Verskille

  • 0

As mens elke dag met die mensdom en al sy variasies te doene kry is dit dikwels nie die berge wat jou opval nie maar soms eerder die gewone hobbels, om arme ou Garfield so skeef aan te haal. As jy dan ook daagliks met die variasies te doene het is dit dan ook die hobbels wat jou dag kan maak of breek. En mens dankbaar laat dat almal nie so is nie.

Jy kan jou horlosie stel volgens sommige mense se tydigheid. Soos mev B wat klokslag opdaag, elke Saterdag vir haar gewone beste uit die oseaan. Of die Duitsers wat in hul gewone groepe opdaag en streng volgens hul horlosie dinge doen. Niemand kan die Duitsers ooit blameer dat hulle van Afrika-tyd afhanklik is nie.

Mev X, vir een hou nie van enigiets wat rou is nie. Nie eens biltong nie. Sy gril vir goed wat beweeg en is sover ek weet 'n vegan. Nie dat dit saak maak nie maar sy is ook ver van wit af. Maar haar man is. En haar klogoete iewers tussenin. Algaande raak sulke huwelike ook meer en meer die norm en elke ou se saak is mos maar sy saak is dit nie? Haar klogoete egter, jonge manne skaars groot genoeg om gelyk te kyk met die deursnee tafel het die rou seegoete so 'n kyk gegee die eerste dag wat ek hulle gewaar het en Mev X het aan hulle beduie wat dit is en hoe dit werk en dat hulle welkom is om dit te probeer. Met bietjie swart peper en 'n druppel suurlemoen....Nou sit sy met 'n vaste bestelling en geduldig staan sy elke dag en gril en toekyk hoe sy haar klogoete gewoond gemaak het aan iets waarvoor sy gril en waarvoor sy uiteindelik baie sou betaal. Want vir mense wat op so 'n jong ouderdom iets vreemds waardeer vra jy nie geld nie. Jy gee dit omdat dit jou voorreg is.

Dan, op die ander hand, die nuwe generasiegeslag. Kort rokkies, designer selfoontjies, lelike skoene en deurskyn-toppies. Weliswaar nie in- of uitgeteel nie maar trots iets wat na Afrikaans klink. As die selfoon die dag weg van die oor is en die goetertjies kort sinne uiter omdat poh of moh aandring dat hulle tog net moet prot, of praat vir ons gewone mense.

Sit en kyk vandag die petalje hoe middelklas poh en moh vir selfoon lelike rokkies probeer oortuig om die beste uit die oseaan af te sluk. Die goed gril en ril en juig en trippel en staan en dans vir die selfie want net een keer in jou lewe kry jy die kans om vir jou maters in Waterkloof of Stellenbosch te wys dat jy dapper is. Of was. En 'n selfie is 'n selfie al is dit net 'n selfie wat jy net een keer in jou designer lewe kan inpas.

Die arme dingetjie wat niks beter ken as selfoon kennis nie draai en gil en ek sien sy sien sy het skielik 'n skare wat uiteindelik hul vergaap aan wat besig is om in 'n spektakel te ontwikkel en skares is groot as jy in 'n Fortuner rondrits en jou vergaap aan iets wat nie uit 'n golf-estate drieverdieping gehug verrys het nie. Pa raas en rumoer en mammie met die lelike haarstyl moedig aan want sy vat elke beweging vas. Posterity.

"Hoe eet mens die ding?"

(Sug) "Soos wat jy enige ander kos vreet."

"Ja maar moet ek die ding kou ... ?(Nog gilletjies en ek’s verbaas de arme dingetjie pis haarself nie nat nie.)

"(Sug) Verbeel jou dis 'n Panado. Sit die ding in jou mond en sluk hom net af ... jou ma het destyds gesluk anders was jy nie hier nie ..." (en toe sit ek weer in 'n penarie met my groot bek wat nie dink voor ek praat nie ...)

"Dit sal R15 wees, baie dankie," beduie ek na die dude wat hierdie goed grootmaak. En hy hoes. Want dis sy lot as hy nie sy klogoete reg kan grootmaak nie. Of, wel, soos die spreekwoord grootmaak.

Mevrou X met die wit man en halfwit klogoed stap later verby en ons lag want sy beduie dat sy gesien het ek sukkel met die goed maar dat ek nog oraait af is want ek wil nie weet hoe die jong suiwer Afrikaanse meisietjies gereageer het by antie F met die wêreldberoemde olywe nie. Sy beduie dat toe Antie F vir die Waterkloof (of Stellenbosch) meisietjies en hul ouers beduie het hoe mens olyfolie moet proe die arme goedjies bloot weggestap het.

"You can be thankful they tasted your stuff ... they just turned their back on the olive oil ..."

En toe besef ek die verskil. En nou weet ek waarom die swakste produkte altyd die topverkopers is en sal wees. Want jy het sekerlik geen keuse oor wie jy is nie, maar dit wat jy wil of gaan wees is jou eie besluit. Of is dit?

oester

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top