Van der Merwe

  • 1

Elke dekade word deur ons onthou om sekere redes. Byvoorbeeld, die 1990's sal seker eerstens deur almal onthou word oor die groot politieke veranderings. Vandag het ek egter die 1970's in gedagte.

Wat ek veral van die 1970's onthou, is die Van der Merwe-grappe. By elke geleentheid en soms onvanpas is daar met nog 'n Van der Merwe-grap te voorskyn gekom en het die manne dikwels gelê soos hulle lag.

En die rede vir hierdie grappe? Ek dink dit kon net sowel 'Afrikaner grappe' genoem gewees het, want dit was per slot van sake met hulle waarmee gespot is. Om dit nog duideliker te omskryf: die wit Afrikaanse man. Hulle selfvertroue het 'n punt bereik waar daar met hulleself gespot kon word en lekker daaroor gelag is. Mens het amper lus om jouself op die skouer te klop. Die brief is natuurlik ook 'n geleentheid vir só 'n grap.

Die beste een wat ek gehoor het was:

'n Man kom by 'n kroeg ingestap en val sommer by die eerste tafeltjie in, waar 'n paar 'manne' sit. Hy vra dadelik: “Het julle al hierdie Van der Merwe-grap gehoor?”
Iemand vererg hom dadelik en kyk die nuwe aankomeling kwaai aan: “Onthou net my naam is Van der Merwe!”
“Moenie worry nie, moenie worry nie! Ek sal hom baie stadig vertel en ek sal verduidelik sover as ek gaan!”

Is daar dalk iemand wat hierop kan verbeter?

George B

  • 1

Kommentaar

  • 'n Russiese spioen moet sy kontak in Suid-Afrika, Van der Merwe, kom spreek, ernstige sake.  Die ontmoeting is in Brakwater, doer in die platteland waar die Rus toe by die logiese plek, die kroeg, instap.  Die kontakfrase, wagwoord kan jy maar sê, is 'die Kaapse vlakte is baie plat.'
    '"Ek soek mnr Van der Merwe" sê die Rus vir die kroegman na hy 'n vodka bestel het.
    "Hier's baie Van der Merwes," sê die kroegman, "daar's Pyp van der Merwe, die loodgieter, die elektrisiën is Sparks van der Merwe, die apteker is Pille van der Merwe en ek is Dop van der Merwe."
    Die Rus dink hy kan netsowel dié ou probeer, kyk hom diep in die oë en prewel stadig "die Kaapse vlakte is baie plat."
    "O nee", sê die kroegman, "jy soek ou Spaai van der Merwe, daar sit hy in die hoek."

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top