Destyds, na my weermagstorie, het ek by ‘n ingenieur gewerk wat sy M-graad in Engeland gaan kry het. Hy het vir my gesê dat, as ek ooit eendag ‘n oorsese vakanasie kan bekostig ek nie Engeland toe moet gaan nie want, behalwe vir die weer, is dit net soos by die huis. Selfde tee, selfde teetye, selfde gewoontes, alles (dit geld seker veral vandag met dié nou dat Engels die amptelike taal hier is).
So, ‘n toeris WIL nie tuis voel nie anders het hy mos tuis gebly. ‘n Toeris toer om vreemde dinge te sien, nuwe kulture te ervaar, die soort van ding. Die argument dat alles hier Engels moet wees terwille van die toeris is dus ‘n vergryp. Ek sal dit byvoorbeeld haat om Rusland of Duitsland of Vatikaanstad toe te gaan en alles is Engels, of na Engelse dreunsang in Tibet te luister; dis mos nou nie waarvoor ek gaan toer het nie.
Om ‘n toeris ‘n ware toeriste-ondervinding te verskaf in Suid-Afrika moet Afrikaans weer in ere herstel word, veral in die wildtuine en ander bewaringsgebiede. Afrikaans is die taal van die veld soos die Engelssprekende Hobson-broers ook sê; hulle het selfs hulle dierestories in Afrikaans geskryf.
Afrikaanse herbergiers, restouranteienaars, hoteleienaars, wildsplaaseienaars en so aan se spyskaarte, inligtingsbrosjures en dies meer sal weer in Afrikaans wees en die toeris sal voel hy was in Suid-Afrika, nie een of ander Britse kolonie nie. As ‘n toeris hier wegstap met ‘n aandenking soos ‘n bottel wyn of ‘n stuk kaas hoef hy nie vir sy mense by die huis te sê dit kom van Suis-Afrika af nie; hulle sal dit sommer self kan sien want die etikette is in Afrikaans.
Engelse wildplaaseienaars en dies meer kan natuurlik hulle spyskaarte en goed in Engels hê maar dan ontneem hulle hul gaste van ‘n ware toeriste-ondervinding. Hulle kan, as hulle wil, Engels in fynskrif op die agterkant plaas vir die Hollanders en Duitsers (want die mense skyn my al hoe meer on die Engelse se gatte ingekruip te wees) maar dan bederf hulle die toeriste-ondervinding vir al die ander toeriste, insluitende die van die Engelssprekende lande.
Also en dus, die praktyk om toeriste ter wille te wees, met ander woorde ALLES te verengels, is net nog ‘n manifestasie van die heksejag op Afrikaans.
Terloops, geld uit toerisme is in elk geval nie ‘regte’ geld nie, daar moet nie eers ‘n ministerie van toerisme wees nie; dit is ‘n beste-voet-voorsit-praktyk wat toersite pamperlang en ‘n valse idee van die land gee. Dit lok dan ook die verkeerde soort toeris.
Jan Rap
Kommentaar
Jan, ek het 'n spesmaas dat baie van diegene wat deur die owerheid as toeriste getel word eintlik onwettige immigrante is; 'n ander soort "verkeerde toeris." Statistiek oor inkomende en uitgaande "toeriste" word nie gepubliseer nie. Ek vermoed dat daar heelwat meer inkom as wat uitgaan.