DA en Agang: Een soen beteken toe nie 'n langtermynverhouding nie

  • 2

Die Suid-Afrikaanse politieke begraafplaas lê besaai met grafte van partye wie se leiers selfsugtige belange vooropgestel het om hul eie onderduimse belange te bevorder.

Die warrelwind Las Vegas-huwelik tussen Agang en die DA wat minder as ’n week gehou het, kan moontlik bydra tot die nuutste toevoeging tot dié begraafplaas.

Veral Agang van Mamphela Ramphele, wat eensydig sonder haar party se insette en medewete besluit het om haar as DA-presidentskandidaat beskikbaar te stel, kan ná die verkiesing verdwyn.

Ramphele, wie se lewe nou gekenmerk en oorspan word deur teenstrydighede, staan nou volgens my in die volksmond bekend as ’n hardkoppige, opvlieënde, eensydige, ongeduldige, selfsugtige en outokratiese persoonlikheid wat Agang tot in die politieke wildernis vervloek het.

Voor Ramphele se skandelik eensydige besluit om haar by die DA te skaar was Agang egter nooit ’n politieke krag van waarde nie.

Dié party was nog altyd effektief ’n flou politieke perd lank voordat die verkiesingsveldtog begin het. Dit kan hoofsaaklik toegeskryf word aan Ramphele en Agang se politieke strategiese disfunksionaliteit. Dit gebeur as ’n politieke party gestig word net om die ANC teen te staan, en dit sonder geen duidelike alternatiewe beleid en strategie nie.

Dit is egter Ramphele se beweerde berugte hoë dunk van haarself, gebrek aan nederigheid en haar onvermoë om in ’n span saam te trek, wat finaal Agang se rug kan breek.

Verlede jaar het sy in die openbaar verklaar sy sal haar nooit by die DA skaar nie, omdat die DA glo te wit en onaanvaarbaar vir die meerderheid swart mense sou wees.

Sy’s nie ’n “joiner” nie, het sy toe verduidelik. ’n Week gelede het sy haar en Helen Zille se huwelik met ’n intieme openbare soen geseël. Maar beëindig dit ’n net paar dae daarna deur haar dubbelpratery.

In haar onlangs-gepubliseerde outobiografie A passion for Freedom lê sy self haar onvoorspelbaarheid en dubbelpratery op papier vas. Sy looi die “ekstreme profane” aard van korporatiewe Suid-Afrika, maar het self vroeër in die direksies van Anglo American, Old Mutual, Goldfields en ander maatskappye gedien. Sy beskryf selfs die Wêreldbank as ’n “toksiese omgewing”, maar het gedien as een van dié instelling se vier besturende direkteurs.

Met dié tragiese getuigskrif sluit sy haar aan by Marthinus van Schalkwyk, wat nog steeds as “kortbroek” bekend staan, omdat hy na bewering in die vroeë 2000’s die Nasionale Party laat ontbind het vir ’n pos by die ANC. Hy is later as ’n kabinetsminister aangestel.

So ook staan wyle Allan Hendrickse, eertydse leier van die nou ontbinde Arbeidersparty (AP), veral by sommige bruin mense bekend as ’n politieke verraaier vir sy deelname aan die driekamerparlement. Sy latere beweerde “verskoning” aan oudpresident PW Botha omdat die AP op ’n toe sogenaamde “wit strand” in die Baai gaan swem het, het die Hendrickses se vervreemdingsproses van bruines volbring.

Mamphele bevind haar nou op ’n soortgelyke politieke pad van selfvernietiging, drama, spanning, dilemmas, konflikte en krisisse. Agang en sy leier blaas ’n welverdiende roemlose aftog. Hulle is sterk op pad na die politieke begraafplaas.


Sign up for LitNet’s free weekly newsletter. | Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief.


 

  • 2

Kommentaar

  • Ja, Ramphele het darem regtig drooggemaak.  En ek het my misgis. Ek dag mos sy's kaas, maar toe's sy nog nie eens dikmelk nie. Ai!

  • CorneliusHenn

    Jason, het hierdie munt dan net een kant in jou gedagte, of kan jy dalk insien dat Rooi Helen se eersug (en haar arme ondersteuners se waansin), Rampie Mamp() se "hardkoppige, opvlieënde, eensydige, ongeduldige, selfsugtige en outokratiese persoonlikheid wat Agang tot in die politieke wildernis vervloek het" ... male der tal oorskry?

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top