Bruce Springsteen, Bellville, rede om te glo

  • 12

Drie van hulle loop ná die vertoning in die rigting van hul geparkeerde motors. Ek skat hulle is heeltemal te jonk om hardebaard Springsteen-aanhangers te kan wees. Miskien het hulle gekom vir ‘n photo opportunity of om na Tom Morello te kyk?

Die lange met die eina kortbroek hou haar selfoonskerm voor haar gesig op en lees Google-wys vanaf die skerm: “He is actually Bruce Frederick Joseph Springsteen. That’s his full names,” spog sy verder. “Did you know they also refer to him as The Boss?”

Wel, wel, wel ... die wonder van tegnologie.

Daar was ook die man wat by sy metgesel gesit het, verder af in dieselfde ry as ek. Uit plek, ongemaklik, soos ‘n ateïs by ‘n Roomse mis. Min woorde met haar, een van daardie stiltes. Geen entoesiasme van sy kant nie, geen handeklap. Hy’t erg gefrustreerd gelyk - veral na die openingsnommer – “Free Nelson Mandela”. Half teësinnig het hy opgestaan toe Springsteen die skare vra om hul “asses” bietjie op te lig van die stoele af. Dit was ook net so halfpad deur die vertoning toe beide van hulle loop. Miskien het hulle ‘n vertoning van Springsteen se Greatest Hits verwag, of komplimentêre kaartjies ontvang?

En ‘n ou omie, met ‘n hemp wat laag voor nie wil of kan toe nie, wat dwarsdeur die vertoning dans, maar so asof hy op ‘n heeltemal ander wysie dans. Maar geniet het hy hom geniet ...

Mense in Cradock het my verbaas aangekyk toe ek noem dat ek na Kaapstad sal reis om Bruce Springsteen se heel eerste konsert op sy eerste besoek aan Suid-Afrika by te woon.

“Wie is dit?” wou ‘n jeugdige weet. Stilbly was hier die antwoord.

Ek koop my kaartjie op 6 November 2013 en wag ...

Die Vrydag, voor die naweek se vertoning, vertrek ek. Halfpad deur die reis besef ek maar daar is nie ‘n enkele Springsteen-kasset ingepak nie (ja, die motor speel nog die ouderwetse affêrings).

Dit word ‘n lang reis, kusroete om. Oorslaap op George. Dan kronkelpas verder deur padwerke, windplase, casino’s en haastige mense wat jaag, jaag en jaag. Ek kuier in die linkerbaan, kyk na regs oor die rand en sien groen, blou so ver as wat jy kan kyk. Plase, geploegde lande, wingerde, boorde, die spens van die land ...

Kaapstad ... Die Sondagmiddag wag ek vanaf net na 5 in rye wat twee, drie spirale maak en herinner aan dié tydens die 1994-verkiesing. Daar heers ‘n gemoedelikheid tussen die staners. Hulle kom nog steeds aan, verneem verbaas dat dít die agterkant van die rye is, maar gaan staan tog met ‘n glimlag. Ons wag op die Kaptein ...

Die smouse doen, met hulle kenmerkende Kaapse gevatheid, besigheid, Wil die madam my wors proe? En hy hou kordaat ‘n stukkie droë wors en biltong uit na die vrou wat ongemaklik bloos. “Bruce se biltong,” spoor hy aan, maar sy byt nie. Nog ene het iets kouds: “Coke (sonder die crack) mister ... ook sonder die rum. Ai, lyk my die madam soek warm water op so ‘n hot day ...”

Ek sweer as hulle om die draai loop, kom die “mase @#$%& ... koop kak” uit ...

So gaan dit en die ry beweeg stadig vorentoe. Die parkeerterrein is vol. Hier is baie meer van die “winners” as die “losers” waarvan Springsteen op “Atlantic City” sing. Blink rygoed, wit, silwer, swart en goud. Die republiek van die kredietkaart en oortrokke fasiliteit en wentelkrediet.

Ek probeer vinnig vir goedkoper karre kyk ... sien een van daardie “New car for R699”-modelle en ‘n goedkoop ryding met ‘n stampplek aan die regtervoorkant.

Hulle het almal gekom ...

Die wannabe modelle met bene en knieë gemaak vir rompe en kortbroeke en cowboystewels; daar is die met hoedens, ouer verloopte hippies – vreemd uit plek – met oordrewe of onderbeklemtoonde tatoeëermerke aan die arms, bene, op die hals, Virgin Active boarms, sonverbrande leervelle. Die gryskopvrou – sy moes al in die ’60’s haar bra verbrand het. Haar tepels beur nog parmantig teen die vaal T-shirt, wat wasmasjienverweerd en -verbleik, ook uit ‘n vorige dekade kom. Mans oor veertig met wasige oë, asof hulle sweef; vroue met te veel alkohol in hulle wange. Ook ‘n paar anderskleuriges ...

‘n Omie, iewers oor sewentig, kruie sonder kierie die steilte teen die kant van die stadion op. Hy het die oproep beantwoord ...

Vorentoe word die rye opgebreek: Big Concert- of Computicket-kaartjies? Seated or general standing?

Ek kom uiteindelik net voor agt binne in die Velodrome aan. Dit is vol; mense staan rond met bier in die hand; dit maal en zoem, met agtergrondmusiek wat speel. Dié in die voorste ry, naby die verhoog, begin “Bruce! Bruce!” skreeu.

Die vertoning begin ongeveer 45 minute later as geskeduleer.

Die E Street Band stap uit. Die laaste twee, Little Stevie van Zandt en Bruce ... en ‘n skouspel wat ek nooit gedink het ek in Suid-Afrika sou kon aanskou nie, begin.

“Free Nelson Mandela”, “Badlands”, die kitaar en die kenmerkende stem. Dan kom dit waarvoor die mense (en ek) gewag het. “Hungry Heart”.

Dít steek die vonk onder die gehoor aan. Springsteen staan op iemand se skouers, gaan dan agteroor lê op die hande van die jillende skare in die “general standing”-area. Versigtig en tydsaam gee hulle hom so op sy rug aan tot hy weer voor op die verhoog is. Dit is duidelik waarvan Springsteen hou: hierdie interaksie met die gehoor. “You should never be afraid to try out something new,” merk hy opgewonde op toe hy weer sy voete op die verhoog vind.

Na “Hungry Heart” volg “The River”. Ek het al vantevore op LitNet geskryf oor hoekom ek passievol is oor Springsteen se musiek (“Tussen Beckham en Springsteen: die soeke na iets (iemand) om in te glo”, 26/07/2006):

Springsteen se verwysingsraamwerk is die – soms sieldodende – bestaan van hoofsaaklik werkersklas-Amerika. In meer as een van sy talle liedjies sing hy oor gewone mense met “debt that no honest man can repay”. Hy sing oor verlore werksgeleenthede, opstand teen oorlog, ’n (aanvanklik) onverkwiklike verhouding met sy vader, rassespanning en die leegheid van die blinde aanbidding van materialisme.

Maar op sy beste is hy as hy sing oor hoe verhoudings lostorring en harte en drome flenters val tussen die harde werklikheid en die immer ontwykende American Dream. Nêrens vind ek dit beter verwoord as in die liedjie “The River” nie:

Well I got Mary pregnant,
boy that was all that she ever wants
And for my nineteenth birthday,
I got a union card and a wedding coat.
Maar later volg die ontnugtering:
I lost my job on the construction
and lately there ain’t that much work on account of the economy.
I act like I don’t care.

Op sy jongste, hoofsaaklik akoestiese album, Devils and Dust, gee Springsteen weer ’n middelvinger aan die hoofstroom en maak hy rou, onopgesmukte musiek. In ’n onderhoud met die New York Times beken hy dat hy op 55, al is dit half teësinnig, teruggryp na die bekende Katolieke bakens uit sy jeugjare.

Ironies genoeg verdwaal ek later die aand, na die vertoning, sonder die naelstring van GPS, in die verkeerde kant van Bellville in. Hier kruip die “losers” uit die donker op die stoepe. Ek vind parallelle tussen die karakters in die liedjie en iemand wat byvoorbeeld op die Kaapse Vlakte worstel met ‘n bestaan en hoop op redding vanuit ‘n onbekende oord:

Now I been lookin' for a job but it's hard to find
Down here it's just winners and losers and don't get caught on the wrong side of that line
Well I'm tired of comin' out on the losin' end
So honey last night I met this guy and I'm gonna do a little favor for him
Well I guess everything dies baby that's a fact
But maybe everything that dies someday comes back
Put your makeup on fix your hair up pretty and meet me tonight in Atlantic City

Later, op die grootskerm, beeldmateriaal van wyle Clarence Clemons, die saxofoonspeler. ‘n Middeljarige man knyp oë toe en skud heftig kop as daar op die insetsel ‘n toneel is waar Springsteen Clemons ‘n vinnige piksoen gee!

Daar is geen keer aan Springsteen nie. Hy drink tydens die vertoning twee glase bier uit wat die gehoor aan hom bied, deel soene uit, trek mense op die verhoog, laat ‘n klein seuntjie saam met hom kom sing.

Hy doen dit omdat hy daarvan hou – die geld, die beroemdheid is van minder belang. Sy hart, sy siel, elke grein energie wurg hy uit hom uit, hy stort sy bloed. Later was hy sy gesig af met ‘n spons uit ‘n skottel water. Sy frokkie is druipnat.

Hy buig agteroor op die verhoog, die glimmende staalstaander van die mikrofoon tussen sy bene en sy hand viriel om dit geklem. Die hand beweeg op. Byna orgasmies …

Baie mense dink die vertoning is oor, maar met ‘n “Are you tired, are you tired” vervolg hy teen ‘n asemrowende spoed.

“Johnny 99”, “American Skin (41 shots)”, “Because the night”, “The Rising” en ‘n gepaste duet met Tom Morello, “The Ghost of Tom Joad”, die liedjie met sy siniese, snydende, wrang kommentaar op die “new world order” en die skeefgetrekte ekonomiese skeidslyne:

Hot soup on a campfire under the bridge
Shelter line stretchin' 'round the corner
Welcome to the new world order
Families sleepin' in their cars in the Southwest
No home no job no peace no rest
The highway is alive tonight
But nobody's kiddin' nobody about where it goes
I'm sittin' down here in the campfire light
Searchin' for the ghost of Tom Joad.

Ek staan uit my sitplek op en loop na die portaal by die uitgang – luister en kyk van daar na sy groot treffers. Nog mense maak gereed om te gaan – ‘n baie bleek outjie, met sy hande te diep in sy sakke gesteek, kom die trappe opgeloop, ruik na ‘n bekende rookmiddel en glimlag vir almal rondom hom. Hy staan in sy gedagtes seker buite op die Velodrome se dak, die stad aan sy voete ...

Op die verhoog ruil Springsteen kitare.

“Born in the USA”, “Born to run”, “Dancing in the dark”. Hy ruil weer kitare en speel mondfluitjie. Sluit af met “Thunder Road”.

Ek stap uit. Buite maal mense om die bierstalletjie. Die verkeer begin vertrek.

Ek ry terug na my gastehuis. Die selfoon se battery is dood; die GPS kan my nie meer lei nie. Ek mis afritte, sukkel om in bane te kom (Kaapstad het die kakste bestuurders, geen simpatie met verlore siele net voor middernag nie), en word byna ‘n “Wreck on the highway”.

Die liedjies bly woed in my kop, pompend, soos bloed wat deur die are stroom.

Net soms vind ek iets wat tog nog die moeite werd is om in te glo ...

Soos Springsteen oor sy besoek opgemerk het: “It’s been a long time coming.”

Ek het langer as twintig jaar gewag. Hy het 8 000 myl gereis – ek net oor die 2 000 kilometer.

 

  • 12

Kommentaar

  • Monsieur Du Plessis

     

    "Hulle het almal gekom... Ook 'n paar anderskleuriges..." - Hierdie beskrywing laat dit klink asof u iewers (anders) was waar (ander) mense se (ander) velkleur nog belangrik is.

     

    Kobus Faasen

  • Clinton V du Plessis

    Pragtig geskryf! Met sulke lieflike taalbeheer en woordkeuses, kon ek myself ook met die konsert inleef en die musiek selfs aanvoel.

    Dankie

  • Herman Lategan

    Ag Kobus Faasen, for f$ck sake get over yourself. Dis 'n heerlike stuk Clinton, dankie. 

  • Boeta Herman

     

    Dis so amper asof jy my wil wysmaak dat 'anders' 'eenders' is. Clinton het geobserveer en ek het gereageer. Uwe frustrasie is misplaas.  

     

    Doedels

     

    Kobus

     

  • Nice stuk maar as ek mag noem (ek sien party mense hou nie daarvan as ander kritiek uitspreek nie) - hy is 64 (nie 55 nie) en sy jongste album is High hopes

  • Nicolette van der Walt

    Laat jy my nou weer die energie van daardie aand in Velodrome ervaar, Clinton.  Soos jy weet, was ek dieselfde aand as jy daar.  Ek het net vanaf 4 uur in die bloedige son gestaan (my "goedkoop kar" ook, hehehe).  Maar die Springsteen-ervaring was uit en uit die moeite werd!  Dankie vir hierdie besonderse terugkyk deur die oë van jou pen.  Dis so 'n opskryf werd.

  • Hanne, die aangehaalde gedeelte van my artikel verwys na 'n skrywe van my van 26/07/2006; toe was dit Springsteen se jongste album en was hy 55.

     

    Groete

     

    Clinton

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top