot ’n gebeurtenis of geleentheid164 en toegang tot ’n perseel of enige ander saak uit hoofde van ’n huurkontrak.165
(vi)    Die verlening166 van ’n okkupasiereg op ’n onroerende saak.
(vii)   Die verlening van regte aan ’n agentskapshouer167 uit hoofde van ’n agentskapskontrak.168

Uit bostaande samevatting is dit duidelik dat die wet se toepassingsterrein kennelik baie wyd is en ’n geweldig groot aantal goedere en dienste en kontrakte in verband daarmee dek. Dit beteken dan ook dat die afkoelreg wat die wet verleen, ’n omvattende besinningsreg daarstel. ’n Verbruiker kan teoreties169 sy kontrak op sterkte van artikel 16 van die wet170 kanselleer binne die voorgeskrewe tydperk171 oor ’n spektrum van kontrakte wat strek van koopkontrakte van grond tot ’n bespreekte rit172 op ’n luukse trein na die Kaapkolonie,173 ’n afgesproke vetsuigoperasie, die aankoop van ’n nuwe of tweedehandse motor, ’n huurkontrak van ’n woonstel174 en die koop van tyddeel.

4.2      Die afkoelreg          

Wat die besinningsreg betref, bepaal artikel 16 van die Wet op Verbruikersbeskerming die volgende:

Consumer's right to cooling-off period after direct marketing

(1)      This section does not apply to a transaction if section 44 of the Electronic Communications and Transactions Act applies to that transaction.
(2)      To the extent that this section applies to a transaction or agreement, it is in addition to and not in substitution for any right to rescind a transaction or agreement that may otherwise exist in law between a supplier and a consumer.
(3)      A consumer may rescind a transaction resulting from any direct marketing without reason or penalty, by notice to the supplier in writing, or another recorded manner and form, within five business days after the later of the date on which -

    (a)      the transaction or agreement was concluded; or
    (b)      the goods that were the subject of the transaction were delivered to the consumer.

(4)      A supplier must -

(a)     return any payment received from the consumer in terms of the
transaction within 15 business days after -

(i)     receiving notice of the rescission, if no goods had been delivered to the consumer in terms of the transaction; or
(ii)    receiving from the consumer any goods supplied in terms of the transaction; and

(b)    not attempt to collect any payment in terms of a rescinded transaction
except as permitted in terms of section 20(6).

Artikel 20(2) is belangrik vir doeleindes van uitoefening van die afkoelreg. Die tersaaklike deel van artikel 20(2) lui:

(2)     Subject to subsections (3) to (6), the consumer may return goods to the supplier, and receive a full refund of any consideration paid for those goods, if the supplier has delivered -

(a)    goods to the consumer in terms of an agreement arising out of direct marketing, and the consumer has rescinded that agreement during the cooling-off period, in accordance with section 16 ...

Artikel 20(3) kwalifiseer artikel 20(2) soos volg:

Subsection (2) does not apply with respect to any goods if -

(a)     for reasons of public health or otherwise, a public regulation prohibits the return of those goods to a supplier once they have been supplied to, or at the direction of, a consumer; or
(b)     after having been supplied to, or at the direction of, the consumer, the goods have been partially or entirely disassembled, physically altered, permanently installed, affixed, attached, joined or added to, blended or combined with, or embedded within, other goods or property.

 

Artikel 20(4)(a) bepaal voorts:

 

Goods returnable in terms of subsection (2) (a) must be returned to the supplier at the consumer's risk and expense within 10 business days after delivery to the consumer.

Artikel 20(5) plaas ’n verpligting op die kredietgewer om te restitueer:

Upon return of any goods in terms of this section, the supplier must refund to the consumer the price paid for the goods, less any amount that may be charged in terms of subsection (6).

Artikel 20(6) is van deurslaggewende belang by die uitoefening van die afkoelreg en die gevolge daarvan. Dié subartikel lui:

In determining the right of a supplier to impose a charge contemplated in subsection (5), if any goods returned to the supplier in terms of this section are -

(a)    in the original unopened packaging, the supplier may not charge the consumer any amount in respect of the goods;
(b)    in their original condition and repackaged in their original packaging, the supplier may charge the consumer a reasonable amount for -

(i)     use of the goods during the time they were in the consumer's possession, unless they are goods that are ordinarily consumed or depleted by use, and no such consumption or depletion has occurred; or
(ii)    any consumption or depletion of the goods, unless that consumption or depletion is limited to a reasonable amount necessary to determine whether the goods were acceptable to the consumer; or

(c)     in any other case, the supplier may charge the consumer a reasonable amount

(i)     as contemplated in paragraph (b); and
(ii)    for necessary restoration costs to render the goods fit for restocking ...

Daar is heelwat te sê oor bogenoemde bepalings; ek volstaan met die opmerkings, uitleg en toepassings wat volg.

Die afkoelreg geld nie175 indien die transaksie onderhewig is aan die Wet op Elektroniese Kommunikasies an Transaksies176 nie. Die besinningsreg is bykomstig tot enige ander reg tot beëindiging wat ’n verbruiker “in law” mag hê.177 Dit sluit sonder twyfel ’n terugtredingsreg op grond van kontrakbreuk in. Of dit ’n konsensuele terugtredingsreg insluit,178 is minder seker, maar die woorde “in law” is sekerlik wyd genoeg om ’n ooreengekome reg tot besinning in te sluit. ’n Verbruiker hoef geen rede te verstrek hoekom hy sy afkoelreg uitoefen nie. Trouens, hy hoef geen rede te hê nie.179 Hy pleeg ook nie kontrakbreuk nie, aangesien hy ’n statutêre terugtredingsreg het.

Voordat ’n mens op loop gaan met die besinningsreg wat artikel 16 skep, moet daar deeglik rekening gehou word met die kwalifikasie dat die kontrak die gevolg moet wees van “direct marketing”.180 Die hele afkoelreg draai om hierdie woorde, wat in artikel 1 van die wet soos volg omskryf word:

“[D]irect marketing” means to approach a person, either in person or by mail or electronic communication, for the direct or indirect purpose of -
(a)    promoting or offering to supply, in the ordinary course of business, any goods or services to the person; or
(b)    requesting the person to make a donation of any kind for any reason.

Hierdie omskrywing bied uit die aard van die saak heerlike uitlegmoontlikhede. Die afkoelreg in artikel 13 van die herroepe Wet op Kredietooreenkomste181 het ’n vergelykbare kwalifikasie gehad. Die kredietopnemer het oor ’n reg tot nadenke beskik slegs indien “die inisiatief182 uitgegaan het van die kredietgewer of sy bestuurder, agent of werknemer”.183 In ’n vroeëre bydrae184 het ek die mening uitgespreek dat ’n blote advertensie nie voldoende is in hierdie verband nie en dat ’n positiewe en berekende dadigheid aan die kant van die kredietgewer vereis word alvorens die kredietopnemer oor ’n terugtredingsreg sal beskik. Ofskoon ander woorde in die Wet op Verbruikersbeskerming gebruik word, meen ek die beginsels behoort dieselfde te wees. “Neutrale” optredes van die verskaffer van goedere en dienste behoort nie die afkoelreg te aktiveer nie. Daar moet immers, luidens die definisie van direct marketing, ’n “approach” wees teenoor die verbruiker. Dit is moeilik om waterdigte voorbeelde te verskaf, maar dit word aan die hand gedoen dat ’n advertensie in ’n koerant, of op ’n bord langs die pad, of selfs ’n pamflet in die posbus, nie behoort neer te kom op “direct marketing” nie. Die oogmerk van artikel 16 is om verbruikers te beskerm wat trompop geloop word, onderhewig gestel word aan hoëdruk-verkoopstegnieke, allerlei gladdebek-voorstellings van ervare bemarkers moet aanhoor of lees, en so meer. Daarom behoort ’n telefoonoproep, ’n selfoonboodskap, ’n elektroniese posstuk en ’n brief wat regstreeks en by name aan ’n persoon gerig is, meestal te kwalifiseer as direkte bemarking wat die afkoelreg aktiveer.

Die afkoelperiode is vyf besigheidsdae. Wanneer ’n sekere aantal dae tussen twee gebeurtenisse voorgeskryf word, sluit dit die dag uit “on which the first such event occurs”.185 Hier slaan die “first event” myns insiens op die dag van kontraksluiting of lewering van die saak, welke gebeurtenis ook al laaste plaasvind.186 Saterdae, Sondae en openbare vakansiedae moet buite rekening gelaat word wanneer die afkoelperiode bepaal word.187 Die dag van die tweede gebeurtenis moet egter ingereken word om die afkoelperiode te bereken.188 Daar word aan die hand gedoen dat die tweede dag wat hier ter sprake is, die lewering van die beëindigingskennisgewing ooreenkomstig artikel 16(3) is.

Die verbruiker se afkoelperiode word bepaal deur óf die datum van kontraksluiting óf die datum waarop die saak gelewer is, welke ook al die laatste is.189 Die uitoefening van die afkoelreg het dieselfde uitwerking as ’n ontbindende voorwaarde. Die kontrak word ongedaan gemaak en restitusie moet plaasvind. Ek is bewus daarvan dat die afkoelreg by koopkontrakte van grond, en die implikasies wat die uitoefening daarvan vir verkopers en banke inhou, geopper is en groot opslae gemaak het by seminare en in gesprekke waartydens die Wet op Verbruikersbeskerming bespreek is. Die vraag is naamlik hoe die afkoelreg by koopkontrakte van onroerende goed toegepas moet word, en in besonder wanneer lewering190 plaasvind. In hierdie verband moet daarop gewys word dat dit onvanpas is om by ’n onroerende saak te praat van lewering (traditio),191 dog die wet is duidelik op onroerende sake van toepassing.192 Die vraag is hoe ’n mens die woord delivered in artikel 16(3) moet verstaan wanneer onroerende goed verkoop word. Dit is nie ongewoon dat ’n koopkontrak van grond193 voorsiening maak dat die koper reeds voor oordrag okkupasie kan bekom nie.194 Moet ’n mens nou vir doeleindes van artikel 16 se afkoelreg die okkkupasiedatum as die tydstip van “lewering” beskou, of is die datum van registrasie van oordrag die beslissende moment? Ek weet werklik nie wat die finale antwoord hierop is nie. Waarskynlik moet ’n mens redeneer dat registrasie van oordrag wat betekenis en regsgevolge betref, nader lê aan lewering as wat die geval met okkupasie is. Laasgenoemde slaan eerder op besitneming van die saak. Dit is belangrik dat die wetgewer uitsluitsel hieroor gee, verkieslik deur te bepaal dat artikel 16 net op roerende sake van toepassing is, soos wat die wetgewer waarskynlik (subjektief) in gedagte gehad het. Dit sal verhoed dat ’n koper van grond die koopkontrak kan beëindig binne vyf besigheidsdae nadat oordrag195 plaasgevind het, met die verreikende gevolge dat die registrasie ongedaan gemaak moet word, verbande gekanselleer moet word, en so meer.196

Ten slotte moet genoem word dat die vraag na die uitoefening van die afkoelreg by koopkontrakte van grond nie so ’n gewigtige en netelige kwessie is as wat dit op die oog af skyn te wees nie. Daar moet naamlik deurgaans in gedagte gehou word dat die Wet op Verbruikersbeskerming net van toepassing is op ’n kontrak indien die een party197 in die loop van sy besigheid optree.198 By die deursnee-koopkontrak van grond word die grond nie verkoop omdat dit die verkoper se besigheid is om grond te verkoop nie. Dit is net in die geval van mense wat in grond “handel dryf”, soos ’n eiendomsontwikkelaar wat ’n aantal woonstelle bou en dit by wyse van deeltitel verkoop, dat die afkoelreg ter sprake gaan kom. En dan is daar praktiese oorwegings waarom bitter min mense waarskynlik die reg sal uitoefen. Immers, ’n koper wat die saak gesien het, daarop besluit het en deur die moeisame proses gegaan het om ’n lening te bekom, gaan nie maklik binne vyf dae nadat hy sy intrek geneem het199 alles ongedaan maak nie. ’n Mens kan verwag dat dit eerder die uitsondering sal wees.

By roerende goed is die probleem van ’n saak wat reeds gelewer en gebruik is, meer wesenlik. ’n Splinternuwe motorvoertuig waarmee iemand van Johannesburg na Durban en terug gery het, is nie meer nuut indien hy dit na die naweek aan die handelaar teruggee nie. Die verkoper sal weliswaar ’n “redelike” bedrag kan eis vir die gebruik van die saak,200 maar die wet maak nie voorsiening daarvoor dat hy waardevermindering kan eis nie, soos wat die Nasionale Kredietwet wel doen ten opsigte van die afkoelreg waarvoor laasgenoemde wet voorsiening maak.201

Die res van die bepalings in artikels 16 en 20 wat hier bo aangehaal is, is duidelik genoeg dat dit nie verdere toeligting vereis nie.

 

Bibliografie

Bartsch, H. 1973. Privatrechtlicher Schutz des Verbrauchers bei Haustürgeschäften. Zeitschrift für Rechtspolitik, 3:219–24.

Cauffman, C., M. Faure en T. Hartlief. 2009. Harmonisatie van het consumentencontractenrecht in Europa: Consequencies voor Nederland. Den Haag: Boom.

De Witte, M. en A. Vermeersch. 2004. Europees consumentenrecht. Antwerpen: Maklu.

Epstein, D.G. 1976. Consumer protection in a nutshell. St. Paul: West.

Furrer, A. en A.K. Schnyder. 2010. Handkommentar zum Schweizer Privatrecht. Obligationenrecht Allgemeine Bestimmungen ad a 1-183 OR. Zürich: Schulthess.

Giger, H. 2003. Key Problems of the new concept of the Swiss consumer credit legislation. Bern: Stämpfli.

—. 2007. Schweizerisches Zivilgesetzsbuch. Das Obligationenrecht VI(2)(1)(1) “Der Konsumkredit”. Bern: Stämpfli.

Hess, M. en R. Simmen. 2002. Das neue Konsumkreditgesetz. Zürich: Schulthess.

Hoffmann, M. 2007. Die Reform der Verbraucherkredit Richtlinie 87/102/EWG. Berlyn: De Gruyter.

Hondius, E.H. en G.J. Rijken (reds.). 2011. Handboek consumentenrecht. Parys: Zutphen.

Howells, G.G. en S. Weatherill. 2005. Consumerp protection law. Burlington: Ashgate .

Huguenin, C., M. Müller-Chen en D. Girsberger (reds.). 2010. Handkommentar zum Schweizer Privatrecht. Vertragsverhältnisse Teil 2. Zürich: Schulthess.

Kramer, E.A. (red.). 2008. Schweizerisches Privatrecht. Basel: Helbing Lichtenhahn.

Martis, R. en A. Meinhof. 2005. Verbraucherschutzrecht. Verbraucherkredit- und Fernabsatzrecht. Haustürgeschäfte. München: Beck.

Melville, N.J. 2011. The Consumer Protection Act made easy. Pretoria: Book of Life.

Melville, N.J. en R. Palmer. 2010. The applicability of the Consumer Protection Act 2008 to credit agreements. Suid-Afrikaanse Tydskrif vir Handelsreg, 22(3):272–8.

Micklitz, H.W., N. Reich en P. Rott (reds.). 2009. Understanding EU consumer law. Antwerpen: Intersentia.

Nagel, C.J. 2011. Kommersiële reg. Durban: LexisNexis.

Nieuwenhuis, J.H., C.J.J.M. Stolker en W.L. Valk (reds.). 2009. Burgerlijk Wetboek tekst en commentaar. Deventer: Kluwer.

Nieuwenhuis, J.H., C.J.J.M. Stolker, W.L. Valk en M.H. Wissink (reds.). 2009(a). Vermogensrecht tekst en commentaar. Deventer: Kluwer.

Otto, J.M. 1981. Die beginsel van “cooling?off” by kredietooreenkomste De Jure, (1):101–12; (2):259–73.

—. 1995. Belgiese verbruikerskrediet: 'n Vergelykende studie. Deel 1. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 3:381–95.

—. 1995. Belgiese verbruikerskrediet: 'n Vergelykende studie. Deel 2. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 4:618–28.

—. 1996. Belgiese verbruikerskrediet: 'n Vergelykende studie. Deel 3. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 1:105–15.

—. 2000. Huweliksmakelaarskontrakte. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 2:279–95.

—. 2003. Die afkoelreg vir kopers, huurders en geldleners word stelselmatig uitgebrei. Tydskrif vir die Suid-Afrikaanse Reg, 2:332–9.

—. 2010. The history of consumer credit legislation in South Africa. Fundamina, 16(1):257–73.

—. 2011. Afbetalingskoop- en huurkontrakte van roerende goed: Vanmelewe en nou. Die Nasionale Kredietwet bied interessante leesstof. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 74(1):121–34.

Otto, J.M. en R.L. Otto. 2010. The National Credit Act explained. Durban : LexisNexis.

Rehbinder, M. en R. Zäch. 2003. Schweizerische Gesetze. Basel: Helbing en Lichtenhahn.

Scholtz, J. (red.). 2008. Guide to the National Credit Act. Durban: LexisNexis.

Schulte-Nölke, H., C. Twigg-Flesner en M. Ebers (reds.). 2008. EC consumer law compendium. München: Sellier.

Steennot, R. en S. Dejonghe. 2007. Handboek consumentenbescherming en handelspraktijken. Antwerpen: Intersentia.

Terryn, E. 2008. Bedenktijden in het consumentenrecht. Antwerpen: Intersentia.

Van Eeden, E.P. 1976. Rescission of consumer contracts. Tydskrif vir Hedendaagse Romeins-Hollandse Reg, 39(1):315–34.

—. 2009. A Guide to the Consumer Protection Act. Durban: LexisNexis.

Van der Walt, A.J. en G.J. Pienaar. 2009. Introduction to the law of property. Claremont: Juta.

Van Gerven, G., H. Cousy en J. Stuyck. 2004. Beginselen van Belgisch privaatrecht XIII. Brussel: Story-Scientia.

Von Staudinger, J. 2004. Kommentar zum Bürgerlichen Gesetzbuch. Berlyn: Sellier en de Gruyter.

Wessels, B. en A.J. Verheij (reds.). 2010. Bijzondere overeenkomsten. Deventer: Kluwer.

Eindnotas

* Ek bedank my kollega Marius van Staden wat die oorspronklike manuskrip, wat aanvanklik volgens geykte stylgebruike van die meeste Suid-Afrikaanse tydskrifte geskryf is, met groot sorg en moeite verwerk het ten einde dit aan LitNet Akademies (Regte) se stylvoorskrifte te laat voldoen.

1Wat soms gebeur indien daar binne ’n bepaalde handelsfeer, bv. by die verkoop van tyddeel, ’n bedryfstandaard, handelskode of algemene praktyk in hierdie verband bestaan.

2 Van Eeden (1976:315); Otto (1981:101, 259). In lg. bydrae is die afkoelreg, soos dit toe daar uitgesien het, regsvergelykend in Brittanje, Nederland, Duitsland, Amerika, Australië en Nieu-Seeland bespreek. Die algemene beginsels van die afkoelreg, of ten minste ooreenstemmende kenmerke in die verskillende wetgewing, is ook uiteengesit.

3 Bartsch (1973:219). Sien ook Van Eeden (1976:319).

4 Van Eeden (1972) en Otto (1981).

5 Sien die bronne in par. 2, en spesifiek Terryn (2008).

6 Par. 3, 4.

7 Otto (1981:101).

8 Otto (1981:101, vn. 2). ’n Proefleser van LitNet Akademies Nicky Grieshaber het dit onder my aandag gebring dat die woord “aanklopverkoper” ook gebruik word vir “door-to-door salesman” en ek bedank hom graag daarvoor. Sien Pharos Tweetalige Woordeboek: Eerste uitgawe (2005). ’n Mens sou dus ook goedskiks kon praat van aanklopverkope.

9 Epstein (1976:102).

10 Sien par. 3; Otto (1981:103 e.v.).

11 Otto (1981:101 vn. 2).

12 Par. 3.

13 75 van 1980.

14 Sien vir ’n volledige bespreking Otto (1981:259 e.v.).

15 In 1992, en weer in 1999.

16 73 van 1968.

17 68 van 1981.

18 Otto (2003).

19 Bv. die plek van kontraksluiting en die aan- of afwesigheid van persoonlike kontak tussen die partye.

20 Moet beëindiging bv. skriftelik geskied of kan dit informeel plaasvind?

21 Terryn (2008:131).

22 Terryn (2008:132).

23 De Witte (2004:195).

24 Sien vir besonderhede oor hierdie riglyn De Witte en Vermeersch (2004:195–7). Schulte-Nölke e.a. (2008:79–107, veral bl. 83) verskaf ’n uitvoerige uiteensetting van die lotgevalle van hierdie riglyn en ’n kort en nuttige weergawe van die spesifieke wetgewing in al die lidlande van die Europese Unie.

25 Sien vir besonderhede van hierdie riglyn De Witte en Vermeersch (2004:210–1).

26 Terryn (2008:134); Schulte-Nölke e.a. (2008:265).

27 Schulte-Nölke e.a. (2008:262–4) verskaf ’n breedvoerige uiteensetting van die aanvaarding van spesifieke wetgewing in al die lidlande van die Europese Unie ter voldoening aan hierdie riglyn.

28 Terryn (2008:138).

29 Terryn (2008:138).

30 Sien vir voorbeelde hiervan Cauffman e.a. (2009:23).

31 Terryn (2008:139); De Witte en Vermeersch (2004:201).

32 2009:21–8.

33 2004:201–4.

34 Terryn (2008:143).

35 Terryn (2008:148). Sien ook De Witte en Vermeersch (2004:198).

36 102 van 1987.

37 Hoffmann (2007:62).

38 48 van 2008.

39 Micklitz e.a. (2009:203).

40 Micklitz e.a.(2009:203). Sien vir ’n breedvoerige uiteensetting van die historiese verloop van sake wat gelei het tot die aanname van die nuwe riglyn insake verbruikerskrediet, Hoffmann (2007:139 e.v.).

41 Sien Otto (2010:268).

42 Art. 42(2). Sien vir ’n teks van die wet Rehbinder en Zäch (2003), aanhangsel 203. Raadpleeg vir kommentaar op die wet Giger (2007); Kramer (2008:217 e.v.); Giger (2003); Hess en Simmen (2002).

43 Artt. 1, 2, 3.

44 Art. 1(2). Sien vir ’n bespreking Hess en Simmen (2002:10 e.v.); Giger (2007:185 e.v.); Kramer (2008:231).

45 “Kreditkarten.”

46 “Kundenkarten.”

47 Kramer (2008:239).

48 Art. 16. Sien Hess en Simmen (2002:21, 59); Giger (2007:215); Kramer (2008:270 e.v.)

49 Kramer (2008:271).

50 “Schludet aber weder Zinsen noch Kosten”, art. 16(3) gelees saam met art. 15(2).

51 Hess en Simmen (2002:59); Kramer (2008:271).

52 Sien vir die teks van art. 40(f) Furrer en Schnyder (2010:230).

53 “Schuldet er dem Anbieter einen angemessenen Mietzins”, art. 40(f)(2) OR.

54 Art. 40(f)(3) OR.

55 In casu die verbruiker.

56 In casu die kredietgewer.

57 Sien vir ’n bespreking van art. 402 Huguenin e.a. (2010:350 e.v.).

58 Soos Terryn (2008:151) dit noem.

59 Terryn (2008:151).

60 Terryn (2008:203).

61 Terryn (2008:203).

62 Terryn (2008:200).

63 Terryn (2008:167–200).

64 Terryn (2008:167).

65 Terryn (2008:167). Sien vir die geskiedenis en totstandkoming van die WHPC Van Gerven e.a. (2004:1–5).

66 Steennot en Dejonghe (2007), par. 555.

67 Steennot en Dejonghe (2007), par. 562 se terminologie.

68 Steennot en Dejonghe (2007), par. 562.

69 Terryn (2008:171).

70 Steennot en Dejonghe (2007), par. 470.

71 Steennot en Dejonghe (2007), par. 521; De Witte en Vermeersch (2004:204).

72 Steennot en Dejonghe (2007), par. 526.

73 Terryn (2008:177, 370); De Witte en Vermeersch (2004:200).

74 Otto Deel 1 (1995); Otto Deel 2 (1995); Otto (1996).

75 Steennot en Dejonghe (2007), par. 701.

76 Art. 18(1) van die WCK. Terryn (2008:177, 370); Steennot en Dejonghe (2007), par. 701.

77 Terryn (2008:184) se terminologie.

78 Terryn (2008:184 e.v.).

79 Terryn (2008:187).

80 Terryn (2008:189); De Witte en Vermeersch (2004:212) en Schulte-Nölke e.a. (2008:13) verskaf besonderhede oor die spesifieke wetgewing in hierdie verband.

81 Terryn (2008:189); De Witte en Vermeersch (2004:212).

82 Sien Terryn (2008:192) vir die besonderhede van die spesifieke wetgewing in dié verband.

83 Terryn (2008:198).

84 Terryn (2008:259 e.v.).

85 Terryn (2008:259). Sien ook Otto Deel 2 (1995:621); Otto (1981).

86 Cauffman e.a. (2009:35).

87 Terryn (2008:262).

88 Terryn (2008:259). Sien Schulte-Nölke e.a. (2008:58) vir die spesifieke wetgewing in hierdie verband.

89 Terryn (2008:259–60).

90 Cauffman e.a. (2009:139).

91 Sien vir ’n bespreking van Boek 7 titel 1, Nieuwenhuis e.a. (2009(a):961 e.v.); Nieuwenhuis e.a. (2009:2759 e.v.).

92 Sien vir ’n bespreking daarvan Cauffman e.a. (2009:138 e.v.).

93 Aldus die bewoording in art. 7:46d lid 1. Sien vir ’n bespreking Cauffman e.a. (2009:146 e.v.); Nieuwenhuis e.a. (2009(a):1031); Nieuwenhuis e.a. (2009:2829).

94 Art. 7.2 lid 5.

95 Wessels en Verheij (2010:57); Nieuwenhuis e.a. (2009(a):964); Nieuwenhuis e.a. (2009:2762).

96 “Na … terhandstelling.”

97 Nieuwenhuis e.a. (2009:2764).

98 Aldus Hondius (2011:150).

99 Terryn (2008:263) verwys na hierdie land as “Engeland”.

100 Sien Otto (1981); Otto Deel 2 (1995:621).

101 Terryn (2008:263 e.v.). Sien vir ’n bespreking van die afkoelreg, en in die besonder van die verskillende termyne wat onderskeidelik geld by verbruikerskredietkontrakte, deur-tot-deur-verkope en afstandsooreenkomste, Howells en Weatherill (2005:325, 363 e.v.).

102 Terryn (2008:269 e.v.); Schulte-Nölke e.a. (2008:28).

103 Schulte-Nölke e.a. (2008:29).

104 Uitgesluit verbandversekerde krediet.

105 Terryn (2008:269). Sien ook Schulte-Nölke e.a. (2008:28–9) vir die spesifieke wetgewing en hulle verwysings.

106 Aldus Terryn (2008:270).

107 OttoDeel 2 (1995:620).

108 D.w.s. kontrakte wat gesluit is tussen ondernemers enersyds en natuurlike persone andersyds.

109 Sien vir ’n volledige bespreking Von Staudinger (2004:720 e.v.); Martis en Meinhof (2005:184 e.v.).

110 “Zwei Wochen.”

111 Sien vir ’n volledige bespreking Von Staudinger (2004:109 e.v.); Martis en Meinhof (2005:528–85).

112 Martis en Meinhof (2005:528).

113 Uitgesluit ooreenkomste vir die lewering van finansiële dienste.

114 Sien vir ’n volledige bespreking Von Staudinger (2004:219 e.v.); Martis en Meinhof (2005:184 e.v.). Lg. skrywers bespreek verskeie afkoelregte, insluitende die herroepingsreg by afstandsooreenkomste, gelyktydig in samehang met die algemene beginsels vervat in art. 355.

115 Sien vir ’n volledige bespreking Von Staudinger (2004:322 e.v.).

116 Sien vir ’n netjiese samevatting en opgawe van al die “Widerruftsrechten” Martis en Meinhof (2005:200) en vgl. verder Terryn (2008:273).

117 Terryn (2008:282).

118 Terryn (2008:188).

119 Otto (2000:279).

120 34 van 2005.

121 75 van 1980.

122 73 van 1968.

123 Art. 1.

124 Spesifiek in art. 8.

125 Sien Nagel (2011), par. 20.05.

126 Dié kontrak het nie ’n omskrywende woord soos transaksie, kontrak of ooreenkoms in sy naam in die wet nie. Dit is lease en daarmee basta.

127 “Deferred payment.”

128 Sien vir besonderhede hiervan Otto en Otto (2010), par. 11; Scholtz (2008), parr. 4.3, 4.4.2.

129 Art. 121(1).

130 “Interest, cost or charge.”

131 Otto (2011:120).

132 Sien vir ’n bespreking van al hierdie kontraksvorme Scholtz (2008), hfst 8; Otto en Otto (2010), hfst. 3.

133 “entered into”is die woorde wat in a 121(1) gebruik word.

134 Art. 93(1).

135 Sien Nagel (2011), parr. 4.41–4.48.

136 Art. 2(5)(a).

137 Art. 2(5)(a), (c).

138 Art. 2(5)(b).

139 Art. 121(2)(b), (3)(a).

140 75 van 1980.

141 Art. 121(3)(b(i).

142 Sien vir die betekenis van “large” en "intermediate” kredietooreenkomste, Otto en Otto (2010), par. 13.

143 Art. 92(2).

144 Reg. 29(1)(x), (xi).

145 Art. 121(3)(b)(i).

146 Die verbruiker moet bloot teruggawe van die saak aanbied (“tender”): art. 121(2)(b).

147 Art. 121(3)(b)(ii).

148 68 van 2008.

149 Sien vir ’n volledige weergawe van die wet se strekkingswydte Van Eeden (2009), hfst. 3; Melville (2010:5 e.v.).

150 Art. 5(1).

151 Art. 5(2)(d).

152 Dit beteken o.a. dat die waarborge t.o.v. kwaliteit en afwesigheid van gebreke in ’n saak wat deur die wet verleen word, steeds van toepassing sal wees op die prestasie uit hoofde van ’n kredietooreenkoms. Sien Otto en Otto (2010), par. 60; Melville en Palmer (2010:272).

153 Art. 5(2)(c).

154 Art. 5(2)(b).

155 Sien GK 294 in SK 34181 van 1 April 2011 wat die maksimum perk vir hierdie doeleindes op R2 miljoen stel.

156 Sien bv. die omskrywings in die Colportagerichtlijn85/577 EEG van 20 Desember 1985; Richtlijn Oneerlijke Bedingen 93/13 EEG van 5 April 1993;Richtlijn Overeenkomsten op afstand97/7 EG van 20 Mei 1997 en Richtlijn Consumentenkoop1999/44 EG van 25 Mei 1999; weergegee in Cauffman (2009:15, 17, 23, 29).

157 Daar sal nie ingegaan word op art. 5(6) nie. Dit is voldoende om te meld dat art. 5(6) die wet o.a. van toepassing maak op die lewering van goedere en dienste deur klubs, verenigings, ens. en op fransering- of agentskapskontrakte (“franchising”).

158 Van Eeden (2009:41).

159 “Goods” soos omskryf in art. 1.

160 Omdat die definisie van goods begin met includes, beteken dit dat die lys van sake wat daarin vervat is, nie ’n geslote lys is nie.

161 Die volledige lys word nie hier weergegee nie.

162 Dienste wat uit hoofde van ’n dienskontrak gelewer word, is egter uitdruklik van die wet se toepassing uitgesluit: art. 5(2)(e).

163 Dienste wat deur die Langtermynversekeringswet 52 van 1998 en die Korttermynversekeringswet 53 van 1998 gereguleer word, is egter uitgesluit: par. (c)(ii) van die woordomskrywing van service in art. 1.

164 “Event”.

165 Die wet noem dit ’n “rental”, wat in art. 1 omskryf word as die tydelike inbesitstelling van ’n perseel of ander saak. Perseel (premises) word op sy beurt in art. 1 omskryf en sluit die volgende in: “land, or any building, structure, vehicle, ship, boat, vessel, aircraft or container”.

166 “Provision.”

167 “Franchisee.”

168 “Franchise agreement.”

169 Want, soos aanstons sal blyk, die afkoelreg is nie ’n ongekwalifiseerde reg soos wat in sommige Europese stelsels die geval is nie.

170 Wat onmiddellik hierna weergegee word.

171 Sien art. 2(6) en die bespreking hier onder.

172 Die afkoelreg sal geld aanvullend tot die reg van ’n verbruiker om ’n vooruitbespreking, onderhewig aan ’n redelike kansellasiegeld, te kanselleer op sterkte van art. 17. Sien art. 16(2) wat hier onder aangehaal word.

173 Die Xhosa-naam vir die Wes-Kaap is luidens art. 103(1)(i) van die Grondwet 1996 INtshona-Koloni.

174 Die afkoelreg geld in hierdie geval aanvullend tot die reg van die huurder om eensydig tydens die bestaan van die kontrak, m.a.w. na afloop van die afkoelperiode, die kontrak te beëindig deur 20 besigheidsdae kennis te gee, ongeag die feit dat die (vaste)termyn-kontrak nog nie afgeloop het nie. Sien art. 14 van die wet en reg. 5 GK 294 in SK 34181 van 1 April 2011.

175 Art. 16(1).

176 25 van 2002. Hierdie wet bevat sy eie afkoelreg van sewe dae t.o.v. elektroniese transaksies vir die lewering van goedere en dienste in art. 44. Daar is egter ’n lang lys van elektroniese transaksies wat deur art. 42 vrygestel is van die afkoelreg.

177 Art. 16(2).

178 Dit is moontlik, en gebeur inderdaad, dat standaardkontrakte in ’n bepaalde bedryf aan verbruikers ’n reg tot nadenke verskaf.

179 Art. 16(3).

180 Art. 16(3).

181 75 van 1980.

182 T.o.v. die kredietooreenkoms.

183 Art. 13(1).

184 Otto 1981:261.

185 Art. 2(6)(a).

186 Art. 16(3).

187 Art. 2(6)(c).

188 Art. 2(6)(b).

189 Art. 16(3).

190 Art. 16(3) gebruik die woord delivered.

191 Ofskoon sekere skrywers registrasie van oordrag beskou as die “manifestation” van die leweringsvereiste by ’n onroerende saak: Van der Walt en Pienaar (2009), par. 9.3.1.

192 Die woordomskrywing van goods is uiters onelegant in hierdie verband. Goods sluit ’n “legal interest” in grond of ’n ander onroerende saak in. Die bedoeling was waarskynlik om die wet op onroerende goed en op regte op onroerende goed (soos tyddeel) van toepassing te maak. Die definisie moes eerder gelui het: “Goods includes immovable goods and any legal interest in immovable goods.” Soos dit tans lui, t.w. “Goods includes a legal interest in land or any other immovable property”, beteken dit ’n saak (“goods”) is ’n reg (“legal interest”), wat natuurlik onsinnig is.

193 Insluitende iets soos ’n deeltiteleenheid.

194 Die kontrak maak gewoonlik ook voorsiening vir okkupasiehuur hangende registrasie van die oordrag.

195 Indien ’n mens die registrasiedatum nou as die kritieke moment vir doeleindes van art. 16 wil beskou.

196 Dit is onsinnig om te redeneer dat die verbandooreenkoms kan bly voortbestaan ten spyte van die feit dat die afkoelreg nie geld t.o.v. verbandooreenkomste wat onderhewig is aan die Nasionale Kredietwet nie; sien par. 3.

197 In casu die verkoper.

198 Art. 5(1) saam gelees met die woordomskrywing van transaction in art. 1.

199 Of oordrag plaasgevind het.

200 Art. 20(6)(c).

201 Art. 121(4); par. 3 hier bo.



  • 1

Kommentaar

  • Dagsê
    Ek wil graag ’n besigheid begin waarvan die kliënte my ’n maandelikse bedrag betaal en indien hulle my nodig het moet ek dit doen sonder enige koste. Amper soos ’n polis.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top