Naklanke | Musiek-rubriek

 
Daar is g’n ander soos David Kramer

Ek kan presies onthou die dag toe ek die eerste keer ’n David Kramer–liedjie gehoor het. Dit het opgeklink uit die luidsprekers van die Philips draagbare radio wat altyd voor ons budjie se hok op die skottelgoedwasmasjien gestaan het.


Foto: www.davidkramer.co.za

(Daardie dae, voor internet, downloads en file–sharing, voor CD's, selfs voor televisie, het almal draadloos geluister.) Dit was ’n Saterdag. Of dalk ’n weeksdag tydens skoolvakansie, want ek was nie iewers in ’n klaskamer in die uniform van Laerskool Gericke nie. Ek was by die grys formica–tafel in ma se kombuis, besig om toast met Marmite op in rooibostee te doop.

Die aanbieder op Radio Suid–Afrika se woorde kan ek nie woordeliks onthou nie, maar die algemene strekking was iets soos: "En dit was dan Tossie Lochner uit Italië. Volgende speel ons vir u ’n stukkie musiek – ’n nuwe Afrikaanse kunstenaar van Worcester se wêreld ... Hier is David Kramer met ‘Biscuits en Biltong’." En daar trek David Kramer los met: "O ja, die aarde is groot en die sterre is klein/ daar's net akkedisse in die woestyn/ bokke en dorings en bitter aalwyn/ Ja, ek ken die Ooskus, but it's not the same ..."

Die roosterbrood in tee gedoop was halfpad op pad na sy bestemming. En ek luister. Oopmond.

"Gee my ’n sweep en gee my ’n stok/ gee my ’n vroutjie in ’n bont rooi rok/ gee my die oop veld waar die bokke wei/ daar tussen die klippe sal jy my kry ..."

Nou die dag, meer as drie dekades na my eerste kennismaking met Kramer se musiek, ontdek ek twee afsonderlike koeverte wat as plekmerk ingespan is in ’n boek wat ek besig was om te lees (Kafka on the Shore van Haruki Murakami, vir dié wat wou weet). Nadere ondersoek wys dis Exclusive Books–geskenkbewyse ter waarde van iets soos R350, wat ’n maand of vier vantevore as verjaardaggeskenke aan my gegee is.

Sonder om twee keer te dink gaan koop ek die insiggewende Afrikaanse biografie van David Kramer, geskryf deur Mathilda Slabbert en Dawid de Villiers. Dis ook in Engels beskikbaar, terloops. Ek verslind die 350+ bladsye in twee sessies. Die biografie bevestig wat ek al vir jare glo: daar is geen groter Afrikaanse kunstenaar wat die social conscience van (blanke) Suid–Afrikaners uitgedaag het soos David Kramer nie.

Vergeet van Koos du Plessis. Laat staan maar vir André le Toit en/of Koos Kombuis. Moenie eers met Anton Goosen, Johannes Kerkorrel en die Gereformeerde Blues Band, Bernoldus Niemand, Valiant Swart, Battery 9, KOBUS! of Fokofpolisiekar probeer argumente loods nie.

Dié maergat Boere–Joodjie van Worcester het skelm–skelm, tussen–die–reëls en uitgeslape te werk gegaan toe hy sy protes–folk geskep het. Daar iewers tussen “Haak hom Blokkies”, “Die Royal Hotel”, “Montagu”, “Meisie sonner sokkies” en “Onnerwater” het hy liedjies opgetower wat met die eerste hoorslag klaarblyklik met onskuldige lirieke gebou is, maar met die wéér–luister hul verborge betekenisse openbaar.
 


Kramer, wat as Engelstalige kind reeds gemarginaliseer was op ’n benepe, konserwatiewe en oorwegend Afrikaanse dorp, het in daardie dae reeds sy fyn waarnemingsvermoëns geslyp.

Sy "woede" teenoor, of "teleurstelling" met, die apartheidstelsel het nooit oorgekook in ’n volskaalse verbale aanslag op die regering van die dag nie. Nee, hy was geduldig. En subtiel. Hy het sy dwarsklappe en stekies ingekry op toeganklike deuntjies, noukeurig verpak tussen almal–se–pel–treffers. Verskeie van hulle is natuurlik deur die destydse regering se skoothondjies uitgesnuffel en opsluit verban, maar daar was diés wat so subtiel snotklappe uitgedeel het dat dit selfs die gehardste sensuurraadslid gepypkan het.
 


Foto: www.davidkramer.co.za

Die sosiale kommentaar in Kramer se repertoire – of dit nou ’n beleidsrigting bykom of ’n randfiguur se omstandighede bevraagteken – het nie in Afrikaanse musiek sy gelyke op so ’n deurlopende basis nie.

Laat my dink aan die vroeë tagtigs toe Pieter–Dirk Uys se Adapt or Die die eerste keer opgevoer is. Gerugte wil dit hê ’n boere–omie het glo na die vertoning vir sy pel gesê: "Daai Pieter–Dirk Uys – hy mors met die Afrikaner, hy bespot ons, hy verkleineer ons ... maar hy het darem donnerse mooi bene, hoor!"

Dis soortgelyke oëverblindery waarmee Kramer mense dekades lank laat glo het hy is so jollie en so snaaks en so opgewek. Hy ís die ou by die bar–counter in die Royal Hotel; hy ken daai ou wat kan dummy en kan sidestep met ’n “leather ball in his hand”; hy smaak sy muskadel van Montagu; en hy droom van sy meisie voor die sendingkerk in haar mooi rooi rokkie.
 


Ja, vir sommige mag dit so wees.

Maar vir my is hy ook die kunstenaar wat met snitte soos “Tjoepstil”, “Botteltjie Blou”, “Hier onne oppie plaas”, “So long Skipskop”, “Hekke van Paradise”, “Is Jy Bang”, “Mambas in the Gutters” en “Prisoners of War” (om enkeles te noem) ’n bewuswording geskep het wat waarskynlik reeds daai Saterdagoggend meer as drie dekades gelede in ons kombuis posgevat het.

Klik hier om David Kramer – ’n biografie te koop by Kalahari.com.

Comments 1 Reaksies | 1 Comments
Delete Comment
avatar
CorneliusHenn
2012-07-09 @17:46
Ja, ons het baie om oor fees te vier hier aan die Suidpunt van Afrika vandag danksy al hierrie harte om ons ... dankie Chutney!
   om te reageer | to comment
    Slegs indien jy inteken sal:
  • jou kommentaar aan jou LitNet-profiel gekoppel word
  • kan jy aandui dat jy 'n boodskap wil ontvang indien ander kommentaar by hierdie artikel verskyn.
    When you sign in:
  • your commentary will be linked to your LitNet profile
  • you have the option of receiving notifications of new commentary on this article.

Reageer | Post a comment
Kommentaar is onderhewig aan moderering | Comments to be moderated
Naam | Name  
E-posadres | Email address