Charles Fryer: 1946–2014

  • 0
Charles Fryer
Petra Müller
Danie Botha
Annari van der Merwe

Charles Fryer was ’n reus in die Afrikaanse uitgewerswêreld. Miskien onthou ek hom groter as wat hy in werklikheid was, maar vir my het hy oor al ons ander uitgetroon, letterlik en figuurlik – op ’n goeie dag met ’n geamuseerde glinstering in die oog en ’n onnutsige glimlaggie, op ’n onderstebo dag met ’n bewolkte uitdrukking in sy eerlike oë.

Charles is gebore en getoë in die Noordweste, Calvinia se wêreld, waar die reën skaars is en die lewe hard kan wees – en veral in daardie tyd hard was. Maar die mense van dié “hartland” ken ook ironie en die bittersoet lag wat kom wanneer jy die swaarkry ’n slag te bowe kom. Charles het later ook swaar gehad: hy was veral platgeslaan toe hy en Lorreine, sy vrou, ’n babaseuntjie by geboorte verloor het. Dit alles het Charles met ’n donker ondergrond gelaat. En tog dink ek aan hom met ’n glimlag, omdat hy soveel warmte en welwillendheid uitgestraal het. Miskien was dit juis omdat hy vertroud was met hartseer en verlange dat hy met soveel insig en begrip – en humor – die skryfwerk en pogings van ander skeppende skrywers kon hanteer.

Ek het Charles leer ken toe ek in die laat sewentigerjare by Tafelberg-Uitgewers in die kinderboekafdeling aangestel is. Ons kantore was op die hoek van Waal- en Burgstraat. Die Kaapse stadsbiblioteek was op die grond- en eerste verdiepings van die Waalburg-gebou. Tafelberg, wat van die mooiste plaaslike boeke gemaak het wat daar uit te leen was, was op die tweede verdieping gesetel. Dit was die gloriedae van Afrikaanse uitgewery. Danie van Niekerk was aan bewind, sy kantoor skuins regs soos jy die voordeur ingestap het. As jy links in die gang parallel met Waalstraat afloop, verby administrasie se twee kantore regs en by die eerste gangetjie links indraai, sou jy jou vasloop in Big Charlie, hoof van die fiksie-afdeling, waar hy agter sy bruin lessenaar, pen in die hand (dit was voor die dae van rekenaars) en rug na die venster, gebukkend oor ’n manuskrip sit en frons of glimlag het.

Sy kollegas in die fiksie-afdeling was Danie Botha, wat alles van drama geweet het en die Afrikaanse literatuurgeskiedenis uit sy kop geken het, en Petra Grütter (die digter en prosaïs Petra Müller), wat alles van die digkuns en wêreldletterkunde en keuring geweet het. Charles het die finale verantwoordelikheid vir uitgeebesluite gedra, maar sy werklike forte was persklaarmaak. Hy het die Afrikaanse taal van agteraf vorentoe geken en as hy eers ’n manuskrip onder hande geneem het, het hy dit met byna bomenslike deeglikheid en kundigheid afgerond, sodat daar uiteindelik nie een woord uit die toon geval het of een vaagheid of insinking of los draadjie aan die intrige was nie. Tikglipse wat ondenkbaar. En die skrywer is saam deur die proses. Lang ure agter ’n toe deur, sodat daar geen afleiding of steuring sou wees nie.

Van tyd tot tyd het ander redakteurs bygekom, maar tot Charles in 2002 deur ’n beroerte gedwing is om die uitgewery te verlaat, was hy, Danie en Petra die kern van die fiksie-afdeling. Hulle was ’n gedugte driemanskap wat die werk van die beduidendste skrywers in Afrikaans oor twee, drie dekades die wêreld ingestuur het: FA Venter, Audrey Blignault, Anna M Louw, Elsa Joubert, Henriette Grové, Dolf van Niekerk, Chris Barnard, PG du Plessis, Hennie Aucamp, George Weideman, Ernst van Heerden, TT Cloete, Sheila Cussons, Koos Prinsloo, Alexander Strachan, Etienne van Heerden, Ena Murray, Dalene Matthee, Jan Spies, Engela van Rooyen, Marita van der Vyver – daar is te veel om op te noem. Wat versorging betref, is daar geen onderskeid gemaak tussen literêre en populêre tekste nie. Onder Charles se leiding is elke stuk skryfwerk met dieselfde piëteit en noukeurigheid gehanteer en ewe netjies uitgegee. Want die wins wat gewilde boeke opgelewer het, is gebruik om goeie boeke waarvoor daar beperkte aanvraag sou wees te subsidieer.

Soms was daar ’n stuitige gelag te hoor uit die fiksiehoek, ander kere weer ernstige argumentasie, want uitgeebesluite is nie ligtelik geneem nie. Dit was in die dae voor rekenmeesters en bemarkers die wet neergelê het, en die redaksies van die verskillende afdelings het basies op hulle eie besluit wat gepubliseer behoort te word. Al wat min of meer in oorweging gebring is, was die meriete van ’n manuskrip, of die uitgee daarvan so noodsaaklik was dat dit die afkap van ’n boom regverdig het. Danie van Niekerk het selde die afdelingshoofde se besluite teengestaan, maar soms wel gevra: Sou jy jou eie geld in hierdie boek belê?

Meningsverskil is natuurlik onafwendbaar by redakteurs wat hulle sout werd is, maar uiteindelik moes Charles pa staan vir die afdeling se prestasie, en ek glo nie die ander twee sou hom kon beweeg as hy eers sy voet dwars neergesit het nie. Daarvoor was hy te gewigtig. En waarom sou hulle wou? Want almal het geweet Charles se oordeel was suiwer en dat hy hom nie deur die status of roem van ’n skrywer of literêre modegiere of -foefies laat verblind nie.

Die enigste frustrasie wat Charles ooit by sy kollegas, ook in die ander afdelings, veroorsaak het, was juis die gevolg van sy puntenerigheid en deeglike oorweging van alle tersaaklik aspekte, sy aandrang daarop om alles finaal af te teken. Jy kon die man nie aanjaag nie – nie Danie van Niekerk nie, ook nie Jürgen Fomm, die ewe puntenerige hoof van produksie nie. ’n Sperdatum was in die laaste instansie vir Charles minder belangrik as ’n weloorwoë besluit of ’n foutloos afgeronde manuskrip. Die lang ure wat hy gewerk het om te waak oor die gehalte van die boeke in sy afdeling en die ekstra spanning om by uitgeeskedules te hou, het uiteindelik sy tol geëis.

Charles was ook digter. Die prys wat ’n redakteur van Charles se kaliber betaal, is egter dat die versorging van ánder se skryfwerk sy eie skeppende energie uitput. Hy het helaas maar een digbundel gepubliseer: Rooiwielwa, in 1978, toevallig die jaar toe ek hom die eerste keer op die lyf geloop het. Vir my ontspring die bundel in die spanning tussen sy verlange na die eenvoudiger lewe van sy hartland, die Hantam, en die veeleisende werklikheid van ’n stadsbestaan. Die gelyknamige openingsgedig lyk vir my ’n gepaste afsluiting by ’n huldiging wat totaal ontoereikend voel vir so ’n buitengewoon fynsinnige en terselfdertyd aardse mens soos Charles Fryer:

Ek gaan saam met die rooiwielwa
wat my terug na my hartland dra;
deur die nag vol maan alleen,
oor die swartbosvlakte heen.

Ek sal terug met die grootpad gaan
óór die berg wat donker staan;
van julle sal ek niks meer vra,
ek gaan saam met die rooiwielwa.

Lees Petra Müller se huldeblyk.

Lees ook Danie Botha se huldeblyk.

Lees ook Ellen Botha se huldeblyk.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top