In ons dakrand is daar 'n bynes. Dis heel bo teen die nok. My langste leer, een van daardie dubbeles wat so skuif, kom nie naby nie.
Twee jaar gelede het ons vir Eddie Blood, 'n sewentigjarige byeboer met die lyf van 'n jong man, gekry om dit te kom uithaal. Ek moes steierwerk gaan huur, en dit het hom vier dae geneem om die bye, die was en die heuning uit te haal, en nuwe panele oor die opening te spyker nadat gif binne-in gesit is om 'n terugkoms van die bye te ontmoedig.
'n Jaar later was die gif uitgewerk, maar vir 'n by was die onmiskenbare geur van nes nog daar. Die bye het 'n ander skrefie gekry en die nes op dieselfde plek gaan herbou.
Ek gaan nie weer probeer om hulle te verwilder nie. Soos baie ander spesies is ook bye besig om die stryd teen die mens te verloor, en dit ondanks die feit dat hulle ekonomies belangrik genoeg is om doelbewus mee te boer. In die mees ontwikkelde dele van die wêreld, veral Wes-Europa, neem die spontane versaking van byneste deur hulle inwoners steeds toe. Hoewel die presiese oorsaak nog nie vasgestel is nie, kom tot dusver byna alle verklarings neer op die een of ander doenigheid van mense en hulle tegnologie.
Apis mellifera, die hedendaagse heuningby, het 'n interessante en welbekende beskawing. 'n Hiërargie waarin individuele bye stap vir stap bevorder word, van skoonmaker tot verpleegster tot vakman tot aankoper, sorg vir die departemente van Nywerheid, Verdediging, Openbare Werke, Maatskaplike Dienste en Bylike Hulpbronne. Die woonstelblokke word geometries uitgelê binne-in 'n fabriek waar minstens vier uitvoerprodukte gemaak word: heuning, byewas, koninginnejellie en propolis.
Selfs die skryfkuns is al bemeester, hoewel die medium waarop geskryf word, tyd en reuk eerder as klei, perkament of papier is. Die terugkerende werkers voer 'n soort dans met 'n basiese syfer-8 patroon uit, waartydens variasies in omvang, duur, snelheid en rigting inligting enkodeer oor onder andere die aard, veiligheid en posisie van die voedselbron. In die proses skei hulle sekere geurdraende stowwe af wat die aandag trek ook van ander bye wat buite sig is.
Aangesien bye en mense op sulke uiteenlopende takke van die diereryk lê, moet ons aanvaar dat die dinge wat ek hierbo opgenoem het, voorbeelde van konvergente evolusie is. Bye en mense het onafhanklik van mekaar hul eie beskawings, organisasies, industrieë en gespesialiseerde vaktale ontwikkel.
Die mens vergeet soms dat ook hy 'n evoluerende spesie is. Bye word aangetref in fossiele wat meer as 20 miljoen jaar oud is — party kenners meen tot 40 miljoen jaar. Mense, daarenteen, het eers ongeveer 7 miljoen jaar gelede van ons gemeenskaplike voorouer met bonobos en sjimpansees afgestig. Teen die tyd dat ons spesie ook 20 miljoen jaar oud is, sal ons dubbel so ver weg van sjimpansees wees as wat ons nou is.
As ons nageslag dan nog bestaan, bygesê. Ons vermoë om onsself te vernietig deur wapens van massaverwoesting en die onleefbaar maak van ons eie planeet neem by die dag toe. Maar ons is nie die kroon van die skepping nie; altans, nie nou al nie. Ons is, soos Silas Miggel in Moerbeibos sê, op die aarde gesit om goed te word, met ander woorde, om te evolueer.
Dit is onweerstaanbaar om te bespiegel in watter rigting hierdie evolusie sal gaan. Fisici, nie vir die eerste keer in hulle geskiedenis nie, meen dat Homo Sapiens reeds sy kop begin stamp teen die grense van weetbaarheid. In die onlangse woorde van 'n akademikus uit Cambridge wat op sy dag president van die Royal Society was:
Dit sou onbehoorlik antroposentries wees om te glo dat alle wetenskap — en 'n behoorlike begrip van alle aspekte van werklikheid — binne die bereik van die mens se verstandelike vermoëns vervat kan word. Of die ware langtermyn-toekoms by organiese post-mense of by intelligente masjiene lê, is 'n saak vir debat — maar in elk geval sal daar insigte in die werklikheid oorbly vir hulle om te ontdek. — Martin Rees (http://www.edge.org/responses/what-scientific-idea-is-ready-for-retirement)
Teilhard de Chardin, die Franse paleontoloog wat as gehoorsame Jesuïet sy lewe gemuilband moes deurgaan, het 'n ander paadjie gesien. Evolusie was nie vir hom 'n teorie wat slegs die opkoms van lewe op aarde kon verklaar nie, dit was 'n fundamentele beginsel wat alle stelsels wat oor miljoene jare bestaan, aan die stuur is. Onder andere het hy dit toegepas op die mens se spiritualiteit en godsbesef.
Volgens Teilhard is die rigting wat die evolusie van die mens sal inslaan, nie die ongebreidelde vooruitgang van individue nie. Hy postuleer dat Liefde, daardie agape-liefde waarin "een die ander hoër ag as homself" (Fil. 2:3), meer en meer mense steeds nader en nader aan mekaar sal trek totdat die hele spesie, tewens alle bewuste lewe in die heelal, in een kollektiewe bewussyn sal opgaan. In daardie kollektiewe bewussyn sal daar nie struweling en stryd wees nie, maar eensgesindheid volgens die wil van God. Dan, sê Teilhard, het die koninkryk van God, soos in die hemel, gekom: nie net op die aarde nie, maar in die ganse heelal; dan het God weer in materie kom woon. Dit, sê Teilhard, sal die ware wederkoms van Christus wees.
Op die gebied van 'n kollektiewe bewussyn is die bye ons tans voor: wat die een weet, weet die ander ook gou, en die dood van enkele individue maak geen verskil aan die geheel nie. Maar ons is aan die inhaal. Selfone het reeds onprivaatheid tot noodsaak verhef. Die Internet, met algemene kennis soos in Wikipedia, openbare intimiteit soos op Facebook, en uitgeblakerde wysneusigheid soos op Twitter, maak dat ons kollektiewe bewussyn baie vinnig groei.
Miljoene jare is 'n lang tyd. Ondenkbaar lank, eintlik. Natuurlik kan ons nie bewys dat een van Rees se moontlikhede gaan gebeur nie. Eweneens kan ons ook nie bewys Teilhard is reg of verkeerd nie.
As ons egter moet kies tussen evolusie tot mens-masjiene en evolusie tot die koninkryk van God, en daar is geen manier om te weet nie, kan ons wel, soos in Life of Pi, vra: Watter een maak die beste storie?