Chapman’s Peak se rotse

  • 0

In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

 

Op 'n reënerige wintersmiddag in Junie 1994 het 'n sekere mnr Graham van Seepunt in die Kaap 'n entjie met sy Volkswagen Kombi langs Chapmans Peak-rylaan tussen Houtbaai en Noordhoek gaan ry. Daar was 'n hele klompie ander motors op die pad en terwyl mnr Graham nie veel vinniger as 15 km per uur gery het nie, het daar vanuit die loodregte kranse bokant sy voertuig skielik 'n massa water, modder en rotsmateriaal op sy Kombi se dak geval. Mnr Graham het in die proses ernstige hoof- en nekbeserings opgedoen en hy was feitlik oombliklik bewusteloos. Omstanders het hom net betyds uit die voertuig getrek voordat 'n tweede, veel erger, storting van modder, klippe en rotse sy Kombi prakties verwoes het.

Vanweë die ernstige beserings wat mnr Graham opgedoen het – waardeur hy onder meer permanent verlam is – het hy 'n eis om skadevergoeding van byna R5 miljoen rand teen die Kaapse Metropolitaanse Raad, wat beheer oor Chapmans Peak-rylaan uitoefen, ingestel.

Die saak het voor regter Wally van Deventer van die hooggeregshof in Kaapstad gedien en die regter het op 18 Februarie 1999 – dis ook al 15 jaar gelede – sy belangwekkende uitspraak gelewer.1

Ten einde met sy eis te kon slaag, moes mnr Graham bewys dat die Kaapse Metropolitaanse Raad nalatig was – in dié geval nie omdat die Raad enigiets gedoen het nie, maar juis vanweë sy versuim om te voorkom dat mnr Graham in die besondere voorval so ernstig beseer is.

In 'n baie interessante uitspraak bespreek regter Van Deventer die geskiedenis van Chapmans Peak-rylaan en lê hy klem daarop dat dit 'n pad is wat eintlik “nooit moes gebeur het nie”, omdat dit reeds in 1922 letterlik met brute geweld en min ontsag vir die loodregte kranse wat bokant die see uittroon, gebou is. Aan die een kant neem dit die padgebruiker langs seker een van die skouspelagtigste besigtigingsroetes in Suid-Afrika, maar aan die ander kant is dit 'n uiters gevaarlike pad, veral in tye van hoë reënval. Die enigste tekens wat op daardie tydstip die motoris gewaarsku het oor die gevare wat vir hom voorlê, is die bekende "vallende rotse"-tekens weerskante by die beginpunte van die pas. Die regter het beslis dat hierdie tekens van min praktiese waarde is, omdat dit in die gewone omgang niks meer beteken as dat die motoris versigtig moet wees vir rotse wat op die padoppervlak vorentoe mag lê nie. Die regter het verder beslis dat die Kaapse Metropolitaanse Raad eksklusiewe beheer oor die pad uitgeoefen het, wat die Raad byvoorbeeld in staat gestel het om te eniger tyd die pad te sluit. Die Raad het egter nooit enige poging aangewend om, na aanleiding van reënvalverslae en weervoorspellings, 'n besluit oor die risiko van rotsstortings in Chapmans Peak-rylaan te neem nie. Niemand in die Raad se diens het ook 'n spesifieke opdrag gehad om van tyd tot tyd die rylaan te inspekteer met die oog op die veiligheid daarvan vir motoriste nie.

Teen dié agtergrond moes die regter dus beslis of die Kaapse Metropolitaanse Raad se versuim om oor die veiligheid van motoriste, soos mnr Graham, te waak, só ernstig was dat dit as nalatig aangemerk kan word. Die regter het hom laat lei deur sy vertolking van die gemeenskap se regsoortuigings, die sogenaamde boni mores – basies die gemeenskap se gevoel oor wat reg en verkeerd is. Dit beteken dat die norm wat die hof moes toepas, die vraag was of die versuim van die plaaslike owerheid om positiewe stappe te doen om mnr Graham se skade te voorkom, na die oordeel van die gemeenskap  onregmatig was, onderhewig daaraan dat die hof nie van die plaaslike owerheid sou verwag om méér te doen as wat redelikerwys verwag kon word nie.

Toegepas op die feite van die saak voor hom het regter Van Deventer beslis dat 'n plaaslike owerheid wat in beheer is van 'n gevaarlike pad soos Chapmans Peak-rylaan, 'n regsplig het om motoriste te waarsku oor die gevare wat die pad vir hulle inhou deur gebruik te maak van spesiale padtekens en ander waarskuwingsmetodes. Die regter het ook beslis dat die Metropolitaanse Raad 'n regsplig gehad het om die pad te sluit wanneer daar 'n gevaar van rotsstortings was, veral tydens hoë reënval. Die Raad het ook 'n plig gehad om die toestande in en om die pad te monitor en veral spesiale aandag te skenk aan weerberigte en weervoorspellings.

Die Raad se versuim om behoorlike waarskuwings by die ingange tot Chapmans Peak-rylaan aan te bring wat padgebruikers sou waarsku oor die hoë risiko van rotsstortings vanweë die voorafgaande dae se hoë reënval, was nalatig. Die Raad se versuim om die pad op daardie betrokke dag te sluit was ook na die mening van die regter onregmatig.

Regter Van Deventer het gevolglik ten gunste van mnr Graham beslis en die Kaapse Raad aanspreeklik gehou vir betaling van sy skade.

Teen hierdie uitspraak het die Raad geappelleer en eers op 17 November 2000 het die hoogste hof van appèl in Bloemfontein met regter Van Deventer saamgestem dat die Kaapse Metropolitaanse Raad nalatig was en aanspreeklik was vir betaling van mnr Graham se skade.2

Nou moet jy onthou: dié ongeluk het in 1994 gebeur. Tot op daardie tydstip is daar in die howe nog net oor één aspek gestry, naamlik of die Raad aanspreeklik was of nie. Ná die appèlhof se uitspraak het 'n verdere been gevolg: die vraag oor hoevéél skadevergoeding aan mnr Graham betaal moes word. Hy het dus tot met die appèlhof se laaste sê in 2000 nog nie 'n sent skadevergoeding ontvang nie, hoewel hy al meer as ses jaar tevore ernstig beseer was.

“Wat ‘n skande!” sou ‘n mens kon uitroep.

Aan die ander kant was die aangeleenthede wat voor die hof gedebatteer is, egter van so 'n groot openbare belang dat heelwat navorsing eers gedoen moes word en die getuienis van deskundiges – mense wat sowel ten gunste van mnr Graham as ter verdediging van die Metropolitaanse Raad getuig het – ingewin moes word.

Hoeveel skadevergoeding mnr Graham oplaas ontvang het is, sover ek weet, nie openbare kennis nie. Tog glo ek die ou gesegde: die wiel van geregtigheid draai stadig – maar séker.

1 Graham v Cape Metropolitan Council 1999 (3) SA 356 (CPD)

2 2001 (1) SA 1197 (SCA)
  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top