Clover Aardklop: Holm se tweede "big break"

  • 0

Deur Marguerite Robinson

Toe Erik Holm (31) in Augustus 2007 sy nek in ’n duikongeluk gebreek het, was hy betrokke by ’n speelvak van Fiela se kind waarin hy die rol van Lukas vertolk het. Vroeër vanjaar toe Dogma by die Absa KKNK geopen het, was dit die eerste keer wat hy weer die verhoog betree het.

Holm draai nie doekies om nie. “Dit is ’n drama met sweet en trane en bloed. En vir my ’n baie rowwe ervaring.” Hy lag. “As ek toe geweet het wat ek nou weet, sou ek dit dalk nie gedoen het nie.”

Die rol van die dominee in die rystoel is op vele vlakke veeleisend. Holm sê in die repetisieproses moes die regisseur en skrywer Christiaan Olwagen aanpassings maak en werk met wat vir hom moontlik was en nie moontlik nie. Ook die choreograaf Ina Wichterich moes dit in ag neem: hoe om dit vir Tinarie van Wyk Loots (as sy vrou) makliker te maak om hom te skuif. “Sy dra my, letterlik en figuurlik. Die liefdestoneel is helse tense. Ek is nie meer so huggy nie en die toneel is baie intiem.” Maar om sy vertroue in mense te stel, in sekere gevalle op hulle aangewese te wees, “is part and parcel van my lewe”. En duidelik is ’n gesonde (en soms wrang) humorsin ook deel van wie en wat hy is. “Ons Holmpies is maar so, kry altyd iets om oor te lag – op so tong-in-die-kies-manier.”

En lag, het hy lekker gelag as mense ná die vertoning na hom toe gekom het om hom geluk te wens. “Party diep beïndruk met my commitment aan my rol, want hier sit ek dan nou nog steeds in ’n rolstoel. En daar staan hulle dan, voet in die mond, as hulle besef maar ek is werklik verlam.”

Soos hy immers ook gesien word in sy rol in die sepie Binneland. “Eers sou dit net vir ’n week gewees het, toe word dit maande en nou is dit al ses jaar. En toe Christiaan my bel, het ek ja gesê, want ek wou bitter graag weer teater doen.”

Ironies genoeg het hy intussen saam met Jan Groenewald begin werk aan ’n solovertoning – ’n gedagte wat ontstaan het uit Groenewald se TV-reeks Spieëlbeeld wat hy vervaardig oor stories van mense se lewens. Die titel is Blou-blou, die eerste weergawe van die teks is al geskryf en Sandra Prinsloo het ingestem om die regisseur te wees.

“Die titel kom van my tannie wat ná my ongeluk in die hospitaal gesê het ‘ten minste het jy nog jou blou-blou oë’. Maar ek is paranoid as hell of dit gaan werk. Hoe gaan dit vir mense wees om vir ’n uur lank na iemand in ’n rolstoel te kyk wat sy storie vertel?”

Maar ja, Dogma het vir hom die ys gebreek om terug te keer na die teater. “Die ys is gebreek. My nek is gebreek. En op ’n manier het die ongeluk tot my big break gelei.”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top