The Moon is Blue

  • 15

Vandag amuseer my dit grootliks om te dink dat daar in die verlede films in Suid-Afrika vertoon kon word wat werklik ‘n ouderdomsbeperking van "nie vir persone onder 21 jaar nie", gedra het. So was dit bv in die geval van die Otto Preminger (‘n Oostenrykse bul in die porseleinwinkel van Hollywood) film "The Moon is Blue" wat in 1953 vrygestel is na grootse probleme om goedkeuring te verkry van die sg Hollywood Production Code, en die Katolieke League of Decency, albei instansies wat finaal hulle seën weerhou het. En wat tog was nou die probleem met hierdie film? Die Hollywood Produksie Kode het kapsie gemaak oor die gebruik van sg obsene woorde soos: virgin, pregnancy, en seduction. Glo dit of te not!

Nog 'n film wat kan spog met n "nie vir persone onder 21 jaar nie" is die 1955 produksie, "I am a Camera", gebaseer op die verhoogstuk deur John van Druten, en primêr afgelei van die boek, "Berlin Stories", deur Christopher Isherwood. Hierdie film het ook nie ‘n Produksie Kode Seël gekry nie weens die inhoud daarvan: Berlyn in die 1920 was dan só ‘n vreeeeeslike sondige plek, ‘n werklike Sodom en Gemorrah, en dit kon nie deur die sensitiewe puriteinse Amerikaners geduld word nie. Die ergste doring in die vlees was dan die verwysings na "aborsie", en "valsswangerskap"! Hierdie materiaal van Isherwood is later weer gebruik in die 1972 weergawe bekend as die hoogs suksesvolle musiekfilm, "Caberet", met Michael York en Liza Minnelli. As ek reg onthou het die film ‘n "nie vir persone onder 16" sertifikaat gekry - genadelik - en Suid-Afrikaanse gehore het die ongehoorde voorreg geniet om vir een sekonde ‘n Michael York en ‘n Helmut Griem te sien soen! Dink net watter heerlike dekadensie ons kon beleef in ons eie filmteaters! En soos julle sien, het die hemel nie inmekaar gestort nie.

Wat vir my nog altyd ‘n raaisel was betreffende sensuur in die verlede in Suid-Afrika was die oënskynlike goedkeuring vir geweld, en die toleransie vir moord en doodslag in ons teaters maar die verbanning van erotiek en die uitbeelding van seks. Hierdie verskynsel word natuurlik gedetermineer deur die kultuur van geweld wat kenmerkend is van die realiteit van Suid-Afrika aan die een kant, en aan die ander kant die resultaat van ‘n puriteinse godsdienstradisie wat alle erotiek wil vervloek en verban uit die menslike bestaan.

Beste groete,

Pieter Redelinghuys

  • 15

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Beste Pieter,

    Nes die kamstig sondelose ware gelowige Kobus de Klerk enige onderwerp onder die son sal misbruik om jou as sogenaamde "agnostikus" te verneder - net so probeer jy as eksplisiete ongelowige om godsdiens in alles en nog wat te ondermyn.

    Ek moet erken, dit raak lank reeds vervelig verby ...

    Hoekom dien jy nie bloot net jou onderwerp nie?

    Is jy dan werklik ook maar net nog 'n misantroop?

    Nederige groete,

    Cornelius Henn

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Cornelius,

    Nou wonder ek of jy nie hierdie ietwat satiriese skrywe van my misbruik om Kobus de Klerk te kap oor sy vermeende "sondeloosheid" wat jy keer op keer opsetlik mis-interpreteer, nou tot reeds verveligheid. As Kobus meen dat hy sondeloos is dan beteken dit seker dat hy tot ander insig gekom het,  dat daar werklik nie sondes is nie maar wel reg en verkeerd. Is dit darem nie wonderlik nie? Dalk het hy Thomas en my skrywes deeglik studeer en eindelik tot die regte gevolgtrekking gekom. En as Katoliek moet jy juig en verklaar dat 'n wonderwerk wel geskied het. Vra tog vir jou priester of hierdie metamorfose in De Klerk wel al die kriteria van 'n wonderwerk vervul.

    En van die os op die jas, is dit nie al lankal tyd dat jy vir Kobus die kus van vergifnis gee nie, nie 'n stoute erotiese kus soos Michael York vir Helmut Griem in "Caberet" gegee het, maar 'n spirituele kus - die kus van agape. Ons ateïste en agnostici wil só graag 'n bietjie christianity in practice sien tussen julle twee vooraanstaande christene. Selfs ons weet dat vergifnis 'n seën van die gode self is.

    Nederige groete,

    Pieter Redelinghuys

     

     

  • Cabaret is een van my gunsteling films van alle tye en is dit nie die "amper soen nie", wat uitstaan vir my nie, maar die jong blou-oog blonde Nazi wat sing oor die toekoms wat aan hom behoort ... (Tomorrow belongs to me.)

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Wouter,

    Aangesien jy so ingenome is met "Caberet", kyk gerus na die heel nuutste verwerking ( 2011) van Isherwood  se verhale oor Berlyn van die dertigerjare: " Christopher and his Kind", op youtube. Daar sal jy die hele film kan sien en verstaan dat hierdie tema nog 30 jaar gelede 'n besliste anatema sou wees, en onmoontlik sou wees om te verfilm, weens sekere tonele soos hulle nou in hierdie weergawe hulle voordoen. In "I am a Camera" ( 1955)  was enige verwysing na die ware geaardheid van die hoofkarakter verswyg soos die graf, in "Caberet" ( 1972) was daar n suggessie van--------, en met hierdie ( 2011) is die kat skoon uit die sak gelaat. 

    Lekker kyk.

    Groete,

    Pieter Redelinghuys

  • Ek was ook mal oor Caberet.  Maar Michael York self was die een wat my knieë lam gemaak het.

    Liza Minelli was op haar beste met "Money, money makes the world go around"

  • CorneliusHenn

    Beste Pieter,  

    Jy dwaal van die onderwerp af maar aangesien sulke “rede” algemeen hier is, sal ek ‘n tree saam met jou daarin meedoen en graag jou die volgende toelig:  

    Nes die woord “god”, het die woord sonde ook meer as een betekenis.  

    Sonde, behels nie altyd die oortreding van goddelike of kerklike wette nie.  

    Sonde impliseer ook gewoon iets soos moedswilligheid, moeilikheid veroorsaak en ongeregtigheid in die algemeen.  

    Dis duidelik dat die goddelose hulself as hul eie god probeer verhef en waar jy wel miskien nederig is, jy die kennis van mense as god oor jou aanstel.  

    Maar, soos ek reeds geseg het – dit het niks met jou onderwerp hier te make nie - gooi jouself maar met ‘n klip indien jy verder daarin wil dwaal.  

    My punt is dat jy baie desperaat en vol anderhaat (een woord) enigiets probeer misbruik om godsdiens mee te probeer ondermyn ... selfs in jou “satire” hierbo.

    Intussen het ek vrede met jou, of enige ander se geloof en/of ongeloof.

    Mag Jesus Christus onse HERE, self die lig in 'n ieder se hart wees.  

    Namaste!  

    Cornelius Henn

  • Hallo, 

     
    Wat om te maak van seks op film? 
     
    Moontlik 'n heel ongemaklike storie. 
     
    Hoe dit ook al is dit is 'n lang pad van "The Moon is Blue", waarvan ek nie geweet het tot en met die dekadensie van "Cabaret" en dan verby "Cabaret", na van die films wat vandag op 'n lys geplaas kan word, van WTF? 
     
    Huidiglig het "ons" by Cinema Nouveau Rosebank, Lars Von Trier's Nymphomaniac: Vol. 1 en 'n ruk voor dit Alain Guiraudie's Stranger By the Lake. Nymphomaniac vir 'n intense blik op heteroseksuele seks en Stranger By the Lake vir homoseksuele seks. 
     
    In beide films word geen doekies omgedraai. In geen spesifieke volgorde, die films waarin seks die hoofrol speel wat vir my uitgestaan het oor die jare. "Crash-1996", verwerk vanaf JG Ballard se werk en in my mening werklik skokkend. 
     
    Zadie Smith het onlangs in "The Guardian" 'n opstel oor die boek gehad.
     
    "There is a convergence between our own soft bodies and the metal of the car", hierdie is effens aangepas deur my en in daardie mengsel word die vreemdste seksuele uitlewing ingemeng. 
     
    Zadie Smith herinner die leser wat so skokkend was, aan die toneel waar 'n wond 'n bron van seksuele plesier word. 
     
    Egter niks wat die Markies De Sade vreemd sou gevind het met, "holes can be created by daggers, needles, and guns". 
     
    Hoekom dan nie uit die wrakke van motors nie. 
     
    Die kontras tussen "Crash" en "Empire of the Sun", kan seker nie groter wees nie. 
     
    Uit die bewussyn van dieselfde persoon. 
     
    Pasolini se verwerking van die Markies De Sade se werk. "Watch it if you dare?". "Salò, or The 120 Days of Sodom". Sodomie, verkragting, orale seks, eindelose teregstellings sonder dat die persoon gedood word, swepe, afknouing, hel in 'n villa gedurende 1944 in fascistiese Italië. 
     
    Baie word gemaak van die manier hoe Pier Paolo Pasolini vermoor is in 1975 en die konteks wat hierdie geweldadige film bied. 
     
    Volgens alle aanduidings is Pier Paolo Pasolini vermoor deur 'n "rentboy". 
     
    Vergelyk ook "The Gospel According to St. Matthew", 'n gunsteling van my van Pier Paolo Pasolini met "Salò" en die vraag is weereens, kom dit uit dieselfde bewussyn. 
     
    Pasolini's "The Gospel According to St. Matthew" is 'n pragtige film en die enigste weergawe van hierdie verhaal wat ek wil kyk en dit is gemaak deur 'n ateïs. 
     
    Hierdie film neem jou terug na die stilte van Palestina en die gebeure van hierdie vreemde man en die boodskap wat hy bring. 
     
    Pouveer het die woord gebruik, 'n grande dame, naamlik die woord "fan". 
     
    Comestor sal dit moet opneem met Pouveer. 
     
    Ek is n "fan" van John Cameron Mitchell, vandat ek hom die eerste keer in "Hedwig and the Angry Inch", gesien het, met die filosofiese riff op die Rolling Stones, "You Kant always get you want". 
     
    Hierdie kan ook op die lys geplaas word. 
     
    Die een waarna ek egter nou wil verwys is, "Shortbus - 2006". 'n Mengsel van seks en die gevolge van 11 September 2001, 911. 
     
    Wie sou kon dink 'n film oor seks kan so intelligent met 911 handel, die AIDS-krisis in New York en die "gay mayor". 
     
    Verwysings wat opgesoek kan word. 
     
    Catherine Breillat skok ook keer op keer, die mees skokkende op hierdie stadium is "Anatomy of Hell -2004". 
     
    Twee persone in 'n kamer, 'n man, 'n vrou, die man is gay, die vrou laat hom toe om haar liggaam op alle maniere te ondersoek. 
     
    Dink aan John Donne se "Before, behind, between, above, below, O, my America, my Newfoundland". 
     
    'n Heelwat donkerder weergawe daarvan. 
     
    Hierdie is nie 'n verhaal van die gay BFF nie. 
     
    'n Verandering in tema is Catherine Breillat se "Abuse of Weakness". 'n Biografiese verhaal van haar ervarings aan die hande van 'n man wat haar uit geld uit gekul het.
     
    Michael Haneke is 'n groot gunsteling van my wat regisseurs betref. 
     
    "Funny Games", "The Piano Teacher", "Caché", "The White Ribbon", "Amour".
     
    Die een wat uitgelig word, wat hierdie kommentaar betref, ""The Piano Teacher". 
     
    Die afwyking in die patroon is "Amour". 
     
    Die wat die film ken, sal weet wat uitstaande is in die film. Isabelle Huppert om mee te begin. 
     
    Hiermee 'n dankbaarheid dat uitdagende kuns soos hierdie "geniet" kan word sonder die sensuur wat so die norm was. 
     
    "Die kerk", het 'n probleem met seks, en daar is 'n studie wat dit in detail bespreek. "The Origins of Sex-Faramerz Dabhoiwala". 
     
    Die boek is in my versameling en was die gedagte al daar om voorheen uit die boek 'n brief te plaas, veral wanneer daar briewe geskryf word oor hoe die "kerk" en die staat moet wal gooi teen homoseksualiteit en dan vergeet die heteroseksuele persone hoe kerk en staat hul sekslewe reguleer het en hoe lank dit geneem het vir heteroseksuele persone om vry te kom van daardie kettings. 
     
    'n Voorbeeld: 
     
    "A couple convicted in 1612 of fornication and of producing a bastard child in the city of Westminster. They are stripped to the waist, tied to the tail of a cart, whipped from the Gatehouse Prison by the abbey all the way to Temple Bar, and there banished from the city, from their relations, their friends and their livelihoods. The strict sexual discipline imposed by the courts was popular, and it got stricter. By 1650 adultery was made a capital crime".
     
    Dit is 'n lang pad van 1612 tot nou en is 'n belangrike slotsom die volgende: 
     
    "The sexual discipline often violently enforced by some non-western cultures was, for most of its history, enforced as eagerly in the west too..."
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • Hallo Pieter, 

     
    Baie dankie vir hierdie wenk. Dit is wat so goed is met die uitruil van titels, aangesien ek nie weet wanneer ek hierdie sou raakgeloop het nie. Alhoewel ek moeite doen om titels te volg, grootliks aan die hand Criterion Collection, Sight & Sound en dan Roger Ebert se "great movies" en die jaarlikse top tien van die (internasionale) koerante. Daarom, dankie vir hierdie verwysing. Hierdie weergawe het ek glad nie van geweet nie. 

     
    Baie dankie
     
    Wouter
     
  • Hallo, 

     
    'n Paar notas. In die Beeld van 21 August 2014, http://tinyurl.com/lxcdkdr, 'n artikel wat die volgende stelling maak.
     
    "Gay vroue is gelukkiger in die slaapkamer as heteroseksuele en biseksuele vroue. Dít is die bevinding van navorsing wat in die Journal of Sexual Medicine gepubliseer is nadat 6 151 mans en vroue van verskillende seksuele oriëntasies tussen 21 en 65 jaar by ’n studie betrek is". 
     
    Nog 'n bevinding is dat "Daar is nie ’n verskil tussen gay mans en heteroseksuele mans se ervaring nie". 
     
    Die bevinding dat daar geen "verskil tussen gay mans en heteroseksuele mans se ervaring is nie", is belangrik aangesien in 'n gesprek weg van die forum het ek 'n argument gemaak dat die liggaam eenderse plesier ervaar, hetsy die stimulasie, heteroseksueel of homoseksueel is, gegewe die persoon se seksuele voorkeur en 'n argument formuleer teen die wat heteroseksuele seks as "normaal" beskou en enige verskil daarvan as "onnatuurlik". 
     
    Die kombinasie van begeerte, stimulasie en plesier is dus eenders. 
     
    Dit is nie die doel van hierdie nota om die bevindinge van die studie te bevraagteken nie en dien eintlik as die inleiding tot 'n film waarvan ek vergeet het wat ingesluit moes gewees het in die vorige kommentaar. Dit is natuurlik Abdellatif Kechiche’s, "Blue is the Warmest Colour".
     
    Net soos hierdie dan in gedagte bring 'n opstel van Januarie 2014 waarin die vraag gevra word, "Sex on screen: No longer taboo?". http://tinyurl.com/pqm9gxq
     
    Soos verwag kan word, word daar verwys na "Blue is the Warmest Colour" en "Nymphomaniac", "Paradise: Love". Die enigste films wat ek self gesien het wat bespreek word in die opstel en 'n mening oor kan lug. 
     
    "Paradise: Love" se regisseur is Ulrich Seidl en 'n regisseur wie se werk ek onlangs ontdek het. "Paradise: Love", vorm deel van 'n trilogie waarvan die ander twee titels, “Paradise: Hope” en “Paradise: Faith”. Die onderwerpe wat aangespreek word in die volgorde van die films is, seksuele toerisme in Kenia, die probleem van die ideale liggaam en laastens, die verhaal van vreemde vrou wat deur tot deur sendingwerk doen en hoe die kyker haar moet oordeel. Haar hart is sekerlik opreg, maar is sy reg in haar optredes. 
     
    Al drie films toets die simpatie van die kyker vir die karakters in hierdie trilogie. 
     
    Ulrich Seidl is die naam en die titels soos alreeds uitgelig.
     
    Die res van die films in die opstel het ek nie belang by nie, aangesien seks nie genoeg is om 'n film te dra nie, daar word dus gesoek vir 'n meer komplekse verhaal. 
     
    Die bevinding van die studie, dien ook as 'n inleiding tot "Orange is the New Black", 
     
    'n Netflix reeks waarvoor uitgekyk kan word en waaroor die internasionale media positiewe kommentaar lewer. Die lewe en seksuele lewens van 'n groep vrouens in 'n tronk. 
     
    Daar word afgesluit met 'n verwysing na Luchino Visconti's "Death in Venice" elders bespreek op die webwerf. 
     
    Die film is geredelik beskikbaar en kan hier gekyk word. http://tinyurl.com/lrj5y8p 
     
    Die rede vir die opvolg is tweeledig, naamlik vir die vraag gevra in die bespreking of die verandering van Gustav von Aschenbach, van 'n skrywer na 'n komponis reg laat geskied aan die oorspronklike bedoeling van Thomas Mann. 
     
    Dit is hier waar ek moet erken, voor ek 'n film kyk, lees alles oor die film wat opgespoor kan word en het so gedoen met Thomas Mann en "Death in Venice" asook Luchino Visconti se werk en kan ek nou 'n mening lug daaroor. 
     
    Dalk in 'n brief eendag. 
     
    Hierdie verwysing na Luchino Visconti's "Death in Venice" word gebruik vir die volgende rede, 'n Inleiding tot 'n ongelooflike opstel wat ek graag met die lesers hier wil deel. 
     
    Met die lees van die kortverhaal wonder ek, hoe sou Gustav von Aschenbach lyk, hoe lyk hierdie man en so ook Tadzio, Tadzio veral moet mooi wees. 
     
    Dit is vraag wat Peter Mendelsund in 'n nuwe boek vra. "What We See When We Read". 
     
    Die Paris Review het 'n uitreksel van die boek gepubliseer en kan hier gelees word. http://tinyurl.com/o6loyux'
     
    'n Gedeelte uit die opstel: 
     
    "Picture your mother. Now picture your favorite literary character.The difference between your mother’s afterimage and that of a literary character you love is that the more you concentrate, the more your mother might come into focus. A character will not reveal herself so easily."
     
    Bogenoemde moet gelees word in die lig van die volgende:
     
    "Most authors (wittingly, unwittingly) provide their fictional characters with more behavioral than physical description".  
     
    Die artikel dan plaas 'n skets van Anna Karenina, opgetrek volgens die beskrywing en gedoen in 'n "polisie saamgestelde skets". 
     
    Indien ek kon, dan sou ek seker Gustav von Aschenbach gesien het soos uitgebeeld deur Dirk Bogarde. 
     
    Dit is moontlik. Gustav von Aschenbach kan so lyk.
     
    Maar wat van Tadzio?. 
     
    In my voorbereiding vir die kyk van Luchino Visconti's "Death in Venice" vind ek dat Thomas Mann in gedagte het vir Tadzio, "Spinario´ (Boy with the Thorn)", http://tinyurl.com/lfkz4j9
     
    Dit is sekerlik moontlik. 
     
    Die probleem is egter, Tadzio, en dit is nie sy regte naam nie, was 'n seun van ongeveer 11 jaar oud wat Thomas Mann gesien het terwyl op vakansie in Venesië en dit is die oorspronklike van Tadzio en Gustav Mahler die inspirasie vir Gustav von Aschenbach. 
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • Hallo, 

     
    Het die vreemdste droom gisteraand. 
     
    "Lolita, light of my life, fire of my loins. My sin, my soul. Lo-lee-ta: the tip of the tongue taking a trip of three steps down the palate to tap, at three, on the teeth. Lo. Lee. Ta".
     
    Dit so kort na Tadzio. 
     
    Die hoop is dat Lolita en Tadzio hulle weg na mekaar sal vind en daarmee ook geluk, wat Humbert Humbert en Gustav von Aschenbach sal toelaat om ook in gesprek te tree. 
     
    "The Confessions of (two) White Widowed Males", 
     
    Nog 'n rede vir hierdie kommentaar is die volgende, 'n skatkis van 675 gratis films wat hier gekyk kan word:
     
     
    Baie dankie
     
    Wouter
  • Pieter Redelinghuys

    Beste Wouter,

    Dankie vir al jou interessante briewe aangaande hierdie onderwerp oor seks en sensuur deur die jare, en vir die http://www.openculture.com adres met sy skatkis van films soos die volgende: Intoleranc, en The Birth of the Nation, deur D.W.Griffith, Sergei Eisenstein se Battleship Potemkin, F.W. Murnau se Faust, Nosferatu en Sunrise, Fritz Lang se Die Niebelungen, en Erich von Stroheim se Greed.

    Ek beoog al vir jare om hierdie films op DVD te koop by amazon.co.uk maar gaan kyk bietjie na wat die prys is en jy sal twee keer dink om te bestel of nie.

    Soos wat ek die briewe oor hiedie onderwerp  nagegaan het, is jy die enigste skrywer wat enige bydrae gelewer het. Henn het gemeen my artikel verskaf hom die geleentheid en vryheid om De Klerk by te kom en om my aan te kla dat ek enige onderwerp onder die son gebruik om godsdiens te ondermyn! Ag foeitog! Die man word meer pateties by die dag. 

    Beste groete,

    Pieter Redelinghuys

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Wouter,

    Agv al die onbenullige banaliteite van die dag het ek vergeet om jou te vertel van 'n beeld van marmer in die hoofsaal van die Musée d´Orsay in Parys wat 'n variasie moet wees van die bronze beeld van "Spinario" in die Palazzo dei Conservatori, Capitoline Museum in Rome. Hierdie marmerbeeld in Parys het seker minstens 20 minute van my vrou en my tyd geneem om te bekyk en bewonder só beïndruk was ons deur die prag van hierdie kunswerk. Jy kon sien dat die kunstenaar verlief was op sy model: his love became infused and one with his subject. Nou kan ek goed verstaan waarom Thomas Mann juis hierdie beeld gebruik het as sy model vir Tazio.

    'n Ander kunswerk van geweldige homo-erotiese inpak is die skildery van Hippolyte Flanderin in die Musée du Louvre in Parys, nl "Young Man Beside The Sea".

    Nog 'n sklidery waar dit ooglopend is ( as jy nie blind of afgestomp is nie) dat die skilder skoon verlief op sy onderwerp was,  is "Johannes die Doper" deur Caravaggio, te sien in die Katedraal in Toledo, Spanje.

    Ag nee wat, hoe vaal sou die wêreld nie lyk nie sonder hierdie onsterflike huldeblyke aan erotiese liefde nie.

    Beste groete,

    Pieter Redelinghuys

     

  • Hallo Pieter,

     
    Caravaggio is 'n gunsteling van my en so ook "Young Man Beside The Sea", wat 'n absolute gunsteling is, maar dan moet ek erken dat kuns in die algemeen is 'n groot liefde en so ook films. 
     
    Hoe graag sou ek nie soos julle wou wandel deur die museums en hierdie van nader beskou, darem het ek die boeke wat 'n effense blik moontlik maak, maar 'n goeie jaloesie bly in my gemoed. 
     
    Wat films betref, glo ek, ek is vry van "The Other Woman en ander" en is ek heeltemal gelukkig om dit wat opkom by Cinema Nouveau Rosebank te gaan kyk en met tyd deur my lyste te werk. 
     
    Net vandag gesels ek en 'n vriend oor die verskil in kwaliteit wat hierdie vir jou bied, na aanleiding van 'n geskenk wat hy ontvang het met 'n versameling van opstelle van Isaiah Berlin. 
     
    Ek pas jou stelling effens aan en voer aan "hoe vaal sou die wêreld nie wees  sonder hierdie onsterflike kuns nie". 
     
    Daar word ook kennis geneem van die implikasies van die verhale van Mann en Nabokov en die versigtigheid waarmee dit hanteer moet word.
     
    Ek het die naweek toe " Christopher and his Kind" gekyk. 
     
    Baie dankie vir die verwysing, dit was 'n baie goeie produksie. 
     
    'n Film wat jy op jou lys kan sit is, Syndromes and a Century - "Sang sattawat", 'n Thai film, synde jou liefde vir die omgewing. 
     
    Dalk sal jy my 'n top 10 lys van films gee, ek is altyd op soek na titels. 
     
    Baie dankie 
     
    Wouter

     
    Naskrif. 
     
    Cornelius Henn, met sy "hart", "haat", "opreg versus reg" en die idee dat geen kritiek teen godsdiens gelig mag word nie is nie vir my nie. Wonder hoe hanteer die "katoelieke kerk" die konflik tussen ISIS en die Christen gelowiges, synde die hutspot een hemelse harmonie is. 
  • CorneliusHenn

    Pieter en Wouter; is dit nie dalk reeds lankal tyd om eerder jul toestand in ag te begin neem en 'n begin te maak om tussen gesonde redevoer (debat) en jul berading in die openbaar te onderskei nie?

  • CorneliusHenn

    Pieter, jou eksplisiete (uitdruklike) ongeloof vergelyk goed en val gewis in dieselfde maat as die van ‘n fundamentele Bybelaanbidder en kwansuis ware gelowige soos Kobus de Klerk ... jou rassistiese en anti- Semitiese propaganda is ook ewe  “objektief” as Mzansi se jingo François Williams se haat teenoor witmense (veral Afrikaners) ... dis egter jy wat enige onderwerp misbruik om so op Chris Dippenaar se maat en in soveel woorde “godsdiens ten alle koste ondermyn” ... om jou vuil strategie op my te speel maak jou waan net duideliker ... redelike gelowiges en ongelowiges – nes enige opgevoede in hul taal en kultuur teenoor mekaar – respekteer altyd hul medemens se hart ... groete, Cornelius Henn

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top