Werkverskaffing

  • 0

Op die radio nou die oggend is mense gevra om per SMS hulle mening omtrent hidrobreking te gee.  Diegene wat ten gunste daarvan was het aangevoer dat die storie werk sal verskaf, sommige het so ver gegaan as om die wat daarteen gekant is uit te kryt as selfsugtig want diesodaniges het heel waarskynlik werk en gun niemand anders geluk en welvaart nie.

Hidrobreking gaan nie werk – werk in die ware sin van die woord – verskaf nie want, bo-en-behalwe dat dit slegs tydelik gaan wees, kan bystand aan stropers nie as werk beskou word nie.  As jy ’n huis roof en jy kry ’n klompie ouens van die straat af om jou te help televisiestelle en meubels in jou bakkie te laai is jy nie ’n werkgewer nie.  Op ’n belastingvorm sal inkomste deur hierdie soort ‘werk’ in dieselfde kategorie val as motorkapings, huisbraak, renosterhoringsmokkel, diamantsmokkel en sakkerollery om nou maar ’n paar te noem.  In die Nuwe Suid-Afrika is daar duisende wat ’n inkomste uit hierdie soort van praktyke verdien.

Werkgeleenthede kan nie geskep word nie; werksgeleenthede is ’n gevolg van ’n groeiende en gesonde ekonomie.  Die staat kan wel ’n klimaat skep wat werkgeleenthede tot gevolg sal hê maar werkgeleenthede skep, aikôna.  Deur stropers vrye teuels te gee is egter nie die klimaat skep waarvan hier gepraat word nie, dit maak nie ekonomiese sin nie.  Die groen lig vir hidrobreking word definitief nie gegee vanuit filantropiese oorwegings (werkverskaffing) nie maar eerder weens omkopery (of so iets).

Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top