Verontregting

  • 4

Beste Jan Rap, jou brief van 13 April verwys (https://www.litnet.co.za/Article/brief-beelde-woede-en-wraak).

Jan, jy stel my sommer aan die begin teleur. Verwys sowaar na “UCT-studente”, ipv UK-studente.

Wat die swart verontregting betref: dit word algemeen geglo, dikwels op grond van valse propaganda, dat alles die blankes se skuld is [ek hou nie van die vertaling 'white' = 'wit' nie]. Basies is die swart argument: “Ons het as gelykes begin en ons is nou agter omdat daar teen ons gediskrimineer is – daar is geen verskille nie, afgesien van ons velkleur.” Dis die GROOT leuen. Hierdie mense was ver agter in terme van westerse ontwikkeling toe Jan van Riebeeck geland het en eers 120 jaar na sy landing het die eintlike blanke kontak met die groot swart meerderheid ’n aanvang geneem. Die kontak was dikwels minder aangenaam vir albei partye, maar as ons nou terugkyk lyk die resultate belowend (vanselfsprekend was en is daar risiko's). Die blankes kon vinniger vorder met hulle bedrywighede in die land agv baie goedkoop arbeid en die swartman en vrou het geweldig en vinnig geleer van huiswerk, landbou, mynbou, godsdiens, lees en skryf, ens. Afgesien van Fort Hare Universiteitskollege en 'n klein groepie uitsonderlike studente, het swartes se akademiese bemagtiging eintlik met Hendrik Verwoerd begin.

Daar is talle swartmense wat trots kan wees op wat hulle reeds bereik het en blankes behoort die feit te verwelkom. Dat swartmense wel ook redes het om verontreg te voel kan nie ontken word nie. Die verlede kan nie verander word nie – al spoeg iemand op Rhodes se standbeeld verander dit niks aan Rhodes en sy geskiedenis nie. Ons moet kleur ignoreer en slegs vermoëns in ag neem (nie dat dit altyd sal gebeur nie). Natuurlik sal daar stampe en skelwoorde van albei kante wees, maar ons (blank en swart - LW) het na alles slegs een keuse, nl om saam vorentoe te beweeg.

Die noodwendige reaksie is: daar is Afrikaners wat apart wil wees! Dis ook goed. In terme van die land en die verspreiding van die verskillende groepe moet in gedagte gehou word dat 'n eie gebied net vir 'n klein persentasie blankes moontlik is (en hulle moet die reg gegun word). Onthou, dat al sou daar op hierdie punt in die vroeë 1990's ’n werkbare ooreenkoms bereik gewees het, sou die grootste deel van die blanke bevolking steeds in hulle huidige situasie wees, nl onder 'n swart regering, met geen ander keuse nie as om met die meerderheid saam te werk. Samewerking is die enigste opsie, behalwe vir ’n kleiner groep in 'n tuisland, wat effens meer beweegruimte het.

Jan Rap, blank en swart skuld mekaar 'n mooi toekoms. As ons (swart en wit), na werk met ’n bier in die hand lekker gesels sal 99% van ons saamstem dat Zuma moet waai, dat 'n ander (swart) leier sy plek moet inneem, dat ons verdraagsamer moet wees en saam vir ’n voorspoedige Suid-Afrika moet werk. Al ons kinders verdien dit.

George Bekker

  • 4

Kommentaar

  • Beste George

    Ek kan nie eintlik fout vind met wat jy hier geskryf het nie (tensy ek te dig is om tussen die lyne te lees).

    Jy's miskien reg dat ek eerder van UK as UCT moes praat maar is dit nie die naam nie; soos SABC byvoorbeeld? Alles wat Afrikaans is, is mos nou goeters/name non grata.

    Ek gebruik ook gereeld die woord 'blankes' en 'blank' maar Webvoet hou nie daarvan nie; hy/sy verander dit (maar darem na hy/sy my kennis in die verband gegee het). (Blank of blankes is so argaïes. - Webvoet)

    Ek weet nie of jy die strekking van my brief mooi gevolg het nie maar laat ek nogtans opsom: Om nare en lelike goed wat onvergenoegdes aanvang te verskoon (partykeer selfs vergoeilik) is net vet op die vuur. Daar is hoegenaamd geen rede om standbeelde te skend of selfs te verskuif nie, maak nie saak of die standbeeld 'n (gewaande) Britse, Boere- of swartmanvyand is nie. Bo en behalwe die simboliese / geskiedkundige betekenis is dit 'n stuk kunswerk en deel van omgewingsverfraaiing. Ouens wat standbeelde skend (en geboue en voertuie afbrand) is skuldig aan saakbeskadiging waarvoor hulle aan die pen behoort te ry.

    Hierdie ek-verstaan-waar-jy-vandaan-kom-houding onder ouens soos Max en Piet en dominee X en politikus Y val in die pamperlang-klas van optredes en dien net een doel: Dit maak die persoon wat getroos word glo hy word geskuld, hy word dus nog meer die moer in en gaan gooi verf en fekies (nog nie in die woordeboek nie) op als wat hy met wit verbind.

    Juis om hierdie rede is daar nou meer polarisasie as wat daar nog ooit in die land was. Zuma beskuldig nou al vir Jan van Riebeeck en die volgende skurk gaan wees die werwingsbeampte van die VOC wat Van Riebeeck aangestel het, en dan dié se pa. Hierdie storie sal eers ophou as Zuma en sy tjommies onder die besef gebring word dat NIEMAND op aarde enige van hulle ENIGIETS skuld nie. Inteendeel, hulle skuld ons vir die ongerief van beurtkrag, slaggate in die paaie, verval van infrastruktuur, die totstilstandkoming van die hospitaal- en skolestelsel, die verdwene Afrikaanse universiteite en so kan ek aangaan.

    Jan Rap

  • George Bekker

    Dankie Jan vir jou reaksie, nou verstaan ons mekaar goed. Nee, ek “skryf nie tussen die lyne nie.” What you see is what jou get! Sorry dat ek nou Engels skryf – wys net weer hoe die koloniale erfenis ons almal bedinges het.

    Die verwysing na UCT-studente was natuurlik 'n bietjie moedswillig. Die kwessie van blank en wit: My gevoel is dat die oorgang van blank na wit saam met die ANC gekom het. Besef dat die woord 'blank' vir sekere mense argaies klink maar verkies nogtans om die term meestal te gebruik.Ek het my al op 'n kol wit geskrik maar kom ook heelwat in die son om goeie redes. Daaglikse blootstelling aan die son is die beste raad teen depressie en slegs 20 of 30 minute se blootstelling verseker dat mens genoeg vitamien D vervaardig en jou kanse om kanker te kry met 50% verminder (al weer tyd vir 'n brief oor gesondheidsake!).

    Het jou standbeeldstorie reg verstaan. As sekere individue verskonend teenoor die verfgooiers is, is dit ook nog in orde, maar die slappe houding en stadige reaksie van die owerhede is nie te verskoon nie. Terloops, toe ek hoor van die skade aan Ghandi se standbeeld het ek gewonder of dit dalk 'n dom boertjie is wat die oortreding gepleeg het, maar dit is toe 'n swart man. Miskien het hy dit uit totale onkunde gedoen (nie geweet Ghandi was 'n bevryder van miljoene nie) of dalk het hy die Indiër goed uitgekyk! Die hofsaak sal dalk die antwoord verskaf. Gevolglik is 'n mens verplig om elke dag Die Waarheid te lees.

    Moet liewer nie die slapende honde oor Van Riebeeck se werwingsbeampte wakker maak nie! Volgens die vakbonde is dit 'n sensitiewe saak.

    Beste wense van George.

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top