Vir Angus (en Dirk) oor Grammatika en Taal

  • 2

Angus,
In jou kommentaar onderaan my brief van 30 Januarie sê jy een of ander taalgeleerde hoor hoe mense praat en “[h]y bestudeer hierdie taal en sy struktuur, en dan skryf hy ? grammatika vir hierdie taal.”

Hy kan godsonmoontlik nie ‘n grammatika vir daardie taal skryf nie want die grammatika is reeds daar, dit is hoekom hulle, die mense, kan kommunikeer. Hy skep niks nie want die mense praat nog steeds soos hulle gepraat het vóór hierdie taalgeleerde se verskyning; hy’t bloot hulle reeds bestaande manier van praat opgeteken, ten boek gestel. Hoe hulle verbuig, vervoeg, met ander woorde hulle taal se grammatika, opgeteken.

Miskien as ‘n poging tot standaardisasie (Bullokar se beweegrede as ek dit nie mis het nie), miskien bloot uit belangstelling, wie weet. Die feit bly bestaan dat, wat hy opgeteken het, is wat die mense gepraat het; hy het niks uitgedink nie, net gegroepeer, georden, rangskik, die soort van ding en dit dan opgeteken vir verwysing vir die wat te ver dwaal (vgl Eliza Doolittle) of vir diegene wat daardie taal wil leer.

Die feit dat ‘n mens nie weet dat hy nou die datief gebruik nie, of die lydende vorm of wat ook al het niks met die prys van eiers te doen nie. Jy hoef nie die grammatikaterme te ken om ‘n taal te praat nie maar jy moet die grammatika ken anders kan jy daardie taal nie praat nie. Ek hoef nie te weet dat wat ek nou inspan, sê, ‘n byvoeglike bysin is om einste te gebruik nie.

Die taalgeleerde kan wel vir my sê “jy het nou net ‘n byvoeglike bysin gebruik” en ek sal vir hom sê “Het ek? Dis nou interessant.” Jy het tog self die voorbeeld aangehaal van julle bediende wat Afrikaans kan praat maar sy ken g’n enkele grammatikaterm nie. Dit verhoed haar egter nie om die grammatika reg te gebruik nie; anders kan julle nie sê sy kan Afrikaans praat nie.

Jy wou ook weet wat ander mens-manifestasies is na aanleiding van my stelling dat taal eerder die manifestasie van menswees is as wat taal die mens maak. Ek sou sê sekere emosies, soos sin-van-self, waaronder selfbewustheid en skaamte tel. ‘n Seekoei byvoorbeeld sal ontlas in die openbaar en die ander seekoeie dink daar niks van nie; ‘n mens sal dit nie doen nie. Ook tegnologie; daar is wel diere wat gereedskap gebruik maar deur die millenia het dit tot nog nie tot ‘n tegnologie gelei nie.

Wat betref dink in ‘n taal, soos Dirk ook beweer. Mens dink nie in ‘n taal nie en taal orden ook nie denke nie, taal (onder andere) word gebruik om denke oor te dra. Ek het ook ‘n tekening genoem en daarmee bedoel ek nie strokiesprente of kunstekeninge nie, ek bedoel werkstekene soos ‘n huisplan of so iets, of bladmusiek om die wysie in jou kop oor te dra.

Dirk sê ook “So bv "dink" ek "een plus tien is elf". Hoe anders kon ek hierdie berekening doen sonder taal?” Die waarheid is hy wéét 1+10=11 lank voor hy dit in woorde kan omsit. Dit het al met almal van ons gebeur dat iets jou te binne skiet, in ‘n breukdeel van ‘n sekonde, en sou iemand jou vra wat jou nou dááraan laat dink vat dit minute om jou gedagtegang in taal om te sit.

As jy op daardie manier moes dink het dit jou net soveel tyd gevat om daaraan te dink as wat dit geneem het om dit te vertel. Buitendien, babas het nie taal nie maar hulle kan dink, so ook diere. Dink maar aan ‘n luiperd wat besluit om toe te slaan, hy dink nie “hierdie drie meter is naby genoeg om te spring” nie.

Nou ja, in hierdie sin dan.

Jan Rap

  • 2

Kommentaar

  • Beste Jan,

    Haai, ek het nooit daaraan gedink nie! Jy skryf:

     "Hy kan godsonmoontlik nie ‘n grammatika vir daardie taal skryf nie want die grammatika is reeds daar."
     
    Ons sal onmiddellik vir prof. Ponelis moet laat weet dat nie een van sy grammatikaboeke wat hy vir Afrikaans geskryf het bestaan nie, want hy kon hulle godsonmoontlik geskryf het. Afrikaans het mos 'n grammatika.
     
    Jy sê emosies soos skaamtegevoel maak van 'n mens 'n mens? My Boerboel gaan ver van die huis af, agter 'n boom waar niemand hom kan sien nie, sy dingetjies doen. Ek sou vir hom kon sê dit maak van hom 'n mens. Net jammer hy kan nie verstaan nie, want hy het nie taal nie. Ek het al heelwat rondgery en al 'n hele paar keer gesien hoe mense langs die pad stilhou, hulle broeke aftrek en hulle dinge doen. Sou jy sê hulle is nie mense nie?
     
    As mense nie met mekaar kon praat nie, hoe verwag jy dan enige ontwikkeling van tegnologie by hulle?
     
    As mense nie met mekaar kon praat nie, sal hulle kwalik met 'n stokkie in die sand kan teken, wat nog te sê tekeninge en werkstekene. Waar gaan hulle potlode, penne, papier vandaan kry? Al sou 'n bo-aardse wese vir hulle 'n huisplan gee, sal hulle niks daarmee kan maak nie. Waarmee gaan hulle die huis bou en hoe gaan hulle dit bou as niemand kan praat nie? 
     
    Musieknote? Jy verwag darem baie van mense wat nie kan praat nie. Selfs al sou 'n bo-aardse wese vir hulle musieknote op 'n papiertjie gee, sal hulle nie eens weet wat dit is nie. Daar is niemand om vir hulle te leer wat dit is nie, want hulle en niemand kan praat nie. 
     
    As niemand kon praat nie, wat sou jy in elk geval gemaak het daarmee as jy geweet het 1+10=11?
     
    Babas en kleuters het 'n kragtige taalvermoë. Slegs blootstelling aan 'n klein bietjie taal elke dag, stel hulle in staat om 'n uiters ingewikkelde taalstelsel baas te raak. Sonder hierdie taalvermoë sou hulle niks meer as klein apies gewees het nie. 
     
    Net so 'n slotopmerking: "Hy kan godsonmoontlik nie 'n grammatika vir die taal geskryf het nie want die grammatika is reeds daar," is 'n contradictio in terminis.
     
    Soos jy kan sien, ek het verstaan wat jy bedoel: "Hy kan godsonmoontlik 'n grammatika vir daardie taal geskryf het, want die grammatika is steeds daar."
     
     'n Goeie begryper het 'n halwe woord nodig.
     
    Groete,
    Angus
     
     
  • Beste Angus,  

    Moet nou nie slinks, slu, skelm en glibberig wees nie; dis nie mooi nie.  Na aanleiding van my stelling dat niemand ‘n taal se grammatika skryf nie aangesien dit reeds daar is, skryf jy:  

    "Ons sal onmiddellik vir prof Ponelis moet laat weet dat nie een van sy grammatikaboeke wat hy vir Afrikaans geskryf het bestaan nie, want hy kon hulle godsonmoontlik geskryf het. Afrikaans het mos 'n grammatika."  

    Ek het nooit gesê dat niemand ooit ‘n grammatikaboek kan skryf nie.  Prof  Ponelis het dalk ‘n boek oor Afrikaanse grammatika geskryf, of met Afrikaanse grammatika as onderwerp, soos hy ook ‘n boek oor swaartekrag sou kon skryf.  Maar Afrikaanse grammatika en swaartekrag het bestaan voor die prof se boeke verskyn het.  Weer eens, dit lyk my jy verwar grammatika met ‘n grammatikaboek.  

    Jy skryf:  

    "Jy sê emosies soos skaamtegevoel maak van 'n mens 'n mens?"

    Vals, ek het dit nooit gesê nie.  In my antwoord op jou vraag wat enige verdere manifestasies van menswees kan wees het ek gesê sekere emosies, soos sin-van-self byvoorbeeld, waaronder iets soos skaamte kan tel (sou seker meer korrek gewees het om te sê sekere gewaarwordinge soos sin-van-self waaronder emosies soos skaamte tel).  Hoe dit ookal sy, ek het nie gesê skaamtegevoel maak van ‘n mens ‘n mens nie; dis weer een van jou strooipoppies.  

    Wat jou Boerboel betref; hy’s maar net goed geleer of gekondisioneer.  Sou jy ver gaan stap met hom, en hy ‘n groot behoefte het, sal hy nie tweekeer dink om sy ding op die sypaadjie te doen nie.  

    Jy mag wel mense sonder skaamte sien optree het en jy baseer nou jou hele betoog dat ek sou beweer het dat ‘skaamte’ van ‘n mens ‘n mens maak. Ek het so iets nooit gesê nie, ek het jou vraag geantwoord en gepraat van sekere emosies, nie net skaamte nie. Laat ek dit dan vir jou meer verstaanbaar maak:  Dit is nie slegs taal, soos dit blyk jy dink, wat van ‘n mens ‘n mens maak nie.  

    Jy vra:  

    "As mense nie met mekaar kon praat nie, hoe verwag jy dan enige ontwikkeling van tegnologie by hulle?"

    Waar kom jy aan hierdie vraag?  Het ek ooit gesê mense hoef nie met mekaar te praat nie?  Ek sal jou egter dít sê:  ‘Praat’ is nie die enigste vorm van kommunikasie nie soos dit weer eens vir my lyk jy dink nie. Gehoorgestremdes byvoorbeeld kan nie praat nie maar hulle verrig hul dagtake net soos enige ander mens.   

    Hulle kan, anders as wat jy dink, wel  “...met ‘n stokkie in die sand teken...” en hulle weet 1+10=11.  Hy kyk byvoorbeeld na ‘n wiskundige formule en weet oombliklik wat dit beteken, hy hoef nie in Afrikaans (of Duits of Engels) eers vir homself te vertel , sê, die intergraal vir x van nul tot een van hakies een plus x kwadraat oor hakies 1 plus x tot die mag vier, nie.  

    Musieknote is ‘n goeie voorbeeld van hoe mens nie in ‘n taal dink nie. ‘n Goeie musikant kan na die stel simbole (bladmusiek) kyk en die wysie, by wyse van spreke, hoor.  

    Dat  baba’s en kleuters ‘n kragtige taalvermoë het betwyfel ek nie; ek het nooit gesê dat hulle nie het nie as dit is hoekom jy die stelling maak.  

    Dankie vir die reghelp met die verkeerde ‘nie’ (maar jy moet darem onthou ek het lank in konstruksie gewerk; ons gebruik selfs die dubbele negatief met ‘n anglisme soos ‘f#kkol’, soos in “ek laaik die voorman f#kkol nie”).  Maar weer eens dankie; dis een ma se blaps gewees daardie.  

    Maar al bogenoemde opmerkings en vragies van jou is harinkies gebou uit rooi strooi; die werklike kwessie is:  Niemand skryf ‘n taal se grammatika nie; dit is reeds daar.  Daarsonder kan die taal nie gepraat word nie.  Hulle kan dit wel opteken, strukture identifiseer, orden, pogings aanwend om dit te standardiseer ens. 

    Maar ek dink jy weet dit; jy’t net sommer gestry omdat stry stry is.  Ek haal jou aan:

    “ ... terwyl ek en Jan Rap al daardie taalvermoë verloor het.  Ons moes maar Duits en Latyn dmv die grammatika aanleer.” (my vetskrif, opmerking onderaan jou brief van 19 Januarie 2015)  

    Daar is wel mense wat ‘n grammatika van voor af uitgedink en geskryf het, ‘n ou soos doktor Zamenhof byvoorbeeld wat die kunsmatige taal Esperanto ontwikkel het maar dit is ‘n ander saak (snaaks genoeg, Esperanto het naamvalle).  

    Groetnis  

    Jan Rap    

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top