Vir John Fagoedien

  • 4

Sjoe, John, maar jy deel woes klappe uit.  Daar is egter ‘n paar dingetjies waaroor jy moet besin voor jy sommer so uit die heup uit skiet.

Ek kan my kwalik voorstel dat ‘n man, sy vrou en kinders sou moes toekyk, in die wind en die reën nogal, hoe ‘n stootskraper hulle huis platstoot sonder dat hulle ‘n ander heenkome gebied is.  Maar ek stem saam met jou, dis bitter, hartverskeurend en skreiend onregverdig sou so iets gebeur het.  Die verskuiwings het wel misnoeë, frustrasie en woede veroorsaak, insluitende onder wit boere wat onteien is in die proses om die tuislande te konsolideer.  Hierdie verskuiwings was egter die gevolg van die uitvoer van ‘n beleid en nie om mense rond te foeter of bloot omdat verskuif verskuif is nie.

Die destydse NP het een groot fout gemaak en dit was om die bruines van die kiesersrol te verwyder (en ek is op rekord hier dat ek dit reeds gesê het).  Die bruines se logiese heenkome, anders as die swartes wat grootliks bestaande tuisgebiede gehad het, was saam met die wittes.  Hierdie fout sou in elk geval mettertyd reggestel gewees het.  Die dag toe Tsafandakis (meeste weet van hom as Tsafendas) Verwoerd vermoor het sou hy blykbaar ‘n paar belangrike aankondigings gedoen het en wie weet, miskien sou hierdie regstelling een van hulle gewees het.  Indien nie toe nie, sou dit wel later gebeur het.

So, jy moenie wat Malan of Verwoerd 60-70 jaar gelede gedoen het jou vandag kortwiek nie; enige penarie waarin jy jou vandag bevind het niks met Malan of Verwoerd te doen nie.  Die Indiërs byvoorbeeld, ook ‘forcibly removed’ soos jy dit stel, het gevorder tot die rykste groep in Suid-Afrika, ten spyte van wat Verwoerd en Malan gedoen het en die teenwoordigheid van Afrikaners in die land.

Jy kan ook nie die Afrikaner uitsonder wat verstoot en vertrap betref nie.  Soos ek al voorheen gesê het, indien die Afrikaner om verskoning móét vra vir vergrype van die verlede is hy nie die enigste een nie.  Daar is baie in die tou saam met hom, insluitende swartes en ja, bruines ook.  Ek sê weer, voor hom in die tou is Franse, Portugese, Duitsers, Belge, Xhosas, Zoeloes en nog ‘n paar met die Engelse héél voor (miskien is die enigstes wat nie in daardie tou hoef te staan nie die Boesmans maar ek is nie heeltemal seker nie).  Weer eens, hierdie is glad nie regverdiging vir enige misstappe deur die Afrikaner nie; dit sit net dinge bietjie meer in perspektief.

Nog ‘n paar relevante feite:

Distrik 6 was blykbaar nie daardie romantiese, kleurvolle en pikante plekkie soos deesdae voorgehou word nie.  Dit was ‘n nes, hoor ek, van rampokkery en geweld, ‘n krotbuurt.  Toegegee, dit op sigself is geen rede om die plek plat te stoot nie, dit gee net bietjie van ‘n ander perspektief.

Die paswette en aandklok was maar hoofsaaklik om misdaad te bekamp.  Ook onregverdig, want wetsgehoorsame burgers moes nou uiterste ongemak verduur omdat daar ander is wat hulle nie kan gedra nie.  Gelukkig is daardie reëlings afgestel.  So terloops, as mens nou daaraan dink, Mitchellsplain kan nogal doen met iets soos ‘n aandklokreël om bendegeweld te bekamp.

Wat die ontugwet betref, die kom al van 1927 af, lank voor Malan-hulle.  Hy’s wel aangepas in die 50’s rond maar dis nie ‘n skielike Boere-uitvindsel nie.  En as jy nou mooi dink John, ‘n wet word gemaak om heersende praktyke te bekamp ... jy volg die strekking?  Maar ek stem saam, die ontugwet was ‘n onding; soos sensuur was dit voorskriftelik; mens se eie smake en voorkeure is misken.  Gelukkig is daardie wet geskrap en vandag het ons vrye assosiasie (of het ons?).

Jou brief was na aanleiding van my kommentaar op Pierre de Vos se bewering dat van 1652 tot 1994 is ‘die ander’ verstoot en vertrap.  Jou storie kom van die 1950’s af, rof gereken so 300 jaar na Jan van Riebeeck.

Nou-ja John, tot hiertoe dan, laat weet maar as daar nog iets is of waar ek mistas.

Jan Rap

  • 4

Kommentaar

  • John Fagoedien

    Jan Rap, hoe sê djy nou, ons moet kyk na ‘n paar dingetjies!

    1.”Ek kan my kwalik voorstel dat ‘n man, sy vrou en kinders sou moes toekyk, in die wind en die reën nogal, hoe ‘n stootskraper hulle huis platstoot sonder dat hulle ‘n ander heenkome gebied is.  Maar ek stem saam met jou, dis bitter, hartverskeurend en skreiend onregverdig sou so iets gebeur het.”

    Hel, my baas, waa wás djulle?? Kwalik voorstel?? Djy't seker net Vorster en PW se koerante gelees in 'ie 60’s en ’ie 70’s ?? Sou so iets gebeur het? G'n wonder djy wiet niks van Apartheid af 'ie.

    2. “Die verskuiwings het wel misnoeë, frustrasie en woede veroorsaak, insluitende onder wit boere wat onteien is in die proses om die tuislande te konsolideer.  Hierdie verskuiwings was egter die gevolg van die uitvoer van ‘n beleid…en nie om mense rond te foeter of bloot omdat verskuif verskuif is nie.”

    Dissie uitvoer van BELEID, APARTHEIDSBELEID my baas. Nie om mense rond te foeter nie…?  Drie en ‘n half miljoen mense my baas…?

    3. “Distrik 6 was blykbaar nie daardie romantiese, kleurvolle en pikante plekkie soos deesdae voorgehou word nie.  Dit was ‘n nes, hoor ek, van rampokkery en geweld, ‘n krotbuurt.”

    Waa’t djy gehoor van ‘ie krotbuurt en ‘ie rampokkery in ‘ie ses? Op Vorster en PW se TV? Of dalk Radio NP Suid-Afrika? O wag, ek wiet. Djy was seker toe al 'n follower van Hertzog en Treurnicht.

     8. Wat die ontugwet betref, die kom al van 1927 af, lank voor Malan-hulle.  Hy’s wel aangepas in die 50’s rond maar dis nie ‘n skielike Boere-uitvindsel nie.  En as jy nou mooi dink John, ‘n wet word gemaak om heersende praktyke te bekamp ... jy volg die strekking? 

    Wat issie strekking van ‘ie Immorality Act? Explain daai vi ons? Hoekom is 'it immoral tussen wit en swart, ma' dis fine tussen wit en wit en swart en swart? Explain daai logic? Ek sal dit vi djou explain: Is 'n white superiority act, dis wat 'it is.

  • Daar het jy dit nou Jan. Die sleg moer wittes van die land sal in dag des lewens nie die aksies van die verlede vergeef word nie. Die wittes sal ook vir ewig aan apartheid herinner word. Dit is 'n gegewe. Ons sal maar daarmee moet saamleef, maar gelukkig het ek ander belangrike sake wat aandag geniet. Soos die Ingelse spreekwoord lui, "get over it" en beweeg aan. Ek het geleer dat gemoedsbekakkings en sielewroegings jouself kan vernietig. My pa en ander familielede van my is van grond onteien, en wat daarvan? (So what).

  • Ek gebruik sommer jou nommers soos hierbo
    1 Ek stel dit nou aan jou John, kategories; mense is ‘n alternatiewe heenkome gebied en ‘n sperdatum is gegee.  Ek sal nie stry dat diegene wat hulle afgevee het aan die sperdatum ‘forcibly removed’ was maar dit is iets wat vandag steeds gebeur met mense van alle kleure, wittes word ook uitgesit.  Selfs Mugabe het al krotbuurtes laat platstoot (en ek wonder of daardie mense ooit vooraf kennis gekry het).
    2 Juis, dit was die uitvoer van beleid en NIE vir die lekker, of om mense ongelukkig te maak nie.
    3 Ek sê ‘blykbaar’ en ‘ek hoor’.  Sê jy dus vir my Distrik 6 was wél ‘n vredevolle en kleurvolle area?  Mag so wees maar vertel my dan daarvan.
    8 Die ‘strekking’ wat jy wil hê ek vir jou moet verduidelik is dat daar nie so’n wet sou wees as daar NIE oor die kleurgrens gepomp was nie; en jy pomp nie iemand van wie jy NIE hou nie.  So jou storie van dat die een op die ander neergesien het hou nie water nie.  Hierdie voorskriftelikheid het deur die eeue voorgekom, daar is gelowe wat huwelike met ‘n ander geloof verbied al is die mense van dieselfde ras/volk.
    Ek sien jy swyg oor die feit dat die ook-forcibly-removed Indiërs, ten spyte van wat jy ‘apartheid’ noem, gevorder het tot die rykste groep in SA.  Jy’t ook niks gesê van ‘n aandklokreël wat dalk in Mitchellsplein mag werk om bendegeweld te bekamp nie.

  • Dit is jammer dat daar nog Afrikaners is wat regverdiging probeer beding aan wat nie regverdigbaar was en is nie.

    Die Afrikaner het by uitstek rassisties opgetree met 'n gesindheid van superioriteit gedurende die Apartheidsera wat anderskleuriges moreel en materiaal te nagekom het.  Ek weet, want ek was deel daarvan.  Almal weet dit vandag.  Die wêreld het dit al lankal geweet, die dat hulle rassisme 'n strafbare menslike oortreding verklaar het.  En so hoort dit.

    Die Waarheid en Versoeningskommissie het dit ten doel gehad dat wat die verskillende partye verkeerd aan mekaar gedoen het, vergewe moet wees sodat ons as nasie, vereenigd kan aanbeweeg. 

    Aan daardie idiaal is sederdien van afgewyk, en die geskiedenis word deur al vandag se botsende partye verkrag vir eie gewin.

    Dieselfde Afrikaners wat teem oor die onreg gepleeg met die konsentrasiekampe van meer as 100 jaar gelede, wil die onreg deur Afrikaners  gepleeg aan anderskleuriges probeer wegpraat, selfs probeer regverdig. Ek sê "sies".

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top