Die 13de kaart deur Madelein Rust

  • 2

Titel: Die 13de kaart
Outeur: Madelein Rust
Uitgewer: LAPA
ISBN: 9780799367690

Koop Die 13de kaart by Kalahari.com

Die tarotmoordenaar. Dit is wat die koerante hom noem: ’n reeksmoordenaar in Bloemfontein wat by elke slagoffer ’n afbeelding van ’n tarotkaart sit. Die forensiese sielkundige Belia Bell word gevra om ’n profiel van die moordenaar op te stel. Sy is goed in haar werk. Méér as goed; elke saak sluk haar in, die soektog word ’n obsessie, en gewoonlik het sy ‘n aandeel aan die polisie se oorwinning wanneer hulle ’n moordenaar vastrek.

Maar hierdie keer is Belia aan die spartel. Die moordenaar bly haar telkens ’n stappie vooruit – en betrek haar boonop by sy speletjie. Hy is intelligent en kreatief; met elke slagoffer trek hy die net stywer om haar. Boonop karring haar vriend, Barry Stander, gedurig aan haar om ’n scoop vir sy koerantartikels. Hy is vasberade om na afloop van alles ’n boek te skryf wat sy status van gedrewe joernalis na suksesvolle outeur sal verhef.

En dan is daar kaptein Jack Butler, leier van die taakmag, ’n man wat so graag die moordenaar wil vastrek dat dit “soos ’n fisieke pyn is” (267). Jack is die een wat Belia vir die pos aanbeveel het, en al sou sy baie graag bloot van hom wou vergeet, lê hulle geskiedenis nog te pynlik na aan die oppervlak. Jack kon haar voorheen veilig laat voel; die drogbeelde wat saam met haar werk kom, verjaag. Hulle is beide bewus van die onderliggende spanning wanneer hulle saam werk. Maar Jack is nou getroud en enige emosie oor hom is verbode. “Emosie is te gevaarlik” (267), weet Belia. Emosie affekteer jou oordeelsvermoë. En dit kan Belia nie bekostig indien sy die spel teen die tarotmoordenaar wil wen nie.

Die 13de kaart is Madelein Rust se debuutroman. Ek sou die boek vanweë die omslag waarskynlik nie optel in ’n boekwinkel nie. Maar moenie dat die flou, misleidende omslag jou flous nie – die verhaal speel nie in ’n woud of tussen wit duiwe af nie. Bloemfontein is so Suid-Afrikaans soos kan kom en Rust span hierdie ruimte uiters goed in. Die omslag, waaroor die skrywer in elk geval geen seggenskap het nie, ter syde: Madelein Rust betree die misdaadskrywerskring met ’n sterk debuut, want Die 13e kaart is ’n flippen goeie misdaadroman. Dit is verfrissend om ’n sterk vroulike hoofkarakter te hê wat die moordtoneel en moordenaar uit ’n sielkundige perspektief benader. Belia Bell is volgens Jack ’n “donnerse Viking” wat haar werk soos ’n oorlog benader, maar ten spyte van die ysige uiterlike wat sy voor kollegas voorhou, is sy weerloos en broos wanneer dit by sake van die hart kom.

Rust het besonder simpatieke karakters ontwikkel, en hierby sluit ek newekarakters in, wat gou die leser emosioneel betrek. Die verhaal open byvoorbeeld nie, soos dikwels die geval in hierdie genre is, met ’n moordtoneel nie. Belia is besig om laataand aan haar profiel van die moordenaar te werk wanneer Jack opdaag. Die leser word ingelig via hulle gesprek oor haar vordering, of gebrek daaraan, met die profiel van die moordenaar, wat teen hierdie tyd reeds meer as een slagoffer vermoor het. Jy word dus van meet af daarop gewys dat verhoudings en die menslike psige voorop staan. (Nog ’n rede waarom dit jammer is dat die voorblad nie ’n menslike figuur bevat nie.) Hiervoor is Madelein Rust, wat ’n bedryfsielkundige is, goed gekwalifiseerd. Sy kry dit reg om binne ’n kort tydjie karakters te skep wat genuanseerd en interessant is, en beeld ’n goeie deursnit van die samelewing uit.

Dit is jammer dat Rust nie ’n sterker redakteurshand in hierdie roman gehad het nie. Daar is beginnerfoute wat pla: die selfbewuste beskrywing van Belia se weerkaatsing in die blink van ’n ketel en badkamerspieël; onnodige herhalings wat haar gevoel vir Jack betref; en die karakters se name wat irriterend baie in dialoog gebruik word (niemand noem mekaar so dikwels op die naam in ’n gesprek nie). Met die opbou van spanning en ’n hegte plot kan daar egter geen fout gevind word nie. Die skrywer lok jou met ’n nuwe, vars aanslag in by die verhaal, verlei jou dan met sterk, simpatieke karakters en betrek jou by gebeure deur, net soos die tarotmoordenaar, koggelende rympies en vals leidrade te los. Die spanning word enduit volgehou en die tempo is lekker vinnig. Boonop is die liefdesverhouding ’n goeie teenpool vir die grusaamheid van slagoffers wat een na die ander afgemaai word.

Hierdie sielkundige misdaadroman is naelbyt-lekkerte. Mag Die 13de kaart slegs die begin van Belia Bell en Madelein Rust wees.


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.
 

  • 2

Kommentaar

  • Ek het die boek geweldig geniet. Madelein gaan nog groot name troef. Waar op dees aarde het sy geleer om deurgaans te wys eerder as om te vertel? Sy eindig elke hoofstuk op 'n spannende noot. Die hele storie is in die persektief van die hoofkarakter geskryf - merkwaardig. Ek gaan haar volgende boek beslis ook koop en lees. Hannes Nel

  • Madri, na aanleiding van jou kritiek op bogemelde boekomslag die volgende: Ek het Die 13de Kaart pas begin lees en het op p 46 die moontlike prikkel vir die omslag gekry. Ek mag verkeerd wees, maar ek glo die omslag is nie lukraak gekies nie.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top