Susie Kelly: I wish I could say I was sorry

  • 3

Ek stel in Kenia belang, onder meer vanweë die substansiële getal Afrikaners wat hulle veral as boere in die vorige eeu op die Wit Hooglande gevestig het. Ook omdat ek 'n onderwyser gehad het wat daar gaan werk het. Daarom het ek boeke oor Kenia soos Frances Osborne se The Bolter (SêNet 9 Jul) en Juliet Barnes se The Ghosts of Happy Valley (SêNet 8 Aug) gelees en albei buitengewoon interessant gevind. Omdat Susie Kelly langer as twee dekades in Kenia gewoon het, het ek gehoop haar boek, I wish I could say I was sorry (London: Blackbird Digital Books, 2013, 298p; Amazon Kindle $5.99), net so interessant sou wees. Dit was nie, want dit is 'n treurmare waarin daar eintlik min inligting oor Kenia is. Maar dit was tog die moeite werd om die teks te lees. In die resensies wat Amazon aanhaal, word die boek "stunning," "fabulous," en "shocking" genoem en daar is ook die oorbenutte bewering dat 'n mens die boek nie kan neersit nie.

Die outeur is as Susie bekend, maar haar naam is eintlik Susan. In die boek word sy voorgestel as "slightly scatterbrained" (Kindle 3318) en "the world's worst housekeeper" (3338). "She gets on best with animals, eccentrics, and elderly people" (3321). Dit berei die leser voor op 'n nogal eienaardige mens wat aan allerhande beperkings onderhewig is en daarby onvoorspelbaar kan wees. Sy het probleme om haar kos af te sluk en kry hooikoorsaanvalle en ekseemuitslag. Verder ly sy aan misofonie, 'n toestand waarin sekere soorte geraas haar laat reageer asof sy gek is. Dit lyk asof ten minste sommige van haar kwale 'n sielkundige oorsprong het.

Susie kán skryf en het reeds 'n aantal reis- en ander boeke gepubliseer. Die boektitel dui nie op haar onwilligheid om apologie vir haar gedrag aan te teken nie, maar verwys na die feit dat al die hoofkarakters in haar lewensverhaal reeds dood is en sy hulle dus nie nou om verskoning kan vra nie. Die boek is opgedra aan die twee persone wat Susie onderskraag het, haar ma Florence (1918-1967) en haar ouma aan moederskant Florence/Nan (1894-1981). Albei het die destyds onvergeefbare ding gedoen om te skei, wat die bron van baie van Susie se probleme was. Sy het egter dieselfde pad geloop.

Haar pa, Robert/Bob, het as rekenmeester vir Kodak, die vervaardiger van kameras, gewerk. Haar ma was 'n pragtige vrou wat te oordeel aan die foto's tereg deur baie mans bewonder is. In 1940 is hulle seun, Ian, gebore, maar hy is in 1945 dood terwyl sy pa militêre diens in Noord-Afrika gedoen het. Susie het nie haar broer geken nie, want sy is eers in 1946 in Hanworth, Middlesex, suid-wes van Londen, gebore. "Those memories of the early years of my life are of security and love" (131). "A very happy and normal family life filled with love and laughs and cuddles and hugs" (203).

Die boek begin met hoofstukke oor Susie se jeug bv oor hoe sy in haar eerste jare in 'n kloosterskool dinge soos papier, penne, ornamente en geld van ander kinders gesteel het. Hierdie hoofstukke oorskry hulle funksionele lengte. Daar word nie goed onderskei tussen wat interessant vir die outeur en moontlik vir die lesers is nie. Ek het dit in 'n stadium sterk oorweeg om nie verder te lees nie. My uitgangspunt is egter dat ek 'n boek koop om te lees. Ek koop nie boeke om hulle op 'n latere "eendag" te lees nie, maar spoedig, want 'n mens se belangstelling verander. Ek hou nie daarvan om ongelese boeke op my boekrakke of in my leesmasjien te hê nie. Die latere hoofstukke is meer onderhoudend en ek is dankbaar dat ek tot die einde volhard het.

Die outeur se pa is na Kenia verplaas. Die gesin van drie is per skip na Mombasa en per trein na die hoofstad Nairobi. 'n Noodtoestand het in Kenia geheers weens die onbeskaafde gedrag van die Mau Mau, 'n "bevrydingsbeweging." "The Mau Mau ... were notorious for the appalling cruelty with which they treated their victims ... Many thousands of loyal Africans were murdered by the Mau Mau" (590). "To be captured by the Mau Mau would mean the most agonising death that could be invented by people notorious for their savagery" (2430). Kelly beskryf die kontras tussen Engeland en Afrika baie goed. Byvoorbeeld, hulle het 'n motor aangeskaf omdat die openbare vervoer nie vir Westerlinge bruikbaar was nie. Van die voordele in Kenia was dat die blankes ruim huise en erwe en swart huis- en tuinwerkers gehad het. Hulle het 'n hond, Pluto, en 'n kat, Minetta, gehad.

"The magic carpet we had been riding was about to be whipped away" (502). Die gesin se idilliese bestaan het binne die eerste jaar in Kenia deels weens die aantreklikheid van Susie se ma skipbreuk gely. Dit het begin toe hulle 'n loseerder, Roy, ingeneem en hy na drie maande skielik te midde van 'n groot bohaai weg is. Haar pa het kort daarna aan sy negejarige dogter gesê: "'Your mother's going away, Sue. You have to decide who you want to be with.' ... Of course she wasn't going away. We belonged together, the three of us. With the house, the car, Pluto and Minetta. This is our life, our family" (509). "''I just want to stay here,' I finally blurted out ... I hadn't chosen anybody ... Mummy looked at me, her eyes very, very bright, then turned and walked out of the door, closing it softly behind her" (531).

Susie het by haar pa gebly. Haar ma het in 'n hotel met haar vriend, John, gewoon. Na verloop van 'n aantal maande is hulle getroud en het in Port Elizabeth gaan woon. Susie se pa het Susie per vliegtuig na sy ouers in Engeland gestuur, sodat sy daar versorg kon word en skoolgaan. Sy het 'n groot sagte speelding, 'n donkie genaamd Flicker, van haar pa as afskeidsgeskenk gekry. Oor haar pa skryf Susie: "I felt it wasn't so much for me and my departure but for my mother who had left that he grieved so terribly" (604).

In die ruim spookagtige Londense huis van haar grootouers, te Lavender Hill, Clapham Junction, het sy ontuis gevoel, eintlik soos 'n onwelkome indringer, veral weens die vyandige houding van haar oupa, Jim, wat 'n afgetrede slagter was. "I was in an emotional vacuum" (612). "I was not happy there, nor unhappy; I was just there" (721). Die ouma, Elizabeth/Lizzie, het Susie se teenwoordigheid in groter mate aanvaar. "A small introverted girl must have placed an unwelcome burden on her" (759). Op 'n dag het Lizzie selfbejammerend uitgeroep: "'Oh God, what have I done to deserve all this?' and burst into tears. I realised I was the 'all this'" (765). "She was taller and broader than her husband, with faded wiry yellow hair and a shapeless amiable face that looked as if somebody had sat on it before it was quite set" (652). "Although only 56 years old, she was already a worn out and tired old lady and with a silent husband who didn't do anything apart from sitting reading the paper or going fishing" (755). Later het Susie te hore gekom: "Your Granny didn't want you, but your Auntie [Veronica, haar pa se suster] wouldn't have you" (1166). "What child wants to be told it's unwanted?" (1175).

Nan, Susie se ander ouma, het haar naweke kom haal sodat sy in haar piepklein woonstelletjie in Wimbledon kon kuier. Nan het geen moeite of koste ontsien om haar kleinkind gelukkig te probeer maak nie. Gedurende die week het Susie in 'n klooster in Surrey loseer, waar sy in Engels en Frans uitgeblink maar origens akademies en andersins swak gevaar het. "I was multi-untalented" (1453). Dit is veral hierdie hoofstukke wat ek oninteressant gevind het, maar sy bring die boodskap tuis dat baie nonne nie danig heilig is nie. Sedert haar ma getrou en in Port Elizabeth gaan woon het, het Susie niks van haar gehoor nie. Later het sy vasgestel dat haar ma probeer het om haar in die klooster te besoek, maar op versoek van haar pa weggewys is. Hy het ook gesorg dat haar ma se briewe aan haar onoopgemaak teruggestuur is.

Na 'n verblyf van vier jaar by haar grootouers in Londen is Susie in 1958 terug na Kenia. Haar pa het weer getrou en hulle het 'n dogtertjie, Sarah, en later nog een gehad. Haar stiefma, Helen, was 'n oud-verpleegster, "a beaky nosed woman with wispy grey hair and hard, cold eyes" (1304). "She cultivated her inferiority complex like a prize plant, and wore a permanently martyred expression" (1764). Haar pa het saam met sy nuwe vrou kant teen haar gekies. In die nuwe huislike omstandighede het Susie ongemaklik gevoel. Toe sy haar pa herontmoet en die eerste keer met Helen kennis gemaak het "I felt more like an obligation rather than the centre of attention" (1364). Tot Susie se ontsteltenis het hulle intussen van sowel die hond as die kat ontslae geraak. Helen kon geen swarte as huis- of tuinhulp verdra nie. Sy het Susie kwalik geneem omdat sy nie (genoeg) met die huiswerk behulpsaam was nie. Op dertienjarige ouderdom het Susie weggeloop, maar is deur die polisie teruggebring.

Susie het soms vakansies op plase deurgebring en veral perdry geniet. Sy beskryf die geharde, hardwerkende boere wat Kenia ontwikkel het en die goeie verhouding wat daar oor die algemeen tussen wittes en swartes was. "The reactionary view of all whites as wicked imperialist exploiters was unfair" (1661). In 1961 het haar pa vir haar 'n ponie, Cinderella, gekoop. Voortaan het sy by die stalle geboer om van die onverkwiklike atmosfeer in hulle huis te ontsnap.

Teen die einde van 1962 het Susie se pa haar toegelaat om haar ma in Engeland te besoek. Haar ma het toe reeds 'n aantal jare saam met haar man en hulle dogter, Lynn, in Engeland gewoon. Hulle het na agt jaar net twee dae lank by mekaar gewees en dit baie geniet. "I had at last found somewhere I belonged, as if Mummy had never left" (2080). Dit was die laaste keer dat moeder en dogter saam was, want in 1967 is Susie se ma dood toe 'n motor haar as voetganger omgery het. "In the last fourteen years I had only spent two days with her" (2727).

Na haar skoolloopbaan het Susie aan 'n sekretariële kollege studeer en as 16-jarige begin werk. Sy het in 'n dameslosieshuis gewoon. Sy noem dat Kenia teen die einde van 1963 onafhanklik geword het en dat die openbare lewe geafrikaniseer is. Bitter min inligting word gegee oor die "bevrydingstryd" en die situasie wat daarop gevolg het, behalwe dat die blankes die land op groot skaal verlaat het. Die boere op die Wit Hooglande "were ... forced out by the Land Settlement scheme under which their property was compulsorily purchased" (2323).

Susie het die eienaars van een van die plase geken. "They had a beautiful old house lovingly built by themselves when they first settled there forty years earlier. The walls were wood-panelled, the floors highly polished, logs burned in the great fireplace, and from the living room they looked out through French windows" (2323). 'n Jaar na hulle emigrasie het Susie die plaas weer besoek. "The windows of the house had old sacks covering them. Goats and sheep wandered through the rooms over the old wooden floor. The doors and wood panelling had been burned. The staff who had lived there and worked for them for decades were now on their own and had to fend for themselves" (2327).

Haar pa is na Helsinki, Finland, verplaas. Een van Bob en Helen se bekommernisse was "that academic standards would be lowered" (2396) in die nuwe Kenia se skole, maar dit lyk asof hulle eintlik teen die afrikanisering gekant was. Susie het eers 'n fiets en daarna 'n motor aangeskaf. "I risked my life on a public transport bus. Even if I wasn't killed through reckless driving or wheels falling off from poor maintenance, it was simply not an acceptable way to travel. I could hardly arrive at work covered in chicken shit, or stinking of goat, or any of the other odours that were a fundamental ingredient in the ambience of local buses" (2416).

Haar pa en sy gesin se vertrek het skielik gekom nadat Susie drie maande tevore weer by hulle ingetrek het. Sy kon nie weer plek in die losieshuis kry nie. Ten einde raad het sy besluit om in 1966 met Tony, "a barely-literate Italian mechanic" (2454), wat sy by haar werk ontmoet het, te trou. "I'd married somebody so that I could keep my horse" (3001). Haar beskrywing/stereotipering van Italianers en hulle gewoontes is die beste hoofstukke in die boek. Sommige van die probleme was dat Tony 'n mammaseuntjie was wat as 29-jarige steeds in sy ouerhuis gewoon het en dat hy en Susie geen gemeenskaplike belangstellings gehad het nie. Vir hom het dit om drank en sokker gegaan.

Vir hulle wittebrood het hulle per skip van Mombasa na Kaapstad gereis. "Soon I discovered I'd married an alcoholic" (2604). Sy moes hulle uitgawes uit haar inkomste delg, want syne is aan drank bestee. Daarby het hy opgehoopte skuld gehad. "He was a tower of weakness" (2772). Susie het so swak by die Katolieke Italianers en hulle taal ingepas dat sy by hulle as "That one" bekend gestaan het (2621). Toe hulle Tony se familie in Italië besoek het "I was examined like a strange insect" (2796).

Hulle het 'n seun, Robert, gehad waaroor Susie se skoonma in ekstase was. Daarna het 'n dogter, Julie, gevolg wat tradisioneel minder aandag in Italiaanse geledere kry. Tony het later 'n buite-egtelike verhouding aangeknoop, wat Susie oogluikend toegelaat het. Sy het gehoop hulle sou trou, maar "I think he knew that Mamma/Nonna would have tolerated a half-caste daughter-in-law even less than an English one" (2825). Toe daar sprake was dat beperkings geplaas sou word op hoeveel geld emigrante uit Kenia kon neem, het Susie besluit om Kenia betyds te verlaat en haar met haar gesin in Hertfordshire, Engeland, te vestig. Haar pa en sy gesin het toe reeds daar gewoon.

Om sonder 'n huishulp die huiswerk te doen, was vir Susie 'n nuwe uitdaging. "I'd never ironed, dusted, hoovered, gardened or washed dishes" (2866). Sy kon kos kook maar nie opwas nie omdat haar hande so seer van ekseem was dat sy nie handskoene kon aantrek nie. Sy het nie geweet die bad moet gereeld skoongemaak word nie. "I didn't know you had to clean them; I thought that the soapy water did the job outomatically" (2881). Al werk wat sy kon kry, was as naaldwerkster in 'n fabriek en daar was sy 'n volslae mislukking.

Tony het nie in hulle kinders belang gestel of die huishouding finansieel ondersteun nie. Na verloop van 'n dekade van getroude lewe en 'n onsuksesvolle poging tot selfmoord het Susie besluit om te skei. Tony het na Kenia teruggekeer, maar wederregtelik die kinders saamgeneem. Susie het hulle gaan haal en wetlik toesig oor hulle verkry. Helen, haar stiefma, het Susie nie van haar pa se dood in kennis gestel nie. Susie het eers 'n jaar later gehoor dat hy dood is. Tony het weens sy alkoholisme gesterf. Daarna is stiefma Helen oorlede. 'n Groot verlies was toe Nan, haar ouma aan moederkant, in 1981 dood is. Sy het vir Susie in Kenia en in Engeland kom kuier en haar in haar verlatenheid onderskraag.

Teen die einde skryf Susie oor haar boek: "This has been so hard to write. I've felt myself drowning in a sea of tears and nostalgia" (3282). Deesdae woon Susie met haar tweede man op 'n kleinhoewe in die suid-weste van Frankryk. Om haar tweede huwelik te laat slaag, sal hierdie man myns insiens homself moet verloën deur bereid te wees om (altyd) die minste te wees. Bowenal is hulle seker in ruime mate op genade aangewese.

Johannes Comestor

  • 3

Kommentaar

  • Johannes, dankie vir jou boekgesprek. Baie interessant. Jou laaste 2 sinne laat my kopkrap, is veelseggend. So asof jy Susie deur haar boek goed leer ken het. 

  • Daars nog iets wat my pla. Die boek se tema is: I wish I could say I was sorry. Wou Susie iemand omverskoning vra (en wie was dit), of bedoel die tema dat sy NIE jammer was oor die dinge in haar lewe gebeur?

  • Johannes Comestor

    Trienie, in die derde paragraaf probeer ek die boektitel verduidelik. Daar is uiteraard baie aspekte waarby ek nie in my bespreking kon uitkom nie. Susie wou verskoning vir haar soms ongevoelige of irrasionele gedrag vir baie mense vra, veral vir haar ma en haar ouma Nan, maar ook vir haar pa, van wie sy weens sy tweede huwelik vervreem geraak het; selfs ook vir haar eerste man. Dit is maar wat gebeur as 'n mens bejaard raak en nostalgies terugkyk.

     

    Johannes Comestor

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top