Vir Angus oor miljard en biljoen

  • 0

Ek verwys na jou brief van 19 deser. Ek haal jou aan:

Ek verstaan nou nie mooi wat jy wil hê nie. Moet ALMAL (dis nou Engelse, Franse, Duitsers, Afrikaners, ens) die woord biljoen (of wat die vorm van die woord ook al in hulle taal is) verban? Of moet hulle terugkeer na biljoen wat 1 en twaalf nulle geskryf word omdat dit grammatikaal korrek is?

Die antwoord op jou vraag is natuurlik “natuurlik!” Hoe kan ek, of enigiemand, nou ‘n voorstander van verkeerde gebruik wees. ‘n Syfer een met nege nulle is ‘n miljard (die Engelse hou blykbaar nie van ‘milliard’ nie, hulle sal maar ‘thousand million’ moet gebruik maar dis hulle probleem) en om dit ‘n ‘biljoen’ te noem is verkeerd; soos jy self sê hierbo, ‘n een met twaalf nulle is grammatikaal korrek.

Dan wil jy ook weet hoe ek ALMAL gaan dwing om na my pype te dans. Ek is nie die pyper nie; korrekte grammatika en wiskunde is. As ek jou daarop wys dat een plus een nie drie is nie maar twee dan is daar nie sprake daarvan dat ek wil hê jy moet na my pype dans nie; ek wys jou bloot op ‘n fout.

En soos ek jou laas vertel het, net soos foutiewe gebruik aanvaarbaar weens gebruikerstal geword het, so kan korrekte gebruik ook heringestel word as onnies, redakteurs, proeflesers en dies meer doen waarvoor hulle betaal word. Vreemde woorde word gereeld ingevoer deur sekere belanghebbendes, dink maar aan ‘leerders’, ‘wittes’ en ‘Afrikaanses’ om nou maar net drie te noem en binne ‘n kwessie van ‘n paar weke is dit ingeburger. Dieselfde kan gedoen word wat betref korrekte gebruik.

Jy wil graag weet waarom ek so absoluut seker daarvan is dat taal nie geëvoleer het nie. Wel Angus, ek is nie absoluut seker nie; om die waarheid te sê, ek weet nie. Wat ek sê is dat ek die verskynsel van eenvoudiger-wordende grammatika sien as verval en nie evolering nie. As mens ekstrapoleer (eintlik ‘tru’-poleer) vanuit hierdie beginsel dan lyk dit of taal op ‘n manier klaargemaak aan ons gegee is en ons besig is om dit te verwaarloos, byna soos wat met erfgoed gebeur.

Aan die ander kant nou weer, sou hierdie grammatikavereenvoudiging wel vordering verteenwoordig, en nie verval nie, soos jy beweer, dan is taal besig om te evoleer. Dan egter, is dit nogal ‘n probleem (of ‘n uitdaging, ook een van die nuwe NSA-begrippe) om te verklaar hoekom ‘n taal van ‘n gegrom en ‘n geblaf ontwikkel het tot iets met naamvalle, verbuigings ens net om dan verder te ‘ontwikkel’ tot waar dit op ‘n stadium voorheen moes gewees het.

So, klaargemaak gekry is onwaarskynlik, ek gee toe ( veral as jy nie glo dat daar yljinbesoekers is nie) maar dat aflê of verwerp van aspekte van grammatika taal-evolusie verteenwoordig, veral gegee die mens se inherente teenstand teen kalorieverbruik, is vir my nog onwaarskynliker. Maar, soos ek sê, ek is nie seker nie, ek is vatbaar vir oortuiging. Miskien is die waarheid ‘n kombinasie van die twee uitgangspunte.

Met William Bullokar (wie hy ook al mag wees) skiet jy jouself eintlik in die voet. Bullokar het nie struktuur aan Engels gegee nie; hy kon dit aan die hand van Latyn identifiseer, die struktuur was reeds daar. Die mense het nie begin anders praat na Bullokar nie. Mense het byvoorbeeld vir jare geleef sonder om te besef hulle het ‘n bloedsomloop. Jy het nie kennis van die bloedsomloop nodig om te lewe nie maar kennis daarvan kan jou lewensgehalte verbeter, net soos kennis van grammatika kan help om goeie taal te handhaaf (vgl Pygmalion).

Jou voorbeeld van Nederlands na Jan van Riebeeck se aankoms in die Kaap hou ook nie water nie. Jy beweer Nederlands het begin afwykings toon om AAN TE PAS by nuwe omstandighede. Jy’s verkeerd, daar’s nie sprake van aanpassing nie; dit was afwykings WEENS die nuwe omstandighede soos hoofsaaklik gebrek aan onderwys; dus gebrekkige kennis van grammatika.

Dit is wel soos jy sê dat die gesproke woord eers kom en dan word dit geskryf maar dit het met grammatika niks te doen nie. Die gesproke woord is taal en taal is nie net woorde nie, dit is grammatika (struktuur) ook. Skrif (die geskrewe woord) is maar net ‘n manifestasie van die vindingrykheid van die sprekers (sommige van hulle) om die taal te boekstaaf, grammatika en al. Jy kan byvoorbeeld nie ‘n ander taal praat of skryf deur ekwivalente woorde te gebruik nie; jy moet darem van die grammatika ken om jouself verstaanbaar te maak.

Groetnis
Jan Rap

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top