Uitslag: Posisies van Galileaanse mane vir Kobus

  • 6

Kobus

Ek plaas hieronder die uitslag van my waarnemings oor die posisies van Jupiter en die Galileaanse mane (ligstippels soos jy verkies om na hulle te verwys) op die datums en tye soos wat ek in die voorspellings aangedui het.

Hierdie is ’n goeie voorbeeld van ‘die wetenskaplike metode’ deur ’n teorie te stel en die uitslag te voorspel en dit dan aan die praktyk te toets. Indien die sterrekundiges en programmeerders verkeerd was of selfs as die formules en/of databasis wat die program gebruik, die geringste fout gehad het, sou die uitslag van enige soortgelyke voorspellings dit uitgewys het.

Die sketse is maar rofweg met die hand gedoen en vanselfsprekend nie op skaal nie. En  BINGO‼ die voorspellings is soos te wagte was, in die kol. Ek dink selfs jy het dit verwag en daarom het jy dit by voorbaat verwerp, wat jy gegrond het op ’n horde niksseggende irrelevante besware en jy het dit veral gehad oor die kwansuise tekortkominge van die databasis wat die program sou gebruik.

So iets meer oor die databasis waaroor jy so skepties is: Dit is nie, soos die indruk wat jy probeer skep, ’n ellelange lys van die mane se moontlike posisies vir enige tydstip, wat saamgestel is uit vorige waarnemings wat strek oor die afgelope 400 jaar sedert Galileo se ontdekking en wat die rekenaar soos ’n telefoongids kan naslaan om die nodige inligting te bekom nie. Dis gelukkig baie eenvoudiger en soos wat ek alreeds vir jou probeer verduidelik het, bestaan dit slegs uit baie basiese data waarna as ‘orbitale elemente’ verwys word. Om meer presies te wees: In die geval van die Galileaanse mane is daar vir elke maan net 6 parameters (of 7 wanneer dit aan ’n spesifieke epoch gekoppel word, soos wat die geval was wat ons bespreek het), wat as orbitale elemente in die databasis opgeneem is en wat die rekenaarprogram in formules gebruik om die posisies van die mane te voorspel. Natuurlik sal Newton se Universele wet op Gravitasie en/of Einstein se Algemene Relatiwiteitsteorie (wat ’n verfyning van Newton se Wet is), deel van die program uitmaak. Ek het vroeër toe DOS omtrent die enigste bedryfstelsel was, ’n program ‘Dance of the Planets’ gebruik waar jy toegang tot die databasis kon kry en denkbeeldige orbitale elemente kon invoer en so jou eie persoonlike maan kon skep. Myne het altyd na een of twee omwentelinge neergestort of die ewigheid in verdwyn. Miskien is dit die ruimterommel wat jou so pla!

Die twee dowwe sterre, (tussen 13 en 14 magnitude en dus heelwat dowwer as die ‘ligstippels’) in die konstellasie van Cancer, het ek as bakens in my waarneming ingesluit, om aan te dui in watter rigting Jupiter en die ‘stippels’ teen die agtergrond van die sterre beweeg. Hulle is: USNO J0900343+175533 en USNO J0900353+175523.

Iemand moet darem kinderlik naïef wees om te glo dat ruimterommel of optiese illusies of ander ongeïdentifiseerde voorwerpe, jaar vir jaar, sewe dae per week en 24 uur per dag, nou net mooi elke oomblik tussen die aarde en die presiese posisies waar die Galileaanse mane voorspel word, sal verskyn.

Jou aantyging: sic ” Vir die redes hierbo na verwys, blyk dit dat die spulletjie boonop swaar geredigeer en versterk word om die gewenste punt te bewys, baie dieselfde metodiek wat die evolusioniste volg met hulle nuttelose eksperimente om evolusie te bewys” is om die minste daarvan te sê, lasterlik en natuurlik vals. Hoe kon ek dit redigeer sonder vooraf kennis van die posisies van die mane?

Maar dankie vir jou deelname wat bevestiging is van Abraham Lincoln se uitspraak: “Better to remain silent and be thought a fool than to speak out and remove all doubt.”

Panda

sterre

  • 6

Kommentaar

  • Panda

    Ek kan maar net sê: touché.

    Jy het met jou uitdaging en deur hierdie skrywe onse Kosie finaal ontbloot vir die wetenskaplike analfabeet wat hy is. Dis altyd lekker om jou skrywes te lees en te sien hoe keurig jy met die wetenskap omgaan. Soos jy tereg uitwys, het jy 'n teorie geformuleer wat toetsbaar is. Indien jou waarnemings nie met die voorspelling ooreen sou stem nie sou jy sekerlik die eerste een wees om te sê: "ek is verkeerd" en dadelik jou teorie, volgens die nuwe data aanpas. Die resultate het jou teorie 100% ondersteun en dus aanvaar ons jou teorie as geldig. Die wetenskaplike metode is elegant en soek slegs die waarheid.

    Kobus se godsdiens hersenskimme is juis die teenoorgestelde. Hy het allerhande teorieë maar kan glad nie op grond van sy teorieë voorspellings maak nie. Sy teorieë is dus glad nie toetsbaar nie omdat alles wat hy beweer iewers in 'n bonatuurlike wêreld plaasvind. Hy voorspel byvoorbeeld dat hy hemel toe gaan en ons hel toe, maar onse Kosie kan glad geen bewyse vir sy voorspellings verskaf nie en dis natuurlik nie kontroleerbaar nie omdat dit na ons dood gaan gebeur! So ontsettend gerieflik!

    Kobus het eendag hier op die Sê beweer dat hy flessies met olie gevul het en dat die flessies nooit leeg geraak het nie. Kom ons vra hom nou hier op die Sê om ons op 'n gegewe dag voor die parlementsgebou te kry en dan demonstreer hy daai flessies vir ons. Ek is bereid om dit met 'n videokamera af te neem en dit hier op die Sê te plaas. As sy flessie nie leeg word nie sal ek op die voorblad van die koerant van sy keuse, 'n amptelike verskoning plaas. Indien die flessie wel leeg word moet Kobus net hier op die Sê erken dat hy 'n swendelaar is.

    Groetnis
    Thomas

  • Thomas,
    Dankie, vir jou kommentaar.
    Wat betref jou uitnodiging met gepaardgaande redelike voorwaardes: Kobus is baie voorspelbaar en ek twyfel nie daaraan nie dat hy dit van die hand sal wys. Indien hy dit aanvaar, wil ek dit vir niks in die wêreld misloop nie.
    Groetnis
    Panda

  • Dit wil voorkom of die gegrawery van Kobus waarteen George en ek hom gewaarsku het, sy tol geëis het en hy toegeval is onder in die gat.

  • Kobus de Klerk

    Julle verstaan steeds nie die besware wat ek weergee nie.

    Panda, jou eksposisie is mos baie voorspelbaar, jy het dit mos voorspel. Nou kom jy en jy stel dit vir ons grafies voor.

    Hoe eenvoudig kan ek die beswaar wat ek weergee, nog stel? Ek het nooit ontken dat julle wel iets sien nie. Wat ek wel vir julle voor die deur lê, is dat julle moet bewys dat dit wat julle wel sien, is wat julle beweer dit is en nie dalk iets anders wat op daardie plek van tyd tot tyd sy/hulle verskyning maak nie.

    Dit kon julle gewoon nog nie regkry nie, en herhaal maar net gewoon keer op keer die ou holrug geryde teorie, welke niemand probeer korrek bewys nie, omdat daar nie 'n manier is om dit te doen nie. Dit is wat die wetenskaplike metode van julle verg en wat julle nie aan kan voldoen nie.

    Net soos met Thomas en die olie waarvan ek gepraat het. En soos gewoonlik, lieg hy ook (so gereeld, lyk my hy kan nie anders nie). Ek het nie gesê dat ek die flessie met salfolie gevul het nie, maar dat die HERE dit laat gebeur het.

    Daar was nog talle ander voorbeelde ook van Goddelike ingryping waarvan ons getuies is, welke ek nie eens hier sal openbaar nie, want ek het bemerk met Thomas se sinnelose insiglose en onkundige aanmerkings daaroor, dat hy - en julle wat soos hy is sekerlik dan ook - geen benul het waaroor dit gaan nie en ook nie (kan) verstaan nie.

    Thomas se onkundige en insiglose aanspraak en uitdagings is juis kennelik daarvan. Jy sien, julle is behep met fabels en mites. Net in fabels en mites is daar goed soos towenaars wat kamstig bonatuurlike dinge vermag. Maar die werklikheid is dat dit is nie onder beheer of in die vermoë van die mens self om dit te laat gebeur nie. Die HERE vermag dit en doen dit vir SY doel op die oomblik dat HY dit laat gebeur. So ook met die vermeerdering van die olie en ander nodige dinge, soos HY dit nog al die eeue heen laat gebeur het (2 Konings 4:1-7; Mattheus 16:7-10; Markus 8:1-21, ens). Die HERE doen dit in die teenwoordigheid van SY heiliges (Josua 3:5) vir SY heilige doel en beslis nie as skouspel of vertoon vir diesulkes soos julle nie (Mattheus 16:4) - julle is kennelik die slegte en owerspelige geslag (in Spirituele sin) waarna die HERE verwys waarvoor daar geen tekens sal wees nie, behalwe die teken van Jona, wat julle ook nie verstaan, erken of respekteer nie ...

    So, julle grootpratery ten spyt, kon julle niks vermag nie.

    Kobus de Klerk

  • Kobus,
    Met die Galileaanse mane-aangeleentheid nou hopelik ter ruste gelê met die bewyse waarop jy aangedring het , afgehandel, is daar nog ’n paar uitstaande kwessies. Jy het vir my ’n direkte vraag gevra en ek het vir jou ook ’n paar. Ek sal eerste jou vraag antwoord:
    • Jy wou weet of dit werklik Jupiter is wat deur die ruimtetuie afgeneem is: Ek het geen twyfel nie dat dit wel Jupiter is. (Moenie vir my vra om dit te bewys nie. Vra vir NASA !)
    • O ja — jy wil ook weet op grond waarvan ’n voorwerp genaamd Pasiphae wat ongeveer 735 dae neem om eenkeer om Jupiter te wentel, as ’n maan van Jupiter geklassifiseer word? Jy is klaarblyklik onbewus daarvan dat alle voorwerpe wat om planete wentel per definisie mane of satelliete van die planeet is. Jy het dus self die antwoord in jou vraag gegee.
    Nou ’n paar vrae vir jou na aanleiding van oa die volgende argument van jou in jou kommentaar van 29 Maart: sic “Maar dan moet jupiter se omgewing oor 'n tamaaie sleurkrag asook die intense bestraling beskik wat sal verhoed dat ruimtetuie 'naby' kan kom sonder om vernietig te raak en uitsending van radioseine onmoontlik maak.”
    • Hoekom spel jy Jupiter deurgaans met ’n kleinletter j maar Kobus met ’n hoofletter K?
    • wat beteken sleurkrag? (net ’n definisie sal voldoende wees)
    • hoe word sleurkrag bereken? (net die formule asb)
    • Is daar ’n verband tussen sleurkrag en swaartekrag?
    • wat bedoel jy met die intense bestraling waaroor Jupiter volgens jou sal moet beskik?
    • Op watter wyse sal die eienskappe wat jy noem, nou ’n ruimtetuig kan vernietig?
    • hoekom sal dit die eienskappe wat jy noem, uitsending van radioseine onmoontlik maak?
    • wat beteken ‘illuminasie-kwaliteite’? In die sin waar jy dit gebruik lei ek af dat jy daarmee bedoel ‘die vermoë om die son se lig te weerkaats. ‘Albedo’ is tog basiese terminologie in Sterrekunde, wat gebruik word vir die vermoë van ’n voorwerp (gewoonlik planete, komete, mane of voorwerpe in die asteroïde-belt) om die son se lig wat daarop skyn te weerkaats. Bv: ‘Omdat Venus in ’n permanente wolkelaag gehul is, is sy albedo baie hoog en weerkaats dit 67% van die sonlig wat op hom skyn. En as gevolg van die aarde se ys op sy pole en oseane en wolke, is sy albedo baie hoër as die van die maan.
    Ek sluit my korrespondensie oor hierdie onderwerp met jou af met erkenning aan George Bekker vir die volgende aanhaling “The greatest obstacle to enlightenment is not ignorance – it is the illusion of knowledge." – Daniel J Boorstin.
    Panda

  • Beste Kobus,
    Dit lyk my jy wil maar nie leer nie. Ek het al so vele male mooi aan jou verduidelik wat ʼn mite en ʼn fabel is, en dan kom jy met hierdie twak vorendag: “Net in fabels en mites is daar goed soos towenaars wat kamstig bonatuurlike dinge vermag.” Kom ek help jou vir die soveelste keer reg.

    ʼn Mite is ʼn oorgelewerde verhaal uit die oertyd wat ten grondslag lê aan die godsdiens en die wêreldbeskouing van ʼn volk. Primitiewe volke het natuurverskynsels personifieer en as goddelike wesens voorgestel. In so ʼn verhaal tree diere, en plante op as mense. Bome, slange en esels kan praat. Die mite is dus volkome ʼn produk van die menslike verbeelding. (Geen towenaars nie!)

    Die fabel is ook ʼn vertelling waarin diere, bome en plante as handelende wesens optree. Albei die fabel en die mite is didakties van aard, maw lerend van aard. (Moet nou nie weer met die storie kom dat ek nie weet wat didaktiek beteken nie. Daar is ʼn verskil tussen didaktiese kuns en didaktiek.)

    Vertel vir my ook die storie van die flessie olie. Soos ek verstaan, het jy ʼn leë flessie êrens neergesit, en toe het God hom vir jou vol olie gemaak. Merkwaardig! Het jy gebid daarvoor of het die ou dit sommer so vanself ongevraagd volgemaak? Hoe weet jy dis nie jou vrou of iemand anders wat jou ʼn poets wou bak nie? Kobus, jy het hier ʼn goudmyn. As jy hierdie truuk kan vervolmaak, kan jy ons heeltemal onafhanklik van die buiteland maak. Ek stel voor al ons SêNetters stig so ʼn oliemaatskappy, en ek belowe jou, Thomas en Panda en ek sal jou nooit weer pla oor Jupiter se mane of die parallaksfout nie.
    Groete,

    Angus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top