Clover Aardklop-resensie: Na-aap geen blote na-aping van Kafka

  • 0

Moontlik gemaak deur Aardklop 21

24–28  September, Clover Aardklop

Vertaal deur Arnold Blumer

Rooi Piet: De Klerk Oelofse

Regie en ontwerp: Jaco Bouwer

Na-aap by hierdie jaar se Aardklop-kunstefees is ’n verwerking van die 1917-kortverhaal van Franz Kafka, “Ein Bericht für eine Akademie” (“A Report to an Academy”, oftewel “’n Verslag aan ’n Akademie”). In hierdie kortverhaal, waarvan ’n goeie vertaling in Engels hier gelees kan word, spreek ’n aap ’n groep lede van ’n akademie toe en vertel van sy ontwikkeling van aap tot mens. Hy vertel van hoe hy in ’n oerwoud in Afrika geskiet is, in ’n hok op ’n skip geplaas is, ’n reis van die Afrika-vasteland na Hamburg in Duitsland oorleef het, en ten einde betreklike vryheid geniet het deur menslike gedrag na te boots, taal en gebare aan te leer en “fatsoenlik” te word.

Kafka se verhaal is ’n bekende gelykenis wat spot met die menslike idee van vryheid en beskaafdheid. Deurlopend herhaal die verteller (die aap Rooi Piet) in Kafka se verhaal dat hy menslike gedrag aangeleer het nie omdat hy menslik wou word nie, maar om homself ’n moontlikheid van vryheid te gee. Die transformasie van die identiteit van Rooi Piet word in Kafka se kortverhaal as verhaal – as narratief – aangebied waarin hy die storie van sy gevangehouding en menswording chronologies vertel. Hy bied dit as ‘n “verslag” aan die akademie aan en gebruik toepaslike puntenerige taal om hierdie akademie toe te spreek, wat ’n spottende satiriese effek tot gevolg het.

Na-aap, vertaal deur Arnold Blumer, met vervaardiging en regie onder leiding van Jaco Bruwer, en goed gespeel deur die jong akteur De Klerk Oelofse, is egter geensins bloot ’n na-aping van Kafka se verhaal nie. Hoewel die aap in “A Report to an Academy”verslag lewer van sy transformasie van aap tot mens, probeer Na-aap veel meer as net die pretensie van ’n verslag te wees. Dit is eerder ’n wisselwerking met Kafka se verhaal – met as interessante byvoeging en sentrale element die rol wat tegnologie in die identiteitsvormingsproses speel. Die transformasie van aap tot mens en die rol wat taal in die proses van menswording speel, word telkemale deur die gebruik van video, beelde wat verwring word, vervreemdende klanke en tegnologie wat gek word, weerspieël. Ook word daar ’n baie spesifieke verband getrek tussen aapwees en kindwees: onder sy aapkostuum dra Rooi Piet ’n skooluniform en ontdek taal, identiteit en wat dit beteken om beskaafd te wees soos ’n kind dit op skool moet leer. Klanke wat vashaak, dialoog wat onderbreek word, stotterende taal, skielike verwringing van beelde wat op ’n skerm agter Rooi Piet geprojekteer word, weerspieël baie spesifiek die identiteit van Rooi Piet, wat nie in taal en in representasie erkenning kan vind nie.

Ook die kyker word in die proses van die onderbreking van die narratief vervreem en raak bewus van die chaos van sy eie identiteit en die onvermoë van taal om hieraan uiting te gee. Wat beteken dit om mens te wees? Beteken dit om “ek” te kan sê? Het die woorde “ek is” en “ek was”, enige betekenis of is dit leë woorde sonder sin? Na-aap is ’n stuk wat malend met hierdie vrae bemoei is en alle formele elemente van toneel (klank, visuele elemente, beweging, taal en spel) inspan om hierdie vervreemdingseffek te bereik. Ten einde bied taal geen uitkoms nie en weerspieël die stuk baie doelbewus dat waar daar moontlik vir ’n aap die potensiaal van ontsnapping is, die mens altyd gevange sal bly in die “eie ek”.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top