Clover Aardklop 2014: Magdalene Minnaar gesels oor Poskantoor

  • 1

Poskantoor is blykbaar die eerste Afrikaanse opera van die 21ste eeu. Hoe het hierdie ongewone teaterproduksie tot stand gekom? Wie was betrokke?

Ek en my vriend, die bekende komponis Braam du Toit, het so ses jaar gelede op 'n radiodrama van die woordgenie Tertius Kapp afgekom wat ons laat droom het oor 'n Afrikaanse opera. Jaco Bouwer was van die begin af die regisseur wat ons wou betrek, en na jare se Skype-sessies, beplanning en skaaf het Poskantoor tot stand gekom. 

In watter opsig(te) beskou julle Poskantoor as ’n terugkeer na / voortsetting van die Italiaanse “opera buffa”?

 

Wel, benewens 'n skreeusnaakse (en soms stout en onvoorspelbare) libretto handel die storie oor alledaagse gebeure, met doodgewone mense, in kontreitaal. Dan is die musiek ook, soos met opera buffa, toeganklik en beskrywend. Maar ek sou beslis nie die opera in 'n boksie druk nie - dit is 'n unieke werk met veel meer aspekte as net die bogenoemde.

Is daar bepaalde redes waarom julle dié opera-genre gekies het?

Mense wil vermaak word – vir 'n uur en 'n half net lekker sit en lag, en vergeet van die wêreld daar buite. Maar weer eens is dit nie net spookasem-komedie nie. Die storie het gravitas. 

Van watter tipies menslike swakhede word die karakters in Poskantoor karikature?

Wellus, jaloesie, wraak, gierigheid, eetsug, ydelheid. (Dit lyk my ons het vergeet van luiheid!)

Watter elemente in Poskantoor maak dit tipies Suid-Afrikaans?

Daar is baie: van die karwag-operasanger met sy Gé Korsten-verwysings tot arias wat sing vir die klippe, en die gebruik van kontreitaal in 'n operaregister. Opera is tradisioneel gesproke 'n Europese genre, en Poskantoor is 'n self-bewuste Suid-Afrikaanse aanwending daarvan. Dit kom deur in vele tonele, soos byvoorbeeld die “Poskaarte is wreed”-aria. Elders word die ongewone uitdrukkingskrag van Afrikaans benut, soos in die aria “Mos maar”, of later in 'n speletjie met al die baie kleurvolle vloekwoorde wat mens in Afrikaans kan vind.

Groei Poskantoor verby die plaaslike tot iets meer universeels? Sal dit, met ander woorde, sy plek kan inneem saam met, byvoorbeeld, Rossini se Barbier van Seville?

Ons sal nie self kan voorspel waar Poskantoor in die geskiedenis van opera sal staan nie. Vermoedelik nie in die tradisionele kanon nie, maar eerder in die kategorie van vernuwing en herontdekking van opera in die moderne era. Dit speel dalk af in 'n klein dorpie, maar die idees daaragter, die verhaal, en veral die musiek gaan hulself beslis nie laat beperk tot die plaaslike nie. Dus, ja. 

Jy gaan self een van die rolle in die opera vertolk. Hoe vind jy Afrikaans as operataal? Het dit groter uitdagings as ander tale in operavorm?

Afrikaans is 'n baie glottale taal, maar miskien omdat ek self Afrikaans is, vloei dit vir my redelik maklik as sangtaal. Sekere klanke, veral diftonge, is moeilik om te sing, maar daar is verskeie tegnieke om dit verstaanbaar te sing. En dan is goeie diksie natuurlik van kardinale belang, sodat die gehoor die storie kan volg.

Vir wie sou jy hierdie produksie aanbeveel? Jou meer ernstige kyker of juis nie?

Ek dink ons het reggekry wat ons van die begin af wou doen: om 'n opera te skep wat terselfdertyd verskeie gehore gaan verlei. Hoog en laag, ernstig en lig, konserwatief en liberaal, Aardklop en Grahamstad, of watter ander kategorieë Suid-Afrika ook bied. Met ander woorde: enigiemand met 'n sin vir humor en 'n waardering vir musiek.

  • 1

Kommentaar

  • Chrisna Beuke-Muir

    Ek wonder al so lank hoe 'n "moderne" Afrikaanse opera sou wees! En ek sal my oogtand gee om ooit by so iets betrokke te wees! Baie geluk aan almal wat daaraan gewerk het. Ek sal graag die hele stuk wou beleef. Dit is jammer dat dit so baie kos om so 'n produksie in Namibië te kry. Dit sou 'n uiters geslaagde stuk by die Windhoek Woordfees 2015 wees. Doe  zo voort!

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top